Franse Paradoks
Deur
Catrien de Bruin©
Junie/Julie
2005
Lekker oppie tong, die woord PARADOKS, amper asof
jy dit soos ‘n nikkerbol kan rol en rol en nie wil opsuig nie, want dan is die
lekker te gou verby.
Vir my sę “paradoks” alles wat teenstrydig is.
Doen en ervaar is twee pole wat met my logika nie rym nie.
Ons het pas in Campione arriveer toe Philip hierdie
voorstel maak dat ons vinnig na die lavender velde gaan kyk voor dit ge-oes
word . Watter vrou met ‘n “neus” vir alles wat lekker ruik sal nie hiermee
inval nie, want as die woord “lavender” na my kant gegooi word , ervaar ek die
outentieke aroma wat om my Ouma gehang het. Dogtertjie wat ek was het ek
eintlik my neus opgetrek vir hierdie geur, min wetende wat in ander węrelde
rondgaan.
So gebeur dit dat ons ‘n week na aankoms aanskuif
Frankryk toe. Auvergne – sentraal/suid Frankryk is ons beginpunt. Min of
meer 6 ure vanaf Campione. Hierdie gebied is ‘n herhaling van September
2002. Dit het vir ons gewerk en daarom gaan ons terug na Arlanc uit die
tiende eeu, waar die drie Afrikane (nou net twee) nog steeds hul gastehuis,
“Ma Cachette” (Ma se skuilplek) bedryf. Pierre en Johan het vasgebyt en
tussen die twee van hulle, sonder enige ander hulp bestuur hulle hierdie
bedryf. Die aand aan tafel sit ons met gaste uit Engeland en dis hul vierde
besoek aan Ma Cachette. So saam met ons tweede besoek wil dit iets sę vir hul
poging.
Terloops, Johan was saam met Philip op Grey
Kollege, het in 1962 gematrikuleer. Johan is baie siek en op die oog gedaan,
maar hy berei al die drie-gang aandetes man alleen. Vir ‘n begin; veldslaai
met appel en parmesaan skywe en dan hoof geregte soos eend met lemoen gegeurde
risotto, balsamica hoender en cous-cous met knoffel en tamatie en dan na die
verskeidenheid kase, hierna tuisgemaakte roomys of ‘n tipies lemon mereng
tuisgemaakte tert. Pierre sorg vir ontbyt wat basies uit croissants en brode
met konfyt bestaan en, o ja, yogurt. Hulle sorg vir rooibostee tussen die
reuse verskeidenheid van al die ander moontlikhede. Dis nou bo en behalwe die
kamers, linne, administrasie, aankope ens. nę. Die twee manne is vir ons ‘n
toonbeeld van “kop hou, moed hou, aanhou!!!!!”
Ons het ‘n ander gebied van Auvergne verken as 2002
en het alles opnuut ingedrink van hierdie vulkaniese park . Vrugbare aarde
en die boere werk soos miere, sonder om die ambience van die natuur te steur.
Ons ry op Psalm 23 deur die Bybelskone land, so oud soos Bybelwoorde. As
GROEN jou kleur is, dan is dit jou plek, werk vir ons. “Groen is groei en guns”
sę Evette in haar Winterstories.
SALERS en FONTANGES is twee lekker stap en
verdwaal dorpies.
Die Michelin gee Salers twee sterre, terwyl
Fontanges nie eers gelys word nie. Lg. is my gunsteling, onopgesmuk,
sjarmant en volop ambience......vulkaniese kliphuisies met toringkies,
venstertjies in die dak, rosies wat wild rank en kleurvol blom, gekapte klipstrate,
straatkafeetjies en natuurlik die fokuspunt van die dorp, nl. die “place” met suiwer
fonteinwater uit die “piektoreske” blom fontein in die vierkant met die Franse
vlae wat jou verwelkom. Eenkant speel die manne petanque en die res sit en
drink pastis.
Dis Woensdag 29 Junie en ons groet die manne van Ma
Cachette en sit voet in die hoek rigting Issoire en dan die A75 snelweg, want
Foulara in Provence is ons mikpunt vir die aand.
Twee indrukwekkende ingenieurs kunswerke kruis ons
pad.
Die eerste is die “Viaduc du Garabit”,
treinbrug oor die Truyere vallei met sy baie hidroelektriese werke. Die
sentrale boog is 116m. Dit is gebou in 1882-84 deur Gustav Eiffel en sy
span. Van Eiffel-toring faam.
Die tweede is die “le Viaduc de Millau” wat
op 28 Mei 2004 voltooi is. ‘n Waaiervormige staalbrug, 2,5 km oor ‘n
skrikwekkende skeur/kloof in die aarde.
