Passegiata nella via Nassa

Deur Catrien de Bruin©

Maart 2000

Weerverslag:   Na 2 dae se reën, grou en mistig, het ons vanoggend opgestaan met 'n wolklose blou hemelruim en die son skyn sterk.  Die noordweste wind waai sterk en die andersins seepgladde Lugano meer, woel en werskaf vanoggend, maak groot golwe met wit perdjies.   Die bote wat hier voor ons geanker is, wieg erg op en af.  Die pieke het vanoggend wit mussies op, wat beteken dit het hoog in die berge gesneeu.   Dit lyk so aanloklik om buite te gaan, maar as jy sien hoe die voetgangers lyk wat hier verbystap, dan weet jy vandag moet 'n "domestic" dag wees.   Dit pas my, want giovedi (Donderdag) is die dag wat die waskamer met sy masjiene aan die "la famiglia " de Bruin toegestaan is.  

Wat is my verbasing groot toe die masjiene reeds vlytig aan die was en droog is toe hierdie Signora met haar bondel aankom.  Te oordeel aan die kleur en teksture weet ek sommer dis onse Frau van Duitsland.......A ..nee...a  Herman......reëls is reëls!   Ek plak my bondel neer met 'n ongeskrewe boodskap daarop!!!   'n Halfuur later was die masjiene rustig tot my beskikking.

Vir hierdie koue dag val ek weg met groente kap vir Minestrone vir vanaand met al die ware jakops, van die haricot bone tot die cavolo nero (gekrulde kool) en pancetta.    Die kok het 'n probleem as die kantoor langs die kombuis is, want dan kan jy nie die aroma weghou nie en daar wil gedurig geproe en geëet word, maar die kok is kwaai....sit no. 5 plat neer.

Genoeg nou van "domestic" dag, kom ons kyk liewer na die meer eksotiese.    Los alles en kom stap saam met my in die via Nassa in Lugano.   Ek kry my persoonlike chauffeur en ons word op die presiese punt.....soos aan die begin besorg......niks geskarrel van busse ens. in die koue nie.   Hierdie straat het ek "designers lane" gedoop, noem die naam en jy sal dit hier vind, maar ons moet mooi kyk, want alles word baie subtiel aangebied.    Dis egter 'n kuns om die model agter die glas en die wandelende model op straat van mekaar te skei.    Winter is natuurlik die seisoen vir aantrek en uithang.   Jy trek nog meer aandag as jy 'n reuse hond aan 'n goue ketting het en jy en jou hond is in dieselfde kleurskema......swart hond met wit pote.....dra jy swart met wit skoene  (terloops lg. is sommer hoog mode ook).   As jy nie 'n pels aan het nie, het jy nie een nie.......ag toggie myne alweer vergeet, veilig toegesluit in die bank se kluis waar gin niks dit kan bykom nie!!!!!

Wanneer laas het jy 'n man met pak klere, jas (wat netjies pas) en 'n hoed gesien?   Dis nie net die man met die grys in die hare nie.   Kyk hierdie klomp yuppies........nie Amerikaanse slenterdrag nie.....uitgevat in mandaryn kraag swart baadjie, swart hemp met groen das en pers blomme.......nê.

As jy lank en slank is en 'n "Signorina" is, dan dra jy 'n klein-klein rompie wat 2cm. onder jou swart noupassende leerbaadjie uitsteek met swart kouse en lang styfpassende stewels tot onder die knie en die hakke moet hoooooog wees.

Kyk gou.....daar is 'n hond met 'n sambreel!!!!   Iets in plastiek, tregter vormig wat om sy nek vas kom en so die reen uit sy gesig hou.....ag nee dis om flou neer te slaan, kom ons val liewer hier by Vanini in en gaan drink 'n cappucino.   Laat ons maar vir die begin by die toonbank staan.....ja ek weet die wit tralie stoeltjies met pienk kussinkies is aanloklik, maar dan betaal ons 50% meer en dis nou vir sit en kuier, en via Nassa het pas begin!   Staan maar met jou rug na die Confetteria.....alles "puro burro".....ja dis wat op die glas staan en dit beteken alles hier is pure botter!!!!   Dis om van te soen (my Nederlandse vriendin, Jackie) se uitdrukking, as alles so mooi en lekker is.   Gelukkig mag ons nou die toilet gebruik, want buite steek hulle dit weg.

Via Nassa vervolg:

Emporio Armani:  Pienk, bleekpers en grysblou......alles uiters noupassend.....swart tee ons voorland.

Paolo Tonali:  Klassieke eenvoud: grys, swart en wit.

Gianni Versace:  Swart vier knoop pak met swart hemp en groen das met maroen blomme met swart skoene met stomp breë punte.

Boutique King:   Koop vir die koning:  spatsel rooi en mosterd geel met swart!

Forfalla: Al die uitstal poppe het kort nou rompies met stywe hempies in al die kleure van die reënboog met guitige hoedjies en serpies om die hoede in die kleure van die fyn, dun hoë hak sandaaltjies aan.  Pienk, pers, oranje, lemmetjie en grasgroen, granaat, geel en turqoise.   Net die kleur wat jou hart begeer.  (Ek wil nog sien of hierdie klomp hierdie kleure sal dra)

Oticca Cotinelli (brille winkel) het 'n lewensgrote lippezaner in hul venster.  So asof perde brille dra?

Dreamland van Franz Carl Weber:  Hier sal ek nie waag om Philip Jnr. los te laat nie.  Hier is speelgoed en fantasieë wat jou met 'n erg kinderlike gevoel vul.   Op die sypaadjie is 'n hele span diere.....almal opgewen, elkeen doen sy eie geluid.....St. Bernard Hond, Leeu,  Kat,  Koei,   Olifant,  Hoenderhaan, Haas en nog meer.   Die kindertjies in hul ontwerpers jassies, skoentjies en hoedjies staan hulle toe, maar niemand raak aan iets nie.....hoe's daai vir dissipline!

En die?   Dit is in my eie woorde:   "die markie",  behoort aan 'n familie.   Hier is die deli met die Ticino gastronomia alles vir jou klaar gaargemaak......na 'n maand sal ons nog nie alles geproe het nie.  Hier is die salumeria en charcuterie met al die soorte ham en salami en rou vleis wat jy graag sal wil eet.  Die Bottega del Vino vir die Merlot, Ticino wyne, die Frutteto en verdure, met vrugte en groente wat jou eetlus so aanwakker dat jy 'n vegetariër kan wees, net vir 'n week!

Ja en daar staan die kastanje rooster man tot my plesier (ek is gek na die kastanjes) voor die Innovazione en hy rooster kastanjes met oorgawe en pak dit vir jou in 'n outydse kegelvormige bruin kardoesie, wat jy in die loop moet uitdop en dan brand jou hande, maar dis o so lekker!  Hy het laas spesiaal vir my geposeer vir 'n foto, maar daar is geen manier dat hy my gaan onthou nie.

Ek glo jy is nou stokflou.   Kom ons gaan kies 'n "panini" by die deli en gaan sit gratis en verniet op 'n bankie op die promenade onder die blaarlose knoetsbome en kyk vir die swane op die meer, terwyl ons moeë bene en seer voete rus.

Italiaanse groete en liefde uit Campione.


To the top!


footer for Passegiata page