Witter as sneeu
Deur
Catrien de Bruin©
2 April
2000
Ek kan 'n boek skryf oor ons belewenis van die
afgelope week, maar sal liewer net in kort die hoogtepunte uittrek.
Ons het mooi geleer by die naweek gangers na
Pietersburg, want toe ons vroeg-donker hier uitstoom, was die Golfie bo op die
dak, gepak met Philip se ski's en Jnr. se stootkarretjie. Binne is alle
moontlike spasie gebruik vir al Jnr. se behoeftes van slaap tot eet en dan ons
eie "winter toerusting" vir die sneeu en die slopes. Plus 'n Co-op special
Alfredo Salami 30cm. lank en 5cm. dik vir net SFR8. En natuurlik ons piekniek
vir 'n moooooi plekkie langs die pad net waar ons wil stilhou.
Ons ry deur die Aosta vallei met sy hand klipgepakte
wingerd-terasse uit die Romeinse tydperk. Dit is vandag nog in werking!!!!
Die Mont Blanc tonnel is gesluit, wat ons as
vreemdelinge eintlik te laat "lees", maar danksy Jacques wat my
verlos het van die navigasie werk en die GPS vind hy 'n ompad wat met triljuisende
haarnaald draaie deur twee passe om uiteindelik die bekende Mont Blanc voor ons
te hê. Onbeskryflik mooi so onder die sneeukombers. Die kenner sê:
"Te min sneeu vir goeie ski".
Laat middag slaan ons Les Arcs in die Franse
Alpe, 1800m is ons RCI. Daar is ook op 2000m. Ons is vodde gery, maar die Apartamento
gee nuwe lewe.....'n skottelgoedmasjien (meer tyd vir my en Jnr.) 2
slaapkamers, een badkamer, 2 toilette en 'n donker hokkie vir Jnr. 'n Lang
eettafel en die kersie op die koek.....ons is op die punt weggepak in die
sneeu....met net die sneeu en die dennebome so naby jy raak aan hulle....geen
mense of geboue insig nie. "Dankie Liewe Vader vir die bederf."
Ons gaan slaap en toe ons by die venster uitloer....dit
SNEEU!!!! Dit beteken net een iets... DV. more is die ski- toestande perfek.
Die manne blom.
Vroegoggend lê die dennetakke swaar belaai met
sneeu en die vlokkies val nog steeds. Dis hier waar ons die generasie gaping
erg voel.....Jacques staan die "chair lifts" en afwag vir oopmaaktyd,
met Kathleen wat knyp-knyp saamgestap het om die nuwe wêreld te bekyk. Daar
moet tog iemand wees wat vir Jnr. vermaak. Oupa (die kenner) sê, ek sal
halfdag ski, want die sneeu gaan vanmiddag beter wees??????
Kathleen se klasse begin die middag en verloor
sy 'n uur omdat die vreemdelinge nie geweet het dat Europa verlede nag
oorgeslaan het na somer tyd nie. Ons is almal daar om haar moreel te
ondersteun vir hierdie eerste oomblik op die planke. Dis altyd die maklikste
om op die kantlyn te staan nê en kan ons nie help om te lag nie, want alles wat
so maklik lyk is skielik 'n groot inspanning. Dis 'n klas van 8 mense en
alhoewel die papiere sê die instrukteur praat vlot Eng. weet ons mos dis nie so
nie. Martinae doen haar bes in gebroke Eng. om Kathy op die ski's te hou, wat
net gedurig met haar weghardloop en ai tog daardie opstaan as jy met totale
oorgawe liewer neerslaan op die wit aarde. Kathy het haar ding gedoen en
alhoewel sy ons nie wou glo nie het sy teen die 4de dag die blou slopes met
selfvertroue geski.
Philip het halfdag geski en die rooi slopes
kaf gedraf. Jacques het voldag geski of dit nou mooi of slegte weer was en
opgegaan tot 3500 waar net swart slopes was. Die jong lat het agter die
doodlyn gedruk en laat waai. Ek het vrede gemaak en geweet ek was deel daarvan
en dit was goed en reg op sy tyd. Ek en Jnr. het die sneeu op ons drumpel
beleef. Hy is so stokstyf in sy ski-suitjie dat hy nie sy kop of enige iets
kan draai nie. Hy verstaan eintlik van hierdie bedryf niks nie. Vir 'n
oomblik haal jy sy mus af en maak sy hande oop, maar dan is hy soos 'n kat op
nattigheid. Hy het sy eerste kus van 'n klein mademoiselle wat haar vergaap
het aan die mooi donkeroog seuntjie in sy stootwaentjie met baie meer emosie
ontvang. Sy het hom bekyk, nader gestap, in die waentjie ingeloer om beter te
kyk en natuurlik het Jnr. teen die tyd sy breedste glimlag reg vir haar en toe
het sy 'n kus van haar handjie op sy wang geblaas en tevrede weggestap.
Ons eet Fromage blanc. Tomme-kaas van die Savoie.
CROISSANTS!!!! Mossels en pommes-frites. Jambon herbes. Cous-cous met
rosyntjies en 'n bredie saamgeflans uit groentes, lam, hoender en 'n laaaang
sous. Eet 2 dae later steeds daaraan. Crepes met spinasie, ham en kaas. 'n
Franse boertjie met barette brou 'n aartappel-uie-jambon-kaas wegneemdis op
straat op 'n grooot pan, laat almal proe en sodoende val ons daarvoor....lekkerrrrrrrr!!!!
Ons het gou uitgevind dat die "baquette"
stapelvoedsel is en jy kan dit op geen ander manier as onder die arm dra
nie......was nog altyd vir my kru......as jy in Rome is, maak jy soos die
Romeine.
Op die 31ste bak Kathy en Jacques koek in die
sneeu vir Philip wat op die 1ste April een jaar oud was. Hulle bou 'n sneeuman
met wortelneus, tamatiesap wange, wolserp met 'n groot EEN en PHILIP uitgepak
met dennetakkies op die sneeu.
Vroegoggend op 1 April stap ons suutjies uit
Les Arcs deur 'n wonderwereld wat oornag nuwe sneeu bygekry het. Ons ry in 'n
sprokieswereld vir ongeveer 3 ure lank. Dennebome met swaargelaaide arms vol
sneeu, droeë bome lyk soos ysstokkies-gevries, tot onder in die vallei hou die
prentjie aan en ons oe en aah sonder ophou. Ek wil prentjies maak....my
kamera pak op en ons films is op. Ons kan nie Kathy se kamera gebruik nie.
Ek kan julle nie wys nie, daarom sal julle self moet kom kyk!
Terug in Campione met heerlike Lenteweer met
meer bloeisels en nuutgroen blaartjies. Die tulpe blom, wat tussen die triljuisende
gesiggies geplant is.
Vanoggend was ons 7 uur op Lugano lughawe om
die driemanskap af te laai. Dit was 'n onvergeetlike tyd saam.
Vandag was rustig en baaaaaie stil.
To the top!

|