Il Bel Paese

Deur Catrien de Bruin©

April 2001

Colli del Chianti,  Abbazia Monte Oliveto Maggiore,  Abbazia San Salvatore,  Sorano,  Montecassino,  Vesuvius,  Positano,  Capri,  Amalfi,  Ravello........ Antieke name wat jou sintuie om elke hoek en draai laat regop staan.

Toskaanse heuwel landskap vou oop asof jy deur 'n fotografiese reisboek blaai.  

Die werklikheid is beter as 'n droom.

Al die kleure op 'n kunstenaar se palet is 360 grade om jou-------- die blou van die lug, die groen van die Alpine weivelde, die donkergroen van die sipresse, die wit toppe van die sneeubedekte berge, die geel van sonryp suurlemoene, die silwer van olyfbome, die spesery teëldakkies en die turqoise van die see.

Ek weet nou meer as ooit tevore waarom Italië so baie kunstenaars opgelewer het-------- al hierdie kleure en geure laat selfs vir my voel om te dig, te skryf, te dans, musiek maak of te verf of 'n klip te gryp en te begin kap en sien wat kom uit.  

Die olyf olies, wyne, kase en al die vars produkte wat so keurig uitgestal word, maak dat ek wil begin kook en 'n  "Babettes" feesmaal voorberei.

Oor duisende jare het die  "Bel Paese" duisende beïndruk.

So het ons, Christoff en Evette dit weereens die afgelope week beleef.

Colli del Chianti:------ passe van die Chianti wyne.   Omgewing tussen Florence en Sienna.   Terrasse op terrasse met wingerdstokke.   Sommige van ons het lekker dronk geraak van die haarnaald draaie.   Sal nie name noem nie!!   Dis 10h00 die oggend en daarom gaan ons nie vir die Chianti nie, maar wel vir cappucino in een van die koffiebars. Ons drink uit koppies met die katedraal van Florence daarop------ foto!   Evette:   Hoekom weet net die Italianers hoe cappucino moet smaak?   Dis eeue se oefen my kind!!

Abbazia Monte Oliveto Maggiore, begin in 1313.   'n Klooster tussen die sipresse wat oor die Toskaanse heuwels uitkyk.   Dit word vandag nog deur die Benediktynse orde gebruik en ons land daar oor die siesta uur.   Alles gesluit.  Dis jammer, want volgens die Groen gids is hier wonderlike kunswerke en het die "Lombards" eeue gelede 'n betrokkenheid hier gehad, wat Christoff en Evette wou sien.    Ons hou piekniek onder ons enigste twee hand sambrele, want dit reën!!!

Abbazia San Salvatore...... gebou deur die Lombard aristokrate in die 5de eeu na Christus.   Dis hoog bo in die berge waar ook 'n ski-oord is en ons klim in regte hoëveldse donderweer hier af.   Gelukkig is die katedraal en krip oop en Evette herken alles wat sy in kunsgeskiedenis geleer het.   O hoe, joe !!  So in die kleine kry ons 'n blits lesing van al die kapitele, kolomme, boë en frescoes.   Ons kry darem waarde vir ons geld deurdat ons, ons persoonlike kuns gids saamry.

SORANO:  In Toskana en gebou in 1552 op 'n sandsteen heuwel wat kms ver gesien kan word.  Die sandsteen kleurige huisies sit styf teen mekaar en lyk van ver soos duiwehokkies.  Dele van Sorano het vir eeue stadig van die heuwel afgegly.   Soveel so dat die Italiaanse regering in 1929 die dorpie onwoonbaar verklaar het.   Die inwoners het geweier om pad te gee en vandag in 2001 stap ons en menige toeris deur die stegies en boë.   Restourasie werk het gehelp en Sorano staan stewig op die heuwel.

Internet sê:   Indrukwekkende voorbeeld van Renaissance militêre ingenieurs werk.   Twee reuse kastele domineer die dorpie.   Die handgepakte klipstraatjies is pure Middeleeuse sjarme, nou en krom.   Alles opmerklik silwerskoon, die inwoners behulpsaam en vriendelik.   Glad nie toeristies met triljuisende snuisterye nie.

Die Signorina by die Informazione wat eerder lyk of sy pas van 'n mannekyn skool kom,  reël vir ons slaapplek buite Sorano wat in ons prysklas pas. 

MONTECASSINO:   Die ware jakob!!   Gelukkig het ek toe die een by Fourways gesien!! Die klooster van Monte Cassino is in Mei 1944 hewig beskadig. Nadat die geallieerde magte Napels ingeneem het, het die Duitsers hulle by Cassino ingegrawe waar die klooster op die berg die roetes na Rome domineer. Na 'n geweldige bombardement en aanslag deur die ge-allieerde magte wat dae geduur het, het die Duitsers onttrek op 18 Mei.

Ons hou verby, want tyd is kosbaar.

VESUVIUS:   Dis 'n  steil en stewige stappie na die mond van die krater, maar lekker na die lang sit in die motor op die snelweg. 'n Middeljarige man deel gratis wandel stokke uit vir wanneer jy die steiltes moet uit.   Van bo het jy 'n umf, oef, sug op sug uitsig oor die hele baai van Napels, Capri, Sorento, Ischia en Napoli.   Dis net so fantasties om die krater van bo te sien.   Die warm stoom kom nog gedurig op plekke uit.  In 1944 was die laaste ontploffing.  In 1683 het Vesuvius die dood van 3000 mense beteken.  In 97 NC. was die dorpe Pompei en Herculaneum met lawa-as bedek, die inwoners was oorval met die warm as en het omgekom.   In die 18de eeu het hulle met uitgrawings begin en is Pompei vandag 'n toeristiese attraksie.   Ons en die kinders het Pompei in 1974 besoek.  Nooit gedink ons sal die geleentheid kry om Vesuvius uit te stap nie.   Destyds was die kinders te klein.   Na 27 jaar kon Evette self uitstap!

