Auvergne, Frankryk
Deur
Catrien de Bruin©
September
2002
Auvergne is so sentraal/suid-oos in Frankryk
geleë. Dis min of meer 6 ure ver vanaf Campione. Auvergne is duisende jare
gelede deur vulkane gevorm en word vandag die Vulkaniese park van Frankryk genoem......
uniek in Europa. Die wye ruimtes van Auvergne word ook nog weer in 6 streke
opgedeel. Ons basis was in die suid-oostelike gebied nl. Arlanc uit die
tiende eeu, waar die drie Afrikane, nl. Johan Bernard, Frederick Bezuidenhoudt
en Pierre Knoezen hul gastehuis "Ma Cachette" bedryf. Daar was, ek
dink so 3 jaar gelede, artikels oor hulle in die Sarie en Rooi Rose. Die naam
beteken..... ma se skuilplek.... laat 'n mens dink nê!
Elke vulkaan het 'n eiesoortige kenmerk aan
die landskap gegee. Sommige rond met uitstaande hoë rotse wat soos skerp
naalde uitstaan en ander met orrelpype; of mere word gevorm; ander is uitgehol
en lyk soos groot skottels. Die grond is baie vrugbaar en die boere skarrel
soos miere in die landerye. As groen jou kleur is, is Auvergne vir jou. Die
riviere stort indrukwekkend na onder om daarna in groot kronkels rustig verder
te kabbel. Die woude bestaan uit digte bosse en eikebome, en ja, dis mos
sampioen wêreld. Juis nou die tyd om die skat van die bos te gaan uitsnuffel.
Oral langs die pad staan motors geparkeer en jy sien mense so koes-koes met 'n
mandjie die bos invaar. Dis 'n geheimsinnige storie van waar jy jou sampioene
gaan kry en die buurman mag nie weet nie. Ons sien baie verskillende soorte
sampioene...... groot en klein.... oranje-bruin en die rooies met wit
kolletjies...... storieboek kos! Sal nie waag om te pluk nie..... jy moet
jou sampioen ken Angelika!
Kastele van alle soorte, as vesting of vir die
adellikes of middeleeus staan onvoorstelbaar hoog gebou op die vulkaniese
rots-basalt. Mure vir beskerming rondom was nie nodig nie. Romaanse kuns kom
sterk na vore in die kerke. Byna elke dorpie het sy Notre Dame (onse liewe
vrou). Die vulkaniese klip wat wissel van grys tot rooi, gee die gebou veel
warmte en kleur. Die dorpies in die natuurpark is almal van hierdie grys klip
gebou. Historiese Le Puy-en-Velay sorg vir twee dramatiese werke wat so hoog bo
die res van die dorp uitstaan dan dit nooit jou oog verloor nie. Die St. Michel
D'Aigulhe kerk uit die 10de eeu staan op die 80 meter hoë vulkaniese rots.
Die volgende letters is tussen die spoelklippe op die vierkant uitgelê, in die
volgende volgorde:
SATOR
AREPO
TENET
OPERA
ROTAS
In die tyd van vervolging was hierdie 'n
geheime kode onder die Christene. Die betekenis hiervan gaan ek vir 'n volgende
keer hou, maar indien iemand lus en "tyd" vir navorsing het, sal dit
net interessant wees om te hoor wat daar uitkom.
Die ander uitstaande monument op die hoogte
van 757 meters is die Notre-Dame de France standbeeld (22,70m hoog) wat in 1860
gedurende die oorlog van Sebastopol opgerig is. Die standbeeld is die van
Madonna en Kind.
Op 'n meer bekende noot: KOS en ander
produkte van Auvergne.
Groen lensies word reeds vir 5 eeue hier
geplant. Die vulkaniese grond gee al die nodige karakter en voedingswaarde
wat glo nodig is. Die manne van "Ma Cachette" het een aand groen
lensies op die spyskaart gehad...... 'n gastronomiese hoogtepunt.
Kaas...... koei, bok en skaap melk word
gebruik.
Wyn..... "De Côtes D'Auvergne” het ons
ook by Ma Cachette gedrink....drie druiwesoorte wat die karakter gee is Gamay,
Pinot Noir en Chardonnay. (Die manne het ons goed ingelig so in lekker
Afrikaans!!).
Mosterd...... aaha... geen verduideliking
nodig nie. Ons ken almal die lekker Franse mosterd.
Kantwerk, handgemaakte papier en die messe
van Thiers, lg. is 'n tegniek wat reeds sedert 1567 beoefen word. As ek nie
nodig gehad het om 'n vliegtuigkaartjie te koop nie, dan het ek hier oorboord
gegaan en van hierdie stylvolle eetgerei gekoop.
Ja en dan ter wille van die wat dalk ook soos
ek nog altyd gewonder het.... die liewe grappige mannetjie wat op die groen
Michelin reisboeke voorkom. Sy naam is "Bibendum" en hy is die
"beroemdste" inwoner van Auvergne..... gebore in 1898 uit die pen van
tekenaar O'Galop. Nou weet ons ook.
Ja, en toe leer ek by Johan van "Swiss
Chard". Hulle het 'n enorme tuin agter hierdie ou gerestoureerde huis,
waarin hulle o.a. groente plant. Ek verstom my aan die pragtige gesonde
rubarber plante, want dit het ek laas in ons groente tuin op die plaas
gesien. Nie rubarber nie, maar Swiss Chard sê Johan...... ekskuuuuuus!! Ek
het dit nog altyd geïgnoreer as die resepte Swiss Chard voorskryf en hier staan
dit alles voor my. Die plant lyk vir my net soos rubarber.... ook so
pienk-rooi en jy kry dit ook in geel.
Dankie, nou weet ek ook. Die aand het ons
Swiss Chard as 'n voorgereg in die vorm van spanakopita gekry. Hulle het net
die blare gebruik en dan lyk dit en smaak nes spinasie.
To the top!
|