Alle Paaie Lei na Rome

Deur Catrien de Bruin©

April 2004

So word ons pad ook weer na Rome gelei.   Die stad gebou op sewe heuwels.   Aanvanklik lyk alles chaoties en oorweldigend.   Sienbare getuienis van die twee groot “empires” van die Westerse wêreld – Romeinse Ryk en die Christen kerk.   Aan die een kant die Forum en die Colosseum, lg. is  sekerlik die gebou op aarde wat die swaarste dra aan herinneringe.   Aan die ander kant St. Peter’s en die Vatikaan stad.   Intussen in byna elke “piazza” lê geskiedenis op so baie vlakke, wat jy sien, is maar net die punt van die ysberg.

St. Peter’s kerk:    Hier is dit nie net die groote en die “kuns” wat  beïndruk nie, maar ook die standvastigheid deur die eeue.   Die kerk is gebou oor ‘n vroeëre kerk gebou deur Konstantyn, eerste Romeinse Christen regeerder, wat bo-oor Petrus se graf gebou was.

Hier staan jy in verwondering voor Michelangelo se Pieta wat hy op 24 jarige ouderdom  uitgebeeld het in marmer.   Die enigste werk met sy handtekening daarop.   Die koepel, ontwerp deur Michelangelo op 27 jarige ouderdom en waarvan hy oor die voltooiing toesig hou tot op 90 jaar toe hy dood is.   Die begin en die einde van ‘n “genius”.

St. Peter’s  plein.    Meesterstuk van Bernini uitgelê in die 17de eeu vir Christene van die wêreld om bymekaar te kom.   Van die 140 standbeelde wat bo-op die kollonade staan en op die plein afkyk , is daar 25 vrouens, o.a.  St. Techla, vermom as ‘n seun wat Paulus agtervolg het op sy reise deur Asië.  Die Romeinse akteur, St. Genesius, wat op die verhoog grappe oor die Christendom maak en op die verhoog skielik tot bekering kom en weier om voort te gaan met sy spel.   Hy staan daar met ‘n pet op die kop en klokke.

Ja en toe word ons geseën deur VADER met die wonderlike voorreg om op Sondag 4 April deel te wees van die Christene wat in hul duisende op die plein bymekaar kom om die Pous se seën te ontvang.    Dit was ‘n pragtige, gewyde seremonie wat  aan die HERE gewei was.  Die skrif kom uit Johannes en met die woorde: ‘In nome del Padre, il Figlio ed il Spirito Santo’ word die massa teenwoordig geseën.    Die boodskap het  baie klem op VREDE gelê en het almal het op ‘n gegewe oomblik hande gevat en mekaar “Pace” toegewens.    Vir ons was dit baie spesiaal, want ons het dit nie verwag nie en sien hierdie seremonie net altyd op TV as ons gelukkig is.

Vatikaanstad:   Na die unifikasie van Italië – ooreenkoms tussen die kerk en staat, gee Mussolini in 1929 die pous volle reg oor wat nou genoem word die Vatikaanstad.   Die kleinste onafhanklike staat in die wêreld.    Die Vatikaan het sy eie polisie, diplomatieke korps, posdiens, koerant en helaas sy eie weermag,  Switserse soldate.   Hier kan jy alleen ingaan met spesiale toestemming, wat sekerlik maande se korrespondensie en uiters goeie rede vir toegang moet motiveer.

Vatikaan museums:   Hiervoor het jy weke nodig, maar ons sonder een dag uit die 5 dae vir  die  Sistynse kapel,  die Raphael kamers , die biblioteek en die gallery van geografiese kaarte en tapeseriëe.   Om maar net ‘n kaartjie te bekom, neem ure se toustaan.   Die beste is om teen 8 uur die oggend in te val.   Die museums maak 9 uur oop en dan eers begin die tou beweeg.   Onvoorstelbaar is die massas wat hier ingaan en hoe die kamers almal kan akkommodeer.   Die Sistynse kapel wat sedert 1979 gerestoureer is, is ‘n asemrowende gesig.   Soveel talent, soveel tyd, soveel fondse!!!    Die Biblioteek was uitstaande – wat ‘n pragtige gallery – geskilder van bo tot onder – sonder een boek in die geskilderde rakke.   Op my vraag aan die wag, waar is die boeke dan, het hy vriendelik, dog gesteurd dat ek dan nie weet nie, geantwoord dat dit in die kelder is en net op aan vraag  “gelees” en bestudeer  word.   Nouja!!!!

