Toe Campione nog slaap

Deur Catrien de Bruin©

05 Maart 2003

Ja, en toe Campione nog slaap, stap ons Saterdag oggend 8h30 hier by  La Residence in Viale Marco in.    Die keer was alles vinniger as die wind!

Jhb. Internasionaal was gelyk vol met triljuisende mense.   Dis 19h30 toe ons bagasie inboek...... "boarding time, ten past eight" sê sy.    Philip het ek reg gehoor? Wel, dis wat sy gesê het.    Kontroleer die vliegkaartjies.... vlug vertrek 23h00 op 28 Febr.    Kortom, die vlugtyd is weereens verander  (lessie: kontroleer vlugtye voor jy maar net aanvaar dis soos dit 'n maand gelede was).    Ons vlieg twee ure vroeër wat 'n meer respektabele tyd is.    Nie kans vir sit en die sitkamer met sy luukse te geniet nie, wat nog vir rondstap en winkels kyk.    Presies om 21h00 het ons opgestyg.  

My mede passasier was 'n Afrikaan wat dadelik sy oorfone opgesit het, teruggesak en na iets wat moet deurgaan vir musiek geluister het, so hard dat Philip dit twee stoele verder ook kon hoor.   Hiermee saam het sy bene, hande en lyf met die ritme ingeval.   Dit was baie snaaks en het dit nie eers vir die ete gestop nie.    Teen 1 uur wat alles en almal tot stilstand gekom het, was dit nie meer snaaks nie.    Hoe nou gemaak met buurman?   Hy slaap reeds met musiek en al.   Sal ek die lugwaardin roep en dit haar probleem maak of sommer net die oorfone uittrek of hom wakker maak en vra dat hy die musiek sagter maak.    Ek besluit op lg.   Hy ruk soos hy skrik, maar reageer positief op my versoek..... oorfone af, musiek stil, sonder enige geluide of gebare.   Dankie tog!!!

Ons land 6h00 op Zurich met ons aansluiting na Lugano tien min. oor 7. Die temperatuur is minus nul grade op Zurich.   Ai Afrika, waar is jy tog ver met jou son en hitte? Dis weer net gryp en hardloop..... nie eers tyd om al die nuwe "trends" op Zurich lughawe te bekyk nie.   Ek ruik al die pad net sjokolade!!    'n Man vra in Engels of ons nie koud kry nie.    Ons hardloop en stoom so dat ons nog nie aan baadjies gedink het nie.   Die man dra 'n jas en dis binnenshuis..... ek wonder wat hy maak as hy buite kom.

Cross Air vlieg ver bo die wolke en die Alpe beloon ons met 'n asemrowende prentjie van spierwit sneeu wat al die voue en plooie en harde spitse saggies toemaak en ek dink hoe ontsettend groot is U Vader, wat alles gemaak het, sodat ons dit kan geniet..... sou Dawid ook sulke sneeu gesien het, toe hy gesê het:  "was my dat ek witter as sneeu kan wees".   Hoe wit is wit as dit witter as sneeu is?

Cross Air bedien die oggend net koffie, tee of lemoensap.    En ja, die groot ronde tjoklit in silwer toegedraai.    Koffie en tjoklits het nog altyd vir my gewerk... Lekkerrrrrrrr!!!

Lugano lughawe bly steeds net louter plesier..... so vriendelik, klein, rustig en maklik.

Toe slaan die koue ons eers regtig, want ons staan buite in die vars lug en wag vir die taxi.

Alles was die keer net te vinnig vir beide van ons.    Het vir drie dae rondgeloop met 'n gevoel asof iemand my met 'n plank teen die kop geslaan het. In die woonstel was alles reg en presies soos ons dit nagelaat het. Philip het dadelik na die swart Golfie gaan kyk.   Die het blink skoon op die boonste vlak gestaan, maar wou nie start nie.    Net toe hy deur die dril gaan om die mobiele hulp te kry, kom die landlord se vrou met die sleutel en sê dat die battery ontkoppel is.    Na alles gekoppel is het karretjie soos 'n splinternuwe waentjie aan die werk gespring en daardie deel van die spanning kon ons afskryf...... weet nog nie wat die skade in Switserse Frank sal wees nie.

Ten spyte van die grys dynserige bewolkte dag, staan hier 'n visserman op die kaai voor ons woonstel en vis vang.    Hoe lief moet 'n mens wees vir vis as jy in 3 grade staan en vis vang en wat sal jy tog vang?    Die volgende oomblik sien ek net hierdie geweldige beweging in die helder deurskynende water.... Philip kom kyk.......  die man het 'n enorme vis gevang!    Dis 'n gespartel en eindelik haal hy die reuse vis uit die water. Ek staan oorgehaal met my kamera, maar die regte prentjie kom nie voor die lens nie. Ons klap vir hom hande. Hy moes die geskarrel vanuit die woonstel van ons kant ook gehoor het, want hy bring dadelik sy vangs na die motor, maar nie voor hy mooi staan met vis en al sodat ek my prentjie kan maak.    Die vis sal die hoogte van my bene wees.... dis nou nie 'n "visserman" storie nie, dis waar!   Hy het die naam gesê, maar ons het dit onmiddellik vergeet. Altyd gedink hier is net die klein vissies in die meer wat hulle "persico" noem en in die restourante bedien.

