Alle Paaie Lei na Rome
Deur Catrien de Bruin©
April 2004
So word ons pad ook weer na Rome gelei. Die stad
gebou op sewe heuwels. Aanvanklik lyk alles chaoties en oorweldigend.
Sienbare getuienis van die twee groot “empires” van die Westerse wêreld – Romeinse
Ryk en die Christen kerk. Aan die een kant die Forum en die Colosseum, lg.
is sekerlik die gebou op aarde wat die swaarste dra aan herinneringe. Aan
die ander kant St. Peter’s en die Vatikaan stad. Intussen in byna elke
“piazza” lê geskiedenis op so baie vlakke, wat jy sien, is maar net die punt
van die ysberg.
St. Peter’s kerk: Hier is dit nie net
die groote en die “kuns” wat beïndruk nie, maar ook die standvastigheid deur
die eeue. Die kerk is gebou oor ‘n vroeëre kerk gebou deur Konstantyn, eerste
Romeinse Christen regeerder, wat bo-oor Petrus se graf gebou was.
Hier staan jy in verwondering voor Michelangelo se
Pieta wat hy op 24 jarige ouderdom uitgebeeld het in marmer. Die enigste
werk met sy handtekening daarop. Die koepel, ontwerp deur Michelangelo op 27
jarige ouderdom en waarvan hy oor die voltooiing toesig hou tot op 90 jaar toe
hy dood is. Die begin en die einde van ‘n “genius”.
St. Peter’s plein. Meesterstuk van
Bernini uitgelê in die 17de eeu vir Christene van die wêreld om bymekaar te
kom. Van die 140 standbeelde wat bo-op die kollonade staan en op die plein
afkyk , is daar 25 vrouens, o.a. St. Techla, vermom as ‘n seun wat Paulus
agtervolg het op sy reise deur Asië. Die Romeinse akteur, St. Genesius, wat op
die verhoog grappe oor die Christendom maak en op die verhoog skielik tot
bekering kom en weier om voort te gaan met sy spel. Hy staan daar met ‘n pet
op die kop en klokke.
Ja en toe word ons geseën deur VADER met die
wonderlike voorreg om op Sondag 4 April deel te wees van die Christene wat in
hul duisende op die plein bymekaar kom om die Pous se seën te ontvang. Dit
was ‘n pragtige, gewyde seremonie wat aan die HERE gewei was. Die skrif kom
uit Johannes en met die woorde: ‘In nome del Padre, il Figlio ed il Spirito
Santo’ word die massa teenwoordig geseën. Die boodskap het baie klem op
VREDE gelê en het almal het op ‘n gegewe oomblik hande gevat en mekaar “Pace”
toegewens. Vir ons was dit baie spesiaal, want ons het dit nie verwag nie en
sien hierdie seremonie net altyd op TV as ons gelukkig is.
Vatikaanstad: Na die unifikasie van
Italië – ooreenkoms tussen die kerk en staat, gee Mussolini in 1929 die pous
volle reg oor wat nou genoem word die Vatikaanstad. Die kleinste onafhanklike
staat in die wêreld. Die Vatikaan het sy eie polisie, diplomatieke korps, posdiens,
koerant en helaas sy eie weermag, Switserse soldate. Hier kan jy alleen
ingaan met spesiale toestemming, wat sekerlik maande se korrespondensie en
uiters goeie rede vir toegang moet motiveer.
Vatikaan museums: Hiervoor het jy weke
nodig, maar ons sonder een dag uit die 5 dae vir die Sistynse kapel, die
Raphael kamers , die biblioteek en die gallery van geografiese kaarte en
tapeseriëe. Om maar net ‘n kaartjie te bekom, neem ure se toustaan. Die
beste is om teen 8 uur die oggend in te val. Die museums maak 9 uur oop en
dan eers begin die tou beweeg. Onvoorstelbaar is die massas wat hier ingaan
en hoe die kamers almal kan akkommodeer. Die Sistynse kapel wat sedert 1979
gerestoureer is, is ‘n asemrowende gesig. Soveel talent, soveel tyd, soveel
fondse!!! Die Biblioteek was uitstaande – wat ‘n pragtige gallery –
geskilder van bo tot onder – sonder een boek in die geskilderde rakke. Op my
vraag aan die wag, waar is die boeke dan, het hy vriendelik, dog gesteurd dat
ek dan nie weet nie, geantwoord dat dit in die kelder is en net op aan vraag
“gelees” en bestudeer word. Nouja!!!!
