Firenze, Hoofstad van die Kunste

Deur Catrien de Bruin©

April 2003

Stap deur die gekapte klip strate van Floraans, Florence, Firenze – hoe jy dit ookal wil spel - en jy weet dis waar die Italiaanse genie tydens die 13de tot die 16de eeu floreer het.

Firenze is geleë in die hart van ʼn asemrowende landskap van  sagte heuwels met olyfbome, wingerde en sipresse.     So ʼn landskap wat die oog en gemoed plesier moes ʼn uitwerking hę op die kreatiwiteit van al die kunstenaars wat Firenze deur die eeue opgelewer het.

Giotto se lelie toring(1334) op die piazza del duomo wat 82m. hoog die ruim inskiet is die groen van olyfbome, die sagte pienk van die sonsondergang en  die ivoorwit van die grond.    Giotto was nie net ʼn skilder nie, maar ook ʼn argitek. Die rooi-bruin koepel  van die S. Maria del Fiore katedraal deur Brunelleschi is die kleur van herfs.    Dit het hom 14 jaar geneem om hierdie koepel te bou en te skilder.

Die doopkapel  ook in wit en groen marmer in Romanesque styl gebou met die brons deure  in goudgeel, die kleure van Toskaanse ryp koringlande.   Vittorio Ghiberti was hier die kunstenaar.   Sy pa het die ontwerp gedoen.   Dit beeld die lewe van Johannes die Doper uit en die teologiese waardes nl. Geloof, Hoop en Liefde. Die bronsdeure oos (1425-52) is węreld beroemd en moes ek myself tussen die skares inwurm om maar net ʼn prentjie te maak.   Watter tyd van die dag ons ookal daar  verbyloop  het dit toegestaan van toer of skoolgroepe.

Terloops Firenze was oorspoel met besoekers.   Ons het spesiaal  van Maandag tot Donderdag gekies en die naweek vermy.    Die Duitsers, die Amerikaners, die Franse en die res van Italië was opsluit die week in Firenze.   En o ja, twee Afrikane.

Die piazza della signoria;  opelug museum van beeldhouwerke.   Die palazzo Vecchio (ou paleis) vorm ʼn enorme agtergrond met die fontein van Neptune (1576) deur Ammannati.   Voor die paleis is die leeu van Firenze deur Donatello en Michelangelo se Dawid (nie die oorspronklike nie).   Op die vloer van die piazza is ʼn gedenkplaat van die monnik, Savonarola op die plek waar hy verbrand is..... die boek sę op die plek waar hy en sy volgelinge in 1497 ʼn “bonfire of vanities” van skilderye, digbundels, musiekinstrumente ens. gemaak het. Die Uffizi museum vorm deel van die Vecchio paleis.  Ons was emosioneel voorberei om hierdie museum te herhaal, maar dis nie net vir betaal en instap nie.   Die ketting mense wat hier moet in, breek ons moed en Philip besluit om ekstra te betaal vir ʼn bespreking vir die volgende dag. Dit was na  16 jaar nog steeds oorweldigend.  Om uit te sonder die Botticelli kamer,  die bewondering  van die wyse manne deur Leonardo da Vinci en sy aankondiging van die geboorte van Jesus was vir ons uitstaande. Michelangelo se heilige familie is ook  een wat ons nie sal vergeet nie.

Drie ure later en ons koppe zoem, ons voete seer en ons bene lam.   Ons belę in die eerste Gellateria in ʼn enorme roomys…. sit op ʼn trappie en lek en suig kinderlik lekker aan Italië se gastronomiese hoogtepunt.   Wonder of Botticelli na die voltooiing van “Spring” ook  gevoel het vir ʼn roomys oppie sypaadjie!!!!!

Die Ponte Vecchio (oudste brug in Floraans), span oor die nouste gebied van die Arno rivier.    Vandag  is hier juweliers winkeltjies soos krale ingeryg.     Eeue gelede was dit slagters met vleis, maar toe die Medici besluit die Vecchio paleis moet met die Pitti paleis verbind word, is die slagters deur die juwelierswinkels vervang, want dit sal darem meer rustiger op die gemoed wees om  deur juwele omring te wees, as deur slagters.

Aha, en dis net hier wat ek ook rustig in my gemoed voel, het mos ʼn sak vol geld van 11 Febr.  Met my neus in die venster het ek my keuses gemaak.   Philip is selfs gewillig om hierdie groot oomblik met my te deel..... ek voel soos die dag wat ons my verloofring gaan uitsoek het in Kroonstad.    Kom ons begin by die armband.     My keuse is die handgemaakte een in wit goud....... ai.. tai... tai!!!    Ontnugter is die naaste wat ek aan ʼn beskrywing kan kom.    My geld is  steeds in my sak en sal  ek nie sommer my kosbare geskenk geld in enige plek belę nie, maar moet erken die juweliers winkeltjies op die Ponte Vecchio was pret en plesier.