Vandag ignoreer ons die “pique-nique” uitnodigings
langs die pad, ‘n appel in die ry moet die ding doen. Op die einde wag Odile
van Foulara met haar spesiale talent vir lekker kos voorberei op ons.
Die landskap verander drasties soos ons die
Middellandse see nader van dennewoude en koringlande na die van wingerde en
olyfbome. Montpellier, Nimes, Avignon, Carpentras, aanstoot en deurdruk na Sault.
Ons ry op herrineringe van besoeke aan bogenoemde plekke, soos die keer toe
ons met Ben en Celie van kampplek tot kampplek met tentjies gereis het en by
Carpentras se mark olywe en nougat vir middagete gekoop het.
PROVENCE:
Ek dink in my nooiensvan Malan, sit iets van my
passie vir die węreld.....hier is mooi, so mooi en styl so stylvol. Al sien
ons nog geen lavender nie, kan ek dit ruik, weet dit gaan netnou om die draai
daar wees. Ons ry ‘n Psalm 121 dramatiese uitsigroete vanaf Sault in die
Vauclause vallei, akkerboombosse, reuse uitgekerfde en verweerde rotse en
kranse met ‘n emerald groen stroompie ver onder in die vallei. Provence het
eintlik ‘n wrede klimaat, sę die wat weet, kan tot ver onder vriespunt gaan of
tot 40 grade, die aarde is klipperig, water kom in storms of glad nie. Die
Mistral waai en keer die węreld om, vat die bolaag weg en gooi waar dit hom
behaag.
Ja en toe “voila” om die draai nes ek gedroom het,
ons eerste blik op lavender lande, ek stuur ‘n prentjie saam, want dis mooi, so
mooi! Daar is twee soorte ligpers en donkerpers langs mekaar. Philip moet
keer of ek neem sommer ‘n hele film vol. Van alle kante en vanuit alle
posisies, wil daarin rol en stap en stap en kyk en nog kyk en ruik . Dis nie
net ons wat geniet nie, bye, skoenlappers, piepklein slakkies, goggatjies, ‘n
fees vir ‘n ieder en elk. Met die belofte dat ons DV die volgende dag weer
kan stilhou, en meer tyd aan lavender spandeer, is Foulara nou die geel
wortel.
Ons roete gaan deur storieboek dorpies soos
Monieux, St. Christol, Revest du Bion, Banon, St. Etienne, Cruis. Selfs
Philip is in so ‘n trans dat ons Foulara se uitdraai mis en moet weer terugry
vanaf Cruis.
Daar is dit; “chambres d’hotes, FOULARA,
ry die tweespoor grond kronkelpaadjie en dan die statige ou plaashuis met
Provence blou hortjies en deure. Die akkerbome het sedert 1999 enorm gegroei
en gooi groot skaduwees, wat in die somer so nodig is met die son wat teen
21h00 nog nie finaal gesak het nie. Richard het ook ‘n lavender landjie aangelę
langs die rypad. Ons kom gelyk met ander gaste aan. Richard en Odile is
daar om ons te verwelkom en neem ons na die blou kamer met ‘n buitedeur wat op
die stoep waar die aandetes voorgesit word, uitloop. Die uitsig is
manjefiek. Ek merk op teenoor Richard dat alles nog net so mooi is soos elke
vorige keer. Hy vestig my aandag daarop dat die blou kamer ‘n nuwe bed gekry
het!!
Hy vra uit na Evette en al ons vriende wat
sedertdien by hulle oornag het. Twee pragtige, beskeie mense. Ons mag
onsself met pastis of lemoenkwas met ys in die kombuis gaan help. Ons gryp
dit aan, want na 600 km was ons goed uitgedroog.
Nog gaste arriveer en die aand sit ons 6 aan tafel
vir Odile se tipies Provencaalse geregte, waarvan die geroosterde lamtjops met
tapenade en anchovis en heel swart olywe een van die baie hoogtepunte was.
‘n Jong paartjie van Duitsland, praat Frans en
Engels vlot. Dan die ander Franse paar, waarvan net die man Engels praat,
ons tydgenote. Sy vrou is blind en ons word opnuut bewus gemaak van ons eie
voorregte en seëninge. Hy doen alles vir haar, soos in alles, trek haar trui
aan, voer haar, help met die gaan sit en opstaan. Hoe moet dit wees om die
lavender lande deur iemand anders se oë te sien, skiet dit deur my kop.....tel
jou seëninge een vir een!!!!!! Die enigste troos van eendag sal ons alles
verstaan.
