Indië

Deur Catrien de Bruin©

Maart 1995

Ek besoek Jacques in Bombaai terwyl hy op die DOULOS (Servant), rondreisende boot van Operasie Mobilisasie, diens doen.

Uit die staanspoor wou ek met die Oosterlinge kennis maak en het dus op Air India bespreek. Nodeloos om te sê ek was die enigste Westerling. Hulle was almal daar, van Laudium en Johannesburg. Die Indiërs het dadelik met my kontak gemaak en wou natuurlik weet waarheen en hoekom? Die Doulos was aan hulle onbekend. Meeste was op pad om vir familie in Bombaai te kuier. Ek het tuis en gemaklik gevoel en het my verstom aan die vrouens se kleurvolle saris.

Terwyl ons wag om bagasie in te boek, kom 'n boodskap van een van die Indiër grondpersoneel: "It is with great despair to my body I have to tell you .... the pilot is sleeping in Durban and all" Gevolglik 'n drie uur vertraging. My gevoel was dadelik laat die "pilot" maar slaap .... ek sal wag. Ons is bederf met gratis verversings en vloeistowwe.

Die vlug wat toe wel drie ure later vertrek het, was die rustigste wat ek nog beleef het. Die kelners was baie sjarmant en meelewend. Geen alkohol is bedien nie en vegetariese kospakkies is uitgedeel. My mede passasier was 'n vrou wat haar kinders en kleinkinders in Bombaai gaan besoek. Sy en haar man bedryf 'n apteek in Johannesburg.

Enigste manier om oneindige massa mense te verwerk ... bid vir elke bedelaar en arm mense.

Efesiërs 6 :12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.

BOMBAY "beautiful harbour" in Portugees. 11 Miljoen mense, waarvan een miljoen op straat bly.

Zelna se bemoedigende skrif in Filippense 4: 13 .... Ek is tot alles in staat deur HOM wat my krag gee ... het my deurentyd versterk en was verseker nodig.

As gevolg van misverstand tussen my en Jacques, moet ek self my pad na die Doulos wat in Princess hawe geanker is, vind. Taxi bestuurders verstaan nie my Engels nie, maar helaas vind ek een wat instem om my taxi te ry. Ten spyte van die feit dat beide van ons nie die vaagste idee het waar die Doulos geanker is nie, pak ons hierdie avontuur aan. Deur tonnels van armoede ry ons vir drie ure voor ons die Doulos bereik, nadat die bestuurder telkemale my aandag op die meter vestig en beduie dat hy nou al buite sy grense beweeg. Ek maak asof ek nie verstaan nie en eers nadat ek 'n boot op 'n stukkie papier teken, het die lig vir hom opgegaan en so beweeg ons weg van die woongebiede na die kuslyn van hawe tot hawe. Later op die Doulos sou ek hoor dat niemand toegelaat word om die gebied waarin ek was te besoek nie. Geen wonder dat die flenter kindertjies met loop neusies en gekoekte hare aan my kom vat, wanneer ons moes stop vir 'n buffel of koei om die straat oor te steek .

Op die Doulos het ek 'n luisterryke ontvangs gehad, veral omdat almal teen die tyd geweet het dat Jacques se ma, wat al moes arriveer het, uiteindelik 'n werklikheid geword het. Ek het 'n kajuit met badkamer vir myself gehad met 'n meisie van SA wat na my belange moes omsien. Wat 'n luukse!!! Die week op die Doulos was 'n ongelooflike ervaring van deel met soveel nasionaliteite met een en dieselfde VADER, Jesus Christus, wat deur almal aanbid en gedien word.

In 1665 is Indië deur die Britse Oos Indiese Kompanjie oorgeneem. Die stigter van Bombaai was Gerald Aungier, 'n Christen met hoë morele waardes. In 1672 lê hy die stad uit. Onder sy regering moedig hy alle soorte nasies en geestelike groepe om hulle in Bombaai te vestig. Gratis paspoorte vir Arabiere, handelaars van die Golf, Rooi See en die Persiërs van Persia.

