Bordeaux

Deur Philip de Bruin©

April 2008

Die lente van 2008 is die natste wat ons beleef het in tien jaar. Ons kry soms 'n dag of twee van mooi weer en dat weet jy sommer dat die somer gereed is om te gebeur. Temperature vlieg vinnig verby twintig grade, maar dan kom die reën terug en wanneer dit begin opklaar sien ons nuwe sneeu op Monte Tamaro.

Na ons besoek verlede jaar in September aan die Dordogne gebied, het ons besluit om gedurende die lente die Bordeaux gebied te besoek. Ons hou dus alreeds lankal die weer dop vir 'n venster van ten minste 3 dae van goeie weer. Die voorspelling vir 25, 26, en 27 April lyk toe goed met 'n moontlikheid op 28 April van reënbuie. Vrydagoggend, 25 April, vroeg val ons in die pad om die ergste verkeer rondom Milaan en Varese te vermy. Gou kom ons agter dis 'n Italiaanse vakansiedag! Ons is byna die enigste motor op die Autostrada. By die Frejus-tonnel sukkel ons meer as 30 minute om by die tolhek verby te kom.

Ons het maar net weer besef watter plesier dit is om in Frankryk te reis. Die snelweë is wyd en die padtekens uitstekend. Die rus areas skoon en alles werk. Orde en 'efficiency', sonder om belaglik te wees.

BrantômeTeen 6nm was ons by Brantôme. Effektief 'n eiland in die Dronne rivier in die Perigord Vert gebied met nie minder nie as vyf brûe. Ongelukkig erg toeristies, maar dis nog buite seisoen en ons kry maklik akkommodasie by 'n Logis de France en Catrien kies 'n plek om te eet – fantastiese uitsig oor die rivier, eksklusiewe ambiance, nouvelle cuisine!

Canola landSaterdagoggend verder na die ou-ou stad, la Réole, op die vinnig vloeiende Garonne rivier. Pragtige piekniekplek langs die rivier, waar ons dan ook piekniek hou met vars baguette, plaaslike kaas en plaaslike wit wyn. Frankryk het ruimte en ons het ons herhaaldelik verstom oor die areas wat ingerig is en in stand gehou word vir die bevolking om dit te geniet.

Verder na Sauveterre-de-Guyenne, 'n 13de eeuse bastide, 'n gefortifiseerde dorp met 'n groot plein in die middel omring deur geboue met ruim poticoes waar talle eetplekkies is.

Die Bordeaux landskap is geweldig groen en waterryk met lappe goudgeel canola lande. Die beroemde wingerde het nog nie begin uitloop nie en maak dus nog nie so 'n uitstaande prentjie nie, maar die vrugbaarheid van die grond is duidelik.

Eglise MonolitheVolgende stop is die buitengewone dorp van St Emilion. Toeristies, maar 'n fees om deeglik te ontdek. Die dorp is gebou met bleek-geel plaaslike klip en die kei-stene is groter en donkerder klip ingevoer uit Cornwall. Dit was voorheen die gefortifiseerde dorp tussen die Franse en Engelse gebiede. Die buitengewone Eglise Monolithe is 'n groot ondergrondse kerk wat uit een enorme klip gekerf is behalwe vir die toring.

Hierna is ons gereed vir 'n vinnige besoek aan die stad Bordeaux! Dis egter 'n groot wêreldstad wat jy nie vinnig kan besoek nie. Om een of ander rede is al die parkeergarages gesluit en net nêrens is daar 'n gaatjie vir ons motortjie nie. Ons ry toe maar stadig 'n paar draaie deur die stad. Dit was 'n pragtige sonnige Saterdagmiddag en duisende inwoners was in die strate en op die promenade by die Garonne rivier. Besige stede is egter nie vir ons nie, en met groot moeite het ons ontvlug op die snelweg rigting Parys, Frankryk, met doelwit die Cognac gebied. Barbezieux is die hoofstad van cognac se 'Grande Champagne' wynverbouingsarea. Dis reeds laat en ons kry slaapplek by 'n Logis de France waar ons heerlik eet terwyl 'n groep plaaslike boere met gesinne 'n lang tafel laat maak in die restaurant vir 'n groot Saterdagaand fees. Die spesialiteit vir die aand, as voorgereg, is huitres of vars oesters. Eerstekeer wat dit ons pad kruis en eerstekeer wat ek dit eet. Catrien proe, maar dit werk nie vir haar nie terwyl ek dit geweldig geniet.

