Am Fuschterhof

Deur Catrien de Bruin©

April 2002

Ons sit op 1,600 meter hoog in die Alpedorpie Königsleiten, in die Salzburg provinsie van Oostenryk. Eergister het dit opnuut begin sneeu, na die algemene mening dat die ski-sneeu seisoen verby is. Sê wie? .... net om ons weer mooi te herinner aan Jesaja 55:8 wat sê: "MY gedagtes is nie julle gedagtes nie".

Ons verbintenis met Königsleiten kom deur Ton & Yvonne Jansen van Gouda in Nederland. Die vriendskap het in 1974 in Milaan ontstaan waar Philip en Ton albei deur Olivetti 'n 9 maande kursus geloop het. Die twee Nederlanders was pas getroud en ons met Jacques 5 jr. en Evette 3jr. het dadelik met mekaar aanklank gevind, a.g.v. die twee Germaanse tale wat genoeg verband met mekaar het, sodat ons kan kommunikeer. Aanvanklik en selfs by tye vandag nog, slaan ons dikwels oor in Engels as dit lyk of die ander party nie volg nie.

Ons het 'n paar keer hul ski hut gedeel en saam geski. Verlede jaar was Christoff en Evette ook deel van die span. Hulle was geseënd met 'n vriendin van Yvonne wat 'n ski-instruktrise is en hulle het baie van haar geleer, veral Christoff, vir wie dit 'n eerste keer was.

Wat hierdie jaar besonders maak is dat ons 'n droom van die Jansens sien waar word het en nou deel daaraan het. Ons gaan tuis in "Am Fuschterhof". Die naam en die gebou voer ons terug tot in die middel van 1700. Vóór die tyd van Napoleon (Ton se verwysingsraamwerk .... ons sou sê: na Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het). In die tyd het klein boere families op afgeleë plasies in die berge gebly en met koeie en bokke geboer en seker ook kaas gemaak. Am Fuschterhof was so 'n boerdery ... huis-stal gekombineer, in die omgewing van Hollersbach, ongeveer 6km. van Mittersill, vandag 'n belangrike handelsentrum en 12km. van Königsleiten. In die koue sneeu winters is die koeie en bokke onder die huis ingebring en sodoende het die diere ook die huis warm gehou ... sekerlik was daar darem ook 'n kaggelvuur. Teen 1952 het die familie uit die boerdery bedryf gestap en daarna het die boerdery verval. Die boustyl is tipies van die Oberpinzgau landstreek ... drie verdiepings ... baie ruim met 'n breë gang in die middel met die slaapvertrekke wat daaruit loop. Baie houtwerk en die balkonne met tipiese houtsnywerk.

Verlede jaar gedurende Maart het hulle ons die ou boerderij gaan wys. Nie so erg vervalle as wat 'n mens sou verwag nie, maar tog nie soveel so dat 'n mens nog kan dink daar kan iets van kom nie

Die Jansens met behulp van 'n Oostyenrykse argitek het van Am Fuschterhof te hore gekom en dadelik het die gedagte ontstaan om die byna 300 jaar oue boerderij in sy oorspronklike baadjie met boumateriaal en al oor te skuif na Königsleiten en uit te verhuur. Hier kan 36 persone slaap ... op elke vloer is plek vir 12. Einde 2000 het die planne begin ... bou en restourasiewerk in die voorjaar van 2001. Op 8 Desember 2001 is "Am Fuschterhof" op luisteryke wyse amptelik geopen met die burgemeester van Königsleiten, die pers, die gemeenskap en van toe af was alles reeds vol bepsreek vir die ski-seisoen tot verlede week. Ons sit op die middelvloer met 'n sprokie uitsig van 270 grade om ons. Op die grondvloer is 2 gesinne met kleuters wat reeds saam met hul ouers ski of hier voor ons in die sneeu baljaar.

Oud en nuut is op besondere manier binne en buite gekombineer. Sommige mure is van die gerestoureerde hout en die res wit gepleister. Al die luukses wat jou hart en hande voor vra is hier, van 'n "magnetron" mikrogolf, "vaatwasser" skottelgoedwasser, yskas ens. Die TV het gister met die afskeid van die Koningin Moeder handig te pas gekom, want dit het heeldag gesneeu en was hierdie indrukwekkende, dramatiese, tradisionele afskeid van hierdie bekende figuur wat 101 jaar deur die HERE op aarde geplaas was, voorwaar 'n aanskoulike bedryf.

Hier is ook 'n kaggel en toe ons verlede Saterdag saam met die son en blou lug hier instap, het ek vinnig 'n kaggel bespreek as dit sou sneeu ... en sowaar ons word uit ons sokkies geseën met vars sneeu ... al die eer aan HOM wat alles laat geskied, volgens SY wil!!!

Op tipies Oostenrykse wyse het ons toe gefondue en gekaggel met droë hout wat pragtig en maklik rooi-geel vlamme verf. Lekkerrrr!!!

D.V. môreoggend weer oor die berge en dale terug na Campione. Seker sal ons weer moet jag vir 'n oop pas, want dit lyk of die sneeu wyd geval het. Dan drie slapies en DV. Maandag 15 April die laaaaang dag en laaaang pad terug na Hartland.

Sien julle, Grüss Gott.


To the top!



footer for fuschterhof page