Onder St. Peter’s is daar die Fabricca di San Pietro, waar die grafkelders van die Pouse is. Ook Petrus se graf hoewel dit in 846 deur die Saracens geplunder is en nie meer die goue kruis van Konstantyn bevat nie. Op verskeie plekke is die mure en fondasies van die eerste kerk wat deur Konstantyn gebou is sigbaar. Onder hierdie grafkelders is die Cavi, of uitgrawings, wat baie later gedoen is toe daar gevind is dat rondom die graf van  Petrus daar ‘n begraafplaas van vroeëre Christene moes gewees het wat almal naby Petrus begrawe wou wees. Konstantyn moes hierdie alles toe gegooi het toe hy die eerste St. Peter’s gebou het. In die Fabricca di San Pietro is daar enkele van hierdie grafstene te sien van Christene wat dateer uit die Christen tydperk voor Konstantyn.

Pantheon:   Toegang gratis en wat ‘n  skouspel van gekleurde marmer.   Reeds gebou voor Christus se geboorte.    Die beste bewaarde gebou in Rome, was konstant geroof en geplunder, maar het sterk bly staan.   Die koper in die koepel is afgehaal en is gebruik vir die “sambreel” wat oor die altaar in St. Peter’s staan.  

Vir eers klaar met die geboue.   Kom ons stap aan na iets ligters.

DIE  FONTEINE  van Rome wat die pleine, tuine en vierkante ophelder.

Die TREVI  is natuurlik die mees toeristiese attraksie, soveel so dat ek nie eers staanplek kon kry om ‘n vol prentjie van die pragtige stuk werk in Baroque kuns te maak nie.    In die middel is Oceanus se strydwa in die vorm van ‘n skulp wat getrek word deur seeperdjies.   Die water is helder deurskynend skoon.   So, terloops was al die fonteine in Rome se water.    Die boeke sê daar is 212 fonteine in Rome.   Fontein aan die voet van die Spaanse trappe is in die vorm van ‘n boot.   Bernini se meesterstuk staan in die middel van Navona plein – fontein van die 4 riviere, nl. Die Nyl, Danube, Ganges, en die Rio de la Plata.    Fontein van die “Piazza della  Repubblica” was my gunsteling – in die middel ‘n man met ‘n enorme vis in sy arms wat die water reguit boontoe uit die vis se bek spuit.   Die res was perde wat deur die water galop met figure op hul rug wat klou om bo te bly.    Ja en toe net hier oorkant die fontein is ‘n straatkafeetjie met rooi lap tafeldoelkies – en  ons is skielik baie honger en ewe skielik flou gestap (Philip weet dat rooi my trek soos ‘n magneet).   Ek eet gevulde rooi tamaties met rys en Philip lasagna.   Twee straat musikante kom maak vir ons musiek op trekklaviere.

TIBERINA eiland in die vorm van ‘n boot in die Tiber rivier.   Daar is drie brûe wat die eiland met  Rome verbind.   Die eiland word beslaan deur ‘n hospitaal wat deur die “Fate – Bene – Fratelli”  (goeie-werke-broers), gebou is en steeds beman en instand gehou word.

JANICULUM;  een van die 7 heuwels van Rome.   Terwyl Rome nog slaap, stap ons die oggend voor 6 uur die heuwel van Janiculum uit om die son te sien opkom oor Rome, vanwaar jy ‘n panoramiese uitsig oor die stad het.   Dis ‘n styl  paadjie in haarnaald draaie en trappe om bo te kom.    Kortasem en  bewerige bene kom ons bo uit.   Daar is ‘n paar pienk strepies in die dynserige lug, maar die son kan nou enige oomblik deurbreek en sal die stad met Siena kleure voor ons ooplê.    Ja en toe is dit nie vir ons beskore nie, want die pienk strepies verdwyn en baie vinnig kom daar ‘n digte miskombers wat Rome so toevou dat jy nie eers sal weet hier lê ‘n reuse stad voor jou nie.    Dis kort voor 7 uur.   Die koue en vogtigheid slaan toe,  met ‘n misterieuse gevoel van net ons op die Janiculum in ‘n  wit waas, laat ons besef dat hierdie weereens baie spesiaal is.     Later die middag het ons die uittog weer aangepak.    Die keer met ‘n  6 sitplek bussie wat die stylte met kreune en stote uitgesukkel het.    Die sonsondergang was ‘n  groot bonus,  al die rooi, bruin en geel kleure van die geboue word  opgehelder deur die laaste sonstrale.   Hier is baie mense en toe weer besef ons dat  die mistige oggend baie spesiaal was, want ons was op ‘n tyd en op ‘n plek in Rome, waar dit net ons twee was.