Sondagoggend verder deur die stil landbou gebied. Dis hier waar die Hugenote hoofsaaklik gewoon het. Onder die Edik van Nantes kon hulle in vrede ontwikkel en kerke bou. Hulle kon dit net nie 'n kerk noem nie, maar moes dit 'n tempel noem. Reeds 20 jaar voor die herroeping van die Edik van Nantes op 18 Oktober 1685, het die exodus van Hugenote vanuit hierdie gebied begin. Baie het die Rooms Katolieke geloof aanvaar, maar die verdrukking was só erg dat die ander uiteindelik moes vlug vir hulle geloof. Terwyl ons deur hierdie pragtige vrugbare waterryke gebied ry het ons besef hoe erg die vervolging moes gewees het dat baie van hierdie Hugenote in 1688 Suid Afrika toe is en in die relatief gesproke vaal en waterlose Franschhoek van voor af begin het.

Daar moes jare later wel Hugenote teruggekeer het na hierdie gebied want daar is talle rigtingwysers met die woorde: Tempel Protestant.

Die eerste dorp waar ons stilhou is Jonsac, 'n kleurryke en ordelike landboudorp met 'n mooi chateaux wat vandag as munisipale kantore gebruik word. By die Boulangerie/Salon de The in die hoofstraat eet ons croisants met cafe au lait. Ons ry oor die landboudorp Pons en met die Route de Cognac waar ons stop by Pérignac wat 'n ongewone Romanesque kerk uit die 12de eeu het. Dis nog vroeg en ons verwonder ons oor plaaslike inwoners wat reg voor die Boulangerie parkeer, sonder om af te skakel, brood koop en met die uitkomslag eers 'n draai maak by die vroutjie wat 'n stalletjie beman met vars oesters voor hulle in die kar klim en verder gaan.

Charente rivier by JarnacCognac is 'n baie groot dorp met grandieuse geboue, maar ons ry net 'n paar draaie en besluit om nie stil te hou nie. Volgende stop is Jarnac, die setel van Courvoisier brandewyn. Die meeste bekende brandewyn huise se setel is in Cognac. Jarnac lê langs die Charente rivier wat ook bevaarbaar is. Ons volg 'n roete langs die rivier deur pragtige landbou gebied en ons volgende stop is La Rochefoucauld langs die Tardoire rivier. Hier stap ons na die Château de Rochefoucauld, die setel van die familie wat sedert die 11de eeu oor die meeste van die Charente gebied geheers het. Dis een van die min chateaux's in Frankryk wat nog in die oorspronklike familie besit is. Die dorpie slaap en net die toeristiese eetplekke is oop. Na 'n lang draai deur die ou dorp kom ons af op 'n piepklein eetplekkie sonder 'n naam waar ons 'n ligte middagete kon geniet.

Van hier is ons na welvarende Limoges in die Limousine gebied. Ons ry net deur, al langs die Vienne rivier, en verkyk ons aan die ruimte en welvaart. Ons ry deur ongerepte en pragtige landskap en oor die Pont du Dognon, 'n smal brug oor die Taurion rivier wat opgedam is op hierdie punt en 'n klein meer vorm wat druk besoek word deur stappers, roeiers, en sommer net families wat kom piekniek hou. Ons ry verder tot in Bourganeuf met sy 15de eeuse torings in die ou dorp. Van hier af deur meer ongerepte landskap tot by die Lac de Vassivière wat in die seisoen baie toeristies sal wees. Hier slaap en eet ons by 'n uitstekende Logis de France.

Deur die nag het ons donderweer gehoor soos per die voorspelling, maar die oggend begin dit toe met mening reën. Ons is deur Eymoutiers en stop in Treignac vir koffie. Dis rugby wêreld dié en in die café is rugby truie en fotos van spanne met posters van toernooie wat nog kom. En buite reën dit. Ons stap onder sambrele deur die ou-ou dorp en ry verder na Uzerche aan die Vézère rivier wat baie interessant lyk en wat ons graag deeglik wil ondersoek. Dit reën egter só dat ons nie eers uitklim nie. Dis nog maar 10:00 in die oggend en ons moet 'n besluit neem. Dit lyk vir ons na ernstige reën en die voorspelling vir Dinsdag is nog meer reën. Ons is onseker, maar besluit om te begin terug ry Campione toe. Dit reën die heel pad, maar deur die genade van die Here ry ons veilig en voorspoedig en is ons nog ligdag, teen 20:00, tuis.


To the top!