HRVATSKA  (KROASIË)

Deur Catrien de Bruin©

Junie 2004

Wat was ons verras om te merk dat baie Hongare ook op die pad is na Kroasië vir vakansie.   Die landskap het skielik verander na wat ons aan die Kaap laat dink.   Dieselfde rotsformasies en wilde plantegroei.   Om later langs die kus weer te verander na tipies Italië met olyfbome, vyebome en wilde rankrose wat oral inkruip en mooi lyk.

Ja en toe die buitelug spit-braai stalletjies langs die pad.   Heel skaap en heel vark wat aan die spit stadig om en om draai en goudbruin braai oor ‘n houtvuur.   Dis elf uur die oggend, maar ons raak so honger dat ons drup daarvan.   Met vaste vertroue dat dit teen etenstyd ons pad sal kruis, skuif ons aan na ons eerste besienswaardigheid.

Plitvička Jezera  (Croation National Park World Heritage):   Die omgewing van Plitvice Lakes is in 1949 tot Nationale Park verklaar en in 1979 deel geword van UNESCO World Heritage lys.   Dit kan ons baie goed begryp, want hierdie gebied is geseënd met ‘n onvoorstelbare landskap van groen berge met ‘n string van 16 mere groot en klein wat gevoed word met dawerende watervalle en water wat van oral oor uitpop en in wit skuimwalle oorloop na die volgende meer.   In die kristal helder blou-groen water wat van skakerings wissel afhangende van die lig, swem duisende forelle, wat glad nie gevang mag word nie.   Brulpaddas wat tussen die riete “brul”, laat jou vassteek en in verademing stilstaan in God se kreatiwiteit vir ons gegee om te geniet en te bewonder.

Van die mere is so groot dat bote daarop vaar, waarby ons nie uitgekom het nie.   Die reëls is uiteraard baie streng in die park, mag nie vis vang nie, mag nie swem nie, mag nie vuur maak nie, mag nie kamp nie, mag nie plante pluk nie en nog meer.   Darem mag jy fotos neem, wat ek behoorlik gedoen het.   Jy stap op hout-dek paadjies sonder relings van meer tot meer.   Op die brosjures sien ons winter  sneeu en gevriesde waterval prentjies.   Dit moet dan weer ‘n totaal ander landskap wees.

Ons het probeer om hierdie natuurwonder met die beste van die ander te vergelyk wat ons al beleef het, soos die Victoria waterval of miskien die Epupa in Kaokoland, maar die Plitvice is enig van sy soort.....’n belewenis om altyd te onthou.

Die Trogir Riviera:   Langs die Adriatiese see,  ryk subtropiese en Mediterreense plantegroei.   Ons gebruik Trogir as ons basis om vir drie dae die omgewing te verken.   Ons kry akkommodasie in die Hotel “Trogirski Dvori” en dit werk vir ons hoewel langs die hoofweg.   Dis dan toe ook hier wat ons verras word met geluide in Afrikaans.   So ontmoet ons die Booysens van Randburg en kuier een aand gesellig saam.

TROGIR is ‘n klein dorpie, een meter bo seevlak en is op ‘n klein eiland geleë, soos baie ander dorpies langs die kus wat met brûe aan die vasteland verbind word.   Tekens van lewe is hier gevind 2000 jaar VC.   In 1123 was die dorpie heeltemal verwoes, maar is weer op dieselfde plek herbou.   Die geboue en nou straatjies dra swaar aan geskiedenis deur die eeue.   Lekker om te stap en te verken, want dis motor-vry.