Onder St. Peter’s is daar die Fabricca di San
Pietro, waar die grafkelders van die Pouse is. Ook Petrus se graf hoewel dit in
846 deur die Saracens geplunder is en nie meer die goue kruis van Konstantyn
bevat nie. Op verskeie plekke is die mure en fondasies van die eerste kerk wat
deur Konstantyn gebou is sigbaar. Onder hierdie grafkelders is die Cavi, of
uitgrawings, wat baie later gedoen is toe daar gevind is dat rondom die graf
van Petrus daar ‘n begraafplaas van vroeëre Christene moes gewees het wat
almal naby Petrus begrawe wou wees. Konstantyn moes hierdie alles toe gegooi
het toe hy die eerste St. Peter’s gebou het. In die Fabricca di San Pietro is
daar enkele van hierdie grafstene te sien van Christene wat dateer uit die
Christen tydperk voor Konstantyn.
Pantheon: Toegang gratis en wat ‘n
skouspel van gekleurde marmer. Reeds gebou voor Christus se geboorte. Die
beste bewaarde gebou in Rome, was konstant geroof en geplunder, maar het sterk
bly staan. Die koper in die koepel is afgehaal en is gebruik vir die
“sambreel” wat oor die altaar in St. Peter’s staan.
Vir eers klaar met die geboue. Kom ons stap aan
na iets ligters.
DIE FONTEINE van Rome wat die pleine,
tuine en vierkante ophelder.
Die TREVI is natuurlik die mees toeristiese attraksie,
soveel so dat ek nie eers staanplek kon kry om ‘n vol prentjie van die pragtige
stuk werk in Baroque kuns te maak nie. In die middel is Oceanus se strydwa
in die vorm van ‘n skulp wat getrek word deur seeperdjies. Die water is
helder deurskynend skoon. So, terloops was al die fonteine in Rome se
water. Die boeke sê daar is 212 fonteine in Rome. Fontein aan die voet van
die Spaanse trappe is in die vorm van ‘n boot. Bernini se meesterstuk staan in
die middel van Navona plein – fontein van die 4 riviere, nl. Die Nyl, Danube,
Ganges, en die Rio de la Plata. Fontein van die “Piazza della
Repubblica” was my gunsteling – in die middel ‘n man met ‘n enorme vis in sy
arms wat die water reguit boontoe uit die vis se bek spuit. Die res was perde
wat deur die water galop met figure op hul rug wat klou om bo te bly. Ja en
toe net hier oorkant die fontein is ‘n straatkafeetjie met rooi lap
tafeldoelkies – en ons is skielik baie honger en ewe skielik flou gestap
(Philip weet dat rooi my trek soos ‘n magneet). Ek eet gevulde rooi tamaties
met rys en Philip lasagna. Twee straat musikante kom maak vir ons musiek op
trekklaviere.
TIBERINA eiland in die vorm van ‘n boot in
die Tiber rivier. Daar is drie brûe wat die eiland met Rome verbind. Die
eiland word beslaan deur ‘n hospitaal wat deur die “Fate – Bene – Fratelli”
(goeie-werke-broers), gebou is en steeds beman en instand gehou word.
JANICULUM; een van die 7 heuwels van
Rome. Terwyl Rome nog slaap, stap ons die oggend voor 6 uur die heuwel van
Janiculum uit om die son te sien opkom oor Rome, vanwaar jy ‘n panoramiese
uitsig oor die stad het. Dis ‘n styl paadjie in haarnaald draaie en trappe
om bo te kom. Kortasem en bewerige bene kom ons bo uit. Daar is ‘n paar
pienk strepies in die dynserige lug, maar die son kan nou enige oomblik
deurbreek en sal die stad met Siena kleure voor ons ooplê. Ja en toe is dit
nie vir ons beskore nie, want die pienk strepies verdwyn en baie vinnig kom
daar ‘n digte miskombers wat Rome so toevou dat jy nie eers sal weet hier lê ‘n
reuse stad voor jou nie. Dis kort voor 7 uur. Die koue en vogtigheid slaan
toe, met ‘n misterieuse gevoel van net ons op die Janiculum in ‘n wit waas,
laat ons besef dat hierdie weereens baie spesiaal is. Later die middag het
ons die uittog weer aangepak. Die keer met ‘n 6 sitplek bussie wat die
stylte met kreune en stote uitgesukkel het. Die sonsondergang was ‘n groot
bonus, al die rooi, bruin en geel kleure van die geboue word opgehelder deur
die laaste sonstrale. Hier is baie mense en toe weer besef ons dat die
mistige oggend baie spesiaal was, want ons was op ‘n tyd en op ‘n plek in Rome,
waar dit net ons twee was.
