Swanemeer

Deur Catrien de Bruin©

16 September 2001

Gisteraand het ons “Swanemeer” vanuit ons kleine uitsig oor die meer beleef.

Ja die ware een uit God se hand, spesiaal vir ons twee.

Dit was presies 8 uur met die son net onder en die skaduwee van die Loodgrys berg wat die meer in 'n gladde, swart spieël met silwer bane verander. Die dekor was perfek,  ons sitplekke op ons eie private losie perfek, want hier voor ons is twee spierwit swane op hierdie swart meer, besig om vir ons hul dans te dans met hul vlerke hoog uitgestoot  (asof elkeen sy eie tutu aan het ). Dis 'n fyn spel van hofmakery, want die een dans vinnig weg en as die ander een net so vinnig naderkom, dan flous sy hom met 'n vinnige ommeswaai in die teenoorgestelde rigting. Die water skuim en bol hoog om hulle en dan raak alles weer rustig, maar daar word nog steeds op die punte van ons tone gedans.

Ja en toe kom die derde party nader, hier van die villa se kant kom nog 'n swaan met 'n missie aangeseil. Nou mannetjie moet jy perform, want hier is kompetisie!!  En kan hy perform!!  Dis asof 'n ekstra paar vlerke opgepof word en die lang nek wat vorentoe en agtertoe swaai,  stuur net een boodskap....... jonge heer jy is nie welkom nie, seil verby of draai in jou twee gewebte pote om...... hierdie is my territoriale gebied.

Die jonge heer het die boodskap gekry en omgedraai en die vertoning het voortgegaan met die meer al swarter en die swane al witter.   Die hoogtepunt was nie vir ons bedoel om te sien nie, na alles daar is darem ook perke !!   So het die aandskemering 'n einde aan ons vertoning gemaak en kon ons later net die twee wit spikkels op die wye meer sien.

Dankie Vader dit was regtig pragtig.

Warm hartkloppe en liefde uit Campione.


To the top!


footer for Swanemeer page