SICILIË (SICILIA)

Deur Catrien de Bruin©

15 - 22 Junie 2002

Die grootste van die Mediterreense eilande.  Deur die eeue was Sicilië 'n baie gesogte eiland om te besit en daarom ervaar ons hier gemengde kulture en argitektuur. Die Grieke,  Romeine,  Bisantyne,  Normane,  Swabians, Spanjaarde, Franse en Engelse het almal hul stempel afgedruk.   Vandag is dit egter pure Italiaans.

Ons pak die Italiaanse stewel van bo oor Lombardië,  Emilia-Romagna, Toscana, Lazio, Campania tot in Calabria om by die punt van die toon by Villa San Giovanni met die ferrie oor te gaan na die eiland.  Die afstand tot by die punt was 1,475 km.   Ons het wel oornag by Lagonegro (swart meer) in die provinsie van Calabria. Dit neem 20 min. vir die ferrie van die vasteland tot by die eiland.  Ons verlustig ons aan die blousel blou van die Middellandse see.   Pragtig !! Ons  is met motor en al oor.   Alles loop besonder glad en vind ons die RCI woonstel in Falcone aan die noordoostelike kus, na 'n paar verkeerde draaie, eintlik gou.  Dis relatiewe nuwe geboue in 'n reuse kompleks nl. Porto Rosa. Die woonstel is ruim en kan 6 slaap, dan is die sit-eetkamer ingesluit, met een badkamer.   Ons het rustige Duitsers vir bure.

Hoe beleef ons Sicilië? Dis 'n bergagtige eiland met baie heuweldorpies. Berg Etna is die hoogste punt op die eiland.   Dit is 'n aktiewe vulkaan en kan jy van ver af die rook pluim op die spits sien.   Dit het verskeie kere oorgekook en kan dit enige oomblik weer gebeur.   Ons kan die swart lawa strepe teen die berg af sien.   Laer af is baie lemoen,  suurlemoen en olyfbome en wingerde, want die grond is baie vrugbaar.   Etna wyn is oral beskikbaar.    Randazzo, is n pragtige dorpie in die vallei.   Ek voel eintlik die koue rillings langs my ruggraat afloop en toe ek sê:  "hier wil ek nie bly nie" is Philip se praktiese antwoord:  Ja, ons bly liewer in Afrika !!!   So is alles maar relatief.

Ons ry letterlik honderde kilometers op brûe wat op reuse pilare tot 300 meter hoog gebou is.   Die grond is onstabiel agv. die aardbewings en daarom is dit makliker om 'n klein stukkie grond te stabiliseer, verduidelik my man.   Daar is baie tekens van paaie wat deur aardbewings getref is en ou stukkende geboue wat hul kosbare klipwerk gelos het.    Ons sien ook baie nuwe geboue, maar dis onklaar.   Dikwels drie verdiepings hoog.  Die grondvloer word bewoon, maar die res bestaan net uit fondamente op pilare, of andersom, hulle woon bo en onder staan dit leeg.

Ons beleef 'n hittegolf.... tot 42 grade.    Die nuus sê dis die eerste keer in 20 jaar.   Ons maak gebruik van die skoon gratis strande om in die helder seewater af te koel. Stop gou langs die hoofpad en  hang in die deurskynende water.    Dis nog nie spits seisoen nie, daarom is dit nog betreklik stil.

Op een van hierdie kere ervaar ons 'n vreemdsoortigheid.   Die andersins rustige see, begin skielik onstuimig raak, asof 'n gety inkom.  Almal skarrel om hul handdoeke en sambrele te verskuif.   Ons is gewoond aan rowwe see en daarom bly ons maar in die water en kyk rond vir 'n groot boot wat dalk die golwe kan veroorsaak, maar daar is niks.   Was dit dalk 'n ligte aardbewing?   So het ons later oor die verskynsel bespiegel.

Ons kies 'n dag vir die binneland.   Dis snikwarm !!   Die ou manne sit lusteloos op bankies onder die bome oppie piazzas, waar die son hulle nie kan bykom nie.  Vang 'n slapie, of doen net niks.  Ek wonder altyd waar is die ou vroukies dan?   Niks steur nie, net die  eindelose geratel van die sikades is hoorbaar.   Die swart "cobbles" straal gevaarlike hitte uit. Die heuwels is oortrek met koringlande..... dis hul "Malmesbury en Overberg" gebied.    Baie pasta en brood vir die volgende seisoen. Sicilië is selfversorgend vir hul kos.   Die landelike dorpies het hul eie lappies tamatie, spinasie en peper tuintjies.

