Parma

Deur Philip de Bruin©

26 September 2001

Die laaste week van September 2001 het ons die weervoorspelling angstig dop gehou. Ons wou vir ‘n dag na die Parma gebied gaan, maar was nie lus vir reënweer nie. Woensdag was toe, soos voorspel, ‘n pragtige dag na die reën van omtrent 4 dae. Ons het vroeg in die pad geval, maar die gebruiklike uur gesukkel om by Milaan verby te kom.

H.V. Morton, in sy boek “A Traveller in Italy”, het ons laat lus kry om hierdie gebied te besoek. Eers na die stad Parma toe. Cappucino in die naaste Bar. Die Duomo en Battistero is nie in die middel van die ou stad nie, bietjie weg met minder besige verkeer. Teen die negende eeu het die vroeë kerk nie meer aparte geboue gebou vir doop baddens nie, behalwe in Italië. Parma se Battistero word gereken as Italië se mees harmonieuse middeleeuse monument. Dis in 1196 begin en gebou in roospienk Verona marmer. Dis ‘n agtkantige gebou met dertiende eeuse frescoes binne. Wat ons die meeste beïndruk het was die feit dat die agtkantige doop bad uit ‘n soliede blok Verona marmer gekap is. Die rante is so 10cm dik en die bad is ten minste 1 meter diep en seker 2 meter deursnee.

Moderne Italiaanse verkeersdenke slaag daarin om in elke Italiaanse stad jou te dwing om in ‘n rigting te ry waar jy nie wil wees nie. Ons kon dus nie die roete van ons keuse na Torrechiara, in die hart van die Parma ham en kaas gebied, ry nie. Ons het later opgemerk dat jy baie groot skure sien waar die ham en kaas ryp gemaak word, maar ons het nooit ‘n vark of selfs baie koeie gesien nie. Oral is daar egter borde wat jou nooi om direk by die produsent te kom koop.

Ons is eers na die Kasteel van Torrechiara toe want die Michelin het beduie dis net oop tot 2nm. Die kasteel is pragtig gerestoureer en deesdae darem oop tot 6nm. Ons was die enigste twee mense in die kasteel en Catrien kon dus na hartelus fotos neem. Die uitsig vanaf die kasteel, maar ook vanaf die vallei na die kasteel, is besonders.

Soos Morton ook gevind het, noem die plaaslike mense dit die Kasteel van Bianca Pellegrini. Haar storie word uitgebeeld in die sogenaamde Goue Kamer in frescoes. Gedurende die laat 14de eeu het die jong Bianca Pellegrini, getroud met Melchiore d’Arluno, halsoorkop verlief geraak op Pier Maria Rossi tydens sy besoek aan die hof van die Viscontis in Milaan. Na sy vertrek uit Milaan was al wat sy van hom geweet het dat hy ‘n kasteel besit naby Parma. Sy besluit toe dat die lewe sonder hom nie meer die moeite werd is nie en reis na Parma waar sy, vermom as ‘n pelgrim, elke kasteel besoek in die gebied tot sy haar man gekry het! Die frescoes vertel die storie van haar soektog en hulle lewe saam. Morton se gids deur die kasteel destyds was ‘n jong meisie uit die dorpie. Ek haal hom aan:

“And what happened?” I asked. “Had they a family?”

“After many years,” answered the girl, “he returned to his wife.”

“But what happened to Bianca?”

The girl gave me a slow smile and lifted het shoulders slightly, in which I seem to detect a feminine insight into the inconstancy of man, and also a peasant resignation to the ups and downs of life.

Die dorpie Torrechiara is baie klein met ‘n dorpsplein en een straat wat na die kasteel lei. Ons weet uit ervaring dat in so ‘n dorpie moet jy in die dorps restaurant eet waar die plaaslike mense ook eet. Ons was eerste in die restaurant en die Italianer wat bedien praat bietjie Engels, maar belangriker, om te bedien in ‘n restaurant is sy professie. Ons wou werklik die Real Thing beleef, en hy beduie toe dat Prosciuto di Parma maar een van die dinge is wat ons moet proe. Ons bestel toe ‘n bord met twee soorte Parma ham, repe ham spek, gekookte skouer ham, salami, en Parmigiano Reggiano kaas. Ons het toe besef dat wat ons koop as Parma ham nie eers naby kom by die regte ding nie. Die Prosciuto di Parma lyk soos fyn pienk tissue papier. Soos die ou mense sou sê, Prosciuto di Parma is fyn deurspek. En dit smelt werklik in die mond. Hulle sal nie eers daaraan dink om dit vir jou te bedien met spanspek nie. Ook die ander snitte was uniek. Ons is dankbaar dat ons dit eerstehands kon proe. Die res van die ete was heerlik maar Prosciuto di Parma was die ster. Dit was ook duidelik dat nie net die plaaslikes is wat gereeld daar eet nie. Sakemanne vanaf Parma het die plekkie vol gesit.

Ons vra toe vir mannetjie waar ons die regte ding kan koop in die omgewing. Hy beduie dat dit ongelukkig siesta is en alles is toe, maar hy sal met die eienaar van die winkel langsaan praat waar hulle hul voorrade kry of diè nie vir ons sal oopsluit nie. Dit gebeur toe ook so en, hoewel piepklein, is dit nie ‘n gewone voorrade winkeltjie nie. Die volle hamme hang daar met krae om wat die hele pedigree uitspel. Heel Parmigiano Reggiano kase staan opmekaar gestapel. Ons was maar bietjie oorbluf. Catrien het natuurlik fotos geneem dat dit flits. Ek vra toe vir Prosciuto di Parma, en die gekookte ham uit die rug. Die eienaar wil toe weet wanneer ons dit gaan eet. Ons sê dis vir vanaand. Hy skud net sy kop meewaardig. Dit sal nie so lank hou in die hitte nie. Hy is nie bereid om dit aan ons te verkoop as dit nie perfek gaan wees teen die tyd wat ons dit eet nie!

Ons moes toe maar tevrede wees met ‘n stuk kaas in klingwrap en ‘n heel salami.

Van hier is ons terug rigting Milaan om na die Certosa di Pavia te gaan kyk. Deur Gian Galeazzo Visconti gestig in 1396 as familie mausoluem. Dis dieselfde Visconti wat 10 jaar vroeër die Duomo van Milaan laat begin bou het. Die fassades is indrukwekkend in detail. Die klooster het 24 monnik “selle” en was tot 1968 nog in gebruik deur die Carthusiaanse orde.

Toe moes ons weer by Milaan verby worstel in die verkeer.


To the top!