Emilia-Romagna, Umbria & Toscana

Deur Catrien de Bruin©

November 2002

Saterdag  9 November is ons vroeg-vroeg op die snelweg rigting Milaan, Bologna met Ravenna in die Emilia Romagna provinsie as ons mikpunt.

Ravenna staan bekend as die stad wat reënwater drink.   Lank voor daar nog van Venesië geweet is, het die inwoners van Ravenna  op kanale met bote en bargge gevaar.  Ravenna  het in moeras gebied vlak langs die Adriatiese see gestaan.   Deur die eeue het die natuur so verander dat Ravenna vandag teerstrate het en ʼn geweldige groot industriële gebied is.

Hulle besit meer TV stelle as enige ander stad van die grote.

Ons het definitief nie gegaan vir die TV lugdraadjies of die teerstrate nie, maar vir die MOSAÏEK van Ravenna.   Hierdie kunswerke dateer uit die 5de & 6de eeu in die Bisantynse tydperk.   Geen prentjieboek of foto kan illustreer wat hierdie klein steentjies en glas wat so gesny en ingepas is dat dit die lig weerkaats op verskillende tye van die dag, sodat die kleurskema nooit dieselfde is nie, vir jou wys nie.  Sou jy dan daarna kyk, voel dit of jou kop sing, want dit is oorweldigend en moet jy regtig gaan sit en kyk en kyk en kyk!

Jesus word uitgebeeld as skoongeskeerde Romein met kort hare en sandale, goue toga  met blou borduursel,   die apostels as Romeinse senatore, of  as spierwit lammers wat  weerskante van Jesus in die groen gras staan.

Dis opmerklik dat hierdie kunswerke die vroeë Christenkerk uitbeeld.   Maria is nog nie prominent nie en Jesus aan die kruis vasgespyker word nooit uitgebeeld nie.

Die verheerliking op die berg word gedomineer met die hand van God,  die kruis met Jesus en op Sy uitgestrekte hande….die Griekse letters, Alpha en Omega.  Moses & Elia en drie wit skape wat Petrus, Jakobus en Johannes verteenwoordig.

In Ravenna is die Romeinse ryk gebore en hier het dit ook gesterf.

Ravenna was ʼn hoogtepunt en hiervandaan skuif ons aan na die vallei van Le Pierlé waar Borgo di Vagli, ʼn nuwe RCI oord die goue kroon ontvang het.   Die oord is hoog in die berge geleë.   Dis nou al laat middag en vinnig besig om skemer te word en ons ry op ‘n regte twee spoor 4x4 grondpaadjie met styl opdraandes en afdraandes wat tussen die reuse eike bome in hul herfsbaadjies kronkel.  Ons is optimisties om te dink ons gaan nie net slaapplek kry nie, maar ʼn wonderlike aandete ook.   Wat is ons verbaas toe ons daar kom, daar kraak nie ʼn tak nie, alles bot toe.  Dis wel pragtig gebou en romanties met ‘n prentjiemooi uitsig oor die vallei met die kasteel as fokuspunt aan die oorkant op die heuweltop. 

Hier moet ons vinnig uit voor die donker op ons toesak en Philip trap die Golfie se petrol asof  ons die “mille milia” (duisend myl) reisies ry.  Die klein dorpies slaap reeds en ons mik vir Cortona teen die styl hange tussen olyfbome op die heuwel gebou.   Ons kry die gevoel dat almal hiberneer, want ʼn  stille doodsheid hang oor die plek….. ’n 4 ster villa se liggies blink aanloklik, maar ons hou verby.   Op en op teen die steiltes uit agter ‘n bordjie aan wat sê hulle is ʼn oase vir enige ou wat sy kop wil neerlê…. alles bot toe kan ons op ʼn afstand al sien, maar moet tot bo ry om, om te draai.   Hier skuif ʼn man ʼn reuse houtdeur oop om darem te sê hulle is vir die volgende drie maande gesluit.   Hy stuur ons na die Signora van La Locanda del Molino toe.   Dis omtrent 10 km. terug in een van die deurry dorpies.    Hier is alles ook donker en toe, maar Signora steek tog haar kop by die deur uit en na lang stories en gebare is sy ons barmhartig en sluit die donker koue Locanda oop en skree vir haar man om die ligte aan te sit.   Stefano reageer dadelik op die stem!!   Signora praat aanmekaar en laat ons verstaan sy het net gister afgesluit en toegemaak vir die rustydperk van drie maande, maar sal ons nou uithelp,  maar sy het nie kos nie en sal ons moet terug Cortona toe.   Die kamer is mooi gemeubileer met tipiese Italiaanse antieke meubels, maar ysig.   Sy skakel die warm waaier aan, nadat sy seker gesien het hoe ek bibber.   Ek wou vra van warm water, maar sluk die woorde terug.   Die volgende oggend het ons in koue water gestort….. nouja, as dit my eerste keer was, sou ek die wêreld wou omkeer, maar was dit ʼn skokkende manier om die dag te begin.  Ons ontbyt bestaan uit vars Panetone, brood en konfyt wat sy self gekook het, vertel sy so tussenin.   Ons kry lekker cappucino, sommer twee keer agtermekaar.   Sy vertel dat sy  en haar man die Locanda reeds vir 30 jaar bedryf en sy en haar dogter bied ook kookkuns klasse “onder die Toskaanse son” aan.   Toe ek my opgewondenheid toon, kry ek die hele kursus met resepte en bowenal in Engels.   My hart word sommer modder en die koue stort is haar vergewe!!!!

