Toscana, Gondolas, en Pasta

Deur Catrien de Bruin©

Junie 2000

Ons vriendin Isabel, besoek ons en ons laat nie op ons wag nie, want dis 'n geleentheid vir beide van ons om te reis.

Italië kom eerste aan die beurt met Venesië as die beginpunt.

Venesië:   Geen ander stad in Europa fassineer my soos hierdie "stad op water" nie.   Om vir Isabel te gaan wys was 'n goeie verskoning, want dit regverdig my sewende besoek aan hierdie fassinerende plek op aarde.   Selfs Philip wat nie van stede hou nie, het na 9 jaar, sy laaste besoek aan Venesië, ingestem om ons met die motor te neem.

Ons parkeer die motor in een van die publieke parkeergarages en spring op die vaporetta wat ons na die trein stasie neem om vandaar te voet vir blyplek te soek.  A.g.v 'n misverstand vaar ons vir meer as 'n halfuur rondom Venesië voor ons by die stasie uitkom........mooi so! Want hoe sou ons nou op ons eie so 'n water reis beplan het.  Dis 'n wonderlike begin.   Ons snuffel blyplek uit, en pak die "grand tour" na die St. Markus plein via die "Grand Canal" op 'n vaporetta aan.

Ek leef terug in die dae wat al hierdie paleise in die "hoofstraat" bewoon was.  Dit moes iets gewees het.

Die "hub" van die publieke lewe is op die St. Markus.  Hier is toeriste vanuit al die kontinente, tesame met die inwoners en die massa duiwe.   Elkeen besig om of op die trappies te sit en jou te verkyk na hierdie film wat voor jou afspeel........of na hoë torings.......of na die mosaïek van die St. Markus kerk wat in die son skitter......of die duiwe te voer......of te luister na die orkes voor die upmarket ristorante op die plein.

Om die romantiek en mooi van Venesië te beleef moet jy stap in die doolhof van paadjies en bruggies.  Verdwaal is jou voorland want die tekens tussen die St. Markus en die stasie maak geen sin nie.   Wat 'n plesier!    Nou is dit stegie op stegie, omsoom met blom balkonne, wasgoed, winkeltjies met triljuisende pragtige glas en alles waaraan jy kan dink.  

Die steen en gegote ysterbruggies oor die kleiner kanale met Gondolas en hul Gondoliers wat rustig verbyvaar en of 'n wysie neurie of hul passasiers met 'n trekklavier vermaak, is alles deel van hierdie sjarmante ou stad.   Die gondoliers dra matroos streephemde met strooihoede met 'n lint omgebind.   Party gondolas is baie luuks binne met rooi tapyt en fluweel sitplekke en al.   Ander Gondolas wat aan die paaltjies vasgemaak is, staan sommer net op een plek en dans op die rimpels van die water.   Die Rialto brug met sy duisende snuisterye en versoekinge vir elke vrou moet vermy word vir elke man wat nie van koop hou nie.  

Twee ure voor ontbyt..... d.w.s. 6 uur staan ons op vir 'n stewige stappie.   Nou beleef jy 'n ander sy van Venesië.   Lewensmiddele word per boot afgelewer en fluks en vinnig met trollies na die verskeie plekke aangedra.    Die bouers met stene en sand op die bote is besig om in rat te kom, want daar word groot restoreer werk in Venesië gedoen.   Vrugte en groente word afgelewer en dan is daar nog die vismark wat nou baie aktief besoek word deur die inwoners.

Die ambulans, polisie en brandweer vaar ook verby........wat voor?

Veels geluk Venesië.....jy het dit weer gedoen......ons asems weggeslaan met jou sjarme en potte vol karakter!!   Miskien sien ons mekaar weer, hoe sal ons nou weet.

Na twee dae vat ons die pad rigting TOSCANA via Rovigo, Ferrara en Florence na die middeleeuse heuweldorpie San Gimignano met sy 14 torings wat hoog bo die ou stadsmure uittroon (14de eeu sê die boeke).

Toscana met sy sagte groen heuwels, skoon blou lug, valleie, bosse, wingerde, silwer olyfboorde, geel koringlande, heuweldorpies, sipresse en denne maak van hierdie provinsie 'n "miracle"

Ons slaap op 'n plaas tussen die koringlande en wingerde in die Villa Baciolo.  Baci.....beteken soen.....baciolo is manlik en ons lei af dis die man wat soen.   Philip het ons toe nie gesoen nie, maar ons wou hom soen omdat alles so mooooooooi was!!!!   Ons kry toe 'n "room with a view"   Die kamer het 'n perfekte uitsig op San Gimignano met sy torings omring deur die ou stadsmuur en ramparts.  

