Messestel
Deur Evette Lombard©
Maart 2001
Ek
het in Stellenbosch baie moeite gedoen om na soveel moontlik messestelle te kyk
en pryse uit te vind. Die mooiste wat ek kon vind was by Stuttafords en
peperduur. Kis en al, effe dekoratief Maar die belangrikste eienskap, naamlik
ʼn lang lem en ʼn lang vurk, het dit gehad. Hulle kon egter nie vir my
die naam van die stel se nie. Nou ja.
Van
die eerste dag hier, soek my oë die eetgery in elke winkel uit. In die Manor
sien ons sulke tussenin, niks mee fout, praktiese stelle Maar dit praat nie met
ons nie. Bietjie met Christoff. Maar niks met my nie. Die prys is baie
billik, dis dalk hoekom Christoff hulle taal verstaan! Ha ha.
Een
oggend wat ek en Ma alleen Lugano toe is vir ons Ma en dogter oggend, val ek so
met die kamera in die deur en begin foto's neem van die een punt van die Via Nassa
tot die ander kant uit. Die ontwerpers rokke lyk soos my ballet kostuums van
baie jare gelede. Die juwele lyk soos vreemde gevonde objekte wat uit Salamo se
skatkiste uitkom.. Hulle sny ʼn ring bv. uit ʼn soliede stuk rooskwarts
uit of maak ʼn armband uit rowwe knoetse akwamaryn. Elke keer as ek my
lens teen ʼn venster druk om te fokus, drom die mense agter my rug saam, om
te sien wat dit is wat soveel aandag kry. Ek sê vir Ma ek is in die verkeerde trade.
In plaas van vensters dekoreer moet ek eerder vensters afneem en so mense lok.
Het gesien dit werk!
Ek
sien die mooiste rose, ʼn ou, ou pienk, blouerige, rooiwyn-rige kleur wat
saam met fynbos blare in blou, rooi en grys pennygum en "pale yellow"
ritsie knol blommetjies wat se naam ek nou gladnie kan onthou nie. Winter
blommetjies. Ook bosse oranje speldekussings met groot groot oranje rose en rooi-oranje
renonkels! Ook papierblomme/ statis/sewejaartjies/weetie wattie, wat in ʼn
bos saam pers irisse is. Laastens, ryg hulle klein veldblommetjies inmekaar
aan ʼn goue draadjie vir die klein pozies. Ek maak prentjies so ver ek
gaan, dit wat nie op film is nie, is in my agterkop en nou op papier.
Ons
stop by die Grand Cafe, waar Pa ook die eerste dag in Lugano vir my en
Christoff ʼn cappucino gestiek het, en drink ʼn koffie. Ek neem ʼn
lewensgrote blommerangskikking af wat binne ʼn reuse urn in die middel van
die vloer staan. Soos wat ek stap en dinge sien en beleef is almal wat ek ken
gedurig in my gedagtes en ek wens ek kan dit alles vir julle wys! In die
venster is soet lemoen brode wat met gooseberries versier is en bessie terte
met boudoir koekies rondom gepak, elkeen op n platvormpie wat in die ronde
beweeg.
Ons
stap na NORDISK, my persoonlike gunsteling winkel in die hele Lugano. ʼn
Piepklein nou winkeltjie wat drie vloere en ʼn solder het. Dit lyk sommer
so, en alles is deurmekaar maar elke stuk is beeldskoon. Die mooiste klei
borde en glase en kussings en huisware. Daar sien ek toe in ʼn glaskas, eetgery.
Die pop mooi vroutjie in haar snyerspakkie en vel soos melksjokolade begin
uithaal en verduidelik. Die eienares kom help met die taal. So tussen
Italiaans, Frans, Duits en Afrikaans verstaan ons mekaar baie mooi. Eers haal
sy al die kontemporere duitse wonders uit en verduidelik en beduie, Maar ek se
dat ek eintlik van die outydse styl hou. O, rek haar oë en sy haal die sg. Classique
Baguette uit die kas. Dit is hulle wat ek heel eerste gesien het en hulle wat
ek op my verjaarsdag kaartjie se uitnodiging geteken het, voor ek nog geweet
het ek gaan hulle kry. Dit is my fantasie gewees en hier is hulle reg voor my
oë. My siel spring! Terug in die werklikheid is hulle maar duur en ek besluit
om eers bietjie daaroor te dink.
