Fête de la Desalpe
Deur
Philip de Bruin©
5 Oktober
2001
Die afgelope week was maar traumaties vir die
Switsers. Eers die skietery in die parlement van Zug met 14 mense dood en toe Swissair
se bankrotskap. Dit alles het die Switserse gemoed, relatief gesproke, net so
tot stilstand geskud as die gebeure van 11 September die Amerikaners geskud
het.
Ons het verlede Saterdag die Fête de la Desalpe
van Charmey in die Gruyere gebied van die kanton Fribourg bygewoon. Die diepte
van die Switserse boeregemeenskap kultuur, en die respek en plek wat dit in die
Switserse samelewing het, het ons verstom. En ‘n bietjie treurig en jaloers
laat voel.
Verlede Vrydag was ‘n pragtige sonskyn dag in
Switserland en ons het deur klein dorpies en met landelike paadjies via Lausanne
na Charmey gery. Gedink dis net ons wat die fees, wanneer die koeie afkom uit
die berge, sal bywoon. Soortgelyke feeste vind tog hierdie tyd van die jaar
oral oor die Alpe gebied plaas. Nodeloos om te sê, daar was nie plek vir ‘n
muis in die hotelle en ander blyplekke van Charmey nie. Verder aan is die Juanpas
en ons besef dat die kanse vir akkommodasie skraal sal wees. In ons vier spore
teruggedraai en in die klein dorpie Broc die laaste kamer beskikbaar in die
kleine Auberge des Montagnards gekry. Eintlik meer ‘n eetplek, die enigste, vir
die gemeenskappie van Broc. Die kamer se enkele venster kyk uit oor die
pragtige groen weilande tot by die La Gruyere citadel naby die groot dorp
Bulle. La Gruyere beteken Die Kraanvoël en die kasteel en omgewing se embleem
is dan ook die kraanvoël. Ons Frans is te basies om te kon uitvind wat die
storie is en hoekom is dit na die kraanvoël vernoem. Ons het die aand heerlik
geëet aan ‘n eerste vir ons: Morel sampioene gestop met kalfsvleis. Soos die Porcini
in Ticino, groei die Morel sampioen ook wild in die Gruyere gebied.
Saterdag, hoewel die program gewys het dat die
eerste boer se prosessie 09:30 begin, het ons gemeen om eers na die citadel te
gaan kyk. Terwyl ons egter die motor laai besef ons dat daar ‘n stroom verkeer
op pad is na Charmey. En die motors is gepak met families. Beter ook eers in Charmey
kom.
Voor ons nog daar kom stop die verkeer al. Die
eerste troep is reeds deur die dorp en op pad na hulle plaas teen die verkeer
in. Die motors trek net eenvoudig af en geniet die kleurvolle prosessie. Die
koeie is skoon geborsel, hulle klokke lui, en van die koeie is met blomme
versier. En die pas is soos mense wat op pad is êrens heen. Daar is duidelik ‘n
groot familie betrokke van stokoud tot speenoud met ‘n paar helpers. Al die
mans het ‘n soort van blou-grys pak aan, met die Edelweis geborduur op elke
lapel, en ‘n spierwit hemp. Die vrouens met growwe kant lang kouse (tans hoogs
modieus hier) en tradisionele drag. Babatjies in ‘n rugsak op die rug. Almal
stap flink tussen en agter die koeie. Heel agter kom ‘n perdewa met Oupa en
Ouma Grootjie en die kindertjies wat nog nie so ver kan loop nie. Ook die kaasmaak
toerusting, onder andere ‘n geweldige groot koperpot wat sommer so swart
gebrand is van al die Gruyere wat daarin gemaak is.
Met moeite het ons na die prosessie tot in die
tydelike parkeer terrein gekom wat vinnig besig was om vol te word. Gratis
parkering, geen ander toegangskoste. Die boere prosessies het met variasies
elke halfuur verbygekom. In een geval het die boer trots voor geloop met die Gruyere
kaas wat daardie oggend gemaak is, nog in die houtvorm, op sy skouers. Groot
toejuiging. Al die plaaslike mans van die gemeenskap het dieselfde blou-grys
pak aan met die wit hemp. Die fees is duidelik hulle fees, met waardering dat
daar darem ander Switsers is wat ook kom saam fees vier. Ek skat langs die
straat was daar meer as 5000 mense wat na die prosessies kom kyk het.
Een prosessie het ook groot toejuiging gekry.
Ek het afgelei dis een gesin. Pragtige Alpe bokke skoon geborsel en die oudste
seun lyk op ‘n druppel soos my prentjie van Peter. Daar was ten minste 5
kinders en die dogtertjies kon elkeen Heidi gewees het.
Tussen die prosessies het die gemeenskap se
kunstenaars opgetree:
Vyf mans met Alpehorings. ‘n Eerste vir ons.
Ongelooflike musiek.
‘n Groep van ses mans wat sonder musiek in
stemme sing. Nie jodel nie, nie populêre liedjies nie, maar sang wat duidelik
daar ontstaan en verfyn is. Soos die name van die liedere ook sê: “Echo du
Chateau”, “Echo des Montagnes”
‘n Blaasorkes van sowat 15 lede wat hulleself
“La fanfare l’Edelweiss de Charmey” noem. Pragtige landelike musiek.
‘n Groep van sowat 10 mense wat al lopende met
groot koei-klokke musiek maak!
‘n Mark soos ons nog nie beleef het nie. Mense
wat kloswerk doen en verkoop. Mans wat die fynste houtsny werk doen. Weefwerk.
Natuurlik word daar Gruyere kaas gemaak en verkoop. Die hele omgewing ruik na Gruyere!
Stalletjies wat plaaslike geproduseerde hamme
en saucisson verkoop met ‘n braai waar jy hiervan kan proe. En natuurlik talle
tente met lang tafels en kos wat heerlik ruik!
Teen die middag is ons weg en was die La Gruyere
citadel net so ‘n verassing. Pragtig in stand gehou met mooi uitsigte oor die
weilande van die vallei.
Die roete terug Ticino toe was steeds ‘n
sprokie, maar ons het toe al gely aan die oorlading van die sinne.
To the top!

|