Mezzogiorno (Suid Italië)
Deur Catrien de Bruin©
September 2003
RCI keuse val toe vir ons op Gallipoli in die
provinsie van Apulia in die hak van die stewel, omsoom deur die Adriatiese see
in die noord-ooste en die Ioniese see in die suide. Die Apulia provinsie is
plat met effense heuwelagtigheid. Wingerde en olyfboorde oorheers die
landskap. Graan word in mindere mate verbou. Skaapwagters, kompleet met staf,
hond en kudde wei op groen weivelde. Soos met Sicilië het ons hier in die
suide met 'n eeue oue beskawing te doen. Waarvan die spore van die Grieke (8
eeue VC) vandag die meeste opval, soveel so dat jy nie altyd seker is waar jy
nou eintlik is nie, Griekeland of Italië?
Ons volg die A1 deur die provinsies van Lombardië, Emilia
Romagna, Marches met Apulia as mikpunt, maar breek die lang roete deur in die Marches
met pragtige landskap van op en af heuwels wat afdaal in diep nou valleie,
gevorm deur die Apennyne te reis. Die heuwels is geploeg en lyk dit soos
laslappie werk tussen die bome.
LORETO; waar volgens legende in 1294,
die huis van Maria in Nasaret in Loreto neergesit is. Hierdie "Santa Casa"
staan binne die katedraal van Loreto, die binnekant met stene uit die
"Nasaret" huis en plaaslike stene met 'n altaar en beeldhouwerk van
Maria en Jesus. Die buitekant is afgewerk van bo tot onder met uitgekerfde
marmer met figure uit die Bybel en ander versierings, gedateer 1507 deur Bramante
uit die Renaissance tydperk. Miljoene pelgrims besoek Loreto elke jaar.
ASCOLI PICENO; waar ons die nag in
Villa Fortezza slaap. Hier kom ons tweede. Die Villa blyk toe nie te wees wat
die Internet prentjies en beskrywings is nie. Na heeldag se reis en toe 'n
intense gesoek in spitstyd en doolhof straatjies om vir eers net die Fortezza
te vind, was opsigself 'n riller. Ascoli Piceno dra swaar aan geskiedenis wat
reeds in 268 VC begin het. Stap vandag op die Piazza del Popolo, uitgelê met
groot plat "flagstones" tussen welgeklede mense van alle ouderdom,
dan is dit amper asof jy iewers in 'n film stap. Omring deur Gotiese en
Renaissance geboue met die enorme ou horlosie in die stadsaalmuur wat steeds
die tyd aftik!!! Vroeg oggend verlaat ons die Marches en skuif aan na Apulia.
SAN GIOVANNI ROTONDO; waar Padre Pio
(1887-1968) sy indrukwekkende en byna ongelooflike bydrae tot die Italiaanse
volk gemaak het. Na jare se intense ondersoeke deur die Roomse kerk na sy
lewe is hy in 2002 tot heilige verklaar. Padre Pio wat die stigmata in 1918 op
sy liggaam ontvang het, was 'n toegewyde priester. Daar is baie literatuur oor
hom en lywige, maar baie interessante beskrywings oor sy lewe op die Internet.
Onbewustelik val ons besoek toe juis oor die tydperk wat hy oorlede is en hier
is triljuisende pelgrims met houtkruise. Weereens asof ons na 'n film kyk.
GALLIPOLI; waar RCI ongeveer 5km buite die
dorp deel is van 'n nuwe ontwikkeling van vakansiehuise. Hierdie oord het 'n
goue kroon gekry. Ons sal dit drie sterre gee. Gallipoli (Kallipolis, "beautiful
city"), met sy wit geboue en hemelblou see wat ook eeue VC dateer, het 'n
besondere sjarme wat jou vashou en groot rustigheid gee. Hier beleef ons 'n
vismark met onvoorstelbaar verskeidenheid van alles wat in die see leef......
asof 'n opelug museum van die Ioniese see. Hierdie is definitief nie toeristies
nie. Ons kyk en luister na hierdie bedryf van handel dryf met vis,
knaphandige skoonmaak van vis, argumenteer oor gewig en pryse. Huisvroutjies
wat presies weet wat hulle wil en restourant eienaars wat hande in die lug gooi
oor wie weet wat. Natuurlik eet ons die middag "fruiti del mare"
(vrugte van die see). Op die stadium het ons nog nie besef dis ons spyskaart
vir die week nie. Hier vra die kelner "hoeveel" vis hy vir jou kan
bring (klink asof hy van sardiens praat). Gelukkig vra ons om die vis eers te
sien. Die dag se spesialiteit is "Spigole e Orate". Enorme vis
wat heel bedien word. Stel jou voor jy kry 2 of 3 op jou bord!!!!
Ons het gou geleer dat langs die kus van Apulia is
dit vis, olywe en druiwe. Mossels (cozze) en gevulde kalamari en swaardvis en
vissop. Antipasta, primi piatti, e secondo is alles 'n verskeidenheid van vis
wat baie-baie geurig voorgesit word. Wit spanspekke in oorvloed is 'n lekker
nagereg.
