Dordogne
Deur
Catrien de Bruin©
September
2007
Begin van die
najaar in Europa, die blare verkleur en hier en daar val een of twee reeds
grond toe. Hierdie jaar het Augustus hewig reën gekry. Toe dit blyk dat ‘n
skoon venster verbykom vir vroeg September voel ons om ‘n uitstappie te maak Frankryk
toe. Die afgelope jare het ons Italië platgery.
Na heelwat
navorsing trek Andrew Sanger se beskrywing oor die Dordogne provinsie in
Frankryk die meeste aandag: “rustic and mellow, mild and beautiful, abrupt
escarpments and hills, often topped by a castle, flowery meadows and
magnificent valleys, traces of prehistoric beginnings” en dan die deurslag –
“the Dordogne has a long tradition of fine cooking and high-quality farm
produce”. Wat meer kan ‘n mens vra?
Dordogne is in die
suid-westelike gebied van Frankryk tussen die Loire vallei en die Hoë
Pyrenees. Die naam kom vanaf die manjifieke Dordogne rivier wat deur die
gebied vloei. In die volksmond Perigord genoem. Om jou lekker
deurmekaar te maak die Perigord word nou nog in vier verdeel:
Perigord (vert)
groen, so genoem vanweë die groen gordel in die vrugbare valleie baie riviere
en waterstrome rondom Nontron.
Perigord (blanc)
wit, van die wit kalksteen plato's en rollende weivelde rondom Perigueux.
Perigord (purple)
pers, van die wynlande. Wyne kry hul name van dorpe in die omgewing soos
Bergerac en Monbazilac.
Perigord (noir)
swart, vanweë die reeks ondergrondse grotte met prehistoriese rotstekeninge en
die reuse okkerneut, eik en dennebome en die bekende swart truffles.
Ons besluit om op
Perigord Swart te fokus. Na 900 km vanaf Campione, deur die 13 km Frejus
tonnel oor die grens na Frankryk, verby Lyon, Clermont-Ferrand , Tulle en toe
Meyssac waar ons sonder ‘n bespreking geseënd is om plek te kry in ‘n Logis de
France vir die nag, was ons vodde gery. Dis toe net hier wat ons ongevraag met
die cuisine van die Perigord inval – foie gras en al die ander maatjies (later
meer hieroor). Die eetsaal sit vol van reisigers – oud en jonk. Ek kyk oor
my skouer toe die kaasbord met sekerlik ses soorte kaas voor die vroukie aan
die tafel langs ons, neergesit word. Sy moes my verbaasde uitdrukking waarneem,
want sy reageer met : ‘moeilike besluit om te maak’.
Dis net daar waar
die kommunikasie begin – sy en haar man is van Belgie en praat Vlaams – so
begin ons oor en weer kuier – en wat is dit verbasend dat ons en hulle taal
soveel in gemeen het – hulle praat ook van ‘mooi’ en ken die woord ‘baie’.
Oor my skouer kry
ek die gevoel dat ons gesprekke fyn beluister word. Met die opstaan kom die
paartjie na ons – you are from South-Africa ! Natuurlik is ons van
daardie kontinent, erken ons met oorgawe. Hulle is van Engeland en pas
terug vanaf Durban waar hul dogter met ‘n S-Afrikaan getroud is. In London
ontmoet – hoe anders? Ons weet mos van al die Afrikane wat in London en
waar oral sit - ‘wêreldlinge’.
Ons 2de dag skop af
met die Middeleeuse dorpie, Collonges la Rouge. Die argitektuur hier is rooi klip
geboue met hoë torings, spitse en rooi malvas waar jou oog val. Vandag
stap ons rustig deur die motorvrye straatjies. Gedurende bloedige godsdienstige
oorloë, waarvan daar baie in die omgewing was, het die kerk van Collonges
verwoesting vry gespring deurdat die kerkgebou verdeel is, helfte Protestants
en helfte Katoliek. Dis nie moeilik om te sien watter groep hoort waar nie.
Aan die buitekant
voor die ingang is ‘n onderdak ruimte met ingeboude houtvuur oond wat ooglopend
nog in gebruik is. Collonges is ‘n elegante dorpie, met net genoeg ambience om
gesellig te wees, sonder om die indruk van toerisme te skep. Ek was gelukkig
genoeg om my prentjies te maak net voor die eerste toerbus arriveer!!
