Il Cenacolo

Deur Catrien de Bruin©

September 2001

Milaan is een van die enigste stede in die wêreld waar jy net die naam van ʼn skildery vir ʼn taxi bestuurder kan gee, en hy weet dadelik waar jy wil wees.

Dawie en Juliana kuier 'n paar dae by ons.   Hulle is op 'n maandlange avontuur in Europa en ry die golf teen hoogste versnelling.  Ons het vooraf besluit om een dag Milaan toe te gaan.   Spesiaal vir die "laaste aandete" van Leonardo da Vinci  wat na ongeveer tien jaar se restourasie nou voltooi is.   Dawie het vir ons op die internet plek bespreek.  Daar word nie meer soos vroeër tou gestaan vir kaartjies nie.  Ons was bespreek vir Dinsdag die 18de om tien uur met 'n Engelse toergids aan ons sy.

Ons het die trein na Milaan oorweeg, maar besluit toe inmiddels om tog met die swart Golfie te ry (foutjie), want sien dan is jy jou eie baas met jou eie tyd !!!

Teen 7h30 val ons in die pad om soos ons Milaan nader net in verkeer wat van erg na erger te gaan te staan.

Milaan self is 'n nagmerrie.    Almal weet presies waarheen hulle wil, maar ons moet straatname soek, uitspel en dan eers besluit of dit links of regs is, want dis asof die kaart ook deel geword het van hierdie skattejag, want niks stem ooreen nie.  So het ons bumper op bumper teen 9h30 'n parkering waar jy jou sleutel in die motor los gekry.

Met groot oorgawe dit gegee, want die S. Maria delle Grazie is nog twee blokke verder.  As jy lang bene het kan jy vinnig stap soos al die Milanese doen, maar as hulle kort is moet jy drafstap.  So is my "bella figura" daarmee heen.  Nodeloos om te sê ons is laat en moet kontant in jou sak hê vir die kaartjies wat ons nie het nie.  Ons kry plek in 'n Italiaanse groep van +- 20 vir 'n halfuur later.   Die res van die dag is vol bespreek.   Die manne gaan soek 'n bancomat vir kontant en 10h30 staan ons tussen die Italianers reg vir Leonardo se meesterwerk.   Ons huur oorfone wat alles mooi in duidelike Amerikaans verduidelik....... dankbaar!!

En toe skielik hier is dit voor jou.   Ek skrik effens, want dis tog nie werklik nie, is dit nou of is dit nie ?   Ons het dit 3 keer vantevore gesien, maar wat ek nou hier sien, het ek nog nooit so beleef nie.   Die vorige twee kere was dit met steiers en die eerste keer in 1974 was dit erg donker en vuil.  Jy kon nie veel uitmaak nie.  Hierdie gerestoureerde werk laat jou stil en stom, want hier sit Jesus met sy dissipels om 'n tafel en daar agter skyn die lig by die vensters in en sien jy die Toskaanse agtergrond.  Dis die bo-vertrek met die balke in die plafon.  

Ek beskik nie oor die vermoë om Leonardo se tema nl.: Terwyl hulle eet, sê HY:  "Dit verseker EK julle:  Een van julle sal MY verraai"  in woorde weer te gee.   Geen poskaart of  kuns boek kan dit doen nie.  Die gesigsuitdrukkings van elkeen is onvoorstelbaar:  Jesus in die middel met 'n rustige en nederige uitdrukking en die dissipels in groepies van drie langs hom.   Almal toon ontsteltenis op een of ander wyse.   Net Judas het geen uitdrukking nie.

Leonardo het vanaf 1494 tot 1498 aan "il Cenacolo" gewerk.   Die klooster en kerk is met die 2de wêreldoorlog gebombardeer.  Hierdie muur het bly staan. Die werk is oorspronklik in olie gedoen en Leonardo was 43 jaar oud.   Die monnike het Leonardo dopgehou en teen die einde toe almal al 'n uitdrukking op hul gesig en hande gehad het, was dit nog net Jesus en Judas wat hy mee gesukkel het.  Hulle het hom by die Duke gaan aangee dat hy nie sy bes doen nie.   Leonardo het al die eetplekke en die mense in die strate dopgehou vir gesigsuitdrukkinge en "body language" voor hy vir elkeen van die dissipels besluit het.  Vir Judas het hy uitdrukkingloos gelaat en ek wonder tog wanneer was hy tevrede met die uitdrukking wat hy vir JESUS gegee het en "wie" was die gelukkige model.

Die res van die dag het ons net Milaan geniet. Soveel groot belewenisse wat beter verslaggewers as ons, alreeds dikwels beskryf het.


To the top!


footer for Il Cenacolo page