Elba

Deur Catrien de Bruin©

September 1999

Ons laaste RCI week vir die jaar het op die Italiaanse eiland ELBA geval, 10 km van die Italiaanse vasteland en die derde grootste van die Italiaanse eilande. Jy kan die eiland in eendag deur ry. Ons het op Sat. 28 Aug. via Milaan, Piacenza, La Spezia, Livorno na Piombino in 5 ure gery. Teen 12h00 staan Philip in die elle lange tou om kaartjies vir die ferry te koop. Dis 35 grade met 'n humiditeit wat selfs vir my laat sweet. Ons was weer naïef en het gedink dis net ons wat Elba toe gaan.

Die eerste ferry waarop ons plek kan kry vertrek eers teen die middag half ses. Toe eers raak ons bewus van die tale om ons.....Duits, Italiaans, Engels, Hollands en helaas twee in Afrikaans. Daar vertrek elke halfuur 'n ferry na Elba. Die vaart is een uur. Toe het ons ure op Piombino om niks te doen, behalwe om warm te kry. Ons is dankbaar vir die half ses ferry. Party mense kon eers teen nege uur die aand oorgaan. Ek begin wonder hoe gaan dit op die kleine eiland lyk met ons almal daar en ek moet weer navigeer. Laat ek solank die roete bestudeer, solank dit nog lig is. Ek lees en lees en word al hoe wakkerder.....Philip ons is 'n dag te vroeg.....ONMOONTLIK!! Philip lees......ja w.......my vrou....wat nou? Skakel die hotel waar ons die RCI het en verduidelik. RCI is vol, maar ons kry sowaar 'n kamer in dieselfde hotel waar ons van af die 29ste RCI het. Dankie vir die liewe engel wat ons betyds wakker gemaak het.

Ons woonstel is nuut en keurig, maar alhoewel 4 kan slaap is alles in een vertrek. Ons kla nie, want dis 'n luukse.

ELBA.........wat is hier en hoekom kies mense om hiernatoe te kom?

Dis waar die Oleanders en Magnolias blom. Sien vir die eerste keer dat jy van 'n oleander 'n boom kan maak.

Waar die kastanjebome tot teen die see groei.

Waar dit by tye voel asof jy in Tamboerskloof stap.

Waar Napoleon vir tien maande kom bly het (verban was), maar hy het Elba mooi gemaak.

Waar elke baaitjie deurskynende turqoise water is en omsoom word met spierwit sand.

Waar die inwoners hoog bo in die berg kristalhelder water uit die fonteine tap.

Waar die manne tou staan vir die "il Giornale" (oggendkoerant). Die nuus word met groot gebaar en emosie bespreek. As jy op 'n klein eiland sit moet die nuus van buite seker groot wees.

Waar elke dag wasdag is, want of dit nou reën of son skyn, die wasgoed wapper steeds op die balkonne en tussen die stegies.

Waar jy teen 12h00 die aromatiese geur van pomodoro (tamatie) pasta sous in die stegies, jou slaan en jou so honger maak dat jy kwyl.

Waar die rokies uit die pizza skoorstene krul en jy weet dis nou 20h00.

Waar die "passegiata" met sonsondergang, die dag se hoogtepunt is. Die strate rondom die plein en langs die kus word toegesit en verander in wandelgange.....jy dress op, sit grimering aan en almal is daar met hulle honde, babas in stootkarretjies, ou mans met kieries, ou vroutjies met goue kettings, jonges met dun middeltjies wat vir mekaar loer. Oppas! Hou regs en moenie stroomop stap nie. As jy nie met jou hande, arms en lyf saam kan gesels nie, dan is jy nie 'n Elbanees nie.

Dit was ELBA.......allora!

Al die eer aan HOM onse Vader wat die wêreld vir ons so mooi maak, dat ons kan geniet.


To the top!


footer for Elba page