Indo-Aryan Hindus emigreer na Indië vanaf Iran rondom 1500 VC. Hulle beset "Mumbai", genoem na die moeder godin Mumbadevi. Haar tempel in Bombaai en die Maharahtis noem Bombaai nog steeds MUMBAI.

Vandag is Bombaai die tuiste van byna elke god uitgedink deur die mens en maak nog steeds plek vir die okkulte en sektes. In die stad is 'n "god-galery" met die hoofgode en profete van die verskillende gelowe van die wêreld geverf. Bombaai het gekies om die "creature" , kreatuur eerder as die "Creator" (Rom. 1: 25) te dien. As gevolg van hierdie "evil en wickedness ... Rom. 1:28- 32, is die mense van Bombaai onder hewige bindinge. Soveel misvormde mense wat rondloop.

Gateway of India gebou in 1927 toe George V en die Queen Bombaai besoek het. Baie professionele bedelaars , snake-charmers, winkeltjies op wiele stroom hiernatoe en die Taj Mahal Hotel, wat welgestelde Arabiere en westerlinge huisves, is 'n luukse hotel naby die Gateway.

Geweldige korupsie in die reëls en regulasies. Burokrasie ... dit het 4 maande geneem om toelating vir die Doulos te kry. In 1993 het 5 bomme in Bombaai ontplof ----- baie mense is dood.

Ganesh is die mees dominante "idol" in Bombaai en word gesien in kantore, motors, taxis, winkels en op straat. Parvati het haar seun Ganesh buite haar slaapkamer deur op wag gesit, terwyl sy bad om haar te beskerm. Haar man Shiva is ook toegang geweier. Shiva het Ganesh se kop afgekap. Hy stuur toe sy bediendes om die eerste lewende kreatuur wat plat lê en na die noorde kyk se kop af te kap. Hulle vind toe Airvata, die olifant. Sy kop word afgekap en so kry Ganesh 'n olifantkop en het so terug gekom na die lewe. Hy word genoem die god van wysheid en voorspoed.

Dharavi is die grootste "slum" in Asië met miljoene wat in die grootste armoede woon. Kinder slawerny, dwelms, prostitusie, lg. is wettig in Bombaai. Operasie Mobilisasie Indië het twee spanne wat voltyds in die slums werk.

Groot groei en ontwaking van gelowiges in Bombaai vind plaas. Hulle mikpunt is om 'n eenheid te vorm wat elke groep mense en woongebied met die woord van Jesus te bereik, voor die jaar 2000.

Indië is 47 jaar onafhanklik ... politieke grense is onveranderd. Die WOORD mag vrylik oor die grense bedien word.

Daar is 12 hooftale in Indië. OM versprei literatuur in al die tale. Meerderheid Indiërs is Hindus. Moslems, seuns van Ismael ... veral noord Indië ... nie die maklikste target nie.

Vrouens mag net deur vrouens met die evangelie bedien word. OM plant kerke, doen evangelisasie werk, gebedskettings, sending naweke, onderrig en mobilisering van kerke.

Oosterse kultuur:

Persepsie van eet met die hand is baie higiënies. Oosterse geloofslewe van glo en dien in miljoene gode is die waarheid en realiteite van elke dag.

Bedrywighede op straat:

1. Stryk wallah.

2. Vrugte karretjies wat deur een man rondgestoot word.

3. Kleremaker op die sypaadjie, asof in 'n hangkas, met handmasjien besig om te stik. Omring deur verskeie lappe waaruit die kliënt kan kies. Vanaand word die deur van die "hangkas" net toegestoot.

4. Ou man staan op van sy bed ... karton op die grond.

5. 'n Blinde man sit op die trappies en bedel.

