Toscana, Gondolas, en Pasta
Deur
Catrien de Bruin©
Junie
2000
Ons vriendin Isabel, besoek ons en ons laat
nie op ons wag nie, want dis 'n geleentheid vir beide van ons om te reis.
Italië kom eerste aan die beurt met Venesië as
die beginpunt.
Venesië: Geen
ander stad in Europa fassineer my soos hierdie "stad op water" nie.
Om vir Isabel te gaan wys was 'n goeie verskoning, want dit regverdig my
sewende besoek aan hierdie fassinerende plek op aarde. Selfs Philip wat nie
van stede hou nie, het na 9 jaar, sy laaste besoek aan Venesië, ingestem om ons
met die motor te neem.
Ons parkeer die motor in een van die publieke
parkeergarages en spring op die vaporetta wat ons na die trein stasie neem om
vandaar te voet vir blyplek te soek. A.g.v 'n misverstand vaar ons vir meer as
'n halfuur rondom Venesië voor ons by die stasie uitkom........mooi so! Want
hoe sou ons nou op ons eie so 'n water reis beplan het. Dis 'n wonderlike
begin. Ons snuffel blyplek uit, en pak die "grand tour" na die St.
Markus plein via die "Grand Canal" op 'n vaporetta aan.
Ek leef terug in die dae wat al hierdie
paleise in die "hoofstraat" bewoon was. Dit moes iets gewees het.
Die "hub" van die publieke lewe is
op die St. Markus. Hier is toeriste vanuit al die kontinente, tesame met die
inwoners en die massa duiwe. Elkeen besig om of op die trappies te sit en jou
te verkyk na hierdie film wat voor jou afspeel........of na hoë
torings.......of na die mosaïek van die St. Markus kerk wat in die son
skitter......of die duiwe te voer......of te luister na die orkes voor die upmarket
ristorante op die plein.
Om die romantiek en mooi van Venesië te beleef
moet jy stap in die doolhof van paadjies en bruggies. Verdwaal is jou voorland
want die tekens tussen die St. Markus en die stasie maak geen sin nie. Wat 'n
plesier! Nou is dit stegie op stegie, omsoom met blom balkonne, wasgoed,
winkeltjies met triljuisende pragtige glas en alles waaraan jy kan dink.
Die steen en gegote ysterbruggies oor die
kleiner kanale met Gondolas en hul Gondoliers wat rustig verbyvaar en of 'n
wysie neurie of hul passasiers met 'n trekklavier vermaak, is alles deel van
hierdie sjarmante ou stad. Die gondoliers dra matroos streephemde met
strooihoede met 'n lint omgebind. Party gondolas is baie luuks binne met rooi
tapyt en fluweel sitplekke en al. Ander Gondolas wat aan die paaltjies
vasgemaak is, staan sommer net op een plek en dans op die rimpels van die
water. Die Rialto brug met sy duisende snuisterye en versoekinge vir elke
vrou moet vermy word vir elke man wat nie van koop hou nie.
Twee ure voor ontbyt..... d.w.s. 6 uur staan
ons op vir 'n stewige stappie. Nou beleef jy 'n ander sy van Venesië.
Lewensmiddele word per boot afgelewer en fluks en vinnig met trollies na die
verskeie plekke aangedra. Die bouers met stene en sand op die bote is besig
om in rat te kom, want daar word groot restoreer werk in Venesië gedoen.
Vrugte en groente word afgelewer en dan is daar nog die vismark wat nou baie
aktief besoek word deur die inwoners.
Die ambulans, polisie en brandweer vaar ook
verby........wat voor?
Veels geluk Venesië.....jy het dit weer
gedoen......ons asems weggeslaan met jou sjarme en potte vol karakter!!
Miskien sien ons mekaar weer, hoe sal ons nou weet.
Na twee dae vat ons die pad rigting TOSCANA
via Rovigo, Ferrara en Florence na die middeleeuse heuweldorpie San Gimignano
met sy 14 torings wat hoog bo die ou stadsmure uittroon (14de eeu sê die
boeke).
Toscana met sy
sagte groen heuwels, skoon blou lug, valleie, bosse, wingerde, silwer olyfboorde,
geel koringlande, heuweldorpies, sipresse en denne maak van hierdie provinsie
'n "miracle"
Ons slaap op 'n plaas tussen die koringlande
en wingerde in die Villa Baciolo. Baci.....beteken soen.....baciolo is manlik
en ons lei af dis die man wat soen. Philip het ons toe nie gesoen nie, maar
ons wou hom soen omdat alles so mooooooooi was!!!! Ons kry toe 'n "room with
a view" Die kamer het 'n perfekte uitsig op San Gimignano met sy torings
omring deur die ou stadsmuur en ramparts.