Hierna durf ons Napoli aan.   Wat 'n nagmerrie.  Ons soek na rigting Sorento--Amalfi-kus.   Almal ry voor jou in, scooters en puchies vleg deur die verkeer, waar daar nie robotte is nie, word toeters gebruik.  Wat chaos!!

Philip:   Alle Italiaanse bestuurders is eintlik gefrustreerde "Ferrari drivers" 

Ek en Evette hang by die agterste vensters uit en maak prentjies soos die karaktervolle Napoli by ons verby vlieg.  Christoff het my voorste plek as navigator ingeneem.  Later het hy te kenne gegee dat dit was asof hy op 'n navigasie kursus was.  Nadese weet hy van kaart lees.   Philip hou kop!!!  Ons kroon hom met die nobelprys vir die beste bestuurder, want teen 16h30 ry ons Positano binne in gietende reën. Evette charm 'n polizia en die begelei ons deur die al en enigste besige straatjie van Positano tot by die parkering vir die Hotel Bougainville wat net oor die pad is, waar ons drie nagte geslaap het.

POSITANO is 'n visserdorpie wat langs die kus van Amalfi lê.   Die wit kubiese huisies wat op terrasse teen die hoë berghange gebou is, front tot teen die see. Sprokiesagtig mooi. Positano was deur die eeue gesog vir alle kunstenaars.   Nureyev, die Russiese balletdanser het sommer vir hom 'n eilandjie hier gekoop.  Oral sien jy sy spore in die vorm van kunswerke.  In die vyftigs is uitspattige helderkleurige tabbertjies hier gebore.   Jy kan vir jou 'n nommertjie aankoop, ten duurste!!  Die somer sandale word getooi met krale en juwele asof uit Salomo se skatkis.   Fyntjies en mooooooooi!!!!

Die kos is  lekker, eg Meditereëns.   Ons hou egter baie piekniek, want uiteet is peperduur.   Ons was gelukkig om 'n kleine sitkamertjie met balkon naby ons kamers te hê. Daar het ons, ons eie smaak bymekaar gegooi.  Lekker kaas en Chianti geëet en die uitsig oor die see geniet.

Waar daar nie huisies teen die hange is nie, is dit oortrek met suurlemoenbome en olyfbome.  Hier sien ons suurlemoene so groot soos spanspekke.  Ek koop die normale grote wat soos 'n peer lyk.  Dis sonder pitte, nie so suur nie, dik geel skil en binne lyk dit soos 'n blommetjie.

Hulle brou 'n likeur "Limoncello" wat oral in die mooiste kraffies goudgeel rondstaan.  Ek kies 'n viool!!!   Evette lag vir my..... sy sê :  Tipies my Ma.  Die vioolkraffie word oopgemaak op ons laaste saam.  Dis verskriklik SOET.   As jy Philip goed genoeg ken sal jy presies weet wat hy hiervan gesê het.

CAPRI:   Wanneer ek as jong meisiekind "I't was on the Isle of Capri........" op die klavier gespeel het, was ek altyd meegevoer en het die mooiste prentjies in my kop gemaak oor hierdie eiland.   Daar word ek geseën deur ons Groot Heer en Meester om vir die 2de keer voet aan die wal van Capri te sit.  Ons word geseën met 'n helder sonskyn dag en sit af na Sorento hawe om die ferry na Capri te neem.

Ek is baie opgewonde, want na 27 jaar kry ek weer 'n kans om die blou grot te sien.  Die eerste poging van 1974 het misluk,  want ons was nie slim genoeg om die regte prosedure te volg nie.   Nou weet ons net hoe------ Philip gaan dadelik oor in aksie------- wat 'n teleurstelling----- die grot is toe------ die deining van die see is vandag te hoog, word ons meegedeel.   Ek en die liewe blou grot sal mekaar nie sien nie.

Ons 2de keuse is om die eiland plat te stap.   Ons klim triljuisende trappe tot bo by die ou dorp.   Die werklike Capri is nie die prentjies wat ek in my kop gehad het nie. Beslis 'n Ryk-mans-vakansieoord met baie Hotelle en asemrowende Villas.   Al die ontwerpers in die boek het daar 'n winkeltjie.   Ek kon nêrens die romantiek optel van die ou liedjie nie.   Seker geskryf voor die toerisme oorgeneem het.   Die natuur is voorwaar baie pragtig met sy "Cliffs en charming views".   Die see emerald groen.

RAVELLO:   Die Groen gids gee Ravello drie sterre.  Ons stem eenparig hiermee saam.  Ravello is hoog teen die berge geleë en het 'n asemrowende mooi uitsig tussen see en lug, tussen die suurlemoen en olyfboom hange.   Van Amalfi kus ry jy met baie haarnaald draaie om bo te kom, maar dis die moeite werd.   Ravello het baie subtiele karakter, laat my aan Lucca dink.   Reën vang ons weer, terwyl ons die trappe en stegies doen.   Menige keer het ons alvier onder 'n posseël dakkie geskuil teen die reën.

Ek en Evette  al giggelend, want die mans is te breed en lank om in te pas, en dan sien ons nog 'n gaping vir 'n foto tot hul ontsteltenis.

Donderdag oggend 6uur val ons in die pad, bereik die A1 teen 7uur en presies 9 ure later stop ons in Campione.   Dankie Liewe Vader vir soveel wat ons kon beleef en die voorspoed wat ons uit U hand ontvang het.


To the top!