Ons geniet ons "sundowners" op die terras met 'n  Koek-koek wat die agtergrond musiek verskaf.   Ja dis nie die villa se horlosie koek-koek nie, dis die regte egte voëltjie in die dennebome.

Ons gaan stap in die dorpie en teen halftien, want dan is dit eers donker, gaan ons pasta vir voorgereg, varkfilet met ertjies vir hoofgereg en tiramisu vir nagereg eet.

VOLTERRA is volgende dag op ons lys.   Die Volterrans draai en poleer albaster ornamente.   Elke gaatjie en hokkie staan vol albaster om te koop.

Ons besoek 'n albaster fabriek en sien hoe uit hierdie stukke deurskynende klip die mooiste kunswerke gevorm word.   Volterra is enige tyd so mooi soos Siena of Assisi.

Ons ry die volgende dag deur Toscana heuwels oor Lucca uit die 11de eeu na Montecarlo, Italie.    Hier word ons oorweldig deur Casa Satti ons slaapplek vir die nag.   Ons soek-soek die plek te midde van spitsverkeer, nadat Philip twee ure gelede geskakel het vir besonderhede.    Montecarlo is weereens hierdie ou-ou dorpie oppie heuwel.   Ons vind via Roma, maar die groot uithangbord vir Casa Satti bestaan nie.   Philip laai ons af,  om beter te soek vir no.31.   Soek-soek, hier is 29, dan 30, dan niks en dan 32, dan moet hierdie reuse ou houtdeure met die ystergrendels 31 wees, maar dit lyk na 'n middeleeuse museum......dis reeds laat en ons moet mooi kyk.....ja hier staan dit klein-klein in ou koper met 'n ewe ou klokkie daarby.....Cassa Satti......dit nadat ons die brille moes uitruk om beter te kan sien.   Baie versigtig en onseker druk ons hierdie ou klokkie......na 'n rukkie.....die deure word oopgegrendel......ons staan terug in effe benoude afwagting......hier verskyn 'n pragtige Italiaanse jongman.    Ons gaap hom aan.....wat het ons nou eintlik verwag.....seker ook een of ander stuk oudheid, want alles hier is oud!!!!     Hy bevestig dat dit ons slaapplek is.    Hy gaan wys ons kamers, maar ons stap in 'n museum.   Ons verstom ons aan alles om ons.   Philip het later aangesluit, nadat ons deur hierdie enorme deure verdwyn het.    Ons is alleen vir die nag met die familie Satti aan wie die huis wat in 1500 op die fondamente en tussen die mure van 'n ou kasteel gebou is, behoort.    Ons het 'n kamer aan die begin van 'n saal wat 'n galery is en Isabel slaap in een van die reuse nisse met net 'n gordyn, wat as deur moet dien vir privaatheid.   Ons deel die enorme badkamer wat van bo tot onder geteel is, met 'n gesonke bad.   Die volgende oggend eet ons yogurt, brood en konfyt in die antieke kombuis wat ook enorm is.   Die gasvrou kan Engels praat en verduidelik dat die huis vir eeue aan die familie Satti behoort.   Sy wys ook die ander vertrekke wat alles vol antieke meubels is en verduidelik dat die skilderye  in die gallery van die familie is.

Dit was voorwaar 'n lekker ondervinding.

Pisa met die skewe toring was volgende en daarna die Cinque Terre.   Lg. beteken "Vyf lande", wat inderdaad 5 visserdorpies is wat baie afgeleë is en wat vroeër net met donkies oorland bereik kon word.    Dis geweldige digte plantegroei en hoë berge.   Hier is nie museums of kunswerke nie.   Die aantreklikheid hiervan is dat jy met 'n wandelpad van die een dorpie na die ander kan stap, terwyl jy die wonderlike natuur en waterstrome kan geniet.   Die dorpies kan vandag almal per motor bereik word, wat ons dan ook gedoen het, want ons het nie genoeg tyd gehad om te stap nie.   Ons het net Monterosso al Mare en Vernazza besoek.   Eg. is die grootste van die 5 en is vandag 'n gewilde sandstrand.   Lg. was vir my pictoresque.

Hierna het ons aangestoot en deurgedruk om die aand in Campione te slaap.

"Reis is nie vir sissies nie"    Ons het die volgende drie dae 'n lae profiel gehou met wasgoed, slaap en die opelug musiekkonserte wat Paradiso en Lugano gratis aanbied bygewoon.   Sondag het ons op die Lugano meer met die watertaxi na 'n "grotto" langs die meer gevaar vir middagete en daarna Gandria se nou stegies gaan stap.

Maandag het ons Lugano se gratis staptoer met 'n gids gedoen.   Dit is baie interessant om Lugano se geskiedenis so eerstehands te hoor.

 


To the top!