Oberammergau
Deur
Catrien de Bruin©
September
2000
Verlede week was
een groot hoogtepunt in ons lewe.
Die Passiespel
staan bo aan en Praag was ook 'n belewenis.
Ek gaan net in
kort vertel:
Ons was tuis aan
huis van die familie Daisenberger. Die familie is reeds vanaf 1860 betrokke
by die spele.
In 1633 is die
gelofte deur die inwoners van Oberammergau gemaak om die Passiespel elke 10
jaar op te voer, nadat 84 van die inwoners oorlede is a.g.v. die swart pes.
Niemand in die dorp is na hierdie gelofte oorlede aan die siekte nie. Die
spel is aanvanklik in die begraafplaas langs die kerk opgevoer. Later is 'n opelug
teater in Roccoco en Klasisisme gebou en het gou-gou nie voldoen aan die
vereistes nie.
Teen 1900 is die
huidige teater met 4,200 sitplekke gebou. Die verhoog het nie 'n dak nie en
is dit 'n pragtige prentjie met die blou hemel, die Duitse Alpe en aan die
linker kant die plantegroei wat hoog bo die mure uittroon. Geen mooier dekor
kan vir hierdie opvoering werk nie. Hierdie nuwe ouditorium het skoon reguit
lyne en gee 'n gevoel van eenvoud......geen tierlantyntjies om jou aandag af te
trek nie.
2000 - die
40ste Passiespel.
Teen 9:15 sit ons
in ons sitplekke, ek, Ben en Celie het plekke bymekaar met baie beenspasie in
die paadjie en Philip styf ingepak tussen die rye. Ek het die middag met hom
plekke geruil. Die spel het 6 ure geduur. Ons was geseënd met 'n blou
wolklose lug ( die vorige dag het dit katte en honde gereën). Komberse word
verhuur en ek is die enigste in ons geselskap wat vir my 'n kombers huur.
Later het my vriendin begin blouerig raak van die koue en was my kombers
gelukkig groot genoeg om haar ook warm te maak.
Die opvoering het
begin met die intog van Jesus op die donkie in Jerusalem. Die hele Oberammergau
is op die verhoog......oud, jonk, kindertjies, babas en die palmtakke swaai en
die skare bring hulde en dis 'n groot gejuig. Die tempel word skoongemaak....
die duiwe vlieg weg, die bokke is verward en jy sien en hoor net geld waai en
dis skielik chaos en ontsteltenis. Kajafas en die priesters probeer orde
skep. Tevergeefs.
Tweede bedryf :
Jesus in Betanië.
(Tussen die
bedrywe is daar elke keer 'n Voorafspel.......noem dit 'n lyn wat getrek word
tussen die ou en nuwe Testament, bv. Moses vanaf die berg Sinai met die wet,
terwyl die volk die goue kalf dien).
In Betanië met
Lasarus, Maria, Martha en Simon. Jesus se voete word deur Maria gesalf en
Judas skop 'n bohaai op.
Derde bedryf:
Tog na Jerusalem. Die bergpredikasie. Nikodemus se voorspraak. Kajafas,
Josef van Arimetea, Judas kry sy planne agtermekaar.
Vierde bedryf:
Laaste Awendmaal. (Voorafspel: Die Pasga voor die uittog uit Egipte)
Vyfde bedryf:
Olyfberg
Sesde bedryf:
Jesus voor Annas - Bespotting - Petrus se verloëning en berou. (Voorafspel:
Daniel in die Leeukuil. Job in ellende.)
Sewende bedryf:
Verhoor by Kajafas. Vertwyfeling van Judas. (Voorafspel: Vertwyfeling van
Kain wat sy broer Abel vermoor)
Agste bedryf:
Jesus voor Pilatus. Jesus voor Herodus. Tweede ondervraging deur Pilatus.
Geseling. (Voorafspel: Moses word verban deur Farao)
Negende bedryf:
Pilatus veroordeel Jesus tot die dood. (Voorafspel: Josef word as redder en
koning van Egipte gehuldig.)
Tiende bedryf:
Die kruisweg - kruisiging. (Voorafspel: Isak, Abraham se seun, dra die hout
van sy brandoffer teen die berg Moria uit. 2. Deur na die koperslang te kyk,
word die Israeliete gered.
Elfde bedryf:
OPSTANDING !!! (Voorafspel: Die Lam is geslag. Die aarde omsluit die
Heilige. Geween en smart, droefheid en weeklag sal verdwyn, want die HERE
werp die dood in die vuur, Hy vertrap die kop van die slang !)
My persoonlike
ervaring: Dit was die grootste ondervinding van my hele lewe tot dusver. Ek
was bang vir emosionele dreinering, maar het vooraf hieroor gebid en het nooit
'n gevoel van jammerte gekry nie. Dit het my opgehef en ek weet nou meer as
ooit tevore dat Jesus my so lief het, dat Hy vir my gesterf en opgestaan het,
sodat ek vir ewig kan lewe !! HALELUJA !!
Dis onmoontlik om
al die besonderhede oor te dra, maar ons het al 4 gevoel dit was GROOT !!
Ons kan dit aanbeveel vir enige iemand wat dit in 2010 wil kom kyk.
To the top!

|