Les Arcs

Deur Kathy de Bruin©

April 2000

Hier's 'n detail verslag oor ons afgelope week vandat ons vertrek het tot netnou wat ons ons voete weer hier aan wal van Lugano-meer gesit het. Skink 'n glasie rooiwyn met Franse brood sodat julle julle setting kan regkry vir die storie wat volg...

Saterdagoggend, donkervroeg, ry ons uit die garage onder die villa met Pa se ski's en Philip se waentjie vasgeanker op die dak, want daar was nie meer plek IN die kar nie. So ry ons toe sit-sit-so al deur die Aosta-vallei met sy klipgepakte wingerd-terasse. 'n Prentjie wat hom later vasloop teen die Mont Blanc tonnel gesluit en draai ons om en kronkel 'n ompad uit met haarnaalddraaie deur die Col-de-la-Forlaz en daarna Col-des-Montez passe om uiteindelik 'n blik op die bekende Mont Blanc te kry na ons deur Chamonix is.

Sneeu op die toppe, maar nie toegedraai nie en ons wonder of ons sneeu gaan hê om te ski. Ons piekniek by Gervais langs 'n fonteintjie op straat. Philip laat loop met die kliptrappies en vermaak die water hom en ons lê weg aan Coop special  Alfredo Salami, brood en tamatie. Hier sien ons ewe 'n Mac Donald's uitgekap uit Switserse hout. Laat middag en baie moeg arriveer ons by Les Arcs en slaan 'n groot bederf met 'n 2 slaapkamer, een badkamer, 2 toilet en 6 slaapplek woonstel met 'n lang eettafel en 'n .....skottelgoedmasjien! Die kêrsie op die koek is ons woonstel heel op die punt weggepak in die sneeu met geen balkon, net die sneeu en dennebome so naby jy raak byna aan hulle. Geen mens of gebou in sig. Kompleet nes 'n hutjie stoksielalleen in die Franse Alpe. Ons gaan slaap. Loer uit by die venster en sien dit het saggies begin sneeu - hoera!! Ek verkyk my aan die eerste-keer-in-my-lewe-prentjie en dompel weg 1800m bo seespieël in die Haute Savoie Provinsie, Frankryk.

Vroegoggend is die vorige dag se kaal dennetakke belaai met sneeu wat met die dag se aanstap al laer en laer hang soos die sneeu oppak. Jacques staan die "chair lifts" en afwag vir oopmaaktyd, ek stap knyp-knyp saam om nie te gly met my tekkies(wat seker eerder "moon bootse" moes wees), om die nuwe wêreld te gaan bekyk en ek het my omtrent moeg bekyk. Soos ons see toe gaan, in die branders duik, sandduine afhardloop, so skrik die mense nie vir koue en sneeu nie. Dis 'n bedrywigheid van manne, vroue, oues, jonges, families, piepkleinmensies en almal is reg vir die sneeu. Opge”dress", nie my 15 jaar oue kaliber groenski-pak wat niemand miskyk nie, maar modieus in kleure, style, musse, oormusse, brille, handskoene. Tot die kleintjies - waffers geklee, donkerbrille de "works" met helmets. Lyk soos die "cute"-ste marsmannetjies, professioneel met die wêreldse selfvertroue - op ski's sonder stokke, slee'tjies en lepels laat waai hulle van die laagste heuwel tot die hoogste spits tot reg onder. Ek besluit as hulle so maklik kan, kan ek ook en kry selfvertroue vir my eerste klas.

Met Ma, Pa, Philip jr en Jaak val ek 'n uur laat by my klas in. Europa het net die vorige nag hul horlosies 'n uur vroeër gedraai, ons vergeet skoon en mis ek die "basics" en wonder waar gaan ek eindig? Die instrukteur praat net Frans, almal in die spannetjie Frans (behalwe Sue en die 2 Israeli's) en laai my spanning op toe ek agterkom dis nie so maklik soos die kleintjies dit laat lyk nie. Ski's wil net weghardloop met my, al staan ek stil, balans is skielik nie meer daar nie, moet nie eens praat om te probeer draai nie. Ek redelik moedeloos. Vlg'e oggend oefen ons nie verder hier onder nie, maar neem toe ewe 'n "chair lift", my maag draai, maar ek onthou Cecile Cilliers se skrywe in die Sarie kort voor ons koms. Haar instrukteur se raad toe die vrese haar pak: "Look around you and enjoy the beauty!" Ek doen dit, besluit 5 minute later se drama's kan eers wag. En so begin my aandurf van die "slopes" - altyd blou, nooit rooi/swart. Dit was Pa en Jaak se "babies". Martinae doen haar bes in haar gebroke Engels om my te help, dit val en dit bars om op te staan weer op my ski's, ek kry die draai nie reg en vroeg vlg'e oggend oefen Jacques en Pa met my. Die ballet "interfere"- ek staan met my knieë na buite op die buitekant van my voete, as jy wil ski is al wat werk knieë na binne. So slaan ek 'n goue sleutel en begin beter die "feeling" kry. Daai middag voel ek soos 'n "champ" op die "slopes", die vlg'e middag draf ek (volgens my) die "slopes" plat, kry my draaie gegooi, val min en raak ski toe 'n werklikheid - 'n lewenservaring. Het die vorige nag lekker gesneeu en vir hierdie beginner was die sagte, spierwit "virgin snow" net die ding om my selfvertroue 'n reuse hupstoot te gee.

