Lugano

Deur Evette Lombard©

Mei 1999

Is deftig en ek ervaar dit minder toeganklik as Nice, seker ook omdat die Rand en die Switserse Frank of Italiaanse Lira nie so lekker saamwerk soos die Franse Frank nie, bly ons maar in die strate en uit die boutiques uit.  Ook maar goed.  Ons is gelukkig nie die enigstes nie want die Via Nassa is vol mense soos ons wat net daar is vir die daar wees daarvan.  Sonskyn Saterdag oggend was die strate vol families wat uitkom vir ʼn wandeling op so ʼn mooi dag.  ʼn Jong ontwerpers pappa met ’n ontwerpers stootwaentjie waarin ʼn ontwerpers babatjie lê, met twee ontwerpers kleuters aan sy ander hand, het my oog gevang.

Hier is baie juweliers en ek verbeel my ek soek ʼn trouring. Ons spandeer ure op die rooi houtbankies op die Promenade teen aan die meer, waar ons die ‘Passing show’ dop hou of sommer maar net sit en gesels oor wat ons alles beleef en die lewe en so aan.  Die meer is elke dag anders, wasig of donker of skitterend of stil.  Ons ry een keer met die Ferry terug huis toe.

 Pa vat ons uit vir Kaas fondue in Paradiso.  Daar eet ek ook vir die eerste keer ʼn regte tiramisu, die ware Jakob.  Word ook ʼn cocktail aangebied wat eerder in Hawai hoort, en is toe natuurlik in die wolke toe ek hoor dis ʼn regte egte Campari.  Dan voel ek soos Sophia Loren.  Soos pastis in France, is Campari die Italianers se nasionale drankie.  Pa sê dit maak jou so honger soos ʼn bees!

Ons besoek ʼn retrospektief van Amedeo Modligiani  by die Museo d’Arte Moderna.  Het al vergeet hoe verfrissend dit is om meesterwerke te aanskou.  Modligiani is bekend vir sy pragtige portret studies.  Die modelle se oë is in die vorm van amandels en die wat hy van sy vrou, Jeanne geskilder het, is roerend.  Hy het aan die begin van die eeu geleef en in Parys gewerk en soos soveel ander, op ʼn vroeë stadium van sy lewe, gesterf.


To the top!