Como é bello

Deur Evette Lombard©

Mei 1999

Ek het ‘n film vol prentjies in my kop oor Como:

In ‘n wollerige Bar is ‘n man wat espresso afsluk met een teug, een wat ‘n glasie witwyn doen, half tien op ‘n Donderdag oggend.  Twee jong meisies wat al geselsend hulle koffies drink alles by die 'bar' of toonbankie, al staande.  Ek en Ma het by ‘n tafeltjie gaan sit met die lekkerste cappucino wat ek nog gedrink het.  Niks ouliks aan die plekkie, nie maar ek sal hom nooit vergeet nie - ken ‘n boom aan sy vrugte!

Later, vir ontbyt, drink ek en ma ‘n chocolat chaud en croissant.  Dit my liewe vriendinne, is ‘n blok sjokolade in ‘n koppie.  Rooi bruin van die lekkerte.

Ek sien die swart baadjie wat ek al geruime tyd voor soek, op die mark.  Al wat hulle verkoop is baadjies, slip rokkies, rompies en pantaloni in swart, grys, navy en room.   Maklik.  Maklik.  Dit is nou wat ek noem Basics!  Met so ‘n nommertjie

in jou kas kan jy ver gaan.

In een van die klippiestraatjies:  twee blombakkies teen die muur met geel gesiggies in, en daarby 2 dummies in die mooiste, fynste katoen rokke van die mees subtiele kleure.  Agter in die piazza is die winkeltjie. Twee rytjies klere, tafel in die middel met varkore in ‘n glas vaas.  (Skoon water)  Spieël teen die agtermuur en meters en meters sagte wit wasige lap wat gedrapeer is.  In die dak hang ‘n kandelaar van draad gemaak en

stukke deurskynende gebreekte glas.

Ander een het twee topiaries van geel koring are, blou koring blommetjies en rooi papawers. Binne aan weerskante van ‘n hout Catwalk is rivierklippies gegooi, waarop 4 dummies staan met asemrowende skeppings van sy, so lig soos veertjies.  Agter is 2 Art Deco paper cut out dolls met feather boas en fluweel rokke.  Teen die muur is daar ook weer, sagte wit

wasige materiaal gedrappeer met die winkel se naam daarby.

Ek en Ma reën lekker nat in die strate van Como en ons sambrele lê veilig by die huis.  Terloops, elke sambreel wat ek sien het ‘n hout handvatsel.  So skaars soos hoendertande by die huis, ek weet want ek het al daarvoor gesoek.  Voor elke winkel is ‘n houer waarin jy jou nat sambreel sit.

Niemand vat hom nie, dit bly daar tot jy terug kom.  Snaaks.

Dit bring my by blommewinkels.  Krismisroos boompies wat soos topiaries gesny is met die pienkste blomme.  Rose wat jy nie kan glo lewe nie.  Swaardlelies, enige blom onder die son.  Blommewinkels doen goed omdat die vroutjies elke week vars blomme op hulle afgestorwe manne se grafte gaan sit.

Die begraafplase lyk soos Kew Gardens se blomme skou.

Verder was Como soos flitse in ‘n fliek.  ‘n Omie wat sy blommekar deur ‘n stegie stoot wat so ‘n klein bietjie breër as sy kar is.  ‘n Kleremaker, ‘n Skoenmaker, ‘n man wat skilderye restoreer en ‘n eksentrieke, oud wêreldse kunstenaar.  Dit is amper nog te verstommend om oor te skryf.  Eers trek ‘n landskap deur die venster my aandag, toe ‘n ander skildery en toe gaan ek in.  Binne staan skilderye groot en klein teen die mure, op die vloer en op esels.  Olies met outydse modelle op in nuwe olieverf.  Daar is swaar goudblad rame en swaar donkerrooi gordyne.  Hier en daar is  ‘n ou vleismeul of ‘n ding wat lyk soos ‘n propeller wat dan wit of silwer of goud geverf is en dan staanlampie geword het.  Die heel mooiste musiek.  Moderne outydse musiek, wat jou 2 meter van die grond af oplig.  Nes ek daarvan hou.  Agter die fluweel gordyn, agter meters en meters wasige plastiek wat om en om gedrapeer is, staan ‘n man wat in ‘n glaskas hoort.  Gestrik en gedas voor sy esel besig om sy kwaste voor te berei.  ‘n Hedendaagse Velasques.


To the top!


footer for Como page