Jó napot - Goeie dag in Hongaars
Deur Catrien de Bruin©
Junie 2004
Vir ons ‘n eerste besoek aan Hongarye in Sentraal
Europa. RCI tyddeel val vir ons oop langs die Balaton-meer naby Hévíz aan die
suid-weste kant van die meer – grootste in Europa. Club Dobogómajor waar die
tyddeel is, is relatief nuut en van die beste wat ons beleef het. Die
meerderheid besoekers is Hongare, dan Duitsers en twee Britte wat ons pad
kruis, wat spesiaal na die Balaton meer kom om voëls te kyk.
Ons is nie ingestel op stede of toeristiese areas
nie, geniet om die landskap te doen. Op aanbeveling van Ella (‘n vriendin),
besluit ons tog om Budapest te besoek, drie ure ver vanaf ons blyplek. Die
keer is Philip nie lus vir die bestuur en parkering soek in ‘n stad nie en ons maak
gebruik van die toerbussie met Garbo as Hongaarse toergids. Ons het darem al
‘n oor vir die Wes Europese tale ontwikkel, maar ek dink by myself dat Hongaars
net sowel Zoeloe kan wees – net geluide wat vir ons niks sê nie. Die 16
passasiers moet almal sê waarvandaan hulle kom en toe dit ons beurt is, was
Garbo, wat ‘n goeie Engels praat, se kommentaar; “From South-Africa, you
speak Zoeloe , of course!” Toe is ons eers spraakloos!! In Duits, Engels en
Hongaars het hy pragtig kommentaar gelewer sover ons ry. ‘n Interessante
vroutjie wat met haar tiener seun reis, vertel dat hulle tien jaar in SA gewoon
het. Sy is van Poland en hulle seun is in Suid-Afrika gebore, tans woon hulle
in Houston. Garbo doen ook sy bes om ons ‘n paar basiese woorde soos
asseblief en dankie, ja en nee in Hongaars te leer en moet ons soos in ‘n koor
dit elke keer herhaal.
Budapest: Die uitspraak is nie Budapest
nie, maar soos in Budapescht, want sê Garbo, “pest” is die naam van die siekte
waaraan duisende Europeërs gesterf het. Die bussie neem ons direk op na die
Gellért Heuwel, vanwaar ‘n panoramiese uitsig oor Budapest gesien kan word.
Die statige Donau rivier verdeel Budapest met Buda aan die een kant en Pest aan
die ander kant. Buda is bergagtig en Pest is gelyk en meer van ‘n
vlakte. Eers in 1873 na baie politieke drama het dit Budapest, hoofstad van
Hongarye geword. Op die hoogste punt van die heuwel waar die “Citadel”
(fort) gebou is, staan ‘n standbeeld van ‘n vrouefiguur wat ‘n palmtak omhoog hou,
14 meter hoog en op ‘n voetstuk van 26 meter hoog. Die standbeeld was die
werk van ‘n Rus in 1947 om die Russiese oorwinning in die Tweede Wêreld oorlog
te herdenk. In 1990 met die val van Kommunisme was die standbeeld toegelaat
om te bly staan en dra die naam “Freedom”.
Die Gellért heuwel is perfek om die hele Budapest
in ‘n neutedop vas te vat, wat Garbo, gebore in Pest en getoë in Buda , dan ook
doen. Die Parlementêre gebou, nà Buckingham paleis die grootste gebou in
Europa, is majestueus. Die kasteel, kerke, paleise staan hoog uit en vir my
die mooiste is die brûe oor die Donau rivier wat Buda en Pest met mekaar
verbind....ingenieurs wonders.
Hévíz: (Warm water), Hier is warm
baddens en trek baie besoekers wat om gesondheidsredes in die warm meer hang.
Plek-plek bedek met water lelies en die tweede grootste warm water meer, tot
32ºC, in die wêreld. Ons het dit nie nodig geag om in die meer te hang nie,
maar het wel op die treintjie wat Hévíz deur ry, gespring en in gietende reën
Hévíz deur die plastiek gordyntjie gesien. Dis ‘n moderne stad gebou vir die
kommunistiese party-leiers van weleer.
Kis-Balaton: Hierdie is die “swamps”
omgewing en is beskermende gebied met duisende voëls wat hul neste in die riete
bou, en is gewild vir voëlkenners wat oor die wêreld kom voëls kyk.
