Parma
Deur
Philip de Bruin©
26
September 2001
Die laaste week van September 2001 het ons die
weervoorspelling angstig dop gehou. Ons wou vir ‘n dag na die Parma gebied
gaan, maar was nie lus vir reënweer nie. Woensdag was toe, soos voorspel, ‘n
pragtige dag na die reën van omtrent 4 dae. Ons het vroeg in die pad geval,
maar die gebruiklike uur gesukkel om by Milaan verby te kom.
H.V. Morton, in sy boek “A Traveller in Italy”,
het ons laat lus kry om hierdie gebied te besoek. Eers na die stad Parma toe.
Cappucino in die naaste Bar. Die Duomo en Battistero is nie in die middel van
die ou stad nie, bietjie weg met minder besige verkeer. Teen die negende eeu
het die vroeë kerk nie meer aparte geboue gebou vir doop baddens nie, behalwe
in Italië. Parma se Battistero word gereken as Italië se mees harmonieuse
middeleeuse monument. Dis in 1196 begin en gebou in roospienk Verona marmer.
Dis ‘n agtkantige gebou met dertiende eeuse frescoes binne. Wat ons die meeste
beïndruk het was die feit dat die agtkantige doop bad uit ‘n soliede blok Verona
marmer gekap is. Die rante is so 10cm dik en die bad is ten minste 1 meter diep
en seker 2 meter deursnee.
Moderne Italiaanse verkeersdenke slaag daarin
om in elke Italiaanse stad jou te dwing om in ‘n rigting te ry waar jy nie wil
wees nie. Ons kon dus nie die roete van ons keuse na Torrechiara, in die hart
van die Parma ham en kaas gebied, ry nie. Ons het later opgemerk dat jy baie
groot skure sien waar die ham en kaas ryp gemaak word, maar ons het nooit ‘n
vark of selfs baie koeie gesien nie. Oral is daar egter borde wat jou nooi om
direk by die produsent te kom koop.
Ons is eers na die Kasteel van Torrechiara toe
want die Michelin het beduie dis net oop tot 2nm. Die kasteel is pragtig
gerestoureer en deesdae darem oop tot 6nm. Ons was die enigste twee mense in
die kasteel en Catrien kon dus na hartelus fotos neem. Die uitsig vanaf die
kasteel, maar ook vanaf die vallei na die kasteel, is besonders.
Soos Morton ook gevind het, noem die plaaslike
mense dit die Kasteel van Bianca Pellegrini. Haar storie word uitgebeeld in die
sogenaamde Goue Kamer in frescoes. Gedurende die laat 14de eeu het die jong Bianca
Pellegrini, getroud met Melchiore d’Arluno, halsoorkop verlief geraak op Pier
Maria Rossi tydens sy besoek aan die hof van die Viscontis in Milaan. Na sy
vertrek uit Milaan was al wat sy van hom geweet het dat hy ‘n kasteel besit
naby Parma. Sy besluit toe dat die lewe sonder hom nie meer die moeite werd is
nie en reis na Parma waar sy, vermom as ‘n pelgrim, elke kasteel besoek in die
gebied tot sy haar man gekry het! Die frescoes vertel die storie van haar
soektog en hulle lewe saam. Morton se gids deur die kasteel destyds was ‘n jong
meisie uit die dorpie. Ek haal hom aan:
“And what happened?” I asked. “Had they a family?”
“After many years,” answered the girl, “he returned
to his wife.”
“But what happened to Bianca?”
The girl gave me a slow smile and lifted het shoulders
slightly, in which I seem to detect a feminine insight into the inconstancy of
man, and also a peasant resignation to the ups and downs of life.
Die dorpie Torrechiara is baie klein met ‘n
dorpsplein en een straat wat na die kasteel lei. Ons weet uit ervaring dat in
so ‘n dorpie moet jy in die dorps restaurant eet waar die plaaslike mense ook
eet. Ons was eerste in die restaurant en die Italianer wat bedien praat bietjie
Engels, maar belangriker, om te bedien in ‘n restaurant is sy professie. Ons
wou werklik die Real Thing beleef, en hy beduie toe dat Prosciuto di Parma maar
een van die dinge is wat ons moet proe. Ons bestel toe ‘n bord met twee soorte
Parma ham, repe ham spek, gekookte skouer ham, salami, en Parmigiano Reggiano
kaas. Ons het toe besef dat wat ons koop as Parma ham nie eers naby kom by die
regte ding nie. Die Prosciuto di Parma lyk soos fyn pienk tissue papier. Soos
die ou mense sou sê, Prosciuto di Parma is fyn deurspek. En dit smelt werklik
in die mond. Hulle sal nie eers daaraan dink om dit vir jou te bedien met
spanspek nie. Ook die ander snitte was uniek. Ons is dankbaar dat ons dit
eerstehands kon proe. Die res van die ete was heerlik maar Prosciuto di Parma
was die ster. Dit was ook duidelik dat nie net die plaaslikes is wat gereeld
daar eet nie. Sakemanne vanaf Parma het die plekkie vol gesit.
Ons vra toe vir mannetjie waar ons die regte
ding kan koop in die omgewing. Hy beduie dat dit ongelukkig siesta is en alles
is toe, maar hy sal met die eienaar van die winkel langsaan praat waar hulle
hul voorrade kry of diè nie vir ons sal oopsluit nie. Dit gebeur toe ook so en,
hoewel piepklein, is dit nie ‘n gewone voorrade winkeltjie nie. Die volle hamme
hang daar met krae om wat die hele pedigree uitspel. Heel Parmigiano Reggiano
kase staan opmekaar gestapel. Ons was maar bietjie oorbluf. Catrien het
natuurlik fotos geneem dat dit flits. Ek vra toe vir Prosciuto di Parma, en die
gekookte ham uit die rug. Die eienaar wil toe weet wanneer ons dit gaan eet.
Ons sê dis vir vanaand. Hy skud net sy kop meewaardig. Dit sal nie so lank hou
in die hitte nie. Hy is nie bereid om dit aan ons te verkoop as dit nie perfek
gaan wees teen die tyd wat ons dit eet nie!
Ons moes toe maar tevrede wees met ‘n stuk
kaas in klingwrap en ‘n heel salami.
Van hier is ons terug rigting Milaan om na die
Certosa di Pavia te gaan kyk. Deur Gian Galeazzo Visconti gestig in 1396 as familie
mausoluem. Dis dieselfde Visconti wat 10 jaar vroeër die Duomo van Milaan laat
begin bou het. Die fassades is indrukwekkend in detail. Die klooster het 24
monnik “selle” en was tot 1968 nog in gebruik deur die Carthusiaanse orde.
Toe moes ons weer by Milaan verby worstel in
die verkeer.
To the top!
|