Na soveel opwinding, is dit al laat oggend toe ons van Signora en Stefano afskeid neem en rigting “Lago Trasimeno” kies.   Ons is in  Umbria, land van St. Francis,  dis baie groen en bergagtig met sagte valleie en twee groot mere.  Riviere, o.a. die Tiber en  baie heuweldorpies is kenmerkend, maar ons hou verby, want ons mikpunt is Siena in Toskana.   Perugia is hoofstad van die Umbria provinsie.

Sondagaand in Siena:  Hierdie is voorwaar ʼn ”perdjie” met baie kleure ….letterlik op rooi klei heuwels gebou en staan bekend as “Burnt Sienna”.   Nadat ons vinnig ʼn baie klein blyplek op ʼn lawaaierige straathoek kon kry, is ons betyds vir die “passegiata” in die hoofstraat.   ʼn Stroom mense, oud en jonk, stap die volle breedte van die straat in dieselfde rigting (ons natuurlik stroomop), want ons kan nie uitmaak waar dit gaan eindig nie.    ʼn Geroesemoes van stemme, lag en gesels met hande wat saampraat en verduidelik, asof in ʼn film, skuif ons verby om op die indrukwekkende Piazza del Campo te eindig.   Hier sit en staan groepies mense en gesels en die kafeetjies om die soom, sit volgepak.  Die piazza is in die vorm van ʼn waaier gebou.   Die stadsaal  gebou in die 13de en 14de eeu in Gotiese styl is hier die fokuspunt.  Hoog bo in die middel is ʼn brons paneel ingebou met die letters  IHS  (Iesus Hominum Salvator)  Jesus Man’s Saviour.

Siena word met die “Palio” geassosieer wat twee keer ʼn jaar afspeel.   Dis ʼn dramatiese kleurryke  perdereisies wat deur die strate en op die plein afspeel.   Die Palio in sy oorspronklike vorm was ʼn “pallium” mantel van ryk fluweel of brokaat.   Vandag in Siena is dit ʼn sy bannier met ʼn beeld van die Maagd Maria daarop.   Die reisies vind ter ere van die Maagd plaas.

Die katedraal ʼn endjie verderaan is eweneens indrukwekkend met sy swart en wit marmerstrepe ook in die 13de eeu gebou en die boeke sê 40 kunstenaars was hier betrokke.   Met die instap op die Maandagoggend kom 1 Kor. 13 oor die luidsprekers na ons toe.   Daar is ʼn diens besig en die voorleser lees 1 Kor. 13 .   Dit was alles baie mooi van toepassing en het dit bygedra om altyd aan Siena se kerk in geloof, hoop en liefde te dink.

Vir die volgende twee dae sweef ons op die heuwels van Toscana…. rigting Montalcino wat overal bekend is vir die Brunello wyne… ry die groen roete … Torrenieri, Bellaria, Pienza… rigting Arezzo.   Oornag by La Gravenna langs die pad…. buurman se TV bly die hele nag aangeskakel en toe hy 7uur die oggend uitstap, het hy dit afgeskakel….. mense en hul gewoontes????

Alhoewel baie dynserig, was dit kompleet asof die  Toscaanse landskap meer uitstaan en ʼn gevoel van misterie gee.   Dinsdag het  ons rigting Rassina,  Carda,  Poppi,  Castello Romena ,  Stia en Porciano gery en teen  14h00 die A1 rigting Florence en later rigting Bologna en Milaan gery.   Die mistigheid het al hoe meer intens geraak, teen 16h00 was reeds sterk skemer en toe ons teen 18h00 Campione instoom na strawwe verkeer by Milaan en Como was ons flou gereis.   Maar met harte vol dankbaarheid  vir soveel genade en belewenisse en indrukke aan ons geskenk uit Vader hand.

H. V. Morton beskryf Toscana perfek en wil ek dit graag deel:

“The marriage of the Tuscan landscape to the New Testament has been the happiest of unions.   The brown, silvery-grey countryside with its chestnut woods, its dark groves of cypress, its redtiled farms, its outcrop of volcanic boulders, roofed by the blue Italian sky and palpitating to the sound of the cicada, is the most civilized rural scene on earth.    It is embroidered everywhere by human living, and there is scarcely a hill, a stream, a grove of trees, without its story of God, of love or death.”


To the top!