![]() |
||||||
|
Ek begin by die onmiddellike …… baie bewerig , maar vol selfvertroue het ek vanoggend een van die drie haarsalonne in Campione aangedurf, nadat ek hulle vir 'n dag of twee goed dopgehou het, het ek my visier op ‘Salone per Signora’ geplaas, my Italiaans in rat gekry, en wat was ek verras toe ek sommer dadelik ‘gekap’ kan word , soos in “SUBITO”. Ek wou nog vra vir prentjieboeke om 'n voorbeeld te wys, toe sit ek alreeds voor die wasbak, en hoor my vriendin Isabel se stem “ek wys 'n prentjie van Sophia Loren, maar die resultaat is nooit dieselle nie”. Ek het net gebid en gevra vir eenvoud. My hare word gewas en gespoel en weer en weer – my kopvel word gemasseer. Ek het begin voel, is my hare dan regtig so vuil? Toe onthou ek van 'n frase wat ek iewers gelees het: “ In Switserland is al die geboue van porselein gemaak en elke oggend word dit skoongewas. So skoon sal ek eindig. Ek word na die kapperstoel begelei. Daar word so om my getrippel dat ek so lomp soos 'n olifant voel. Die kapster vorm my nat gewaste hare in allerhande variasies rondom en bo op my kop ….. al wat ek wil vra is net 2cm korter, maar my Italiaans laat my in die steek. Die prentjieboek word voor my ingeskuif – ek kies die mees eenvoudigste, erg teleurgesteld sê sy: “ vuole naturale?”. Op my si-si (ja-ja) het sy laat waai met skêr en knipper. Dis 'n tydsame proses, kort-kort staan sy 'n entjie terug om seker te maak of ek nog gelukkig is. 'n Uur later was ek splinternuut met my 'naturale’. Dankie Liewe Vader. Na 'n cappuccino is ons met baie ‘pregos en grazies’ uitmekaar. Ek moes belowe dat sy my weer sal sien, wie weet wanneer? Wanneer jy kan kies tussen verskeie lugrederye, moet nooit vir Austrian Airlines onderskat nie. Dit was die ultimate ….. ons het aan boord gegaan en geland met Strauss …. jou lam bene kry nuwe lewe wat jy nie eers meer van geweet het nie, so al walsende het die tien ure letterlik verbygevlieg, met soveel spasie wat selfs vir Philip soos 'n kabouter oppie stoel laat lyk. Toe ek bedank vir die CD’s wat die lugwaardin na my uithou, want ek dag dis ‘shopping in the sky’, sy beduie dis 'n gift. Ek was uitgeboul. Philip kies Schubart en ek Lizst. Mozart en Strauss was reeds gekies. Ons was so ontspanne en bewusteloos dat ons op Zurich, 'n uur na Vienna, ons vlug na Lugano verpas. Daar is herhaaldelik vir ons uitgesaai, maar ons het nie ons name in die Duitse aksent erken nie. Die kinders sal sekerlik die foukie in die annale wil opteken. Ons maak gebruik van die luukse storte op Zurich lughawe en voel splinternuut en wakker toe ons 2 ure later gelukkig 2 plekke op die vlug na Lugano kry. Die goue sleutel sluit ons apartemento oop en siedaar ons voel tuis – 'n stukkie bekende ….. dankie Liewe Vader. Signorini, die nuwe landlord in ons lewe, het niks gedoen wat hy belowe het nie, maar dis ok niks, ons sal planne maak. Ons moet dadelik werk maak aan ons “Permesso di Soggiorno” anders skop die polisie ons uit. Donderdag was vakansie ….. hier nog Hemelvaart ….. soos in die ou dae by ons. Vrydag vroegoggend is ons Como toe, net oor die grens in Italië. Peter Wehner, ons Duitse agent wat vlot Italiaans praat, ry saam. Italiaanse burokrasie is niemand se speelmaat. Ons aansoeke gaan deur, nadat ek nuwe fotos moes laat maak, want myne was verskillend!! Oor ses weke kan ons die “permessos” optel, dan is ons wettig in die land. Op pad terug oppie snelweg pak Avis se Opel, se ratkas in die chaotiese verkeer op. Peter sê hy weet hoe …. Philip uit agter die stuurwiel – die Afrikane stoot – die Duitse rympies help niks. Philip terug agter die stuurwiel …. nou net met 3de en 4de rat! Toe die koppelaar plaat vasbrand en ons sien hoe die rook onder die motor uitborrel, gryp ek my baadjie en ons sit gereed om uit te spring, maar dankie Liewe Vader ons haal einde van die outostrada . In Lugano het Avis sonder slag of stoot die Opel omgeruil vir 'n bloedrooi Ford …. stel jou voor! So is daar vir alles 'n eerste keer. Ons het geland met 26 grade, maar intussen het dit geval na 16, van gister af is dit bewolk met sagte reën en selfs donderbuie ….. ons voel tuis. Alles is “molto bello”. Word vervolg, Arrivederci, Catrien.
