Paasfees by Mendrisio, Ticino

Deur Philip de Bruin©

Maart 2005

Baie dorpies en kerke in ons omgewing het een of ander spesiale viering tydens Paasfees. Een van die oudste van hierdie vierings en prosessies is by Mendrisio, so 10 minute se ry van Campione af. Eers vanjaar het ons besluit om die Mendrisio prosessie by te woon, hoewel ons voorheen vaagweg daarvan geweet het.

Die Padri Serviti (direk vertaal: die vaders wat ander bedien) het reeds in 1451 ʼn tak gestig in Mendrisio. Daar is sterk getuienis dat hulle alreeds in 1471 met ʼn prosessie tydens Paasfees begin het. Vandag vertrek die prosessies dan ook nog steeds vanaf die voormalige klooster van hierdie orde. Die huidige formaat is in 1798 gedokumenteer en sedertdien blykbaar gereeld elke jaar gehou.

Die eerste prosessie is op Donderdagaand. In Italiaans is dit Giovedì Santo, in Frans Jeudi Saint, in Duits Gründonnerstag en in Engels Maundy Thursday. Die Engelse Maundy kom van die latyn vir “opdrag” (mandatum) uit Joh 15:12: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” Die seremoniële was van voete van armes en gevangenis deur belangrike amptenare vind nog steeds by sommige vieringe op Donderdag plaas.

Die prosessie vind na ete plaas omdat die Donderdagaandete die herdenking is van die Laaste Avondmaal en die instelling van die Eucharist of nagmaal. Vir die prosessies huur Mendrisio deesdae kostuums by La Scala in Milan sodat dit so histories outentiek as moontlik sal wees.

Die stadsraad van Mendrisio is baie gesteld daarop om dit 'n historiese prosessie te noem om nie die ander gelowe wat in Mendrisio bly uit te sluit nie. Ons het ook 'n Indiër familie gesien, met die vroutjie 'n Hindu rooi kol op die voorkop, wat kom kyk het. Maar wanneer die prosessie verbykom weet jy dis 'n toegewyde Christen prosessie met hoofsaaklik Christen toeskouers.

Die prosessie het dan ook teen 20:45 begin met Romeinse soldate te perd, gevolg deur seuns wat die hamers en spykers dra en dan trompetblasers gevolg deur ʼn kennisgewing van die vonnis met die S.P.Q.R. seël daarop. Dan die soldate van die Sanhedrin, die bevelvoerende Centurion te perd en seuns wat die lere dra. Die opgesweepte gepeupel word dan uitgebeeld deur ‘n Romeinse soldaat op ʼn pikswart perd met ʼn pikswart banier met die woorde Crucifige Eum (Kruisig Hom!). Hoewel daar duisende toeskouers is gebeur die prosessie in doodse stilte. Jy hoor net die klop van die perde pote, nou en dan die trompette, en soms die geklingel van kettings. Daar is heelwat Rooms Katolieke tradisies in die optog waarvan ons nie in die Bybel lees nie soos Longino (wat die lans hou waarmee Christus in die sy gesteek sou word), Ungino (wat Christus, met die kruis op sy skouer en aan die hande vasgebind, rondsleep), en Veronica wat Jesus se gesig op ʼn stadium afgevee het. So aangrypend dat ek ʼn sterk emosie moes onderdruk om die karakters van Annas en Kaiafas nie uit te jou nie! Al die bekende karakters was in die prosessie: Simon van Cirene, Pontius Pilatus, die drie Marias, die dissipels, koning Herodus, Joseph van Arimathea, Nikodemus, die twee diewe wat saam met Jesus gekruisig sou word, en klomp ander karakters om die storie te help vertel soos die vier dobbelsteen-spelers wat so elke 100 meters eers Jesus se kleed op die straat oopgooi en hulle dobbelstene gooi om te bepaal wie die kleed kry. Die totale roete is seker sowat 4km deur die ou straatjies van Mendrisio.

Vrydagoggend is ons weer Mendrisio toe om na die antieke transparante te gaan kyk. Oral deur die dorp is die transparante aangebring, sommige eeue oud, wat slegs gedurende Paasfees vertoon word. Hierdie transparante vertel die storie van die Ou en Nuwe Testament baie grafies en verstaanbaar. Blykbaar het die Padri Serviti hulle prosessie gedoen met lanterns en transparante sodat die ikone en skilderye van agter belig is. Nodeloos om te sê, jy sien dit amper nie eers raak in die dag nie!

Die Vrydagaand prosessie beeld die groei van die kerk, spesifiek die Roomse Kerk, na die opstanding uit. Alles weer in stilte hoewel daar die keer drie vrolike orkeste deelneem aan die prosessie. Die transparante in die strate is belig. Letterlik honderde lanterns word gedra wat transparante van agter belig wat die Passie van Christus in sketse en skilderye uitbeeld. Baie Rooms Katolieke “relics” in die optog, soos namaaksels van die kruis, die spykers, die sweep, die doringkroon, die dobbelsteentjies, die kleed wat in die graf gevind is, en selfs ʼn “simulacro del Christo morto” – ʼn beeld van die dooie Jesus op ʼn draagbaar wat op die skouers gedra word van vier jong mans in swart begrafnisondernemer pakke. Hier het ek ʼn sterk emosie gehad om uit te roep: “Ma Gesù è risorto, è vero risorto!” (Maar Jesus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!) Ek het egter besef dat dit wel die tema van die prosessie en die hele Paasfees viering is. Ek sou dit miskien net bietjie anders wou uitbeeld!

Na die Passiespele in Oberammergau in 2000 het ek gedink geen ander voorstelling kan die storie beter uitbeeld nie. Ek is verkeerd bewys in 2004 met die film The Passion of the Christ. Ek is weer verkeerd bewys in Mendrisio. Hiérdie storie, die Passie van Christus, bly nuut en vars en raak my emosioneel elke keer. Al is dit meer as 2000 jaar oud.


To the top!


footer for Paasfees page