Carnevale
Deur
Catrien de Bruin©
Maart
2000
Maartmaand is "Carnevale" in die
"Ticino" provinsie. Hieroor het ek al vertel. Verlede Saterdag
het ons by Morcote se "Carnevale" gaan inval en deel gehad in hul
gratis "risotto e luganighe". Dis 'n groot feestelikheid wat die
hele Maartmaand afspeel in elke gemeenskap.
Daar word opgedress in "fancy dress",
veral die kinders. Daar is gewoonlik 'n blaas orkes in hul tradisionele drag,
wat gewilde en klassieke musiek speel. Konfetti en streamers reën op jou!
Die kinders bespuit mekaar met iets wat soos tandepasta uit 'n spuitkannetjie
kom en lyk asof dit aan jou gaan vaskleef vir ewig, maar dit vee af soos stof
en verdwyn. Wat my verstom is dat hierdie andersins "skoon"
omgewing nie omgee vir konfetti wat tussen elke gleufie en "cobble stone"
inklim nie. Party gemeenskappe bou ook vlotte. Al die "sleepy towns"
tot hoog bo in die berge gaan deur hierdie oefening. Dis 'n instelling.....as
jy sou vra hoekom.....sê hulle net met handpalms na bo......dis "CARNEVALE"........hoe
kan jy nie weet hoekom nie. Ek weet nog steeds nie hoekom nie, maar het
besluit dis om die Lente aan te kondig.
By Morcote het ek hoog op 'n balkon geklim om
beter prentjies te maak van wat in die kookpotte aangaan. Daar word gecater vir
ongeveer 300 mense: Die kos word in ysterpotte (so groot soos my ouma se
seeppot, die houtspaan ingesluit), op gas gemaak. Nou as jy so voel, doen dit
in die kleine op jou stoof in 'n wye pan.
Risotto: Jy gebruik net "Arborio"
kort vet korrel. Dit word in die Po-vallei in Noord- Italië geplant. Ek het
dit al in SA op die rakke gekry. Uie word in botter gebraai tot
deurskynend. Geweekte, gedroogde sampioene (hoe sal ek weet watter een van
die duisende het hulle die dag gebruik), kom nou by. Twee "manne"
roer die heel tyd met die enorme houtspaan. Nou kom die rys by, soos in twee
sakke vol (so groot soos 'n halwe sak aartappels). Vanuit die ander groot
swart pot kom die "broth" in dopemmers vol by die rys
gegooi......roer manne roer!!
As al die vloeistof geabsorbeer is, kom die
volgende dopemmer by. As die rys alles opgedrink is, kom die drie bottels vino
bianco by. Intussen het een groot hand rooi speserye bygekom (saffraan?).
Teen die tyd wat hierdie pot tot bo vol is kom daar 'n stuk botter so groot
soos 'n baksteen by........roer manne roer.
Ons staan tou en dan word daar vir jou
ingeskep met 'n soplepel en die vroutjies (van die "samaritane") sit
vir jou die wors by, wat hulle met plastiese handskoene in jou bord plaas, 'n
"zero-zero" (hol binne) broodrolletjie kom by. 'n Jongman in "fancy
dress" loop tussen die tafels rond om die weggooi eetgerei te versamel.
Die "ambience" is dié van rustigheid
en geselligheid, al verstaan ons nie 'n woord nie. Hierna kom die tombola,
maar ons sit dit nie uit nie.
To the top!
|