TRASTEVERE;   Rome se Boheemse area.   Nou middeleeuse straatjies, waar almal, almal se wasgoed ken, want daar is nie ander plek as oor jou balkonnetjie of van venster tot venster om jou wasgoed te hang nie.    Dis veral baie mooi in die aand, want hier is lewe sonder toeriste en ons jag vir ‘n pizza ristorante vir die beste waarde vir geld.    Die pizzas in Rome het ‘n papierdun kors en ons mis daardie “smakie” oppie tong wat deur pomodoro en buffel-mozarella kaas gegee word.    Maar as jy honger is, is alles lekker en as jy in Rome is maak jy soos die Romeine!!!     Ek brand om die kelner wat 6  groot pizzas op een arm balanseer af te neem, maar ek is bang  om sy spoed te breek.

ALGEMEEN

Die legende van die tweeling Romulus en Remus groet jou om elke draai.

Die modestrate Via Condotti en Via del Corso is onbeskryflik sjiek en  elegant.    Die “groot” name is almal daar.    Die Via Condotti loop direk vanuit die Spaanse trappe.

Die woorde PONT MAX  Staan agter elke pous se naam of gedenkplaat.   Dit staan vir Pontifex  Maximus.   Pontifex  is ‘n brugbouer en die tittel Pontifex Maximus is aan elke hoë priester in antieke Rome gegee.   Dit is later deur die Roomse Kerk oorgeneem as titel vir die pous. Die tittel wat die pous self tot vandag gebruik is egter:  “Servus Servorum Dei” -  Servant of the Servants of God.

Daar is baie bedelaars, straat musikante en mimiek kunstenaars in Rome.   So sien ons ‘n bedelaar wat met sy hond,  gans en konyn sit en bedel.    Die musikante spring selfs op die ondergrondse treine en vermaak die mense met hul musiek.   Die Romeine gooi maklik ‘n  muntstuk in die hand of  hoed.

Ons blyplek in die twee ster Hotel Lady, binne loopafstand van die Vatikaanstad was goed geleë.   Jammer vir die stort se drein wat  geblok is.   Ons het dit rapporteer, maar daar het niks van gekom nie.    Ons het deurgedruk.   Reis is nie vir sissies nie.

Tydens die Sondagoggend diens fokus die TV kameras vir ‘n oomblik op die pous se voete. Die pous dra rooi fluweel pantoffels met ‘n goue kruis oppie tone.

Die uniforms van die Switserse soldate in die Vatikaanstad is deur Michelangelo ontwerp in rooi, geel en blou en is vir 5 eeue onveranderd.

Vroegoggend op die dak van die St. Peter’s is ‘n belewenis. Geweldige steil trappe tot by die hoogste punt van die koepel, maar ‘n 360 grade uitsig oor Rome.

Strate naby die Vatikaanstad word Borgo, i.p.v. Via genoem. Die woongebied grensend aan die ou St. Peter’s sedert die 8ste eeu het uit Burgus Saxonum bestaan, so genoem omdat die eerste van hierdie ‘Peterboroughs’ die een van die Britte was.

Brons en marmer perde is baie in Rome gebruik om geskiedkundiges uit te lig.   So is daar selfs ‘n vroue figuur, Anita Garibaldi op ‘n springende brons perd.   Marcus Aurelius sit kaalvoet  sonder stibeuls op ‘n brons perd in die  vierkant van die Campidoglio.

Ons reis deur die verlede en hede is verby.   Ons groet Rome met ‘n welbehaaglike gevoel en bewondering vir hierdie eeu oue stad waarheen alle paaie tot vandag toe lei.


To the top!