Lank, lank gelede!
Deur
Catrien de Bruin©
Junie
2001
Opgedra aan Philip
Jnr. & Carl Pieter de Bruin.
Eendag, lank, lank
gelede in die jaar 1886 het 'n Koning en 'n Koningin vir hulle 'n baie mooi
kasteel in Bretagne, Frankryk gebou. Die kasteel noem hulle "Chateau de
Tredion". Dis gebou op 'n landgoed van 20 hektaar. Dit was in 'n tyd
van prag en praal !!
Hulle het op
spierwit perde gery, terwyl hul lakeie 'n reuse groot sambreel oor hul gehou
het om die son te keer. Almal het net altyd koninklike klere in koninklike
kleure, nl. purper
en skarlakenrooi gedra. Die langbeen, dun honde was ook almal spierwit.
In die tuine het
takbokke gewei, hasies het oral rond gewip en eekhorinkies het die reuse
akkerbome hul speelpark gemaak.
Op die waterstroom
wat rondom die kasteel vloei, swem swane en eende rond. Die Koning en Koningin
en hulle kinders en hulle kinders en nog hulle se kinders het lank en gelukkig
hier gewoon...... EN TOE...... nie so lank gelede nie, in die jaar 2001 kom
twee mense van Afrika verby gery met 'n swart VW Golfie. Hulle name is Philip
en Catrien de Bruin. Ja, julle Oupa en Ouma!
Hulle hou baie van
die kasteel en besluit om vir 6 nagte te voel hoe dit is om 'n Koning en
Koningin te wees. Die Franse wat nou in die kasteel bly was baie vriendelik en
goed vir hulle, maar hulle moes duuuuur betaal om hier te bly. 'n Pragtige jong
meisie met wit hemp en swart rompie ontvang hulle by die ingang en gaan wys
waar hulle vir die 6 dae kan bly. Hulle moet baie trappe klim. Dis 'n baie
breë stokou houttrap....... kraak.. kraak... kraak.... tot hoog bo in die
toring.
Hier wag 'n luukse
sitkamertjie met 2 sagte stoele, 'n ronde tafeltjie met 2 stoeltjies, 'n
instap kombuisie met net genoeg eetgerei vir Oupa en Ouma.
Dit voel asof
hulle in 'n boomhuis woon, want die eeue oue akkerbome loer by die vensters in
en die voëltjies twiet... twiet... twiet.... om te sê: "WELKOM"
Ouma kyk rond en
wonder waar sal hulle vanaand slaap ? Oupa het dit uitgesnuffel. In die
gangetjie is 'n klein deurtjie, amper soos vir dwergies. Hy stoot die deurtjie
oop. 'n Baie klein, smal trappie gaan nog hoër. Oupa moet buk en dwars draai
om hier in te pas. Hy klim versigtig, Ouma agterna !! En wat wag hier vir
hulle? 'n Matras oppie vloer met 'n enorme groot duvette en 'n Franse rol vir
die nek. Alles in spierwit !! DIS AL !! 'n Venster, ja 'n piepklein venstertjie
waar Oupa se voete lê. Ouma sê: Hoe luuks is dit nie, want hulle ken van
kamp in 'n klein tentjie, waarin jy nie regop kan staan nie.
Oupa en Ouma voel
soos die Koning en Koningin van die "Chateau de Tredion" in die jaar
2001.
Oupa verander toe
in 'n gapende verskoning van 'n historikus. In die tyd van Stonehenge, sowat
4000 tot 2000 jaar voor Christus het daar in hierdie gebied, Carnac, mense
gewoon wat reuse moes wees. Niemand weet regtig wat die storie is nie want dit
het gebeur voor stories opgeskryf is. Maar hierdie mense het massiewe graniet
blokke in patrone oor kilometers van die landskap geplant en op hierdie graniet
blokke, wat bekend staan as menhirs, patrone uitgekap. Tien gewone sterk mans
kan nie so 'n menhir optel nie.
Meer nog (vandag
se mense meen dit was begraafplase en noem dit dolmens) hierdie mense het
massiewe stukke graniet geplaas op kleiner menhirs sodat dit amper die vorm het
van 'n klein katedraal. Ouma het een afgeneem waar daar net vir sowat twintig
mense vatplek is, en twintig van vandag se sterkste mense sal dit sowaar nie
optel nie!
Dit kan natuurlik
ook wees dat God hier bietjie gespeel het uit frustrasie omdat Sy volk op
daardie stadium tekens begin toon het in die Sinai woestyn van die ontrouheid
van die mens. Eendag sal ons weet!
Eeue later het
mense van Cornwall, uit die Britse eiland, hulle hier kom vestig. Die gebied
staan vandag nog bekend as Cornounaille en die naam is Bretagne, of Brittany,
terwyl die Franse na Groot Brittanje verwys as Gran Bretagne!
To the top!

|