Ek
en Ma gaan doen iets aan ons bloedsuiker by die eetplek in Manor. Ons neem
ʼn bord "Radicchio con i Fiori". Dit is rocket en watercress
met gesiggies en kappertjies en sommer sulke blommetjies wat hierdie tyd van
die jaar tussen die gras in die velde opkom. Croutons en bacon fyn en yl
gestrooi, bo oor die hele storie. Ek gaan kyk weer na die messe en vurke op
die onderste vloer. Ek besluit om maar liewers die sobere ding te doen en met
my gesonde verstand te dink en rasioneel te wees in plaas van impulsief en
fantasties soos ek gewoonlik redeneer, en te gaan vir die gewone, tussenin,
praktiese stel. Heel trots op my mind switch, vang ek myself dat ek begin dink
dat ek nou nog ʼn slaaphemp en ʼn sonbril en onderklere en skoene en
wie weet wat nog kan koop omdat die messe nou so goedkoop is. Net daar kom
ʼn wonderlike bevryding oor my en ek besef dat ek my hele lewe lank, drie
keer ʼn dag gaan eet en dat ek siels ongelukkig gaan wees met tweede beste
en ek sal nie met myself kan saam leef oor so ʼn sloppy besluit nie en ek
skree vir Ma: Kom/Andiamo!
In
Nordisk, vra ek eers uit oor die ander stelle en hulle is almal duurder as die Classique
Baguette. Kleiner en platter en duurder! Nog ʼn wonderlike bevryding, wat
my finaal oortuig dat ek hiervoor moet gaan. Ek het die oggend vir die Here
gevra om my met alle mag te keer dat ek nie die verkeerde besluit maak oor die eetgery
nie en hier kom Sy oomblik toe en Hy doen niks. Ek kry nog afslag omdat ek
kontant koop en die mooi vroutjies haal dit net daar uit die kas uit. Ek is in
die wolke dog bewerig. Hulle is so mooi, Maar in my agterkop dink ek maar nog
altyd dat ek te uitspattig is en dat ʼn mens tog nie mag hê wat jy begeer
nie. EK weet regtig nie waar ons sulke gedagtes vandaan kry nie want God sê
dat hy ons die begeertes van ons hart gee as ons hom met ons alles soek. So
ja.
In
Nordisk kry ons hulle katalogus as geskenk. Pragtige fotos van hulle collections
en in die voorwoord, skryf die versamelaar en eienaar (Gunter Lambert) van die
winkels, wat takke oor Europa het die volgende woorde, waarmee ek saamstem. "A
clever Man once described a person's home as a 'personal museum'. I like that expression.
At best, the interior is always part of one's own biography, since what one sees
on the outside is a reflection of what is inside."
Die
aand dek ek die tafel met ons nuwe eetgerei en ons se dankie vir die Here, met
die tafelgebed en gee dit vir hom terug, want dit het van hom af gekom. Dit is
beter as dit syne bly en ek dit net bestuur, as julle verstaan wat ek bedoel,
dit vat die druk van my af en ek vra hom om elkeen van julle te seën wat dit
vir my moontlik gemaak het om dit te kon koop met Rand en sent! Nou het ek
iets om te wys vir my dertigste en ek kan drie keer ʼn dag die plesier
daarvan beleef! Na ʼn foto sessie, ken jy vir my! begin ons eet en dit is
die beste van die hele storie! Die mes se steel voel soos ʼn koue, blink rivierklippie
in die palm van my hand. Swaar en die lem is lank en slank. Daar is ʼn riffie
tussen die lem en die steel sodat jou vinger nie kan vorentoe gly as die kos
vetterig is nie. Die vurk se puntjies is skerp en fyn, die tande se spoortjies
loop reguit vorentoe en ʼn bietjie na mekaar toe, staan nie soos n graspol
in alle rigtings nie. Die tande is lank, van die bol af, dit hou vir ewig
aan. Van die kant af is die kurwe soos n suiwer noot. Die lepel is swaar,
diep en soos ʼn eier vorm. Hierdie winter gaan ek nie weer hoef mors-mors
sop eet nie!
Julle
wonder seker hoe dit moontlik is dat iemand so kan aan gaan. Ek wonder self!
Gelukkig het ek gesê ek sal julle vir ete nooi, dan praat ons weer!
To the top!
|