Ons geniet ons "sundowners" op die
terras met 'n Koek-koek wat die agtergrond musiek verskaf. Ja dis nie die
villa se horlosie koek-koek nie, dis die regte egte voëltjie in die dennebome.
Ons gaan stap in die dorpie en teen halftien,
want dan is dit eers donker, gaan ons pasta vir voorgereg, varkfilet met
ertjies vir hoofgereg en tiramisu vir nagereg eet.
VOLTERRA is
volgende dag op ons lys. Die Volterrans draai en poleer albaster ornamente.
Elke gaatjie en hokkie staan vol albaster om te koop.
Ons besoek 'n albaster fabriek en sien hoe uit
hierdie stukke deurskynende klip die mooiste kunswerke gevorm word. Volterra
is enige tyd so mooi soos Siena of Assisi.
Ons ry die volgende dag deur Toscana heuwels
oor Lucca uit die 11de eeu na Montecarlo, Italie. Hier word ons
oorweldig deur Casa Satti ons slaapplek vir die nag. Ons soek-soek die plek
te midde van spitsverkeer, nadat Philip twee ure gelede geskakel het vir
besonderhede. Montecarlo is weereens hierdie ou-ou dorpie oppie heuwel.
Ons vind via Roma, maar die groot uithangbord vir Casa Satti bestaan nie.
Philip laai ons af, om beter te soek vir no.31. Soek-soek, hier is 29, dan
30, dan niks en dan 32, dan moet hierdie reuse ou houtdeure met die
ystergrendels 31 wees, maar dit lyk na 'n middeleeuse museum......dis reeds
laat en ons moet mooi kyk.....ja hier staan dit klein-klein in ou koper met 'n
ewe ou klokkie daarby.....Cassa Satti......dit nadat ons die brille moes uitruk
om beter te kan sien. Baie versigtig en onseker druk ons hierdie ou klokkie......na
'n rukkie.....die deure word oopgegrendel......ons staan terug in effe benoude
afwagting......hier verskyn 'n pragtige Italiaanse jongman. Ons gaap hom
aan.....wat het ons nou eintlik verwag.....seker ook een of ander stuk oudheid,
want alles hier is oud!!!! Hy bevestig dat dit ons slaapplek is. Hy gaan
wys ons kamers, maar ons stap in 'n museum. Ons verstom ons aan alles om
ons. Philip het later aangesluit, nadat ons deur hierdie enorme deure verdwyn
het. Ons is alleen vir die nag met die familie Satti aan wie die huis wat in
1500 op die fondamente en tussen die mure van 'n ou kasteel gebou is,
behoort. Ons het 'n kamer aan die begin van 'n saal wat 'n galery is en
Isabel slaap in een van die reuse nisse met net 'n gordyn, wat as deur moet
dien vir privaatheid. Ons deel die enorme badkamer wat van bo tot onder
geteel is, met 'n gesonke bad. Die volgende oggend eet ons yogurt, brood en
konfyt in die antieke kombuis wat ook enorm is. Die gasvrou kan Engels praat
en verduidelik dat die huis vir eeue aan die familie Satti behoort. Sy wys
ook die ander vertrekke wat alles vol antieke meubels is en verduidelik dat die
skilderye in die gallery van die familie is.
Dit was voorwaar 'n lekker ondervinding.
Pisa met die skewe
toring was volgende en daarna die Cinque Terre. Lg. beteken "Vyf
lande", wat inderdaad 5 visserdorpies is wat baie afgeleë is en wat vroeër
net met donkies oorland bereik kon word. Dis geweldige digte plantegroei en
hoë berge. Hier is nie museums of kunswerke nie. Die aantreklikheid hiervan
is dat jy met 'n wandelpad van die een dorpie na die ander kan stap, terwyl jy
die wonderlike natuur en waterstrome kan geniet. Die dorpies kan vandag almal
per motor bereik word, wat ons dan ook gedoen het, want ons het nie genoeg tyd
gehad om te stap nie. Ons het net Monterosso al Mare en Vernazza besoek.
Eg. is die grootste van die 5 en is vandag 'n gewilde sandstrand. Lg. was vir
my pictoresque.
Hierna het ons aangestoot en deurgedruk om die
aand in Campione te slaap.
"Reis is nie vir sissies nie" Ons
het die volgende drie dae 'n lae profiel gehou met wasgoed, slaap en die opelug
musiekkonserte wat Paradiso en Lugano gratis aanbied bygewoon. Sondag het ons
op die Lugano meer met die watertaxi na 'n "grotto" langs die meer
gevaar vir middagete en daarna Gandria se nou stegies gaan stap.
Maandag het ons Lugano se gratis staptoer met
'n gids gedoen. Dit is baie interessant om Lugano se geskiedenis so
eerstehands te hoor.
To the top!
|