SICILIË (SICILIA)
Deur
Catrien de Bruin©
15 - 22
Junie 2002
Die grootste van die Mediterreense eilande.
Deur die eeue was Sicilië 'n baie gesogte eiland om te besit en daarom ervaar
ons hier gemengde kulture en argitektuur. Die Grieke, Romeine, Bisantyne,
Normane, Swabians, Spanjaarde, Franse en Engelse het almal hul stempel
afgedruk. Vandag is dit egter pure Italiaans.
Ons pak die Italiaanse stewel van bo oor
Lombardië, Emilia-Romagna, Toscana, Lazio, Campania tot in Calabria om by die
punt van die toon by Villa San Giovanni met die ferrie oor te gaan na die
eiland. Die afstand tot by die punt was 1,475 km. Ons het wel oornag by
Lagonegro (swart meer) in die provinsie van Calabria. Dit neem 20 min. vir die
ferrie van die vasteland tot by die eiland. Ons verlustig ons aan die blousel
blou van die Middellandse see. Pragtig !! Ons is met motor en al oor.
Alles loop besonder glad en vind ons die RCI woonstel in Falcone aan die
noordoostelike kus, na 'n paar verkeerde draaie, eintlik gou. Dis relatiewe
nuwe geboue in 'n reuse kompleks nl. Porto Rosa. Die woonstel is ruim en kan 6
slaap, dan is die sit-eetkamer ingesluit, met een badkamer. Ons het rustige
Duitsers vir bure.
Hoe beleef ons Sicilië? Dis 'n bergagtige
eiland met baie heuweldorpies. Berg Etna is die hoogste punt op die eiland.
Dit is 'n aktiewe vulkaan en kan jy van ver af die rook pluim op die spits
sien. Dit het verskeie kere oorgekook en kan dit enige oomblik weer gebeur.
Ons kan die swart lawa strepe teen die berg af sien. Laer af is baie lemoen,
suurlemoen en olyfbome en wingerde, want die grond is baie vrugbaar. Etna wyn
is oral beskikbaar. Randazzo, is n pragtige dorpie in die vallei. Ek voel
eintlik die koue rillings langs my ruggraat afloop en toe ek sê: "hier
wil ek nie bly nie" is Philip se praktiese antwoord: Ja, ons bly liewer
in Afrika !!! So is alles maar relatief.
Ons ry letterlik honderde kilometers op brûe
wat op reuse pilare tot 300 meter hoog gebou is. Die grond is onstabiel agv.
die aardbewings en daarom is dit makliker om 'n klein stukkie grond te
stabiliseer, verduidelik my man. Daar is baie tekens van paaie wat deur
aardbewings getref is en ou stukkende geboue wat hul kosbare klipwerk gelos
het. Ons sien ook baie nuwe geboue, maar dis onklaar. Dikwels drie
verdiepings hoog. Die grondvloer word bewoon, maar die res bestaan net uit
fondamente op pilare, of andersom, hulle woon bo en onder staan dit leeg.
Ons beleef 'n hittegolf.... tot 42 grade.
Die nuus sê dis die eerste keer in 20 jaar. Ons maak gebruik van die skoon
gratis strande om in die helder seewater af te koel. Stop gou langs die hoofpad
en hang in die deurskynende water. Dis nog nie spits seisoen nie, daarom is
dit nog betreklik stil.
Op een van hierdie kere ervaar ons 'n
vreemdsoortigheid. Die andersins rustige see, begin skielik onstuimig raak,
asof 'n gety inkom. Almal skarrel om hul handdoeke en sambrele te verskuif.
Ons is gewoond aan rowwe see en daarom bly ons maar in die water en kyk rond
vir 'n groot boot wat dalk die golwe kan veroorsaak, maar daar is niks. Was
dit dalk 'n ligte aardbewing? So het ons later oor die verskynsel bespiegel.
Ons kies 'n dag vir die binneland. Dis
snikwarm !! Die ou manne sit lusteloos op bankies onder die bome oppie piazzas,
waar die son hulle nie kan bykom nie. Vang 'n slapie, of doen net niks. Ek
wonder altyd waar is die ou vroukies dan? Niks steur nie, net die eindelose
geratel van die sikades is hoorbaar. Die swart "cobbles" straal
gevaarlike hitte uit. Die heuwels is oortrek met koringlande..... dis hul
"Malmesbury en Overberg" gebied. Baie pasta en brood vir die
volgende seisoen. Sicilië is selfversorgend vir hul kos. Die landelike
dorpies het hul eie lappies tamatie, spinasie en peper tuintjies.