Die 4de dag loop ons roete na Forcalquier,
Oraison en Valensole. Tussen lg. twee dorpe sien ons lavender van horison
tot horison; “tres joli”. Na Valensole tot Riez waar ons weer met die
Franse paradoks te doen kry: “La Table Toscane”, dit kan tog nie waar wees
nie, ‘n Italiaanse restaurant in Provence!!! Hier is nie ‘n tekort aan
eetplekke nie en daarom skuif ons aan, nadat Philip een vir een se spyskaarte
bestudeer, natuurlik vir die beste prys en ek is lus vir crepes. Ons eindig
sowaar in die Table Toscane met ‘n enorme bak moules en fritte......Franse
paradoks!!!!
Ek oortuig Philip dat ons weer Moustiers en
Manosque moet aandoen, want ek en Isabel het so lekker inkopies daar gedoen.
Hy val in op voorwaarde dat ek tog net nie elke winkeltjie moet instap nie!!!!
Sal maar moeilik gaan, maar dis beter as niks. Alles is ‘n versoeking, maar
ek staan sterk.....belofte is ‘n belofte!!!!
Die aand teen 22h00 toe Richard die jong vulletjie
waarvan die mamma niks wil weet nie, gaan melk gee, stap ons saam veld toe.
Om die vulletjie se aandag te kry roep hy sy naam; Gallahad!!! Die
skimmelwit mamma kom ook aangehardloop. Richard troos haar met ‘n blokkie
suiker en Gallahad kry ‘n emmer skaapmelk. Ek doen die vryfwerk en die 6
week oue perdjie maak snork geluidjies van pure lekker kry. Gallahad het
reeds ‘n nuwe baas, maar moet eers deur Richard en Odile groot gemaak word.
Odile staan in die nag op vir sy aanvanklik twee uur voedings, wat darem nou aangeskuif
het na elke vier uur. Brava!!!
Ons 5de dag breek aan. Ons groet Richard en
Odile wat teen die tyd soos familie voel. Menslik gesproke sal dit ons
laaste besoek wees. Twee dapper en energieke mensies wat geluk en vrede
uitstraal. O ja, hul enigste seun Jeremy het ook kom hallo sę. Hy is nou
in graad vier, alhoewel Engels hul 2de taal is kan hy nie regtig met ons
kommunikeer nie, tot dusver nie. Ons beplan die Napoleon roete terug na
Campione. Ons het dit vantevore gedoen en toe Philip by Richard kers
opsteek, wys hy ons ‘n ander roete uit wat ons nie ken nie en voila, daar
gaan ons op ‘n nuwe avontuur.
Kanaan was die land van melk en heuning, maar hier
slaan ons toe die land van blomme, vrugte en druiwe. Dis
onvoorstelbaar.....vrugteboorde op vrugteboorde, wingerde op wingerde en die
blomme waarmee elke dorpie, hoe klein ookal van oorloop. Ons gevolgtrekking
is dat hulle aan ‘n kompetisie deelneem, want die bordjie “Village fleuri” kom
voor op die einde van elke dorpie en dan is daar of ‘n een blom of twee/ drie
blom toekenning, soos in sterre vir die dorpie. Die blomme is nie noodwendig
in beddings nie, maar wel in blombakke aan die lamppale, of hang weerskante aan
die brűe, of op die vierkant in potte. Wie gooi dit nat? Ekskuus, maar
ons kon nie anders om vir mekaar die vraag te vra nie.
Barcelonette is ‘n dorpie met ‘n
storie, hier klim die pad na die hoogste piek in die Provence Alpe.
Dramaties en indrukwekkend. Barcelonette is in 1231 uitgelę. Die huise is
so gebou om hewige sneeustorms te hanteer. Hier is ‘n sterk Mexikaanse
invloed, want drie broers het in 1821 die dorpie verlaat en hul fortuin in die
tekstielbedryf in Mexico City te gaan maak. Teruggekom en Mexikaanse kos en
tekstiele in hul Franse vallei kom vestig. Hier is darem nog baie tipies
Provencaalse invloed, want so het Oupa Philip sy hand in sy agtersak gesteek
en vir Isabella ‘n tipies Provence lap tweestukkie gekoop. Tres joli !!
Na ‘n cafč petite op die place, was dit aanstoot en
deurdruk oor die grens na Campione, wat na so ‘n avontuur soos “ home sweat
home” voel.
Ons harte loop oor van dankbaarheid en vreugde vir
soveel guns en gawes in oorvloed aan ons geskenk deur ons VADER uit SY hand van
kreatiwiteit vir ons om te geniet op aarde. Soveel kilometers wat ons kon
aflę en bewus wees van die HERE se passie om met ons in voeling te bly,
sodat ons ‘n vrolike lekker-ruik tyd kon beleef. .
To the top!

|