TRASTEVERE; Rome se Boheemse
area. Nou middeleeuse straatjies, waar almal, almal se wasgoed ken, want daar
is nie ander plek as oor jou balkonnetjie of van venster tot venster om jou
wasgoed te hang nie. Dis veral baie mooi in die aand, want hier is lewe
sonder toeriste en ons jag vir ‘n pizza ristorante vir die beste waarde vir
geld. Die pizzas in Rome het ‘n papierdun kors en ons mis daardie “smakie”
oppie tong wat deur pomodoro en buffel-mozarella kaas gegee word. Maar as jy
honger is, is alles lekker en as jy in Rome is maak jy soos die Romeine!!!
Ek brand om die kelner wat 6 groot pizzas op een arm balanseer af te neem,
maar ek is bang om sy spoed te breek.
ALGEMEEN:
Die legende van die tweeling Romulus en Remus groet
jou om elke draai.
Die modestrate Via Condotti en Via del Corso is
onbeskryflik sjiek en elegant. Die “groot” name is almal daar. Die Via
Condotti loop direk vanuit die Spaanse trappe.
Die woorde PONT MAX Staan agter elke pous se naam of
gedenkplaat. Dit staan vir Pontifex Maximus. Pontifex is ‘n brugbouer en
die tittel Pontifex Maximus is aan elke hoë priester in antieke Rome gegee. Dit
is later deur die Roomse Kerk oorgeneem as titel vir die pous. Die tittel wat
die pous self tot vandag gebruik is egter: “Servus Servorum Dei” - Servant of
the Servants of God.
Daar is baie bedelaars, straat musikante en mimiek
kunstenaars in Rome. So sien ons ‘n bedelaar wat met sy hond, gans en konyn
sit en bedel. Die musikante spring selfs op die ondergrondse treine en
vermaak die mense met hul musiek. Die Romeine gooi maklik ‘n muntstuk in die
hand of hoed.
Ons blyplek in die twee ster Hotel Lady, binne
loopafstand van die Vatikaanstad was goed geleë. Jammer vir die stort se
drein wat geblok is. Ons het dit rapporteer, maar daar het niks van gekom
nie. Ons het deurgedruk. Reis is nie vir sissies nie.
Tydens die Sondagoggend diens fokus die TV kameras
vir ‘n oomblik op die pous se voete. Die pous dra rooi fluweel pantoffels met
‘n goue kruis oppie tone.
Die uniforms van die Switserse soldate in die
Vatikaanstad is deur Michelangelo ontwerp in rooi, geel en blou en is vir 5
eeue onveranderd.
Vroegoggend op die dak van die St. Peter’s is ‘n
belewenis. Geweldige steil trappe tot by die hoogste punt van die koepel, maar
‘n 360 grade uitsig oor Rome.
Strate naby die Vatikaanstad word Borgo, i.p.v. Via
genoem. Die woongebied grensend aan die ou St. Peter’s sedert die 8ste eeu het
uit Burgus Saxonum bestaan, so genoem omdat die eerste van hierdie
‘Peterboroughs’ die een van die Britte was.
Brons en marmer perde is baie in Rome gebruik om
geskiedkundiges uit te lig. So is daar selfs ‘n vroue figuur, Anita Garibaldi
op ‘n springende brons perd. Marcus Aurelius sit kaalvoet sonder stibeuls op
‘n brons perd in die vierkant van die Campidoglio.
Ons reis deur die verlede en hede is verby. Ons
groet Rome met ‘n welbehaaglike gevoel en bewondering vir hierdie eeu oue stad
waarheen alle paaie tot vandag toe lei.
To the top!
|