Val Verzasca
Deur
Catrien de Bruin©
18
September 2002
Hier in ou Campionetjie lyk alles nog presies
dieselfde. Dieselle rustigheid en vrede hang oor die meer, berge en dorpies.
Toe ons die oggend teen 11h00 by die voordeur instap, hoor ons 'n helder vrolike
stem wat die trappe al singende afstap. Ons kyk mekaar verstom aan; wat 'n
wonderlike manier om verwelkom te word. Dit kan baie beslis nie van die
Duitsers wees nie. Net toe kom Eva, die Brasiliaanse vroutjie wat Peter (die landlord)
se ma oppas en versorg om die draai. Sy is die antwoord op die raaisel van
die sang. Sy groet ons met die hand en is openlik bly om ons te sien en
vertel dadelik dat dit vandag 12 Sept. Ouma Wehner se 92ste verjaarsdag is. Sy
praat gebroke Engels, maar ons verstaan mekaar. Ons gaan sommer dadelik vir
Ouma gelukwens. Haar woonstel is vol blomme en alles getuig dat daar vandag
fees gevier word. Sy is pragtig versorg en probeer ons dan in Duits en dan in
Italiaans oorreed om te sit, maar ons het die verskoning dat ons pas arriveer
het. So het dit versprei dat die Afrikane arriveer het en beide Peter en Uschi
verwelkom ons. Natuurlik het Peter nie die kans laat verbygaan om sy
gebruiklike oor "ons mense" uit te spreek nie. Hierdie keer is hy
baie bly dat ons weer kon "escape" na die beskawing.
Ons was weereens uit ons sokkies geseën deur
ons Vader, deurdat ons opgegradeer is na besigheidsklas. Dit is so 'n
verskriklike groot luukse, dat ons net in stille verwondering kan sê: Baie
dankie VADER! Weereens is almal se reaksie op vlieg op die 11de Sept.
verkeerd bewys. Die vlug was juis stampvol. Vir die eerste keer hoor ek
mense Hebreeus praat. Die man langs my kom van Tel Aviv. Hy werk vir Telkom
en was in Jhb. vir 'n week. Hy moes in Pta. in 'n hotel bly, maar hulle het
in Bryanston gewerk. Die verkeer op die Ben Schoeman was vir hom baie erg. Ek
kon nie help om te wonder hoe dit dan in Tel Aviv is nie.
Ek dink ons het eers teen vandag weer
bygekom. Ons was maar erg bewusteloos die eerste paar dae. Wou net slaap!
Op Lugano lughawe maak ek altyd al die nuutste
inligting van die gebeure hier bymekaar. Die fees van die berge in die
dorpie Sonogno in die vallei van Verzasca trek ons aandag. Dis ongeveer 30 km.
van Campione, in die Ticino canton. Die vallei van Verzasca se hart lê in
die rivier wat die simbool van dramatiese harmonie van die natuurlike elemente
vorm. Die intense groen van die water gee aan die vallei die naam "Verzasca"
(groen water). Kyk op na die blou hemelruim en jy sien asof in 'n spieël
dieselfde kleur in die water. Volg die loop van die rivier en nuwe prentjies
word deur die woude en reuse graniet en kwarts konstant in die water
weerkaats. Oral sit mense op die klippe en piekniek hou of swem in die
poele. Dis 'n plek vir prentjies maak, vir prentjies verf, vir stil word en
weet die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.
By Sonogno aangekom teen 12h00 is ons verras
om die baie mense te sien. Weer gedink ons sal twee van 20 wees. Verkeersmanne
wys parkering op 'n stuk oop veld aan, waar twee boere nog staan
en die pas afgesnyde blommetjieveld bymekaar hark. Die parkering is
gratis. Hier is stalletjies met alles wat plaaslik verbou word, kaas, ham,
salami en tuisgebakte brode. Hier staan rye tafels en lang bankies wat
vinnig volgepak word vir die middagete. Vir die middagete koop jy kaartjies en
staan tou vir die polenta, kaas en koue vleis. Reuse koper potte waarin die polenta
om en om geroer word deur 'n breë lem. Intussen sorg die filharmoniese orkes
van die vallei vir tipiese Ticionese musiek. Die koorlede loop almal met rooi
hempies. Ons het hulle gemis, volgens die program sou hulle later optree.
Sonogno is bekend vir sy wolprodukte en om
elke hoek en draai sit vroukies en wol weef. Jy kan serpe, truie en musse
koop. Die dorpie soos al die ander "hand in die sy" dorpies in die
vallei se huisies is almal met handgekapte klip en graniet uit die omgewing
gebou in die 17de eeu. Dis 'n harde wêreld om in te oorleef, want die
elemente is die van uiterstes. Die klipdakkies sal beslis nie inmekaar stort
met 'n sneeuval nie. Die vensterbanke en balkonne is feestelik met rooi
malvas, dahlia en sonneblomtuintjies. Groente beddinkies so tussendeur.
Terug by ons motor. Ons is vas geparkeer.
Ai tog! Philip neem die motor se registrasie nommer sodat hulle kan uitsaai,
maar geen reaksie. Die verkeersman se "allora" doen ook niks vir
die probleem nie. Na 'n uur se wag op die klipmuur trek 'n ander motor in
die tweede ry voor ons uit. Philip tree die spasies af en besluit om met die skuur-skuur
proses van vorentoe, agtertoe te begin. Hier wil ons nou uit! Natuurlik trek
ons aandag en gou-gou het ons baie aanwysers wat raad gee. Philip bly kalm en
asof hieraan gewoond het hy swart karretjie sonder om aan enige motor te raak
met sentimeters daar uitgetrek. "Bravo!"..... is die woord wat sê:
Mooi so! Ek het ook gevoel dit was knap gedaan vir die Afrikaan.
To the top!

|