Die paleise wat die bankiers van Floraans gebou het, is so indrukwekkend.   Die Medici paleis is die eerste Renaissance paleis wat ooit gebou is en is vir ons die mooiste.   Die Strozzi paleis is massief, sal enige inbreker se moed breek.   Die Pitti paleis met die Boboli tuine ʼn  enorme en elegante uitleg.   Wat ʼn  verantwoordelikheid!!!!!!

Die kapel in die Medici-Riccardi paleis het ons harte gesteel.   Hierdie kleine kapelletjie in die paleis se 4 mure bestaan uit frescoes deur Benozzo Gozzoli (1459).

Dit gaan oor die prosessie van die wyse manne na en van ʼn Toskaanse Bethlehem, maar met geweldige politieke ondertoon toe die skeuring tussen die Oosterse en Roomse kerk plaasgevind het.  Die prosessie beeld die Medici uit as die wyse manne wat die leiers uit die ooste na Bethlehem toe bring, effektief die vergadering van 1439 in Floraans, en met ʼn ander roete verder gaan.

Siesta in Italië bly ʼn gebeurtenis vir ons.    Alles maak toe teen 12h00 en ʼn geskarrel vind plaas..... alles draai om die middagete.   As jy in Rome is, maak jy soos die Romeine.   In ʼn netwerk van nou straatjies val ons saam met die volk in die agterste stegies in.    Ons keuse val op die “l’Acquacotta” (die kook water).    Dis ʼn regte 10 sitplek eetplekkie waar almal mekaar ken en ooglopend elke dag inval vir siesta.   Ons eet pasta met ʼn glasie rooi huiswyn.    Die eienaar is vriendelik en ons voel tuis, soveelso dat ons wegstap met die handgeskrewe spyskaart van die dag.   Bo in die hoekie staan die telling van die dag se sokker wedstryd.

Die Florentynse lelie wat jou om elke hoek groet,  is vir die eerste keer 1252 op die goue muntstuk, nl. die Florentin gedruk.   Vandag blom die woord nog steeds in die Engelse volksmond.   Gelykstaande hieraan moes seker ons halfkroon wees?

As die blikkerige lawaai van die opskuif van tapperelles begin weet jy Floraans het wakker geword.    Winkels, kerkdeure ens. maak weer oop.   Ons beweeg weg van die toeristiese hoogtepunte en kom af op die Piazza dell’Annunziata 15de eeu.   Behalwe vir die standaard kwartet is hier ook ʼn “Ospedale degli Innocenti”  (hawe van die onskuldiges).    Bokant elk van die 14 boë  in ʼn sirkel op Della Robbia blou is ʼn terracotta medallion baba in lappe toegedraai, elkeen in verskillende posisie.    In die hoekie is ʼn venster (vandag toegemaak met gegote raamwerk),  met ʼn wiel waarin ʼn onwelkom baba neergesit was, met ʼn klok aan ʼn tou langsaan wat aankondig dat ʼn baba in die wiel is.   ʼn Inskripsie sę dat die wiel tot 1875 in gebruik was.   “Sielig” kan ek my Nederlandse vriendin hoor.    ʼn Kwotasie uit die Psalms staan boaan die venster:    “When my father and mother forsake me, then the Lord will take me up.”

Is dit miskien waar al die Jesus babas en kinder gesiggies en figuurtjies op die Renaissance skilderye vandaan kom?

Van ons blyplek “Residenza Johanna” (my Ma se naam), is dit ʼn stywe stappie tot waar alles gebeur, maar dis dan wat ons waarneem hoe die plaaslike Italianers funksioneer.    Teen 20h00 is daar ʼn eenman vullissak verwyderaar besig om Floraans se strate skoon te maak.    Dis ʼn vragmotor met ʼn bestuurder.  Die bestuurder stop en dan klim hy uit en maak die sakke man alleen bymekaar en gooi met geoefende aksie in die opgaar ruimte.

Die veelkleurige straatmark wat elke dag in die straat voor die enorme varsprodukte mark staan, is teen 20h00 weggepak en die straat skoongespuit.   Ons sien hoe knaphandig elke stalletjie eienaar sy winkeltjie in hierdie opvoubare waentjie op wiele toemaak en weereens man alleen wegstoot.   Ons raai die waentjie gaan na sy pa, oom of neef se winkel vir die nag.

Dankie Vader vir alles wat ons kon beleef in hierdie stad wat in die eerste eeu VC. gestig is.    Dis moeilik om te glo dat hier so baie oorloë, lief en leed afgespeel het.   Tweeduisend jaar verder en Floraans is nog daar om sy kuns en argitektuur met triljuisende mense te deel.

Onder ʼn simfonie van kerk klokke en motor toeters  sę ons vaarwel aan Floraans.    Met gietende reën slaan ons die snelweg terug na Campione.    Hier word ons met vars Lente sneeu op die omliggende berge verwelkom.

Nooit ʼn verveelde oomblik in die pakket van ons Almagtige Skepper Vader nie.

Arrivederci.


To the top!


footer for Firenze page