Croissants, Poedels, Bouillabaise
Deur Catrien de Bruin©
Oktober 2001
Cote d' Azur :
Ons
het tyddeel aangevra vir Provence of Toskana vir Oktober, maar nie gekry
nie. November is 'n risiko en toe ons die Cote d' Azur vir middel week in Okt.
kry, dadelik besluit dan val ons in. Tien jaar gelede was ons 25 jaar
getroud en toe was ons ook met tyddeel by Roquebrune - Cap Martin in die Le Golfe
Bleu. Dit was gedurende September. Nouja, as dit dan is waarheen ons tien
jaar later weer moet gaan, laat ons gaan kyk deur 'n nuwe bril.
Uiterlik
is alles by Le Golfe Bleu nog dieselle. Destyds het dit ons geweldig beïndruk
om met ons motor in 'n hysbak te ry en die hysbak neem jou na die ondergrondse
staanplek vir jou motor. Dit werk na 10 jaar nog so.
'n
Nuwe luukse is dat 'n jong paartjie 'n restourant bo by die kasteel het en 'n
gratis diens bied om kliënte te kom haal en terug te bring. Ons vra uit na
die spyskaart en die word dadelik vir ons geflits. Na die hele dag op pad
laat al hierdie geregte in hoogs Frans ons monde kwyl. Wat ookal.... dit kan
net 'n fees wees en 'n luukse as iemand ons wil taxi ry. Dit was toe ook
"trois bon", soveel so dat ons die vriendelike paartjie weer
ondersteun het. Sy is Italiaans en hy Frans.
Die
woonstel kan 8 slaap. Nou nie met spasie soos aan ons bekend is nie, inteendeel
dit sal maar knor...... veral met net een badkamer !!! Die skottelgoedmasjien
is 'n luukse, alhoewel met ons piekniek styl daar nie veel skottelgoed is
nie..... baie glase !! Ons is op die 3de vloer met 'n pragtige uitsig op die
Middellandse see en die wolkekrabbers van Monte Carlo en die ou stad van Monaco
op regterkant en die ander kant toring die kasteel uit die 10de eeu wat vir
baie eeue aan die Grimaldis behoort het.
Seiljagte.....
groot en klein..... lê en wieg op die groot dam. As die donker toeslaan lyk
dit soos 'n sprokie op water met al die liggies. Philip wou die verkyker
saamneem. Ek dink toe dis onnodig, want ons gaan mos nie bos toe nie. Nie in
my verwysingsraamwerk om bote met 'n verkyker te kyk nie. Dit voel soos
afloer.
Ons
word uit ons sokkies geseën met helder sonskyn weer teen alle verwagting en
weervoorspellings in. Lekker om sandale en kortbroeke te dra en die son op
jou wange te voel. So was dit die hele week...... dankie liewe VADER !!!!
Daar
is baie wandelpaaie en het ons hulle bewandel......... heuwel op en heuwel
af........ smal trappe, breë trappe. Dankie tog vir die "blok
botter" in die croissants...... olie die knieskywe.
Die
klippiestrande is yl gesaai met mense (buite seisoen), ons kan kies waar ons
wil staan-trippel oppie klippe. Was daar klipdraers wat hierdie spoelklippe
opgedra het na die Middeleeuse dorpies en al die paadjies handgepak het ?
Dis nie net eeue voor my tyd nie, maar ook by my verwysings raamwerk verby.
Nou
is ons bevoorreg om net in hierdie groot dam, genaamd die Middellandse see te
swem, te hang in die helder emerald groen deurskynende water met die vissies
rondom jou wat so wil-wil proe as jy te lank stil hang. Op 16 jaar moet
hierdie rustige see erg vervelig wees, maar draai die 16 om....... salig !!!!!!
My
Annie vriendin wil altyd weet wat eet ons; hier kom dit: Ons doen Menton
(op die grens van Frankryk en Italië) se ou stad en hier beleef ons 'n paar
gastronomiese hoogtepunte; paella soos die Franse dit doen (sonder hoender en
olywe) net seekos op geurige geel rys.
Die
bouillabaise het ons voete onder ons uit geslaan...... dit was asof in 'n
film. Die kelner bring vyf verskillende heel visse met geel gekookte
aartappels wat hy vinnig by ons verbyflits op 'n Esra Bosch grootte bak
(vlekvrye staal ). Ek besef ek moet vinnig wees as ek hier iets op film wil
vaslê, en net voor die eerste vis se kop waai, stop ek hierdie vertoning en
maak my prentjies. Die kelner is meelewend en staan terug en wuif met groot
handgebaar oor sy vangs. Ek dag ons deel met ten minste 6 mense.