Keszthely: Die hoofstad en oudste
dorp van die Balaton-meer omgewing. Hier staan ‘n statige paleis, omring deur
‘n Engelse park en fonteine. Dit huisves ‘n museum, biblioteek en musiek
konserte word in die saal van spieëls gehou. Ons sit op die plaveisel omring
deur mooi plante en fonteine en voel soos “konings” en drink ons cappuccino,
terwyl ‘n man ons oortuig het dat hy ons motor onder sy oë sal hou waar ons in
die straat parkeer het en terselfdertyd haal hy twee handevol kersies uit sy
rugsak vir my. In ruil hiervoor het Philip hom vyf honderd Hongaarse Forint
(€2) gegee. Die kersies was nou wel suur , maar toemaar!
“A 1000 years of the horse” word die vertoning
genoem wat ons een aand bywoon. Hongaarse geskiedenis word deur kranige
perderuiters in twee ure voorgestel. Die kommentaar was in Hongaars en in
Duits en daarom kon ons nie alles volg nie, maar jy kan nie miskyk dat die
Hongare reeds sedert die tyd van Atilla die Hun bedrewe perderuiters is nie en
baie oorloë is vanaf perde se rug geveg. Juis te meer omdat ek ook lank-lank
gelede perd gery het, het ek besef watter ongelooflike kundigheid hierdie jong
perderuiters oor beskik. Dis dan ook hier wat ons die aand Hongaarse goulash
op sy beste geniet. Die kok het dit in ‘n enorme swart pot wat aan ‘n
driepoot hang oor ‘n vlam gaargemaak. Oral waar ons kon, het ons goulash
bestel en was nooit teleurgestel nie.
Wyn proe in Szigliget: Ons het gehoor van die
gunsteling Hongaarse Tokaj wyn en toe het ons die laaste aand weer met die
bussie en Garbo as gids die sogenaamde “kelder partytjie” bygewoon. Dit sluit
in die proe van 4 verskillende wyne wat op ‘n besondere oorspronklike manier
aangebied was. Ons kan nie sê die wyn het in ons smaak geval nie. Die
wynkelder is uniek en beslis die grootste wat ons nog besoek het. Die aandete
wat beloof het om 2000 kalorieë per persoon te wees, was nie uitstaande nie.
Jy kon wyn drink soveel as wat jy kan!! Hiermee saam was volksdanse en musiek.
Weereens was Hongaars en Duits die voertaal en die Duitsers het oorgeneem met
hul sang, handeklap en arms inhak. Dit blyk dat of hulle nou van Dresden of
München kom, almal saam gesels en saamsing.
Herend: Hier besoek ons die porselein
fabriek. Sedert 1826 word wêreldklas porselein hier gemaak. Na die val van
kommunisme behoort 75% van die aandele aan die 1700 opgeleide werkers en 25%
aan die staat. Ons geniet die toer deur die fabriek. In 1999 het hulle ‘n
hiper-moderne gebou opgerig wat ‘n museum, mini fabriek vir besoekers,
restourant en winkel insluit. Alles baie keurig en ons drink cappuccino uit
fraaie porselein koppies. Tydens die vorige bedeling het hulle “rejects” op
die markte verkoop. Sedert privatisering is dit gestaak en word “rejects”
gebreek!!! As jy in ag neem dis alles met die hand, dan kry jy baie respek
vir daardie hande.
Ons het heelwat in die platteland gery en was
beïndruk met alles wat ons gesien het. Netjies bewerkte landerye vol
sonneblom, koring, mielies, canola en lappies wingerd tot in die voordeur.
Op ‘n sekere manier het die plattelandse dorpies ons aan SA van 40 jaar terug
herinner.....skoon, rustig met blomme in die voortuin en groente en vrugtebome
in die agtertuin.
Ons kort besoek aan ‘n klein stukkie van Hongarye
was positief. Ons hou van Hongarye en die vriendelike diensgerigte
Hongare. Vergelyk met Wes-Europa en Suid-Afrika is ALLES tans relatief
goedkoop.
Op hierdie noot sluit ons besoek aan Hongarye na 7
dae af en skuif ons die volgende dag nog voor die haan kraai aan na Kroasië.
To the top!

|