Ons besoek Campione d'Italia

Deur Christoff Lombard©

Maart 2001

Ek weet glad nie waar om te begin nie. As ek ʼn Subject vir ons mail moet gee sal dit iets wees soos: Viva Bella Italia, of Ongelooflike, sjarmante Switzerland, of Sjokolade, sjokolaade, ek bedoel sjokolaaaade!!!!!.

Ons vliegery was toe eintlik baie lekker en die Here het homself net weereens Getrou en Goed bewys. Ons vlug met SAL van Kaapstad na JHB was gou oor. Agter ons sit 'n Wellingtonse boer en sy vrou wat ook saam met ons tot in Zurich gevlieg (die oes is af en dit was seker goed) en het baie grappies gemaak, veral toe die lugwaardinnetjie ons vermaak deur te vra of ons Boere Wors en Pap, of Hoender en Rys wil hê. Almal het haar siel uitgetrek veral omdat sy 'n swart dametjie is en die boere wors en pap met ‘n snaakse aksent sê. Almal wou weet of dit stywe pap is of slap is.

So op die laggerige stemming het ons JHB binne gevlieg. 'n Uur later het Swissair ons voete van Afrika af opgetel. Ek het darem langs die paadjie gesit maar dit het ook nie baie gehelp nie. Ek het die eerste fliek in Duits deur gesmart tot ek besef het dat op kanaal 1 is dieselfde fliek in Engels. Altwee flieks was maar nie waffers nie en ek was bly toe die son op die horison verskyn hier oor die middellandse see net na ons Afrika verlaat het. Twee ure voor ons land het die lugwaardinne ons bedien met koffie en ontbyt. Zurich was toe onder die wolke maar die kaptein het ons vinnig gerus gestel dat hy weet wat hy doen. Ek het nie eintlik so gedink nie want die landing was hard en half dwars oor die aanloopbaan. Maar prys die Here, want 8:20 was ons besig om te taxi na die terminaal. Eers moes ons wag dat omtrent 5 ander vliegtuie agter en voor ons kan land en opstyg. Dit werk 'n bietjie anders hier as in SA.

Ons aansluitings vlug Lugano toe was eers 11:40 so ons het toe 3 ure om te "kill". Dit het ons maar gedoen deur om in die duty free shops rond te loop en om mense te kyk. Veral die mense kyk gedeelte was baie interessant. Wat ons altwee gefassineer het was toe ons +- 50 Ortodokse Jode gesien het. Met hulle swart pakke, wit hemde, swart hoede, lang side curls en swart baard (party sin was al grys). Fassinerend hoor!! Dit was vir ons 'n eerste om hulle te sien. Ons vermoed hulle was oppad terug Israel toe. Van hulle was nog jong kinders. Hulle het in ons oë definitief 'n "presence" gehad. Goddelike liefde kom in jou hart op vir die Here se uitverkore en oogappel mense. Hulle is eienaardig en eintlik wil 'n mens vir hulle lag.

Maar die Gods-besef in ons laat jou met ander oë na hulle kyk. Intussen sê ek vir Evette "haai kyk hoe rook hulle" - 'n bietjie naiwiteit van my kant af. Ons sien toe hoe hulle spesiaal vroeër deur die sekuriteit gaan en toe hang ons monde eers oop want daar begin die Jode te bid. Met hulle swart skrif bandjies rondom die arms gedraai en op hulle voorkoppe en met hulle prayer shawls oor hulle koppe wieg hulle agter toe en voorentoe.  Gaan lees asb Deut 6:4 tot 9 of tot die einde van die hoofstuk. " Hear, O Israel: The Lord our God, the Lord is one". In my gedagtes wonder ek toe watter dinamika en energie kom los in die geestes wêreld wanneer hulle so bid: Hear, O Israel, hear O Israel. Bewondering tot my God wat ook die  God  van Abraham, Isak en Jacob en hierdie Jode is gaan deur my toe ons dit sien. "Ons bid dat hulle Jesus Christus as hulle Messias sal leer ken, sodat die woorde van hierdie profesie tot vervulling mag kom, sodat hulle elkeen sal weet dat God en Jesus Een is. Amen".

Zurich lughawe is natuurlik net ongelooflik. Die effektiwiteit, stiptelikheid en kwaliteit van die Switsers verstom jou. Ons aansluitings vlug na Lugano was ons hoogte punt van ons vliegery. Dit was in 'n 60 sitplek - 2 motore vliegtuig van Crossair, ene Concordino.  Wat anders het julle gedink as presies 11:40 begin ons taxi in 'n ry van ander vliegtuie om op te styg. Pa Philip-hulle noem die vliegtuig die trekker want hy raas lekker as hy opstyg. Ons eerste 45 sekondes in die lug was rukkerig en stamperig maar dit was die laaste van dit. Want die res was absoluut 'n fees. Lugano is +- 30 min se vlieg van Zurich af.

Ons het sjampanje, vrugte, croissants en die lekkerste Switserse sjokolade gekry en moes vinnig eet want toe ons weer sien, begin ons daal. Ons eerste 15 min was in digte mis. En toe gebeur die wonderlikste ervaring. Die mis klaar op en ons vlieg in helder sonskyn oor die Alpe.

