Een dag was 'n Liefdeslied
Deur
Evette Lombard©
Mei 1999
Enige iemand vir wie dit klink asof ons niks
anders doen as shop nie, luister hierna:
Sondag oggend na huiskerk sit die liedjie
“Verlustig jou in Hom”, in my kop vas. Ek weet sommer dat ʼn dag wat so
begin, ‘n goeie dag sal wees. Pa vat ons vir ‘n Sondag uitstappie op teen Monte
Generosso. Die idee is om by al die klein prentjie dorpies wat Ma ‘sleepy towns’
noem, te gaan rondloop en ons te verkyk aan als. Terwyl ons Bissone binnery,
speel die kerkklokke hulle tienuur melodie. Ons tref die eerste dorpie, Castel
San Pietro in die middel van die oggend Mas. Staan op die trappies buitekant,
voor die enorme houtdeure. Van binnekant kom ʼn soete lied. Stem van
ʼn man, maar soos die van ʼn seuntjie. Die stem was onskuldig en
eerbiedig. Die stem het ook outoriteit gehad, die stem van ʼn leier want
hy sing voor en dan volg die gemeente met die refrein. Halleluja, halleluja,
…sing, sing… Senore Grande is al wat ek kon uitmaak. Daar in die middel van
nęrens trek ʼn loflied op aan dieselfde God wat ek ook ken. Soos ʼn
pyl uit ʼn boog. Ek dink die engele se tone het omgekrul van lekkerkry!
Die volgende slapende skoonheid is Casima.
Ons dwaal in ʼn binneplein in en daar vanuit die boonste vensters, kom
viool musiek. Die mooiste, mooiste musiek. Musiek wat so suiwer klink soos
wat die lug skoon is. Dit sit natuurlik ons verbeelding op hol en ons wonder
of dit ʼn musikant is wat speel dat die berge antwoord gee en of dit ʼn
student is wat saam met ʼn opname oefen en of dit maar net ʼn musiek
liefhebber is wat in die oggendson sit en musiek luister. Is die musiek
liefhebber oud of jonk, man of vrou, hoe lyk sy huis, is hy alleen, is hy
gelukkig. Is hy so gelukkig soos wat hy ons nou gemaak het?
Al op en op met die pas, deur die ongelooflike
groen bos en ontsettende hoë berge kom ons by Muggio. Daar is ons net betyds
in die spoelklippie straatjies om ʼn familie te hoor dankie sę vir hulle
middagete. Eers sing hulle saam, dan die pa alleen en dan val die mamma in.
Daardie ete was beslis geseën.
Soos ons tussen die huisies deurloop is daar
doodse stilte behalwe vir 3 klanke. Messe en vurke op porselein borde, motors
wat verlangs toet soos hulle om die haarnaald draaie ry en die klokke van die
beeste op die weivelde. Ek wonder of die woord pastoraal die regte een is.
Asof daar ʼn Herder is wat besig is om ʼn simfonie te skryf. Alles
vir Homself, vir Sy glorie sit Hy ook op ʼn Sondag oggend en luister na
musiek! Wat ʼn seën om my “Suid Afrikaanse” God, in Switserland te
ervaar!
To the top!

|