Al
hierdie visse is net vir ons 2 !!! Hy ontgraat die visse knaphandig, skep in
die twee diepborde en op ons tafel wag die reuse pot sop met twee aromatiese sousies
wat op roosterbroodjies geskep en in die sop geweek word. My man jubel, hy sê
sy Oupa het ook die brood so in die sop geweek!!!!!!!
Later
lees ek hierdie Provencaalse spreuk : "A fish lives in water and dies in olive
oil"
Hierdie
sal ek nie vergeet nie, en alhoewel ek weet dat my bouillabaise nooit so sal
smaak nie, is ek gemotiveerd om dit weer te maak.
Later
die week ontdek ons die kusdorpie Beaulieu-sur-Mer. Lg. praat met my.....baie
palms en stok-ou olyfbome langs die sypaadjies. Soos jakaranda bloeisels op
die grond gestrooi, lê swart olyfies hier onder ons voete. "Wat
sonde!", hoor ek my Nederlandse vriendin, Jackie se stem.
Dis
toe hier by B-sur-Mer wat ons teen 12h00 saam met die Franse inval met elkeen
'n reuse bak swart mossels in 'n tipe wit melk wyn sous met pommes frites.
Die
mossel doppe spat rond, maar hier word gekuier....wat sê hulle tog alles ?
Die gesels gaan soms oor die koppe na die man in die hoek.
Ons
kuier lekker saam in Afrikaans, soveel so dat 'n jongman opstaan en kom groet
in Afrikaans. Hy kom van Jhb. en werk op 'n boot wat in die hawe lê vir 'n
paar dae. Hy is al twee jaar besig met die beroep en sy ideaal is om kaptein te
word met sy eie boot.
Vir
die res leef ons uit die Inter-marche......verskillende soorte slaaiblare,
tamaties en natuurlik wortels !! Roquefort kaas, die regte een, dis 'n
"meneer". Pate....Foie gras. So fyn en geurig. Baguette....ons
ontdek die "parisien". Lyk na die baguette, maar is vir ons
lekkerder. Brood, water & "ambience", is ook dikwels op ons
spyskaart. Eksoties.
"
Die Franse Madame", wat die koppe laat draai". Sy is my ouderdom
(al wat ooreenstem). Sy is lank en slank. Sy dra 'n bloedrooi rok tot op
die enkels. Sy het lang pikswart (geverfde?) hare. Sy loop met grasie op
swart stewels en aan haar hand is die swart poedel aan 'n goue ketting en
halsband. Ek wou nog inzoom, maar sy stap met 'n missie. As jy nie 'n poedel
aan die hand het nie, is jy 'n toeris.
Middeleeuse
dorpies is versorg en word bewoon. La Turbie met die Alpe trofee wat oor die
omgewing uittroon is 'n treffer. Lg. is in die 6de eeu VC. opgerig. Ter
herinnering van Augustus se oorwinnings en vrede wat hierna vir drie eeue
geheers het.
Vanaf
die oorblyfsels van die monument het jy 'n manjifieke uitsig vanaf die
Italiaanse grens, Cap Martin, Monaco, Eze en Cap Ferrat. Eze is pragtig,
maar het baie toeristies geword van 10 jaar gelede af.
Hier
is soveel ou kultuur, geskiedenis en museums dat jy in 'n jaar nie by alles sal
kom nie. Wat ons nou beleef het, was maar bolangs.
Ons
pak die terugtog aan rigting Grasse en ry die Napoleon roete. Die wolke hang
laag en 'n aggressiewe bui reën sak uit dat dit wit sit, maar klaar vinnig op.
Dis
bergwêreld en ja dit kon Meiringskloof wees. Maar toe ruk Meiringskloof
heeltemal hand uit en ons het te doen met die "Canyon du Verdon".
Dis wild en dramaties met die Verdon rivier turqoise groen onder in die geut,
met oorweldigende rotsmure weerskante. Die eikebome het hul herfsbaadjies
aan....."God's own painting". Ons voel soos twee spikkeltjies in
hierdie massiewe skepping van ons Vader waar geen mense hand kan kom nie.
PRAGTIG.
Via
Haute Provence stoot ons aan en druk deur na Cruis, waar ons oornag by
Foulara. Hier word ons deur Richard soos ou vriende ontvang, toe hy uitkom en
ons handgee met die bagasie. Hulle het 'n vol huis vanaand en Odille is besig
om te kook. Natuurlik het sy ons weer met haar spesiale aanslag vir Franse
cuisine, heerlik laat eet. Ons kuier lekker met 2 Amerikaners van Oregon. Die
res is Franse.
Die
laaste dag oor die Passo Piccolo St. Bernard, via Aosta vallei na Lugano en
Campione.
Ons
het weereens soveel beleef wat ons verryk het en waardeer alles, want niks is
uit onsself nie, maar aan ons geskenk deur ons Almagtige Vader.
Trois
Joly!
Liefde
en groetnis van huis tot huis.
To the top!

|