LASCAUX II grotte
naby Montignac, is ‘n hoogtepunt. Hierdie grotte dateer uit die
steentydperk, alhoewel dit so ‘onlangs’ as 12 September 1940 deur ‘n tiener wie
se hond in ‘n opening in die rotse verdwyn het, ontdek is. Die rotstekeninge
is kleurvolle lewensgrootte perde, bulle, koeie, en bokke. Die
oorspronklike grotte is 1963 gesluit vir die publiek as gevolg van versteuring
van temperature en menslike faktore. ‘n Groep kunstenaars het vir 10 jaar
gewerk met dieselfde tegniek en materiaal om ‘n presiese weergawe te skep.
Daarom LASCAUX II – 200 m vanaf die oorspronklike.
‘Birthplace of Art’
- word dit genoem.
Philip kan nie
uitgepraat raak oor die puik toestand van die paaie en die uitstekende
instruksies nie. Ornamentele brûe. Ek leer dat ‘n ‘viaduc’ (brug) nie
noodwendig oor riviere gebou word nie, maar ook oor valleie. Opgeligte paaie
oor brûe wat jou die gevoel gee jy ry op die boomtoppe.
Die landskap is
wild vol bekoring en ongerepte – dramatiese aanskoulike klowe. My Vrystaatse
agtergrond assosieer baie goed met die lappe mielies, haar op ‘n hond. Die
sonneblomme se koppies hang – klaar geblom - dit moet ‘n prentjie wees om dit
in volle blom te sien. Koringlande is geoes en die grond rus vir die nuwe
seisoen. Groen weivelde soos gholfbane – onvoorstelbaar!! Die wit koeie wat
op die groen veld wei, asof geverf op groen doek, laat jou twee keer kyk.
3de dag: Hangende
tuine van MARQUEYSSAC bied meer as 6 kilometers skaduryke kronkelende paadjies
omsoom deur handgesnoeide ‘Topiaries’. Die park is in Maart 1997 oopgesit vir
die publiek. Dit was ‘n stuk natuurlike immergroen plantegroei op ‘n rots
van 200m hoog wat deur kundiges gesnoei is om die park ‘n sagte romantiese
gevoel te gee wat in perfekte harmonie met die landskap van die Dordogne vallei
staan. Die belvedere is ‘n balkon met asemwegslaan prentjies oor die
panorama van die Dordogne rivier en vallei en natuurlike die tipiese ‘chateau’
op die hoogtes in die agtergrond. MANJIFIEK!!
LA ROQUE GAGEAC ,
rys letterlik uit die oorhangende wit kalksteenrotse. met die Dordogne rivier
aan sy voete. Om hier te woon moet hoogtevrees nie jou probleem wees nie,
jy sal konstant op jou kop loop.
So ‘n dorpie is St.
CIRQ-LAPOPIE langs die Lotrivier ook.
4de dag is
ROCAMADOUR, lekker op die tong, die laaste hoogtepunt vir die rondte.
Alhoewel baie
toeristies, is hierdie ommuurde middeleeuse dorp ‘n besoek werd.
Klou letterlik aan
die rotse vas en weereens hoog op die rotse geleë is dit baie beskut teen die
vyand toe dit nodig was.
Die ontstaan van
hierdie plek is te danke aan ‘n kluisenaar, genaamd Amadour wat in een van die
grotte gewoon het.
ROCAMADOUR is in
drie vlakke gebou – eerstens die dorpie, dan na 260 trappe die 12de eeuse
Basilica en dan nog hoër die 14de eeuse kasteel en ‘ramparts’. Gedurende die
12de en 13de eeu was dit ‘n gesogte plek vir pelgrims
PERIGORD
CUISINE:
Eend, truffles en
wilde sampioene is die plaaslike spesialiteite.
Ek het nie mooi
verstaan wat Patrick de Waal bedoel met “ Oh you visit DORDOGNE?, that means a
kilo a day!” Nadese verstaan ek maar alte goed. Op elke spyskaart is pate de
foie gras (eend lewer); confit de canard ( eend in sy eie vet gaargemaak);
pommes sarladaises ( aartappels gekook in eend vet); salade aux noix
(okkerneut slaai).
Truffles het nie
ons pad gekruis nie, maar ooooo weee die omelette met wild cépes (omelette met
wilde sampioene) tog wel - tres bon!! Die wyne van Bergerac en Cahors -
robust en volgeur rooi.
Franse Paradoks –
verstaan nog steeds nie so lekker nie - eet lekker en ryk sonder om siek te
word!!! Ek moet bieg dis net asof my knieë minder styf was met die trappe klim
- geöliede eend vet knieë!!
Ons en DORDOGNE het
mekaar geniet. Dit was – BIEN TERRIBLE!!
To the top!

|