Teen 12h00 was ons rasend honger en het by ons gunsteling trattoria in Bissone ingeval vir pasta.     Met die aankomslag, sien ons die confetti en streamers wat oor die wêreld gesaai is........ natuurlik dis karnaval tyd!! Dis die tyd van die jaar wat die Lente ingewag word en die vieringe in al die verskillende dorpies plaasvind.   Dit gaan gepaard met fantasie kostuums, vlotte en orkeste in optogte.    Elke gemeenskap bied dan ook op die dag 'n gratis bord "risotto e luganighetta" aan, lg. is 'n bleek, pienk wors, wat ons nie 'n smaak voor ontwikkel het nie.   Hierdie feeste vind plaas oor ten minste 4 weke in die Ticino provinsie.   Lugano het dit gister (Maandag) gehad.    Meeste winkels is toe vir die okkasie en op die Piazza della Riforma staan lang tafels met lang bankies waar almal styf inpak. Ons het nie kans gesien vir die lang toue nie.   Buitendien is hierdie 'n feestelike byeenkoms van lank kuier en gesellig wees of jy in die tou staan en of jy styf op mekaar sit en moet jy die taal en kultuur van kindsbeen af ken om deel te wees.   Ek wonder net wat nou as die risotto op is....... hoe bepaal hulle die hoeveelheid..... seker nie my probleem nie nê.     Daar staan ten minste 12 potte wat met gas werk, so groot soos my Ouma se seeppot, waarin twee manne met houtspane risotto om en om draai.

'n Ander delikatesse wat net in hierdie tyd ook gratis in trattorias bedien word is "tortelli".    Ons het dit in die Bissone trattoria ervaar.   Die beste woord wat ons kan gee hiervoor is "sweet bread".    Dit word gemaak van meel, botter en eiers en dan word dit baie, baie dun uitgerol en in olyfolie gebak en versiersuiker oor gestrooi.    Dit word ook gevul met neute, marmelade, kastanjas, amandels en sjokolade.   Ons het net die plat, papierdun variasie met versiersuiker geproe.   Philip gaan nie in vir soet nie, maar selfs hy het gedink dis 'n belewenis op die palet en het ons, ons bordjie met ses "tortelli" skoongemaak.

Hierna, het ons die taperellies dig toegemaak en letterlik uitgepass en geslaap en teen 17h00 weer ons koppe opgetel.    Ons oë geknip, want ons was eintlik nog in Rondevoux waar Engandini se manne tot op die laaste oomblik gewerk het en waar ons Carl-Pieter se tweede verjaardag in Gracelaan met sy muiskoek wat Mamma Kathy gemaak het, gevier het.

Sat. aand moes ons net weer die sensasie van 'n ware pizza oppie palet voel en het afgesit hier onder na die Rally Club op Piazza Roma.    En ja, wat was dit tog lekker dat die personeel ons herken en kontak maak met 'n vriendelike verwelkoming en ons na ons gunsteling sitplek neem....... hoe weet hulle?

Sondag oggend slaap ons sowaar tot 8h00.  Daar hang 'n erg mistigheid oor die meer.    Monte San Salvatore is skaars sienbaar. Ons na luister 'n bandjie van Zelna deur Brian Darroll (Radiokansel).    Gee ons baie stof tot nadenke en naslaanwerk.... veral Handelinge 16 vanaf vers 6.

Ons ry na Morcote langs die Lugano meer om 'n lang end langs die meer te gaan stap en dan in een van die eetplekkies in te val.    Ons het ons met die temperatuur misgis en nie warm genoeg aangetrek nie.    My vingers wil afval en my ore pyn en Philip sê sy longe gaan vries en buitendien is hy nou honger en dors.    Morcote wil nie vir ons werk nie, want ons sien nie 'n kaggel nie en daarom skuif ons aan na Lugano se kant na die Locanda del Boschetto waar die spesialiteit "vis" is.    In 'n baie aardse en ou gebou met balke en riete in die dak met die kontras van sjandeliers wat laag hang en die vis braaiplek in die voordeur en waar die kelners manne in gevorderde jare is met swart broeke en wit hemde,  val ons in om die ongelooflike atmosfeer van gesellige stemme (sonder musiek) en geniet "vis" uit die meer.

Amper vergeet ek,  een van die eerstes wat ons opgeval het is die reënboogkleurige baniere wat hier in Campione,  Bissone en Morcote oor die balkonne wapper met die woord "PACE" daarop gedruk.   Pace beteken "vrede".

Maandagoggend het ons 'n draai in Lugano gaan maak ter wille van die ambiance, daarna gaan lewensmiddele by die Co-op by Ikea gaan kry. Van gister af het die temperature begin styg en het ons helder sonskyn met blou lug.   Die noorde wind het alle dynserigheid weggewaai.     Soveel so dat Philip vanoggend vroeg-vroeg afgesit het na Andermatt om te gaan ski. Volgens al die beskrywings en voorspellings is die ski toestande perfek en wou hy dit nie mis nie.

Hier in Campione is alles nog in 'n diepe winterslaap.    Nog geen blomme in die potte nie, nie 'n beduidenis van 'n groen blaartjie nie.   Baie villas en woonstelle se taperellies is dig toe.    Ons is ook die enigste in die woonstelblok, behalwe vir die "landlord" en familie.


To the top!


footer for Toe Campione nog slaap page