Bytjie het Philip opgepas en reggestaan met rooibos en middagete en weer saans 'n smulmaal om die honger en moeë en soms moedelose rawe te vul. Eclairs (Nutella op Baquette) word die "snack" van die week. Baquette soos werklik net die Franse kan vir middagete, baquette vir laatmiddag "snacks" met rooiwyn, baquette om die slaaisous uit ons borde uit te lek en bacquette vir ontbyt vir die wat nie lus was vir piesangs. Baquette-paadjies het die de Bruin's uitgetrap - ons spore vir ewig agtergelos. Vir afwisseling was daar ander bederwe. CROISSANTS - nog nooit tevore het subtiel-soet-botterkors so weggesmelt in 'n man se bek nie. Soveel so, dat ons Philip se verjaarsdag 'n dag vroeër vier, met croissants vir middagete en WEER vandag op die pad. Ons bederf ons met Ilza se sakgeld en gaan eet een aand mossels en pomme frittes. Duur vir te min, maar lekker en ontdek ons eers die sousie na helfte van die mossels ge"polish" is. Wyn 'n fortuin ek drink water, J. Coke en slaat ons agteroor toe dit F44 alleen uit ons sak jaag! Ons ontdek vir 'n ander aandjie La Marmite. Baie beter pryse, half liter rooiwyn vir F30, met 'n kruik water daarby EN baquette. J. loop hom egter 'n blou'tjie deur te dink fillet in Frankryk gaan sag wees, sy 3 scoops roomys maak op daarvoor. Ek lê weg aan 'n heerlike groentesop met Fromage Blanc en "blue berries" vir nagereg. Ek moes dit weer proe na Ma ons hieraan bekendgestel het, J. het die Nutella-Fromage-variasie die lig laat sien. By 'n Deli koop ons die kos van die dag vir 'n volgende aandete - cous-cous met rosyntjies met 'n bredie saamgeflans uit groentes, lam, hoender en 'n laaaang sousie. Eet 3 dae later steeds. Ma-hulle proe die vlg'e aand crepes, terwyl ek en J. ons verlustig aan ons aartappel-uie-jambon-kaas wegneemdis, gekoop van 'n boertjie met filthoed op straat agter 'n REUSE swart pan wat ons uitgelok het met 'n groot hap om eers te proe - hy vang ons! Heerlike kruie-jambon rond ons spyskaart af een middag en om te weet ons was hier, Tomme-kaas van de Savoie met rooiwyn op ons laaste aand.

Jacques draf die "slopes" plat, later sien ons hom skaars, eet met sy "bootse" aan, reg om onmiddellik weer die berge te vat na ete. Sien hom nie voor 5 smiddae. Pa sê hy kan nie meer so aaneen nie en ski soggens met gehuurde ski's na syne uit die gang gesteel is. Net toe ek myself geniet en kans sien om nuwe truuks om beter te draai baas te raak, gee my maermerries in. Opgekneus en geswel van die "bootse" en was my laaste en langste en mooiste "slope" 'n nagmerrie om onder uit te kom met gewig op my linkerbeen en elke draai na links 'n pynlike draai. Op die noot soen ek die "slopes" koebaai vir 2000, mis uit op my laaste dag van ski, maar is ek en J. gemotiveerd om te begin spaar vir 'n vlg'e ski-vakansie. Moet sê, ek het my swarrie gemis - sou lekker wees om met iemand uit die family saam klas te loop en dit sou iets wees om so lang man te sien neerslaan!

Die laaste dag sit ek en Ma ons uit om Philip se verjaarsdag aanmekaar te slaan. Kry die croissants en bak ek koek buite in die sneeu. 'n Sneeuman met mus en wortelneus, tamatiesap vir rooi wange, wolserp met 'n groot EEN en Philip uitgepak in dennetakkies. Ons kleine mannetjie kry sy groen nekserp en ladybird-bal en is dit net foto's en video van die gebeurtenis. Seuntjie was die heelweek skrikkerig vir die sneeu. Eintlik was dit meer sy ski-pak wat hom so ingegiet het dat hy doodstil, stokstyf dan gesit het. As hy sy kop draai, draai sy hele bo-lyfie saam. Ook het hy 'n kus weg van 'n klein mademoiselle wat haar vergaap het aan die mooi seuntjie in sy waentjie. Sy't hom gekyk, nader gestap, in die waentjie ingeloer om nog te kyk, 'n kus van haar handjie tot op sy wang geblaas en tevrede weggestap. Ouma en Oupa het die "touch" met Philip gekry, ewe in Pa se arms geslaap en Ma was die geselskap en vermaak van die week aan ons jonge heertjie.

Vanoggend voor 7 stap ons suutjies uit Les Arcs, nog skemerdonker, deur 'n wonderwêreld wat oornag nuwe sneeu bygekry het. Die keer, versiersuikerfyne sneeu gepoeiersif oor al wat buite bestaan. Ons ry weg in 'n sprokjieswêreld vir 2 ure lank. Dennebome uitgestof in die sneeu, droë bome lyk soos ysstokkies - gevries, tot onder in die vallei hou die prentjie aan en aan en oe en ah ons om elke draai vir hoe mooi 'n doodgewone wêreld lyk in sneeu getooi. Ons spandeer ons laaste Franse Frankies op baquette en koekerasies, Philip verjaar mos! Weer terug deur Albertville, die mooie vallei, Mont Blanc onsigbaar, later verder deur Masera en Re, verby Lucarno tot terug tuis. En net-nou val ons hier in langs 'n stil-stil meer(die monster dink ons het ons gesien toe ons geëet het), heerlike somerweer met meer bloeisels en nuutgroen blaartjies wat intussen uitgekruip het. Vanmiddag gaan ons kyk of die tulpe al blom.

'n Onvergeetlike week kon ons meemaak. Chair lifts, slopes, moon bootse, virgin sneeu het alledaagse terme geword. (excuse me!) 'n Anderste stukkie wêreld kon ons bekoor. Dankie Madre en Padre vir hierdie bederf wat geen dankie sal kan uitdruk.


To the top!