Val Verzasca

Deur Catrien de Bruin©

18 September 2002

Hier in ou Campionetjie lyk alles nog presies dieselfde.    Dieselle rustigheid en vrede hang oor die meer, berge en dorpies. Toe ons die oggend teen 11h00 by die voordeur instap, hoor ons 'n helder vrolike stem wat die trappe al singende afstap.   Ons kyk mekaar verstom aan;  wat 'n wonderlike manier om verwelkom te word.   Dit kan baie beslis nie van die Duitsers wees nie.   Net toe kom Eva, die Brasiliaanse vroutjie wat Peter (die landlord) se ma oppas en versorg om die draai.   Sy is die antwoord op die raaisel van die sang.   Sy groet ons met die hand en is openlik bly om ons te sien en vertel dadelik dat dit vandag 12 Sept. Ouma Wehner se 92ste verjaarsdag is.   Sy praat gebroke Engels, maar ons verstaan mekaar.   Ons gaan sommer dadelik vir Ouma gelukwens.  Haar woonstel is vol blomme en alles getuig dat daar vandag fees gevier word.   Sy is pragtig versorg en probeer ons dan in Duits en dan in Italiaans oorreed om te sit, maar ons het die verskoning dat ons pas arriveer het.   So het dit versprei dat die Afrikane arriveer het en beide Peter en Uschi verwelkom ons. Natuurlik het Peter nie die kans laat verbygaan om sy gebruiklike oor "ons mense" uit te spreek nie.   Hierdie keer is hy baie bly dat ons weer kon "escape" na die beskawing.

Ons was weereens uit ons sokkies geseën deur ons Vader, deurdat ons opgegradeer is na besigheidsklas.   Dit is so 'n verskriklike groot luukse, dat ons net in stille verwondering kan sê:   Baie dankie VADER!    Weereens is almal se reaksie op vlieg op die 11de Sept. verkeerd bewys.   Die vlug was juis stampvol.   Vir die eerste keer hoor ek mense Hebreeus praat.   Die man langs my kom van Tel Aviv.   Hy werk vir Telkom en was in Jhb. vir 'n week.   Hy moes in Pta. in 'n hotel bly, maar hulle het in Bryanston gewerk. Die verkeer op die Ben Schoeman was vir hom baie erg.   Ek kon nie help om te wonder hoe dit dan in Tel Aviv is nie.

Ek dink ons het eers teen vandag weer bygekom.   Ons was maar erg bewusteloos die eerste paar dae.   Wou net slaap!

Op Lugano lughawe maak ek altyd al die nuutste inligting van die gebeure hier bymekaar.   Die fees van die berge in  die dorpie Sonogno in die vallei van Verzasca trek ons aandag.   Dis ongeveer 30 km. van Campione,  in die Ticino canton.   Die vallei van Verzasca se hart lê in die rivier wat die simbool van dramatiese harmonie van die natuurlike elemente vorm.   Die intense groen van die water gee aan die vallei die naam "Verzasca"  (groen water).   Kyk op na die blou hemelruim en jy sien asof in 'n spieël dieselfde kleur in die water.   Volg die loop van die rivier en nuwe prentjies word deur die woude en reuse graniet en kwarts konstant in die water weerkaats.   Oral sit  mense op die klippe en piekniek hou of swem in die poele.   Dis 'n plek vir prentjies maak, vir prentjies verf, vir stil word en weet die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.

By Sonogno aangekom teen 12h00 is ons verras om die baie mense te sien. Weer gedink ons sal twee van 20 wees.   Verkeersmanne wys parkering op 'n stuk oop veld aan, waar twee boere nog staan en die pas afgesnyde  blommetjieveld bymekaar hark.   Die parkering is gratis.   Hier is stalletjies met alles wat plaaslik verbou word,  kaas, ham, salami en tuisgebakte brode.    Hier staan rye tafels en lang bankies wat vinnig volgepak word vir die middagete.  Vir die middagete koop jy kaartjies en staan tou vir die polenta, kaas en koue vleis.  Reuse koper potte waarin die polenta om en om geroer word deur 'n breë lem.   Intussen sorg die filharmoniese orkes van die vallei vir tipiese Ticionese musiek.   Die koorlede loop almal met rooi hempies.   Ons het hulle gemis, volgens die program sou hulle later optree.  

Sonogno is bekend vir sy wolprodukte en om elke hoek en draai sit vroukies en wol weef.   Jy kan serpe, truie en musse koop.   Die dorpie soos al die ander "hand in die sy" dorpies in die vallei se huisies is almal met handgekapte klip en graniet uit die omgewing gebou in die 17de eeu.   Dis 'n harde wêreld om in te oorleef, want die elemente is die van uiterstes.   Die klipdakkies sal beslis nie inmekaar stort met 'n sneeuval nie.   Die vensterbanke en balkonne is feestelik met rooi malvas, dahlia en sonneblomtuintjies.   Groente beddinkies so tussendeur.

Terug by ons motor.   Ons is vas geparkeer.  Ai tog!   Philip neem die motor se registrasie nommer sodat hulle kan uitsaai, maar geen reaksie.   Die verkeersman se "allora" doen ook niks vir die probleem nie.    Na 'n uur se wag op die klipmuur trek 'n ander motor in die tweede ry voor ons uit. Philip tree die spasies af en besluit om met die skuur-skuur proses van vorentoe, agtertoe te begin.  Hier wil ons nou uit!   Natuurlik trek ons aandag en gou-gou het ons baie aanwysers wat raad gee.  Philip bly kalm en asof hieraan gewoond het hy swart karretjie sonder om aan enige motor te raak met sentimeters daar uitgetrek.   "Bravo!"..... is die woord wat sê: Mooi so!   Ek het ook gevoel dit was knap gedaan vir die Afrikaan.


To the top!


footer for Val Verzasca page