Die "wilde tuine" is my
gunsteling.... hier staan stokoue olyfbome, vyebome, turksvye en vir die mooi
'n rankroos wat oorvloedig blom en wild rank. Hier stop ons vir piekniek, of
sommer net om vir die groen akkedissies te kyk. Dit bring my by die
oleanders wat in hul massas groei en in al die skakeringe van pienk blom, die
wittes is vars en skoon. Die staan die wêreld vol en vorm ook 'n kleurvolle
muur tussen die snelpaaie. Waarom plant ons nie meer oleanders nie? Dink
net hoe mooi sal die Vrystaat wees. Sal seker doodryp in die winter nê.
Die Italianers het hulself deur die eeue bewys
as meesters op baie gebiede. Ek hoef nie te verduidelik nie...... ons ken dit
alles...... kunstenaars, beeldhouers, digters, musikante en wat nog meer.
Ons het nog 'n kwaliteit ontdek. Hulle is meesters op die gebied van
parkering!! Ek wens julle kan dit net sien!!
Enna is 'n heuweldorp op 'n berg soos
Tafelberg gebou. Ons kan nie eers met die gedagte vereenselwig oor die bou
hiervan nie...... so kom ons los dit daar..... ons moet vir swart karretjie
iewers neersit voor ons voete kan neersit. Dis middeleeus, hoe sal hier in
jou wildste drome 'n parkeer huis wees. Die piazzas staan vol ingepak, in
blokke. Kan ons hierdie dissipline regtig glo van die Latyne? Waar die
straat breed genoeg is, word drie rye ingepak, dan gaan ons skuur-skuur
bymekaar verby. Sou jy dalk by die naaste "Bar" 'n cappucino wil
drink, dan kan jy stop, as ek wil verby kom, moet ek my toeter druk, dan stuur
jy die kelnerin met jou motor se sleutel en sy verskuif die motor so ʼn
entjie....... waarnatoe, want daar is nie plek nie, anders val ons van die
heuwel af. Wat 'n ander wêreld, maar dis asof almal met almal genade het.
Ons ry met die trein na Palermo, hoofstad en
hoofhawe van Sicilië. Bynaam: Conca d' Oro (Goue baai), waar suurlemoene en
lemoene floreer. Hier is twee hoogtepunte: 'n Piazza genaamd
"PRETORIA" . Hier is 'n aanskoulike fontein omring met verskeie
marmer beeldhouwerke deur 'n beeldhouer uit die 16de eeu. Stel jou voor!!!
Die tweede hoogtepunt was die "Cappella
Palatina". Die kapel is deel van die paleis wat in 1130 tot 1140 gebou
is. Bisantynse kuns op goue mosaik..... Moorse invloed. Die Ou en Nuwe
Testament word hier op ongelooflike wyse uitgebeeld.
Taormina was my gunsteling...... hoog bo-op 'n
ronde heuwel gebou en vorm 'n balkon op die Middellandse see vanaf elke
uitsigpunt. Leatitea, ons Niemann vriende, se meisiekind was kelnerin by
Taormina in Garsfontein... so in haar deeltyd..... ons het dikwels daar gaan
eet, en het ek altyd gewonder oor die regte Taormina. Sowaar ek word uit my
sokkies geseën om die ware Jakob te stap en te beleef. Hier is 'n Griekse
teater wat vandag nog vir opvoerings gebruik word. Hier groei wilde rooi
papawers tussen die rye klip sitplekke.... ek pluk 'n paar vir my hoedjie.... Philip
sê dit lyk mooi en pas by my "ensemble".... hierdie teater dateer
vanaf 3 eeue VC. Die Romeine het dit herbou in 'n arena. Hier is pragtige
tuine en natuurlik is berg Etna altyd deel van die uitsig..... net om my mooi
te laat verstaan......"die verskriklike stuk aarde is aan die kook".
Ons hoef nooit terug te gaan na Sicilië nie,
maar dit was 'n lewenservaring. Daar is baie ander meer idilliese eilande.
Persoonlik plaas ek Sicilië iewers tussen Indië en Afrika.
Die duisende kilometers op die snelweg het ons
benut deur 20 kassette "Growing kids God's way" te luister. Ons
dink dis uitstekend. Sal weer en weer moet luister, want nou het ons groen
koring oppie land...... J & K pas dit reeds toe en C & E het dit ook
bestudeer en oefen nou al op hul vrinne se kinders!
Ons spandeer 2 dae in die pragtige Toscana
(later meer hieroor). Toe ons hier inval Sondagaand was ons behoorlik
flou....... reis is nie vir sissies nie! Ons was net weer opnuut bewus van die
HERE se beskermende hand oor ons. Soveel verkeer, soveel mense, soveel
kophou!! Baie Dankie Vader!
Maandag oggend op die nuus: Aardskudding in
Sicilië ....... in die noordoostelike gebied...... 3.2 op die richterskaal
gemeet. Daardie koue rillings, het toe sommer oorgeslaan in koue sweet!!!
Sjoe!!
Groetnis van huis tot huis in Hartland,
To the top!

|