Dordogne

Deur Catrien de Bruin©

September 2007

Begin van die najaar in Europa, die blare verkleur en hier en daar val een of twee reeds grond toe.      Hierdie jaar het Augustus hewig reën gekry. Toe dit blyk dat ‘n skoon venster verbykom vir vroeg September voel ons om ‘n uitstappie te maak Frankryk toe.      Die afgelope jare  het ons Italië platgery.

Dordogne vallei

Na heelwat navorsing trek Andrew Sanger se beskrywing oor die Dordogne provinsie in Frankryk die meeste aandag:   “rustic and mellow, mild and beautiful, abrupt escarpments and hills, often topped by a castle, flowery meadows and magnificent valleys, traces of prehistoric beginnings”    en dan die deurslag – “the Dordogne has a long tradition of fine cooking and high-quality farm produce”. Wat meer kan ‘n mens vra?

Dordogne is in die suid-westelike gebied van Frankryk tussen die Loire vallei en die Hoë Pyrenees.    Die naam kom vanaf die manjifieke Dordogne rivier wat deur die gebied vloei.     In die volksmond  Perigord genoem.    Om jou lekker deurmekaar te maak die Perigord word nou nog in vier verdeel:

Perigord (vert) groen, so genoem vanweë die groen gordel in die vrugbare valleie baie riviere en waterstrome rondom Nontron.

Perigord (blanc) wit, van die wit kalksteen plato's en rollende weivelde rondom Perigueux.

Perigord (purple) pers, van die wynlande.    Wyne kry hul name van dorpe in die omgewing soos Bergerac en Monbazilac.

Perigord (noir) swart,  vanweë die reeks ondergrondse grotte met prehistoriese rotstekeninge en die  reuse okkerneut, eik en dennebome en die bekende swart truffles.

Valette advertensie

Ons besluit om op Perigord Swart te fokus. Na 900 km vanaf Campione, deur die 13 km Frejus tonnel oor die grens na Frankryk, verby Lyon, Clermont-Ferrand , Tulle en toe Meyssac waar ons sonder ‘n bespreking geseënd is om plek te kry in ‘n Logis de France vir die nag, was ons vodde gery. Dis toe net hier wat ons ongevraag met die cuisine van die Perigord inval – foie gras en al die ander maatjies (later meer hieroor). Die eetsaal sit vol van reisigers – oud en jonk. Ek kyk oor my skouer toe die kaasbord met sekerlik ses soorte kaas voor die vroukie aan die tafel langs ons, neergesit word. Sy moes my verbaasde uitdrukking waarneem, want sy reageer met : ‘moeilike besluit om te maak’.

Dis net daar waar die kommunikasie begin – sy en haar man is van Belgie en praat Vlaams – so begin ons oor en weer kuier – en wat is dit verbasend dat ons en hulle taal soveel in gemeen het – hulle praat ook van ‘mooi’ en ken die woord ‘baie’.

Oor my skouer kry ek die gevoel dat ons gesprekke fyn beluister word. Met die opstaan kom die paartjie na ons – you are from South-Africa ! Natuurlik is ons van daardie kontinent, erken ons met oorgawe. Hulle is van Engeland en pas terug vanaf Durban waar hul dogter met ‘n S-Afrikaan getroud is. In London ontmoet – hoe anders? Ons weet mos van al die Afrikane wat in London en waar oral sit - ‘wêreldlinge’.

Collonges la Rouge

Ons 2de dag skop af met die Middeleeuse dorpie, Collonges la Rouge. Die argitektuur hier is rooi klip geboue met hoë torings, spitse en rooi malvas waar jou oog val. Vandag stap ons rustig deur die motorvrye straatjies. Gedurende bloedige godsdienstige oorloë, waarvan daar baie in die omgewing was, het die kerk van Collonges verwoesting vry gespring deurdat die kerkgebou verdeel is, helfte Protestants en helfte Katoliek. Dis nie moeilik om te sien watter groep hoort waar nie.

Aan die buitekant voor die ingang is ‘n onderdak ruimte met ingeboude houtvuur oond wat ooglopend nog in gebruik is. Collonges is ‘n elegante dorpie, met net genoeg ambience om gesellig te wees, sonder om die indruk van toerisme te skep. Ek was gelukkig genoeg om my prentjies te maak net voor die eerste toerbus arriveer!!

