Il Cenacolo
Deur
Catrien de Bruin©
September
2001
Milaan is een van die enigste stede in die
wêreld waar jy net die naam van ʼn skildery vir ʼn taxi bestuurder kan
gee, en hy weet dadelik waar jy wil wees.
Dawie en Juliana
kuier 'n paar dae by ons. Hulle is op 'n maandlange avontuur in Europa en ry
die golf teen hoogste versnelling. Ons het vooraf besluit om een dag Milaan
toe te gaan. Spesiaal vir die "laaste aandete" van Leonardo da Vinci
wat na ongeveer tien jaar se restourasie nou voltooi is. Dawie het vir ons op
die internet plek bespreek. Daar word nie meer soos vroeër tou gestaan vir
kaartjies nie. Ons was bespreek vir Dinsdag die 18de om tien uur met 'n
Engelse toergids aan ons sy.
Ons het die trein
na Milaan oorweeg, maar besluit toe inmiddels om tog met die swart Golfie te ry
(foutjie), want sien dan is jy jou eie baas met jou eie tyd !!!
Teen 7h30 val ons
in die pad om soos ons Milaan nader net in verkeer wat van erg na erger te gaan
te staan.
Milaan self is 'n
nagmerrie. Almal weet presies waarheen hulle wil, maar ons moet straatname
soek, uitspel en dan eers besluit of dit links of regs is, want dis asof die
kaart ook deel geword het van hierdie skattejag, want niks stem ooreen nie. So
het ons bumper op bumper teen 9h30 'n parkering waar jy jou sleutel in die motor
los gekry.
Met groot oorgawe
dit gegee, want die S. Maria delle Grazie is nog twee blokke verder. As jy
lang bene het kan jy vinnig stap soos al die Milanese doen, maar as hulle kort
is moet jy drafstap. So is my "bella figura" daarmee heen. Nodeloos
om te sê ons is laat en moet kontant in jou sak hê vir die kaartjies wat ons
nie het nie. Ons kry plek in 'n Italiaanse groep van +- 20 vir 'n halfuur
later. Die res van die dag is vol bespreek. Die manne gaan soek 'n bancomat
vir kontant en 10h30 staan ons tussen die Italianers reg vir Leonardo se
meesterwerk. Ons huur oorfone wat alles mooi in duidelike Amerikaans
verduidelik....... dankbaar!!
En toe skielik
hier is dit voor jou. Ek skrik effens, want dis tog nie werklik nie, is dit
nou of is dit nie ? Ons het dit 3 keer vantevore gesien, maar wat ek nou hier
sien, het ek nog nooit so beleef nie. Die vorige twee kere was dit met steiers
en die eerste keer in 1974 was dit erg donker en vuil. Jy kon nie veel uitmaak
nie. Hierdie gerestoureerde werk laat jou stil en stom, want hier sit Jesus
met sy dissipels om 'n tafel en daar agter skyn die lig by die vensters in en
sien jy die Toskaanse agtergrond. Dis die bo-vertrek met die balke in die
plafon.
Ek beskik nie oor
die vermoë om Leonardo se tema nl.: Terwyl hulle eet, sê HY: "Dit
verseker EK julle: Een van julle sal MY verraai" in woorde weer te
gee. Geen poskaart of kuns boek kan dit doen nie. Die gesigsuitdrukkings
van elkeen is onvoorstelbaar: Jesus in die middel met 'n rustige en nederige
uitdrukking en die dissipels in groepies van drie langs hom. Almal toon
ontsteltenis op een of ander wyse. Net Judas het geen uitdrukking nie.
Leonardo het vanaf
1494 tot 1498 aan "il Cenacolo" gewerk. Die klooster en kerk is met
die 2de wêreldoorlog gebombardeer. Hierdie muur het bly staan. Die werk is
oorspronklik in olie gedoen en Leonardo was 43 jaar oud. Die monnike het
Leonardo dopgehou en teen die einde toe almal al 'n uitdrukking op hul gesig en
hande gehad het, was dit nog net Jesus en Judas wat hy mee gesukkel het. Hulle
het hom by die Duke gaan aangee dat hy nie sy bes doen nie. Leonardo het al
die eetplekke en die mense in die strate dopgehou vir gesigsuitdrukkinge en
"body language" voor hy vir elkeen van die dissipels besluit het.
Vir Judas het hy uitdrukkingloos gelaat en ek wonder tog wanneer was hy tevrede
met die uitdrukking wat hy vir JESUS gegee het en "wie" was die
gelukkige model.
Die res van die
dag het ons net Milaan geniet. Soveel groot belewenisse wat beter verslaggewers
as ons, alreeds dikwels beskryf het.
To the top!

|