Bergamo die Mooie

Deur Catrien de Bruin©

April 2003

Lente is in die lug en met soveel mooi en nuwe lewe om ons, begin ons voete jeuk en besluit om 'n daguitstappie na BERGAMO, 30 km. Noord-oos van Milaan te maak.   Om net eers by Milaan verby te kom is 'n kuns,  want vroegoggend is die verkeer 'n nagmerrie en ons mag digte mis slaan, wat jou sig belemmer.

Teen 9h00 stoom ons uit Campione.   Dit blyk toe die regte tyd te wees om Milaan verby te stoot, maar toe ons rigting Venesië swaai, is ons eensklaps in 'n tonnel deur vragmotors gevorm...... ons voel soos 'n spikkeltjie tussen hierdie reuse voertuie.   Ten alle koste mag ons die Bergamo afrit nie mis nie.   Dankie tog vir die GPS wat ons waarsku en Philip sit net die flikkerlig aan en ek hou my lyf dun en met 'n engel op elke wiel kruis ons die bane na  regs.  Ook net betyds want hier skiet die Bergamo afrit voor ons in...... Sjoe Philip dit was amper of jy vat ons weer Venesië toe.   Teen die tyd ook al papnat gesweet, maar my man hou kop.

Asof in 'n skildery sien ons Bergamo in 'n waas op die vlakte van die lombardië provinsie.    Ou Bergamo, 1200 NC troon op die heuwel en nuwe Bergamo lê wyd uitgestrek aan die voet.   Lg. Is 'n moderne industrïele stad met tekstiel fabrieke.   Ou Bergamo omring deur massiewe mure is ons mikpunt.   Geen verkeer word agter die mure toegelaat nie.    Uit ondervinding weet ons daar sal nie parkering buite die mure wees nie.....enigste uitweg die kabelspoor na bo.   Dit verg baie geduld en bestuursvermoë om 'n auto-silo (parkeerhuis) te vind en dan op 'n skattejag vir die "funicular".    Toe ons lg. uitsnuffel is hulle besig om aan die outomatiese kaartjiemasjien vir die kabelspoor te werk.    Ons wag geduldig en na 15 min. bestyg ons die berg al grommend en kreunend met die kabelspoor tussen kastanjabome en hangende bougainvilleas na Ou Bergamo. 

Na 10 min. Kom ons al rukkende tot stilstand op die Piazza del Mercato della Scarpe (plein van die skoene mark).    Vandag is daar 'n Caffè (Bar) tafeltjies en stoeltjies met pienk lap tafeldoekies oor.   My hele wese skree vir cappucino, maar dis byna siesta en van Bergamo het ons nog niks gesien nie.

Ons stap op handgepakte "herringbone" strate wat nou wandelgange is tussen winkels van alles wat jou elke keer jou asem daar diep uit jou longe gaan haal.   Van assegaai skerp punt skoene tot vensters vol koek en brode in alle vorms.   Gou kom ons agter dat die "polenta e osei" 'n spesialiteit van ou Bergamo is.

Dit staan die vensters vol..... klein en groot.   Dit het 'n geel lagie gesuikerde polenta om 'n lagie koekdeeg en iets soos appelkoos konfyt binne met 'n sjokolade versierinkie bo-op  in die vorm van 'n deurgesnyde bal. Dit was verrassend lekker.

En toe net skielik hier is die Piazza Vecchia voor ons.   Die historiese middelpunt van die dorp.   Die fontein in die middel van die vierkant is die fokus punt.   Dit is van ou gebruikte stene gebou en stoot net een straal na bo wat terugval in 'n marmerbak.   Nou die mooiste: hierdie fontein word omring en opgepas deur jong vriendelike leeutjies wat op hul hurke sit en aanmekaar verbind is met 'n dik ketting in hul bekke.    En wat goeie gehoorsamige leeutjies is hulle nie?   Wonder waar hulle vandaan kom,  met geen bloeddorstige trekke,  hou die ketting asof die aandkoerant in hul bekke vas.

Die Palazzo della Ragione is die oudste stadsaal in Italië sê die boek. Dateer vanaf 1199 en was herbou in die 16de eeu.   Op die balkon is 'n enorme leeu....die leeu van Markus wat simboliseer dat Venesië tydens die middeleeue hier regeer het.

Die katedraal is met horisontale gestreepte marmer gebou en alhoewel ook in die middeleeue gebou is dit in die barok tydperk herontwerp.    Die buitekant laat my aan koekversiering dink  (propvol geskiedenis). Binnekant is dit buite ons verwysingsraamwerk.   Jy sal nie met 'n kopspeld kan druk waar daar nie 'n storie of 'n kunswerk is nie.    Die Florentynse tapeserië het my die meeste beïndruk.   Dag dis net in Floraans te siene.

Hierna is ons wiele pap en jag ons spyskaarte vir die "beste waarde vir geld"...... wat gewoonlik pasta is.

Die terugtog was vinnig en minder senutergend. Gee ons tyd vir nabetragting.

Wat Italië vir ons uniek maak...... elke dorp of stad het dieselfde styl, nl. Die "kwartet" om die piazza,  bestaande uit die katedraal, die toring, die doopkapel en die stadsaal,  maar elkeen is asof  gekomponeer deur verskeie komponiste met dieselfde tema, maar die woorde is verskillend.

Wat 'n groot seën en voorreg om weer so 'n dag te beleef en onder die indruk van die eeue se gebeurtenisse te kom. Venisië het Bergamo gegee aan Bartolomeo Colleoni - die geskiedenis se mees suksesvolle huursoldaat – om hom te beloon vir sy getroue diens.

Dan dink ons ook aan die oorlog wat nou in Irak afspeel.  Hier tussen die "vredesvlae" wat  hier om ons wapper is ons ver daarvan verwyder.

"PACE"

VREDE


To the top!