Herfs in Piemonte
Deur Catrien de Bruin©
Oktober 2006
Hierdie is presies
die boek wat ma moet hê!!
Ons staan in een
van Stellenbosch se boekwinkels en Evette se skerp ogies en vermoë om alles
noemenswaardig uit te snuffel skuif ‘Autumn in Piemonte’ voor my in. Ek wou
nog protesteer, maar toe ek die prentjies sien, weet ek dis verseker die boek
vir my.
Nogal op uitverkoping!!
Nog ‘n rede waarom ek die boek myne kan maak.
“Food and Travels
in Italy’s Northwest” Geskryf deur Manuela Darling–Gansser, gebore en getoë in
Lugano in die Italiaans sprekende deel van Switserland, nl. Ticino provinsie. Dis
presies waar ons nou al 8 jaar vir ses maande van die jaar bly. Simon
Griffiths,is die fotograaf en het die man mooi prentjies gemaak!!
So gebeur dit dan
dat ons vir die tweede keer die jaar die provinsie van Piemonte besoek. Die
eerste keer was in die lente, gedurende April in Torino. Die stad het nie
so indruk gemaak dat ons dit wou herhaal nie. Hoe meer ek Manuela se boek lees
en die resepte uittoets, hoe meer weet ek ons moet hierdie Piemonte in die
herfs waarvan sy praat, gaan sien. Perdjie van ander kleure.
Piemonte, letterlik
vertaal ‘ voet van die berge’ word aan drie kante omring deur die Alpe en
Apenyne. Baie riviere kruis die gebied, waarvan die Po die grootste is. Vrugteboorde,
lappe kiwilande en wingerde, getuig van die vrugbaarheid van die vallei.
CUNEO, min of meer
40 minute suid van Torino, is ons eerste stop. Hierdie dorp het eers in die
12de eeu ontwikkel, laat in vergelyking met baie ander Italiaanse dorpe. In
1797 het Napoleon hier regeer en die muur rondom die dorp afgebreek. Die hart
van Cuneo is Piazza Galimberti. Enorme groot vierkant wat die ou en nuwe
stad skei. Manuela vertel van die kleurvolle mark elke Dinsdag wat alles
onder die son, behalwe kos verkoop. Ai, jammer ons is op ‘n Saterdag hier.
Die voedsel mark word in die groot parkeer ruimte gehou. Kan nie help om te
wonder waar almal dan op so ‘n dag parkeer nie.
Langs die
hoofstrate, via Roma en corso Nizza is kilometers arkades. Hierdie arkades
met poorte en boë verseker dat jy in die somer in die skaduwee jou inkopies
doen en in die winter is jy beskerm teen reën en sneeu. Die hoofstrate is baie
breed met pragtige paleise en geboue in Gotiese styl weerskante van die straat.
Katedrale in Barok vang die oog. Die 13 eeuse kloktoring staan hoog uit oor
Cuneo en die horlosie stap nog fluks aan, terwyl die klokke die ure aftel.
Op aanbeveling van
Manuela vind ons die Trattoria Zuavo. Weggesteek in die ou dorp agterin ‘n
toegegroeide hoekie is die eenvoudige, maar gesellige tipies non-toeristiese
Italiaanse eetplekkie met ‘mama’ se kos. Voortreflik.
SALUZZO is nie net
een van die oudste, maar ook een van die mooiste dorpies in Piemonte.
Argeologiese opgrawings dateer vanaf ‘n duisend jaar N.C. Ons lees dat ten
spyte van twee eeue se oorloë en godsdienstige vervolginge was Saluzzo nooit
sonder kos nie. Vrugbare wêreld. Baie kaas van koei, bok en skaap melk
word hier gemaak – bekende Gorgonzola kaas word tradisioneel hier van koeimelk
gemaak. Ons merk ook ‘n Gorgonzola Dolce (soet) kaas op.
Romantiese roete op
‘cobble stones’ vat jou deur die ou dorp. Duisende trappies neem jou
geleidelik teen die heuwel uit na die Mondagli piazza, ou hoof vierkant waar
die sosiale lewe van die Markies en inwoners van die paleise plaasgevind het. Heel
bo op die heuwel staan kasteel Castiglia, waarvandaan jy ‘n panoramiese
uitsig oor Saluzzo en die valleie het. Hierdie gebou het in 1270 begin en
was finaal klaar end 15de eeu. ‘n Middeljarige dame neem fotos en ek spring om
uit haar gesigsveld te kom. Sy beduie dat ek moet stilstaan. Sy knoop ‘n
geselsie aan en vertel dat Saluzzo soveel karakter het dat sy weer en weer
terugkom. Op my vraag waar sy dan vandaaan kom, antwoord sy Torino. Ek
moes seker ietwat verbaas gelyk het en toe vra sy waar ek vandaan kom. My
antwoord van Sud Africa het haar in tipies Italiaanse aksie gesit met uitroep
soos die van ‘mama mia’, handpalms na bo. Grande sorpresa!
