'n Paar dae in Holland

Deur Philip de Bruin©

20 Mei 2001

Zeeland

Die magtige Rynrivier, die Duitsers onderskei dit as ‘n Stroom, vorm ‘n geweldige groot delta tesame met die Maas, Ijssel, en Schelde wanneer dit in die suide van Holland in die Noordsee uitmond. Die wêreld se grootste hawe, Rotterdam, is geleë aan die noordekant van hierdie delta. Die res van die delta staan bekend as Zeeland.

Herhaaldelik, maar veral in 1953, het die Noordsee tydens storms gepaard met hoogwater Zeeland en dus Holland oorstroom. In 1964 het Holland die geweldige ambisieuse projek geloods om die Noordsee te tem. Die projek is eers in 1983 voltooi. Deur slegs die Noordsee te keer met ‘n wal of ‘n dijk met sluise wat water net in die see uitlaat, maar geen seewater die delta inlaat nie sou egter die mossels van die Ryndelta, wat ‘n belangrike voedselbron is, se habitat verwoes deur die delta ‘n vars water delta te maak. Drie lang damwalle is gebou met iets soos 26km sluise, van hulle met sluise wat oop is na beide kante toe onder normale toestande, maar toegemaak kan word wanneer nodig. By die Oosterscheldekering se hoof konstruksiewerf van destyds is Waterland Neeltje Jans ontwikkel rondom die geskiedenis en werking van hierdie grootse projek.

Die eilande is dus nou met die pad oor die walle gekoppel en elke duim van die vrugbare land word bewerk – ongelooflik groen.

Rotterdam

Rotterdam is tydens die tweede wêreld oorlog geheel en al plat gebombardeer. ‘n Moderne hawe het dus ontwikkel wat andersins miskien nie moontlik sou wees nie. Die Ryn is die belangrikste roete, vandag nog, om vrag na en van Duitsland te kry en so ver as Switserland en Frankryk.

Rotterdam het sy hawe gebied die afgelope jare heeltemal gemoderniseer en geïntegreer met die stad. Veral die aanskoulike brug, die Swaan, oor die hoofstroom wat hier genoem word die Maas, is ‘n fokuspunt vir die stad. Die New York Hotel wat die vertrek punt was vir duisende Hollanders, maar ook ander Europeërs, na New York gedurende vroeg tot middel twintigste eeu het behoue gebly in sy oorspronklike vorm. Dis vandag nog ‘n hotel met meubels en décor wat herinner aan die tyd toe groot stoomskepe die ding was vir interkontinentale reis soos uitgebeeld in die film Titanic. Die Harbour Café in Tafelbaai in die vroeë sewentigs het ook dieselfde ambiance gehad.

Om die strakheid van die besigheids distrik van Rotterdam te breek het die stadsvaders ‘n ongewone woonstel kompleks laat bou in die laat sewentigs in die ruimte oor die besige hoof strate. Die argitek het kubusse ontwerp wat op hulle een punt staan en binne is dan 3 vlakke vir leefruimte. Dit is net iets vir yuppies voordat daar kinders is en geen eenhede is te huur nie, slegs te koop. Een eienaar was slim genoeg om sy woonstel oop te stel as skou woonstel, teen ‘n toegangsfooi, en oor die tydperk van 15 jaar moes hy ‘n fortuin geoes het!

Den Haag

Den Haag se wêreldhofgebou, of Vredespaleis soos dit bekend staan, was mooi en interessant om te sien. Wat ons egter die meeste van Den Haag aangegryp het was die Mesdag Panorama.

Willem Mesdag, en sy vrou Sientje, was skilders. Blykbaar was sulke panoramas redelik gewild in Europa in die laat negentiende eeu. Hulle het ‘n kontrak gekry om so ‘n panorama van ‘n seelandskap te skilder in 1880. Na hulle voorbereiding en beplanning het hulle in 1881 die panorama, met die hulp van drie ander skilders binne drie maande geskilder. Dis gedoen op ‘n silindriese muur met die uitkyk platform die middelpunt. Die illusie is dat die uitkyk platform gebou is op ‘n sandduin wat baie slim gevorm is sodat mens nooit die basis van die silindriese muur sien nie. Oor die uitkyk platform is ‘n canopy soos ‘n groot sonsambreel sodat jy ook nooit die top van die silindriese muur sien nie. Dit skep dan die illusie dat jy na ‘n drie-honderd-en-sestig grade panorama kyk. Die panorama is van Scheveningen naby Den Haag met sy kusstrook soos dit in 1881 gelyk het. Daar is heelwat aksie op die strand soos die visserbote wat met laagwater op die sand lê met al die bedrywigheid rondom dit, asook die kavalrie wat besig is met ‘n oefening op die strand. Die openbare geboue, huise, en fabrieke van Scheveningen is ook in die fynste detail geskilder.


To the top!


footer for Zeeland page