Mieliepap tot Polenta
Deur Catrien de Bruin©
Februarie 2006
Ek sal nooit die wonder van binne 10 ure in 'n
ander wêreld land, gewoond raak of vanselfsprekend aanneem nie. Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors en Raadsman kom by my op, hoe groot en wonderbaar!!!
Johannesburg Internasionaal was oorvol met lang
toue en min personeel as gevolg van die stakings. Dit het ons nie gepla nie,
want tyd was aan ons kant. Die goeie nuus dat ons vier sitplekke vir onsself
mag gebruik was 'n bonus en toe Philip sê ek mag drie van die vier sitplekke
gebruik om reguit te slaap, het ek gevoel om te dans.
Ons het reguit na Maun, Botswana, noord oor
Wes-Afrika, Tunisië, Sardinië, Korsika, direk noord na Switserland gevlieg in
10 ure aan 8,435 km. Swiss Air lines was nie stampvol nie en dit was die
rustigste vlug in 'n lang tyd.
Ons land presies op die gepubliseerde tyd nl. 6h06.
Buite pikdonker en mistig met sproeireën, 2 grade. Dankie VADER vir 'n
moderne lughawe om mee te begin. Soos Engelse sout deur doeane en toe op die
selfaangedrewe treintjie na die "Airside Center". Kan nie help om te
wonder wat die "prinsies" van hierdie treintjie sonder drywer sal sê
nie. Ons het drie ure om hierdie paradys op aarde te verken voor ons
aansluiting na Lugano. Wat was ons verras om alles oop en in werking te
vind. Philip offer die Swiss sitkamer op om saam met my die sentrum te
verken.
Ons begin met vars uitgedrukte lemoensap voor ons
oë gedoen, net vir ingeval iemand dalk mag dink dit kom uit 'n blikkie.
Wat sien en beleef ons? Net-net te laat vir die
120 oorspronklike werke van Hundertwasser in die Event Dock wat op 12 Februarie
gesluit het.
Chalet Suisse restaurant met tipies Swiss
handgemaakte meubels (soos Heidi se Oupa gemaak het) en tipies Swiss cuisine.
Ons hou verby.
En toe "Boutique du Chocolat", sedert
1836, ek ruik dit op 'n afstand, my binnegoed draai om en my soet tand wil met
geweld uitspring. Catriena, sjokolade op jou nugtermaag is moeilikheid!!!!
Hulle is almal daar...Lindt, Sprungli, Toblerone, Cailler en nog meer. Die
sjokolade maker staan reg met sy koperpotte, die een vol wit en die ander vol
bruin kakao om te begin met sy handgemaakte kunswerke vir die dag. Natuurlik
maak ek 'n prentjie....hy werk saam....ooglopend gewoond om model te speel,
maar ek meen dis darem net 7h30. Hy bied 'n gratis chokkie aan. Ek kies die
donker Cremant, my gunsteling.
Lekker was nog nooit sleg nie.
Kaviaar huis sedert 1950. Hierdie is by ons
verwysingswêreld verby. Die jong Swiss dametjie is vriendelik en meelewend en
nie suinig met inligting nie.
Balik is die naam vir
gerookte salm in die wêreld.
Die verskillende kaviaar
variëteite, hoofsaaklik uit die Kaspiese see, ryg sy uit asof sy die alfabet
opsê.
Dan kom die "Foie
Gras", gans lewer.
Nou die Truffels, swart
truffel mosterd, mayonnaise met swart truffel, vinaigrette a la truffe en wat
nog meer.
Wyne en spiritaliëe,
sjampanje en Wodka.
Tee uit die jaar honderd,
Earl Grey, English Breakfast, Royal Gunpowder, Adams Peak ens.
Olyfolies en Balsamika uit
Modena.
Sjoe, wat 'n "huis" van onvoorstelbare
delikatesse. Ek mag prentjies na hartelus maak. Ek vra toe die vraag wat lank
in my kop broei.....watter ure werk jy hier? Sy sê dis van 6 in die oggend
tot 10 uur die aand......waau!!!!
Emporio Armani, is volgende om voor ons in te
val. My oog val dadelik op die brosjure wat beloof om iets om die lyf te
hê. Die ander nommertjies sal ek ook graag om my lyf wil hê, maar dit hoef
nie. Hier tref ons 'n mannetjie wat 'n kursus in meelewendheid geloop het,
want op my vraag of ek asseblief die brosjure mag kry antwoord hy: "I
give you a box". Ek dink dadelik ek wil nie 'n boks hê nie, wat moet ek
daarmee maak, maar hy verdwyn agter die gordyn en kom terug met 'n plastiek sak
vir al my brosjures wat ek teen die tyd versamel het. Met 'n elegante buiging
van sy kant kry ek die brosjure en gaan dit saam met die res in die "DUTY
FREE PARADISE" inkopiesak, wat hy 'n "box" noem. Ek glimlag
dankbaar en voel sommer baie meer proffesioneel met my "box" oor my
arm.
Burberry London is my gunsteling....wil alles hê en
om my hang, maar hou verby. Hulle maak verskoning vir die feit dat hulle geen
brosjures het nie, maar ek moet asseblief volgende keer weer kom. My oog val
op die handsak vir net Fr695!!!!
Byna 'n vliegtuigkaartjie se prys.
Die res is almal daar van Hugo Boss vir die manne,
Bulgari met horlosies en juwele vir die koning, Schweizer Heimatwerk-The House
Of Craft, Navyboot vir skoene en handsakke, Hermes met die mooiste syserpe,
Dream Corner waar elke kind sy droom kan uitleef, Guess, waarvoor jy 'n tiener
moet wees.
So vlieg drie ure baie vinnig verby en is ons reg
vir die nuwe wêreld wat op ons wag.
Die Edelweiss Air bus neem ons na die
aansluitingsvlug vir Lugano en presies 9h30 styg ons op.
Dit reën saggies en baie gou verdwyn ons in 'n wit
miswolk met geen uitsig oor die Alpe nie. Binne 30 minute sak ons vir Agno,
Lugano lughawe. Darem so 'n vinnige oog op die meer en omringende berge kon
gooi...duidelik hoog winter en lappe spierwit sneeu.
Teen 11h00 laai die taxi ons voor La Residence se
deur in Campione af. Ons harte loop oor van dankbaarheid vir soveel voorspoed
wat ons beleef uit VADER hand. Die nessie is stofvry en gou-gou is die twee
tasse uitgepak en ons skuif aan na die Ralley Club vir ons gebruiklike pizza.
Nou tref die 2 grade buitekant ons sumier. Sonder jas, serp en handskoene sal
ek nie ver kom nie. Die Ralley Club personeel ontvang ons vriendelik en
alhoewel ons dadelik opmerk dat die pizzaman vervang is, was die pizzas nog
steeds 'n wenner. Seker die resep agtergelaat.
Intussen het dit hewig begin sneeu en die bestaande
walle sneeu raak net hoër en witter. Alles gebeur so stil, wit en misterieus.
Dankie tog vir die luukse van sentrale
verhitting. Oral krul rokies by die skoorstene uit.
Tyd om die polenta in die pot te kry.
To the top!

|