Filip’s Marina:   Ons onderneem ‘n bootvaart wat die oggend 9 uur vertrek en van eiland na eiland vaar en teen 13h00 anker gooi by Rat op Ciovo eiland.   Hier is die hoogtepunt ‘n “vis piekniek”.   Ons was die enigste nie-Hongare op die boot.....die res almal Hongaarse families van Pecs op vakansie in Kroasië.   Die vis piekniek bestaan uit heel vis op die kole gebraai, brood en rou koolslaai met waatlemoen vir nagereg,  rooi wyn en koeldrank en sterk koffie om af te rond.   Ons word getref deur die eenvoud van alles.....kan nie help om te dink aan  Jesus wat die brode en vissies so vermeerder het sodat duisende daarvan kon eet nie.....wat ‘n wonderwerk!!!    Hierna trek ons swemklere aan, so onder ons Afrika kikois, want aantrek hokkies bestaan nie.    Die branderlose Adriatiese see is ‘n lafenis, alhoewel pure sout!!!!    Sukkel ook maar om staande te bly op die “klippie” strande, maar die swem in deurskynende water was lekker.    Die terugvaart na Trogir was almal  slaperig maar die kaptein het laat waai en ons het weer teen 17h00 voet aan wal gesit.   Dit was ‘n lekker dag.

SPLIT is ‘n groot stad met die antieke ou-stad wat baie goed behoue gebly het. Voertuig vry en mens kan lekker rondloop en verdwaal in die nou straatjies.

PRIMOSTEN is die mees aantreklike eiland dorpie langs die kus wat ons teekom. Mens voel sommer lus om daar af te saal en lank te bly.

BIOGRAD is die beste vakansieoord-dorpie wat ons teekom. Sal maklik ‘n vakansie daar kan deurbring.

ZADAR se ou-stad regtig ‘n belewenis. Geen voertuie. Nog met die ou muur rondom. Baie mense in die strate. Baie Café-Bar, of koffiekroegies, waar mense sit en kuier. Om die waarheid te sê ons moes nogal soek vir ‘n restaurant wat regte etes bedien.

So eindig ons besoek aan Kroasië op ‘n hoë noot, tot ons die Jadrolinija ferry na Ancona in Italië moes aanpak.   Ons het twee dae voor die tyd kaartjies gekoop en toe was al die kajuite reeds vol bespreek.   Dus twee dae tyd om hierdie verrassing te verwerk van regop sit in die sitkamer en probeer slaap.   In my geestesoog sien ek die “massas” wat ons sal moet trotseer!!!   Teen 21h00 het ons aan boord gegaan.   Ek was so stom verslae oor die 12 reuse vragmotors wat ook in die ferry se ruim intrek, dat ek van die slaap krisis heeltemal vergeet, tot ons teen 23h00 die sitkamer instap.   Dis ‘n pragtige ruimte met baie sitplekke en genoeg spasie en die paar mensies (seker so 12) sit-staan ook maar verward rond, want die TV is oorverdowend op Italiaanse kanaal.   Die lugverkoeling so koud dat jy ‘n gans dons duvette nodig het.   Philip is optimisties en glo hy gaan oorpluisies te koop kry.   Ek soek naarstiglik iemand om die TV af te skakel, want Philip het probeer maar dit wou nie werk nie.   Ek vind ‘n offisier in wit en toe ek my probleem in Engels verduidelik, verander hy die kanaal na Engels......ai tog!!!    Ons gaan sit in die verste hoekie en toe is die volgende probleem op hande....dis baie-baie koud en ons sit in ons somers klere.   Toe moet die twee Afrika kikois weer die ding doen en so pak ons die nag op die ferry in ons sitstoele aan.   Die ander 10 mense het verdwyn (weet nie waarnatoe nie) en ons het die totale sitkamer vir onsself.   Ons was van die eerste om die sonsopkoms op die dek te waardeer, want van slaap was daar nie veel sprake nie.   So is dit dan ook met reis......nie altyd warm water en sagte kussings nie.!! 

Die ferry het presies 7 uur volgens skedule anker gegooi en het ons so tussen die reuse vragmotors ook uit die ruim met swart karretjie geklim en sonder drama die A14 gevind en nodeloos om te sê Philip het laag gevlieg en was ons 13h00 veilig in Campione.   Dankie VADER vir ‘n wonderlike ervaring.


To the top!