Die "wilde tuine" is my gunsteling.... hier staan stokoue olyfbome, vyebome, turksvye en vir die mooi 'n rankroos wat oorvloedig blom en wild rank. Hier stop ons vir piekniek, of sommer net om vir die groen akkedissies te kyk.    Dit bring my by die oleanders wat in hul massas groei en in al die skakeringe van pienk blom, die wittes is vars en skoon.    Die staan die wêreld vol en vorm ook 'n kleurvolle muur tussen die snelpaaie.   Waarom plant ons nie meer oleanders nie?   Dink net hoe mooi sal die Vrystaat wees. Sal seker doodryp in die winter nê.

Die Italianers het hulself deur die eeue bewys as meesters op baie gebiede. Ek hoef nie te verduidelik nie...... ons ken dit alles...... kunstenaars, beeldhouers,  digters, musikante en wat nog meer.   Ons het nog 'n kwaliteit ontdek.   Hulle is meesters op die gebied van parkering!!   Ek wens julle kan dit net sien!!

Enna is 'n heuweldorp op 'n berg soos Tafelberg gebou.    Ons kan nie eers met die gedagte vereenselwig  oor die bou hiervan nie...... so kom ons los dit daar..... ons moet vir swart karretjie iewers neersit voor ons voete kan neersit.    Dis middeleeus, hoe sal hier in jou wildste drome 'n parkeer huis wees.   Die piazzas staan vol ingepak, in blokke.  Kan ons hierdie dissipline regtig glo van die Latyne?     Waar die straat breed genoeg is, word drie rye ingepak, dan gaan ons skuur-skuur bymekaar verby.   Sou jy dalk by die naaste "Bar" 'n cappucino wil drink, dan kan jy stop, as ek wil verby kom, moet ek my toeter druk, dan stuur jy die kelnerin met jou motor se sleutel en sy verskuif die motor so ʼn entjie....... waarnatoe, want daar is nie plek nie, anders val ons van die heuwel af.    Wat 'n ander wêreld, maar dis asof almal met almal genade het.

Ons ry met die trein na Palermo,  hoofstad en hoofhawe van Sicilië. Bynaam:  Conca d' Oro (Goue baai),  waar suurlemoene en lemoene floreer. Hier is twee hoogtepunte:   'n Piazza genaamd "PRETORIA" .   Hier is 'n aanskoulike fontein omring met verskeie marmer beeldhouwerke deur 'n beeldhouer uit die 16de eeu. Stel jou voor!!!

Die tweede hoogtepunt was die "Cappella Palatina".   Die kapel is deel van die paleis wat in 1130 tot 1140 gebou is.   Bisantynse kuns op goue mosaik..... Moorse invloed. Die Ou en Nuwe Testament word hier op ongelooflike wyse uitgebeeld.

Taormina was my gunsteling...... hoog bo-op 'n ronde heuwel gebou en vorm 'n balkon op die Middellandse see vanaf elke uitsigpunt.    Leatitea,  ons Niemann vriende, se meisiekind was kelnerin by Taormina in Garsfontein... so in haar deeltyd..... ons het dikwels daar gaan eet, en het ek altyd gewonder oor die regte Taormina.    Sowaar ek word uit my sokkies geseën om die ware Jakob te stap en te beleef.    Hier is 'n Griekse teater wat vandag nog vir opvoerings gebruik word.   Hier groei wilde rooi papawers tussen die rye klip sitplekke.... ek pluk 'n paar vir my hoedjie.... Philip sê dit lyk mooi en pas by my "ensemble".... hierdie teater dateer vanaf 3 eeue VC.   Die Romeine het dit herbou in 'n arena.  Hier is pragtige tuine en natuurlik is berg Etna altyd deel van die uitsig..... net om my mooi te laat verstaan......"die verskriklike stuk aarde is aan die kook".

Ons hoef nooit terug te gaan na Sicilië nie, maar dit was 'n lewenservaring. Daar is baie ander meer idilliese eilande. Persoonlik plaas ek Sicilië iewers tussen Indië en Afrika.

Die duisende kilometers op die snelweg het ons benut deur 20 kassette "Growing kids God's way" te luister.   Ons dink dis uitstekend.   Sal weer en weer moet luister, want nou het ons groen koring oppie land...... J & K pas dit reeds toe en C & E het dit ook bestudeer en oefen nou al op hul vrinne se kinders!

Ons spandeer 2 dae in die pragtige Toscana  (later meer hieroor). Toe ons hier inval Sondagaand was ons behoorlik flou....... reis is nie vir sissies nie! Ons was net weer opnuut bewus van die HERE se beskermende hand oor ons. Soveel verkeer, soveel mense, soveel kophou!!   Baie Dankie Vader!

Maandag oggend op die nuus:    Aardskudding in Sicilië ....... in die noordoostelike gebied...... 3.2 op die richterskaal gemeet. Daardie koue rillings, het toe sommer oorgeslaan in koue sweet!!!    Sjoe!!

Groetnis van huis tot huis in Hartland,


To the top!


footer for Sicilia page