Sono arrivato bene
Deur
Catrien de Bruin©
Junie
2000
Ek moet erken ek was effe bewerig om so op eie
houtjie weer lughawens en alles wat daarmee saamgaan aan te pak.
Die Lugano vlug was met 'n uur vertraag, dus
baie tyd om my weer opnuut aan alles en almal te vergaap.
Op Zürich sien ek 'n elegante "well dressed"
dame met een bruin en een swart skoen aan. Ek kyk en kyk weer, knip my oë,
miskien sien ek dubbel, maar dis tog so.....wel, wel, wat nog?
Op die bussie vir Crossair komplimenteer ek
'n pragtige jong lugwaardin se haarstyl. Alles baie styf agtertoe gekam (soos
'n ballerina) met 'n bolla in die nek met hare wat soos hoenderhaan stertvere
uitstaan in ligter en donker skakerings as haar eie. Sy verduidelik die bolla
is nie haar eie nie, koop dit so en steek aan haar hare vas.
Wanneer Crossair opstyg tintel die Europese
bloed in my are. Hoe verskriklik mooi het ons Skepper dit gemaak....die Alpe
waarvan die spitse nog spierwit is, die woude, die groen valleie, die laslappie
landjies, kronkelpaaie, diep donkergroen mere en die dorpies wat soos miniature
versprei is tussen die berge.
Toe die lugwaardin die ronde Crossair
sjokolade in silwer papier toegedraai bring vra ek in my nuutgevonde
Italiaans: posso prendere due pezzi per mio marito per favore? Met 'n breë
glimlag gee sy my 'n handvol soos in TIEN!!!!
My mond val oop en die passasiers om my
lag......ek het tog duidelik gevra vir TWEE (due). Seker het my due soos dieci
geklink vir haar. Ek land met 'n sak vol sjokolade tot Philip se
ontsteltenis!!!!! Hoe doen jy dit ? Dis wat gebeur as ek begin Italiaans
praat!!!
Hier is dit 26 grade teen 12h00. Somer, son
en saffier. Die meer is wispelturig van diep donker grys in die oggend en dan
al hoe vriendeliker met donker woud groen in die middag. Uit ons sit-eetkamer
venster beleef ons hoe die visvangervoël middagete met een duik 'n vissie
vang. Dieselfde vissies (persico) waarvoor ons ten duurste in die ristorante
betaal.
Die ornamentele eende sit teen 11h00 op die
spesery teëldakke, na hulle bad en titteweit hul blou-groen vere.
Die twee swane kom teen 20h00 verby vir hul
brood.
Ons gaan stap nou elke oggend 6 uur om die
pasta en sjokolade af te werk. Hoe's daai vir iemand wat eintlik nie 'n
vroegoggend mens is nie.
Ek moet erken dis 'n "beautiful" tyd
van die dag.
In die posbus kry ons 'n kennisgewing
onderteken deur die Dottore van die Servizio Igiene e Sanita Pubblica wat
waarsku dat spesifieke sampioene (porcini) nie voldoen aan die regulasies van
1919 nie en die verskeie supermarkte in Italië word gelys wat dit aan hou en
dat jy dit nie moet koop nie. Dankie dat ons Italiaans van so 'n aard is dat
ons hier en daar verstaan......ons kon dink dis 'n "special" en laat
waai, want porcini sampioene is duur en gesog.
Gister was 'n perfekte dag met byna geen
dynserigheid en ons besluit dis die dag vir Monte San Salvatore. Die uitsig
vanuit ons woonstel is oor die meer van Lugano op Monte San Salvatore. Dit
domineer Campione tot so 'n mate dat die argitek van die nuwe Casino dit so
ontwerp het dat dit sal saamsmelt met die lyne van Monte San Salvatore. Vroeg
in die 20ste eeu is 'n rattrein spoor gebou tot op die piek van Monte San Salvatore.
Dis die enigste piek in die omgewing wat jy nie juis maklik per motor en dan te
voet kan bereik nie. Die rattrein spoor is sowat 1630m lank en klim baie steil.
Dit neem so 15 minute om bo te kom. Monte San Salvatore is sowat 912m hoog,
maar omdat dit 'n steil piek vorm, het jy 'n 360 grade uitsig vanaf die uitsig
platform. Soos mens so dikwels vind wanneer 'n plek in hierdie wêreld bykans
onbereikbaar is, is daar 'n eeue oue kerkie heel bo wat deur een of ander orde
bedryf word met 'n "ospice" vir verworpenes! Die hospice is nou 'n
museum van die orde met notaboeke en geskrifte wat dateer uit die vroeg 16de eeu.
Dit word nog alles deur die orde besit en bedryf. Die kerkie het die naam Cristo
Salvatore, of Christus Verlosser, wat dan ook is waar die naam van die berg
vandaan kom. Die uitsig oor die meer en Campione is behoorlik soos vanuit 'n
vliegtuig.
Terug by die swart en bruin skoene. Ek het
in die via Nassa (ontwerperslaan) gaan kontroleer........ ja daar staan dit in
volle glorie voor jou oë...... onpaar skoene mag jy nou maar dra, of dit nou
swart en wit of groen en pienk is, maak nie saak nie......... moet net inskakeer
by jou uitrusting se kleurskema. Laat waai suster!!!!
To the top!
|