Die aand slaap ons
in ‘n Hotel waarvan Philip die besonderhede op internet uitgesnuffel het. Ons
het twee moontlikhede op die Internet gekry. Die eerste was baie goed geleë
naby een van die poorte van Saluzzo, maar toe ons na die plek gaan kyk toe
besluit ons om verder te gaan. Die Hotel Antico Podere Propano is in ‘n
gemoderniseerde ou plaas kompleks waar die een deel nog bewoon word deur die
plaaswerkers, ‘n vleuel is omskep in Agroturismo self-catering eenhede en die
hele noordelike vleuel in gerieflike hotel kamers. Die prys is effe styf vir
wat ons verkies om vir verblyf te betaal, maar die atmosfeer maak daarvoor op.
Die aand eet ons,
op aanbeveling, by L’Ostu dij Baloss. Dis tipies kos van die omgewing. Die menu
vir die aand is uiters billik met ‘n buitengewoon wye verskeidenheid keuses vir
elke gang. Ons voorgereg is ons ou gunsteling Vitello Tonato. Maar nog nooit
het ons dit só beleef nie. Dit smelt in die mond! Ons het verskillende primi
bestel, wat baie lekker was, en beide dieselfde hoofgereg. ‘n Brasato met ‘n
rooiwyn sous. Ongelooflik! Dit sal moeilik wees om dit self so te maak. Die
nagereg was lig en lekker.
SAVIGLIANO, ‘n
klein endjie oos van Saluzzo, is ons missie die volgende oggend na ‘n stewige
ontbyt in die plaashuis/hotel. Hierdie is ‘n klein dorpie met niks anders of
uitstaande as die res nie, maar dis Sondagoggend en oral staan groepies mans
en kuier op die piazzas. Natuurlik uitgevat in das en baadjie, bypassende
langbroek. ‘n Musiekkonsert kom later op en in die kerk is ‘n spesiale diens
vir die ‘ragazzi’ (kinders).
Ons merk ‘n reuse
banier vanuit een van die vensters met die woorde: MAIRA en reg onder die
naam twee keer in rooi geverf ‘VERGOGNA’. Direk vertaal: ‘Maira, skaam
jou, skaam jou’. Sonder om te weet waaroor dit gaan skuif ons aan na die
wynlande van Piemonte.
LA MORRA, een van
die dorpies in die Langhe wyngebied. Hier word van die mees gesofistikeerde
wyne van Italië gemaak. La Morra is bo-op ‘n reeks van heuwels wat uit die
vallei rys, geleë. Gaan na die piazza van Lamorra wat aan drie kante
toegebou is, maar na die westekant oop is met ‘n asem wegslaan uitsig oor
wingerde na links en na regs.
Hier beleef jy
herfs in elke moontlike kleure op die palet, dis wynrooi, goudgeel, roesbruin,
oker, sagte groen met wit kalkgrond paadjies al kronkelend tussen die
wingerde. Die heuweltoppe gekroon met kerktorings en wagtorings. Klein
dorpies rondom die kerk aangelê asof vasgemessel. Liewe VADER dis so
onvoorstelbaar mooi soos poskaartprentjies!! Dis sowaar nie ‘trompe
l’oeil’ nie, dis regtig.
Manuela vertel dat
die Langhe ‘n tydperk van desperate armoede beleef het. Die is eintlik ‘n
droë gebied in vergelyking met die Po vallei. Gefortifiseerde
heuweldorpies getuig van oorlog en geweld. Hierdie is ‘n gebied waaroor vir
eeue geveg is. Sien jy nou die voorspoed, dan kan jy net verstaan dit was
‘n gebied werd om voor te veg. Afgelope dekade met harde werk, kundigheid en
dissipline floreer die Langhe. Sommige noem die gebied dan ook nie verniet
‘The Burgundy of Italy’. Herinner my aan ons vriend David wat sê: ‘dié mense
het die oorlog klaar gewen’.
BAROLO is volgende
op die lys. Ons merk dadelik dat hier ‘n groot samekoms van mense is, want
moters staan langs die pad geparkeer. Met moeite druk Philip swart
karretjie in ‘n opening en ons volg die stroom voetgangers. Die eindig op ‘n
‘festa’ met aantreklike kos stalletjies en ander snuisterye.
Ons leer dat
‘BAROLO’ die naam is van ‘n handgemaakte wyn in die gebied en ooglopend baie
gewild by die wynproe kelders hier in die dorpie van Barolo.
Ons hou verby, want
die drie ure terug na Campione lê voor.
Na die stewige
ontbyt van die oggend, kom vriendin Elsa se saadpakkies handig te pas op pad
terug na Campione.
Piemontese
platteland en wynlande was ‘n groot verryking en kan ons dit sterk aanbeveel,
veral in die herfs teen einde Oktober.
Arrivederci.
To the top!

|