Eenvoudig soos in Nederig

Deur Evette Lombard©

Mei 1999

Byna elke restaurant of kafeetjie waar ons geëet het, het pienk tafeldoekies in gemeen.  Sommiges lig ander skok pienk, dalk sê dit meer van ons keuses as oor hulle smaak!  Wat kan ek sê?  Daar is iets ontsettend sentimenteel aan restaurante.  Dalk is dit iets romanties.  Eenvoudig soos in nederig.  Eerlik, ja definitief eerlik. 

Clementine in Menerbes, Barchetta in Campione, Paradiso in Lugano,  die Salon in Como, elkeen het pienk tafeldoekies!  Waar ookal jy eet, sal jy lekker kos kry.  Die plekkie sal dalk nie vir jou lyk asof hulle enige iets weet van atmosfeer nie.  Jy sal daardie fout net een keer maak.   Atmosfeer kom in kratte! 

Die aand in die Barchetta was daar ʼn jong man, in sy middel twintigs wat vir ons gesing het.  Daar is net so agt tafeltjies in die restaurant, ʼn klein restaurant, beslis nie plek vir ʼn band nie, dink ek.  Hy het daar gesit met sy kitaar en synthesizer en uit sy hart uit sulke soetsappige Italiaanse liedjies gesing.  Dit is so mooi dat ʼn mens werklik trane in jou oë wil kry.  Ek leer van voor af dat jy nie ʼn man op sy baadjie takseer nie of anders gestel, jy ken ʼn boom aan sy vrugte.

Spaghetti

Is myns insiens die ding.  Mamma het een aand die heel lekkerste spaghetti aglio olio (olyfolie en knoffel) gemaak, kon 3 dae later, toe ek die trappe teen die berg gaan uithol het vir oefening, die knoffel ruik soos dit deur my vel ontsnap. (Effens oordryf)  

Ek eet onvergeetlikke spaghetti Carbonara (eier en ham) by die Barchetta en ʼn penne arabiata in Bellinzona - kwaai sousie!

Vanaand het Mamma vir ons ʼn kwarteltjie gekoop en sy deel hom tussen die drie van ons.  Hy het ʼn gordeltjie van spek om sy middeltjie gehad.


To the top!