Vin d'Alsace - Route des Vins

Deur Catrien de Bruin ©

September 2008

Sou malvas, wingerde en kleurvolle half-houthuisies jou passie wees, en oja natuurlik ooievaars, dan is die wynroete van die Alsace in Frankryk die roete vir jou.

Ter wille van ‘n bietjie geografiese agtergrond, die grens met Duitsland is die Ryn rivier en parallel hiermee aan die voet van die VOSGES bergreeks is die Alsace vallei met ‘n relatiewe droë en sonnige klimaat met die regte grond vir wingerde.

So nestel dorpie na dorpie in die vallei, omring deur wingerde en nog wingerde. Die dorpies kry blomtoekennings, so is Riquewihr bv ‘n 2-blom en Obernai ‘n 3–blom dorpie. Blomme floreer rondom lamppale, balkonne, fonteine, brûe, torings – elke oop gaatjie kry ‘n malva en die blom met oorgawe. Wat ‘n kleurvolle fees vir die oog.


Blomme
Die smeeyster uithangborde wat meer as ‘n duisend woorde vertel, versier meninge gebou om ‘n eet , oornag of wynboetiek aan te dui.


Smeeyster Uithangbord
COLMAR is ons wegspringpunt ook bekend as “PETITE VENISE”, want die Krutenau distrik lê langs die Lauch rivier. Gedurende die vorige eeu is bootjies soortgelyk aan die gondolas van Venesië gebruik om op die rivier te vaar. Die Dominikaanse kerk huisves ‘n besonderse kunswerk deur Martin Schongauer, geverf in 1473 - “The Virgin of the Rose-bush” – Die Maagd en Kind vorm ‘n sjarmante prentjie met goue agtergrond oortrek met wit en rooi rose vol voëls. REGTIG PRAGTIG!!


Gondola
Ons roete gaan oor TURCKHEIM waar ons die eerste ooievaarsnes met ooievaar op die hoë toring van een van die drie inganspoorte na die ou dorp, steeds omring deur die oorspronklike mure, gewaar.


Ooievaarsnes
By AMMERSCHWIHR is ‘n lappie wingerd voor die dorpsmuur met voorbeelde van die verskeie cultivars wat in die omgewing geplant word.


druiwe
Elke dorpie spog met eie wynboetieks en die tipies Duitse Bretzel word sommer so in die verbygaan deur almal gekoop om aan te peusel. Met Duitsland net om die draai het baie van eeue gelede se gewoontes in die ALSACE gekom om te bly.


Bretzel
KAYSERSBERG – die geboorteplek van Albert Schweitzer . Vanaf die 12de eeuse kasteel het jy ‘n poskaart prentjie oor die middeleeuse dorpie en wingerde.


Kayserberg
Moenie RIQUEWIHR en RIBEAUVILLE oorslaan nie.....van eersgenoemde neem ek ‘n hele film op.


Riquewihr
Philip sorg vir 'le pique-nique' in die wingerde naby BERGHEIM.....kaas, jambon, vleisknakkers en Riesling. Dit was ‘n vrugtevolle fees, om nie net die trosse druiwe te sien nie, maar ook die produk te proe.


Le pique-nique
Die kasteel van HAUTE-KOENIGSBOURG domineer die ALSACE vallei......letterlik op ‘n platform van rotse gebou. Die 100 jarige herdenking van die restorasie in 1908 word hierdie jaar gevier.

Waar oornag julle? Dis altyd elke voornemende reisiger se vraag. In Frankryk maak ons gebruik van LOGIS de FRANCE hotel-restaurante. Om lid te wees van die Logis moet die hotel sekere standaarde handhaaf. Gewoonlik is dit 'n familie besigheid.

Eerste nag was by La Croix d’Or, 13 rue de L’Eglise, in ORBEY.

Tweede nag in OBERNAI by Hostellerie La Diligence. Hier was alles vol bespreek, maar ons word toe begelei na hul Hotel in die residensiële gebied. Aandete was nie hier beskikbaar nie en moes ons in OBERNAI gaan jag vir ete. Hier kies ons op aanbeveling die restaurant ‘La Halle aux Bles’. Groot fout – alles behalwe die Franse kos wat ons verwag het! Dis sekerlik deel van reis....dan nie?

Derde nag was ons reeds uit die wynroete en oornag in ‘n landelike Logis nl ‘Auberge Du Herisson’, 5 rte des Lacs, ILAY, aandete ingesluit en was dit nou ‘n fees!!

Ons geniet dit om in FRANKRYK te reis en vertrou dis “au revoir” en nie “adieu” nie.


To the top!



footer for Vin d'Alsace page