Wald im Pinzgau

Deur Catrien de Bruin©

24 Augustus 2003

Wald / Königsleiten lê aan die rand van een van die grootste natuur parke van Europa, nl. Nasionale park HOHE TAUERN.   In die park is die hoogste punt van Oostenryk: die GROSS GLOCKNER (3789m),  die langste gletser van die Oos Alpe nl. die  Pasterzenkees en die hoogste waterval van Europa,  die Krimml (360m).   Die Alpe steenbok word nog dikwels hier gesien.

Die naaldbome (denne) word so hoog as 200m.   Bo 2800 m. begin die gebied van die kaal rotse, sneeu en ys.

Die berg weiding wat Almen  genoem word is Junie-Julie op die mooiste.   Alpe plante soos alpe rosies (asaleas), primulas, silwerdissel, orchideë en natuurlik die  edelweiss is algemeen.   Hierdie berg weiding word drie keer in die somer afgesny en droog gemaak vir voer in die winter.   Stap of  ry waar jy wil en die boer en sy gesin is besig om gras te sny..... sommiges met ‘n trekker en snymasjien, ander stoot ‘n reuse grasmasjien en dan ander met ‘n swaailem in die hand, veral teen die hellings waar dit onmoontlik is met ‘n  trekker.   Vrouens en kinders hark die gras met groot houtharke bymekaar.

Wald is in die vallei geleë met ‘n klein gemeenskap en landelike atmosfeer.

Die inwoners is baie vriendelik en jy word oral begroet met  die woorde “Grüss Gott”.  

Die huise is tipies Tiroolse boustyl en die balkonne kreun onder ‘n  massa blomme, hoofsaaklik die gladde groenblaar geranium en petunias.   Drie keer moooooooi!!!!!

Kerkklokke en koei-klokke  is net altyd op die oor om  te sorg vir ‘n natuurlike simfonie van vreedsaamheid.

Wandel en fietspaaie is deel van die uitleg.   Ons stap sommer oor ‘n boer se plasie tussen die koeie wat so mak is en vinnig nader kom met  groot getingeling van klokke.

Ons druk agter die doodlyn en stap die 360m Krimml waterval tot bo.   Nie  speletjies nie.    Styf en seer het ons vir twee dae daarna besluit dis ons laaste van al die hoogtes wat ons altyd tempteer  om uit te klim.

Wat eet jy in Oostenryk?    “Wiener schnitzel” ,  vark of kalfsvleis in eier en broodkrummels gebraai.     Gulasch (Hongaarse invloed).   Leberkäse  (lewerkaas),

Schwarzbrot  (swart rog brood).    Baie vars slaaie en  noedelsop.   Die Sacher torte  is die tradisionele nagereg...... groot  sny koek met sjokolade..... die resep is ‘n geheim!!!!!

Dorpies soos Neukirchen,  Bramberg, Mittersill,  Hollenbach  en Gerlos is in die omgewing.   Zell am Zee en Zell am Ziller is ook maklik bereikbaar...... poskaart mooi!!    Sedert 1974  was ons nog nooit weer in Innsbruck nie en besluit om die uitstappie te maak...... twee ure ver.    Wat ‘n   verrassing...... nie so dramaties soos Salzburg nie, maar tog genoeg geskiedenis en kunswerke om jou te beïndruk.   Die “Goldenes Adler” is ‘n restaurant wat spog met ‘n naamlys van belangrike figure sedert 1632 tot 1999 wat daar geëet het, o.a.  Maria von Trapp, John Glenn,  Wolfgang Amadeus Mozart, Koningin Juliana  van Nederland,  1999 was ‘n Sultan wie se naam ek nie sal onthou nie.   Ons het liewer nie hier geëet nie, spaar hulle die verleentheid!!!!!!!!

Ton Jansen van Gouda Ndl.  is op sake besoek  in Wald en slaap twee nagte by ons.   Hy is bekend met ‘n ieder en elk in die omgewing en vat ons na ‘n “ou boerdery”.    Die oudste in Wald.    Die eienaar wil dat Ton dit  van hom koop en restoureer en herbou in Wald se “nuwe uitbreiding”.   Ton is na die herbou van  Am Fuschterhof  in Königsleiten bekend vir die ontwikkelinge wat hy hier doen en word hy nou kort-kort genader vir soortgelyke projekte.    Die  eienaar sê dat die boerdery ‘n duisend jaar oud is (hy het bewyse).   Hulle is geslagte lank daar en hy het nie ‘n nageslag wat kan voortgaan nie.    Sy vrou, (‘n Duitser) praat  Engels, want sy was ‘n lugwaardin in die sestigs vir Lufthansa.    Sy weet  dus van  SA, maar was nie verder as JHB.    Die datum uitgekerf op een van die balke in die koei-stal is 1624.  

Elke Vrydagaand (winter?) hou die plaaslike gemeenskap ‘n funksie in die vorm van stalletjies waar jy kaas van die omgewing, vars brood, koue vleis ens. koop en so op jou hand staan en eet.   Klokslag 20h00 begin die blaasorkes.   Die lede is in tradisionele drag en al geselsende en eetende neem jy sitplek in,  die stoele is naderhand te min, dan sit jy oppie gras.   Die seremoniemeester kondig aan dat dit die Internasionale jaar vir  “water” is en dat Wald se natuurlike water die toets geslaag het en hulle drink varswater!!!    Die orkes sit in met ‘n werk van Mozart (hoe anders).   Die burgemeester kry ‘n spreekbeurt en  sertifikate en medaljes word aan mense uit die gehoor uitgedeel.   Oud en jonk op die verhoog en dis ‘n groot okkasie.   Ons lei af hulle het iets spesiaals vir die gemeenskap gedoen.

Sondag se spesiale diens in die kapel bo in die berge word aangekondig.

Ons skuif aan voor die einde, want die volgende dag is dit oor die Alpe deur die tonnels terug na Campione.

Ja en toe ons wegstap, wuif die vroutjie wat my by die Spar  bedien het, vaarwel vanuit die orkes op die verhoog.   Hoe meelewend kan ‘n mens wees!!!

Hier in Wald was Ps. 23 gedurig by my:   “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.    Hy laat  my in  GROEN weivelde rus.   Hy bring my by waters waar daar vrede is.   Hy gee my nuwe krag.”

Ek is ‘n GROEN mens en die waterstrome, blomme, groen weivelde,  groen bome, majestueuse berge en  die rustige inwoners het vir my uitgespel: “ Ek het gekom sodat  hulle die lewe kan hê , en dit in oorvloed”  Joh.  10:10b.


To the top!