LASCAUX II grotte naby Montignac, is ‘n hoogtepunt. Hierdie grotte dateer uit die steentydperk, alhoewel dit so ‘onlangs’ as 12 September 1940 deur ‘n tiener wie se hond in ‘n opening in die rotse verdwyn het, ontdek is. Die rotstekeninge is kleurvolle lewensgrootte perde, bulle, koeie, en bokke. Die oorspronklike grotte is 1963 gesluit vir die publiek as gevolg van versteuring van temperature en menslike faktore. ‘n Groep kunstenaars het vir 10 jaar gewerk met dieselfde tegniek en materiaal om ‘n presiese weergawe te skep. Daarom LASCAUX II – 200 m vanaf die oorspronklike.

‘Birthplace of Art’ - word dit genoem.

Philip kan nie uitgepraat raak oor die puik toestand van die paaie en die uitstekende instruksies nie. Ornamentele brûe. Ek leer dat ‘n ‘viaduc’ (brug) nie noodwendig oor riviere gebou word nie, maar ook oor valleie. Opgeligte paaie oor brûe wat jou die gevoel gee jy ry op die boomtoppe.

Die landskap is wild vol bekoring en ongerepte – dramatiese aanskoulike klowe. My Vrystaatse agtergrond assosieer baie goed met die lappe mielies, haar op ‘n hond. Die sonneblomme se koppies hang – klaar geblom - dit moet ‘n prentjie wees om dit in volle blom te sien. Koringlande is geoes en die grond rus vir die nuwe seisoen. Groen weivelde soos gholfbane – onvoorstelbaar!! Die wit koeie wat op die groen veld wei, asof geverf op groen doek, laat jou twee keer kyk.

Topiaries by Marqueyssac

3de dag: Hangende tuine van MARQUEYSSAC bied meer as 6 kilometers skaduryke kronkelende paadjies omsoom deur handgesnoeide ‘Topiaries’. Die park is in Maart 1997 oopgesit vir die publiek. Dit was ‘n stuk natuurlike immergroen plantegroei op ‘n rots van 200m hoog wat deur kundiges gesnoei is om die park ‘n sagte romantiese gevoel te gee wat in perfekte harmonie met die landskap van die Dordogne vallei staan. Die belvedere is ‘n balkon met asemwegslaan prentjies oor die panorama van die Dordogne rivier en vallei en natuurlike die tipiese ‘chateau’ op die hoogtes in die agtergrond. MANJIFIEK!!

Cirq-Lapopie

LA ROQUE GAGEAC , rys letterlik uit die oorhangende wit kalksteenrotse. met die Dordogne rivier aan sy voete. Om hier te woon moet hoogtevrees nie jou probleem wees nie, jy sal konstant op jou kop loop.

So ‘n dorpie is St. CIRQ-LAPOPIE langs die Lotrivier ook.

4de dag is ROCAMADOUR, lekker op die tong, die laaste hoogtepunt vir die rondte.

Alhoewel baie toeristies, is hierdie ommuurde middeleeuse dorp ‘n besoek werd.

Klou letterlik aan die rotse vas en weereens hoog op die rotse geleë is dit baie beskut teen die vyand toe dit nodig was.

Die ontstaan van hierdie plek is te danke aan ‘n kluisenaar, genaamd Amadour wat in een van die grotte gewoon het.

ROCAMADOUR is in drie vlakke gebou – eerstens die dorpie, dan na 260 trappe die 12de eeuse Basilica en dan nog hoër die 14de eeuse kasteel en ‘ramparts’. Gedurende die 12de en 13de eeu was dit ‘n gesogte plek vir pelgrims

PERIGORD CUISINE:

Eend, truffles en wilde sampioene is die plaaslike spesialiteite.

Ek het nie mooi verstaan wat Patrick de Waal bedoel met “ Oh you visit DORDOGNE?, that means a kilo a day!” Nadese verstaan ek maar alte goed. Op elke spyskaart is pate de foie gras (eend lewer); confit de canard ( eend in sy eie vet gaargemaak); pommes sarladaises ( aartappels gekook in eend vet); salade aux noix (okkerneut slaai).

Truffles het nie ons pad gekruis nie, maar ooooo weee die omelette met wild cépes (omelette met wilde sampioene) tog wel - tres bon!! Die wyne van Bergerac en Cahors - robust en volgeur rooi.

Franse Paradoks – verstaan nog steeds nie so lekker nie - eet lekker en ryk sonder om siek te word!!! Ek moet bieg dis net asof my knieë minder styf was met die trappe klim - geöliede eend vet knieë!!

Ons en DORDOGNE het mekaar geniet. Dit was – BIEN TERRIBLE!!


To the top!


footer for Dordogne page