In Gallipoli staan 'n Griekse fontein, byna
weggevreet deur die Tyd. Dis 'n argitektoniese fontein wat beeldhouwerk van
mans en vrouens uit die Griekse mite illustreer.
STA MARIA DI LEUCA; die mees suidelike punt
van die stewel, einde van die aarde (Finibus Terrae), waar die Ioniese en
Adriatiese see bymekaar kom. Die noord-oos kuslyn van Apulia is van die mooiste
wat ons nog gesien het. Die plaaslike kalkklip waarmee al die antieke geboue
gebou is, het deur die eeue so deur die son gebleik dat dit so wit soos kryt
geword het, verblindend wit. Dit teenoor die blou-groen van die Adriatiese
see is idillies. Dis net asof die weskus langs die Ioniese see 'n bietjie
bleek is. Miskien het dit alles te doen met "lig" en watter tyd van
die dag en van watter kant jy dit benader. Die skoon sandstrandjies nooi jou om
te swem, wat ons dan ook doen. 'n Ou visserman oortuig ons om van sy
"Johannes" vissies te koop. Styf ingepak in 'n fles vir €10. Dis
baie sout en eet ons nou nog aan die lang silwer vissies.
OTRANTO; waar die kasteel (15de eeu) met
massiewe silindriese torings, besonder goed in stand gehou word en ooglopend
vir okkasies gebruik word. Die katedraal (12de eeu) is uitstaande met die
"Tree of Life" in mosaïek uitgepak op die vloer oor die volle lengte
van die gebou. Twee Indiese olifante by die wortels, die uitgestrekte takke
het Bybelse stories daarop, diere, figure ens. Onvoorstelbaar...... die kerk is
in volle gebruik. Sou die "koster" na die steentjies kyk, want niks
is stukkend of uit plek nie.
Hier is ook 'n enorme groot vissershawe.
LECCE; "the Baroque
Florence" sê die groen boek. Die Santa Croce is met die plaaslike
kalkklip gebou (16 en 17de eeu). Die fasade is in baroque styl gedoen, soveel
versiering en uitkapwerk, asof die materiaal so sag soos botter kan wees om
daarna so hard soos staal te word. Die laer gedeelte is in Renaissance. Op
die piazza staan een van die twee kolomme wat die einde van die via Apia aangedui
het, die ander een staan nog in Brindisi.
MOLFETTA; vissersdorpie, waar die ou dorp
deur houtstutte regop gehou word. So asof 'n sterk wind soos die "sirocco"
alles inmekaar kan stort. Hier is die wat weet hoe, besig om restoureer werk
op groot skaal te doen. Ons bewonder die Italiaanse regering wat hiervoor
begroot en dat hulle dit kan bekostig om hul erfenis in stand te hou.
TRANI; netjiese vissersdorpie met 'n semi-sirkel
hawe, waar drie kerke uit verskillende tydperke bo-op mekaar gebou is. Lg.
staan so naby aan die Adriatiese see dat jy eintlik verwag dat dit 'n ligtoring
moet wees. Natuurlik het elke kerk 'n lang storie, maar in kort..... die eerste
uit die Romeinse tydperk. Die tweede uit Bizantynse tyd en die derde wat in
1094 deur die Normane begin is en 'n eeu geneem het om klaar te maak. Ja en
toe beleef ons 'n stukkie "romantiek". Ek is net betyds om die
bruid wat die trappies opstap van agter met haar "goue" sleep op film
vas te lê. Kyk na die gaste en dis asof jy deur 'n modeboek blaai.... Armani,
Versace, Paolo Tonali ens. Wat 'n fees vir die oog!! Nadat die hele prosessie
ingestap het is daar 'n geskarrel by die ingang..... hier is twee jongmanne
besig om 6 kiste met spierwit duiwe en wit strikke daarop by die ingang te
rangskik en bo-op kom twee wit "duifies" in 'n voëltjie koutjie. Na
ons 'n wye draai in Trani gestap het en besig is met ons piekniek naby die
kerk, is ons net betyds om te sien hoe die wit duiwe losgelaat word na die
seremonie. Wat die simboliek van die twee duifies innie hokkie is, en hoe
hulle dit hanteer het, kan ons nou maar net oor bespiegel.
Op hierdie nooit sluit ons, ons besoek aan die Mezzogiorno
van Italië, af. Ons het niks verwag nie en was geseënd om so baie te leer en
te beleef van mense en hul gewoontes en tradisies deur die eeue. Om afstand te
kry spring ons op die A14 om die aand nog steeds langs die kus slaapplek in 'n
netjiese 3 ster hotel met lekker aandete te kry.
Ja en toe beleef ons die krag onderbreking wat die
hele Italië in die vroeë oggend ure tref. Ons het geen drama gehad nie, maar
blykbaar was dit chaos in plekke soos Rome ens. Soos gewoonlik is die laaste
skof hard op die bestuurder, maar Philip het laat waai en deur die HERE se
wonderlike genade en beskerming het ons Sondagaand 18h00 veilig hier in
Campione arriveer.
Volgens my bedhorlosie wat met krag werk, was die
krag hier ook af, maar alles was weer terug by normaal. Die afstandmeter sê
ons het 3412km afgelê.
Arrivederci.
To the top!

|