Dit was 'n onvergeetlik, onvergeetlike gesig. Die berge is spierwit gesneeu en ons vlieg lekker laag om alles mooi te sien.

Heidi se bokke en vir Peter. En moenie vergeet van die sjampanje in my regterhand en Switserse sjokkies in my linkerhand nie. Jy kon ook duidelik sien dat dit nie die vlieënier se eerste vlug Lugano toe is nie. Hy het vreeslik goed gevlieg met draai en swaaie tussen die berge deur oor Lake Lugano tot op Lugano Lughawe. Daar wag Papa en Mama de Bruin toe vir ons.  Dit was baie lekker om hulle te sien, nou is al die spanning ook sommer oor. Prys die Here van die Here vir ons veilige vlugte.

Dankie vir al julle wat vir ons gebid het.

Campione d’Italia lê in Switzerland maar is die landsgebied van Italië. Ja ek weet dit is moeilik om te verstaan maar dit het te doen met die Kerk geskiedenis van honderde jare gelede en te moeilik om nou hier te verduidelik. Lugano is so 10 km van Campione af maar soos die kraai vlieg oor die meer  is dit net 4 km. Doen julle die guns en kyk op 'n kaart. Noord Italië het mos die meer gebiede. Lugano is die laaste groot Switserse dorp, maar verder suid is dit Italia. Campione wat met haar voete in die water staan front Amerika toe, daar is net 'n groot berg tussen ons en Amerika so ons kan nie Amerika sien nie! Skuins oor die meer rigting Engeland lê Lugano. Het julle die prentjie?

Pa Philip en Ma Catrien hulle se woonstel is 30 meter van die meer af met 'n ongelooflikke uitsig op die meer en die berg met die naam van "Monte San Salvatore" dit beteken die berg van die Heilge Verlosser. Die meer is pragtig met ʼn enkele groot wit swaan wat heen en weer verby seil. Sjoe waar begin ek. Kom ek sê so ek wens een en elk van julle kan dit kom beleef. Ek en Evette is op 'n ander planeet. Dit is baie vreemd hier maar fantasties eintlik awesome!!. Dit is net so lekker wat ons nou beleef en Suid Afrika is ver ver uit ons gedagtes. Gister 16de Maart was ons Lugano toe. Jammer, ek het niks om te se oor Lugano nie want Ek is STOM....... Pa stiek ons vir cappucino's by  Grand Cafe al Porto.  Die mooiste, statigste koffie winkel. Toe split ek en Evette van Pa-hulle en vir 3 ure stap ons toe rond in stegies, straat markte, en elegante winkels en OOO, julle moet die  Deli's ervaar. Kos is hier 'n kuns. Pizza's, ham en olywe, vleis pasteitjies en tertjies ens... Dit is net 'n gesig om te sien. Ook hulle winkels, ongelooflik. Almal is baie netjies aangetrek. Die Switserse vroutjies is baie elegant met hulle swart jasse of egte pels jasse. Baie, baie stylvol. Ons was in die Manor (Pick 'n Pay is 'n skaduwee teen die Manor). Dit is 'n winkel met alles in. Op die onderste vlak is hulle Deli, met brode, groente , vleis ens.. Maar ook hulle sjokolade.  Hulle maak op jou eerlikheid staat want jy neem die sjokolade van die rak af en jy kan met dit rondstap en by enige punt gaan betaal en dan kan jy met dit uitloop. Dit sou nie werk in Afrika nie, maar hier is daar omtrent nie werkloosheid  nie en niemand sal dit waag om nie te gaan betaal nie.

Hulle sjokolade is natuurlik hemels. Ek is nou oortuig daarvan dat 'n Switser sal eendag aan die hoof staan  van die hemel se sjokolade fabriek. Klaar!

Vandag 17de ('n reënerige dag) was ons gou Como, Italia toe na die "Bennet" toe, ook 'n tipe Pick 'n Pay net gaan shop.

Vandag vang ons moegheid ons. Tot hier toe het ons nog op adrenalien gehardloop maar vandag was ons moeg en het ons lekker gerus. More vertrek ons nou Oostenryk toe vir ons ski week by Köningsleiten. Daar is so baie wat ek julle wil vertel maar dit is onmoontlik sonder handgebare en oogkontak. Net om vir julle 'n idee te gee van die Switserse ontwikkeling en gesofistikeertgeid. Ek en Evette gaan stap elke aand in die strate en so gaan kyk ons toevallig in 'n telefoon hokkie. Hierna besing ek Switserland. In die telefoon hokkie kan jy 'n nommer elektronies soek deur 'n persoon se naam en adres in te tik, jy kan email stuur van uit die hokkie, jy kan ʼn fax stuur, jy kan iemand SMS en natuurlik kan jy ‘n gewone oproep maak. En die telefoon hokkie is in ʼn stil doodgewone straatjie. My mond het oopgehang. Nog iets wat julle ook 'n kykie sal gee op alles hier is hulle 4 dubbele lae sagte toilet papier. Dit is standaard.

Dit is nie baie koud nie, so +- 12 grade, net lekker fris. Al die berge rondom Campione is wit gesneeu, so ons sien nou baie uit na die week wat voorlê in Oostenryk.

Tot ons weer gesels.


To the top!


footer for Ons besoek Campione d'Italia page