6. Jong seun met 'n kobra ... hoop jou respek vir die slang sal 'n paar munstukke in sy mandjie bring.

7. Van onder 'n kartondoos, steek twee verskrikte bruin oog, kaal kindertjies hul koppe uit.

8. Twee vroue wat bessies verkoop het hulle twee koeie by hulle wat aan die straat gemors herkou.

9. Die man met die twee stompies vir arms sit by die kaartjie boks.

10. Treine sonder deure met handvatsels waaraan jy vashou. Mans in een wa, vrouens in 'n ander wa.

11. Snackbars.

12. Fax masjien wallah, telefoon wallah, skryfbehoeftes met Xerox.

13. Palmblaar skuilings met potte en panne waarin kerrie geregte gekook word.

14. Fietse, swart taxis met geel dakke, drie wiel taxis, rickshas, almal ry op hul toeters.

OM Bombaai bestaan 30 jaar, 5000 lede wat die onderrig en dissipelskap deurloop het. Daar is 400 kerke in Bombaai.

"Mercy" gebedsketting van 70 wat die "line-up" groep onder hul sambreel hou. Jacques was ook deel van die "line-up" groep. 'n Groepie van 4 OMers wat vooruit na die betrokke land gaan om met die regering te gaan onderhandel vir toelating van die Doulos.

Tydens die eerste vier dae in Bombaai verkoop meer Christen boeke as enige ander boeke op die Doulos.

Pers praat van die "Bookship" with mostly Christians on it.

Mahatuma Ghandi se woorde ... I would have become a Christian, but for the Christians

Bombaai is die Hollywood van Indië. Van hier word die films gemaak en versprei.

Indiërs is hoofsaaklik vegetariërs. Groente pulav, gebraaide rys, dhal en chapati, hoender breyami, puri, groentekoekies. Dhal is geroomde lensies. Maaskaas en jogurt is volop. Geen alkohol.

Vervoermiddels: Wye keuse van busse, treine, driewiel taxis, swart en geeldak vierwiel taxis, rickshaws, kamele, olifante, oskar, of op 'n draagbaar wat deur twee mans op hul skouers gestut word.

Busse word versier. Paaie so swak, neem 7uur vir 250 km. Instinktief koes jy vir regterkantse verkeer. Busbestuurder sit agter 'n kralegordyn, want passasiers trek sy aandag af. Truspieëls word behang met foto van bebaarde ghoeroe .... gode met olifantkoppe, poskaarte, blomkranse, gousblomme of stokkies wierook.

Vrolike etniese popmusiek blêr luid deur die ganse busreis.

Ry op toeters ... Indië is nooit stil nie!!! Al jou sintuie is voortdurend in werking.

Paar heilige koeie wat voorkeur op die pad het. Straatkinders of moeders met peuters oppie heup wat om 'n roepee bedel.

Kyk met westerse meerderwaardigheid oor alles. Kla 'n keer of wat oor alles. Dan raak jy gewoond aan die mallemeulerit en word dit 'n kleurvolle avontuur.

"Die mees belangrikste ding om met jou saam te neem, as jy reis is nie 'n Gucci tas of designer Franse jeans nie, maar 'n oop gemoed".

Amber Fort uit die Middeleeue by Jaipur ... goed behoue ... is die ry op olifante 'n eerste keer.

Fatephur Sikri, 'n indrukwekkende rooiklipstad naby Agra.

AGRA: Die Taj Mahal ... Die Taj moet jy met jou eie oë sien ... geen foto, film of video kan reg laat geskied aan die mees perfekte monument opgedra aan liefde en toewyding. Ontwerp deur reuse en voltooi deur juweliers.

Botsings: GEEN ... behalwe teen 'n waterbuffel, op pad na die Taj Mahal.

Estelle Haasbroek het na 'n week by my op Bombaai angesluit en ons het 'n verdere twee weke spandeer na Jaipur, Pushkar, Agra, Nieu-Delli en terug na Bombaai .

Met Air India terug na Jan Smuts in SA.

Indië is oorbevolk, armoede en haglike toestande, maar terselfdertyd verfynd, kleurvol en kreatief met hul hande en denke. Geen wonder dat ons met sakke vol "crafts" kon terugkom na ons winkeltjies in Pretoria.

Dit was 'n onvoorstelbare lewenservaring wat my altyd sal bybly en wat maak dat ek nooit kan ophou bid vir die massa siele in Indië ... net maar soveel as een per dag HERE vir U Koninkryk.


To the top!



footer for india page