Gandria

Deur Evette Lombard©

April 2001

Vroeg vanoggend ( Vrydag - 6 April) is ek en Christoff na die Piazza Roma om te gaan kyk of ons die ferry kan neem na Gandria via Lugano van hier af.

Dit is vroeg oggend, half 10 op die plein, en die winkeltjies is besig om hulle stoeltjies uit te pak en een mannetjie was die hout bankies af vir die nuwe dag.  'n Grys omie, loop tussen die bootjies met ʼn sakkie vol van gisteraand se ou brood en strooi dit op die anker pale en die res in die water.  Die wêreld krioel van die eende maar vir ʼn duistere rede, eet hulle nie die brood nie.  TOE ONS OPKYK SIEN ONS HOEKOM NIE.  Hier kom die swaan aan, laat wiel vere gepronk in die lug soos ʼn wafferse lady.  Sy is beeldskoon maar gulsig!  Toe sy eers goed weggelê het, begin die eende eers eet.  Nou wel!

Maklik maklik, klim ons op en die vriendelikste bemanning verwelkom ons aan boord.  Die meer lyk soos ʼn swart spieël en die hele wêreld is dynserig.  Ons gaan sit bo op die dek en ek neem net foto's van my man met die wind in sy hare! 

Gandria is ʼn outydse dorpie teen die hange van die Lugano meer, ʼn klein "sleepy town" waar daar op die oog af nie veel aangaan nie.  Ek neem ʼn geel muur af en Christoff kan dit nie verstaan nie... So loop ons op en af met die trappies en bekyk alles.  Gaan in ʼn winkeltjie in en die eienares groet baie vriendelik en vra of ons Amerikaans is: Nee, Engels: Nee, nou waar dan?  Suid Afrikaans, van Cape... en voor ons nog die woord kan uitkry sê sy Kaapstad, net so in Duits en hou haar hart vas.  Sy sê sy was daar verlede Oktober en wat fantasties, hulle drink nou nog aan hulle Kaapse wyne!  Sy was ook in Stellenbosch en Franschhoek en so voorts.  Dit was nê lekker warm gevoel om iemand, so plaaslik, op so ʼn afgeleë dorpie raak te loop wat met soveel pragtige herinneringe oor Stellenbosch praat!

Ons vind 'n kleine loop plankie waar die bote vas gemaak word teen die water en eet ons broodjies.  Hier kom twee eende, ʼn vaal vroutjie en haar blou groen spoggerige mannetjie, hulle eet saam aan ons brood en agter ons is ʼn groot ou swaan besig om haar nes te bou.  Die tyd van die jaar het ek al gesien, skrop die swane nes en wanneer dit lekker warm is, broei die kleintjies uit en word net mooi groot betyds vir die winter se kou.  Die swaan wat die nes bou het nie ʼn saak met ons broodjies gehad nie, maar haar maatjie het, want sy blaas, blaas hier om ons voete vir nog en nog.  Ons sien ook hoe daar water van ʼn eend se rug af rol.

Van hier af stap ons met ʼn paadjie na Lugano, so uur en ʼn half se stap.  Toe ons hoor van die staproete langs die meer, sien ek in my verbeelding hoe ons bundu bash deur die bosse en so aan.  Nee, dit is n pragtige breë, klippie paadjie met 'n reling, pragtig kronkel deur die bosse.  So beskaafd! En hier loop selfs ou mense rustig op hulle eie rond.

Ons loop heel aan die einde deur die mooiste park, waar die beddings vol tulpe staan.  Dit was die einde van ons roete.


To the top!


footer for Gandria page