|
|||||
Ons het 2 baie lang dae (letterlik) agter die rug. Iets soos 50,000 myl reis oor 4 kontinente, 8 oseane, 25 lande, 30 grense in 2 dae. Goed dis oordryf maar dis soos dit voel. Maandagoggend in Lugano begin, 'n uur later op Zurich. Vanaf lg. na Montreal wat 7 uur 30 min duur en ja hier word ons opgegradeer na eerste klas op Swissair. Wat 'n reuse blessing, uit ons Vader se hand, ons jubel en juig daaroor. Ek dag ek soen haar toe ons aan boord gaan en die kelnerin sê: “ I am sure you would not mind to take your seats in first class”. En wat 'n weelde ….. 12 sitplekke wat twee-twee gegroepeer is met genoeg spasie om tussen in te dans!! Nodeloos om te sê dit was 'n luukse sonder einde. Dis waar die kaviaar innie prentjie kom, disse soos buckwheat pancakes with sour cream, strips of chicken smoked with black tea leaves, Tsar Nikolay Balik (nog nie ontmoet nie) fillet, oven baked rhubarb. Alles word opgedien in porselein en silwer – gepaard met tonne vriendelikheid en sjarme.
Intussen rek die dag en word al langer. Ons land op 'n oorvol Montreal ….. hier is herinneringe ….. in 1994 het ek gevoel of ons, ons dogter vir die wêreld offer toe ons haar op hierdie lughawe aflaai op vir haar walk-about in Europa. Dis chaoties en ons moet hardloop om bagasie, doeane ens. tussen die massas te organiseer na Winnipeg en outomaties na Regina. Dis ver by slapenstyd verby en die oorvol Canadian lugbus, word 'n harde werklikheid. Teen middernag arriveer ons (baie dankie Liewe Jesus) veilig in die Saskachewan hotel. Ons is nie seker watter siekte ons het nie, maar die simptome is die van hoenderkop, seerlyf en seer oë. Philip is 13h00 wakker en ek 15h00 – uitgeslaap. Teen 5 uur staan ons op. Sy eerste kliënt sien hy 8 uur en 10 uur moet hy 'n aanbieding doen. My simpatie is by hom. Vanmiddag 14h00 slaan ons albei stokflou oppie bed neer - slaap asof onder narkose. So pas ons liggame langsamerhand aan by die vreemde tydsone.
DV moreoggend 6h00 haal ons die vlug vir San Fransisco via Calgary. Philip het 'n baie vol program. Ons gaan by Creg en Sandy Carse in Los Altos vir 3 dae tuis. Vrydagaand is dit Okavango reünie met res van die Amerikaners wat in 1989 saam was op safari na die Delta in Botswana. DV Saterdag skuif ons aan na Houston. Bid vir energie. Liefde en verlange. De Bruinkies.
14 Junie 1998
Ek was bevoorreg om Philip se aanbieding by te woon, ek verstaan niks!! Wat ek wel verstaan is dat hierdie Amerikaners beïndruk was, aanvanklik het hulle vrae gevra, maar al hoe stiller geword. Hulle het regtig met oorgawe reageer op alles wat hy oorgedra het.
Ons het by Gregg & Sandy in Los Altos ingeval, nadat ons weer omtrent 2 ure op die paaie was. Afstande is lank en ver. Hier beleef ons die praktiese Amerikaanse gesinslewe – 2 aande agtermekaar is die kinders se ‘graduations’. Sandy en haar dogter Lauren (12 jaar) het pas ooreengestem oor wat sy sou aantrek vir die okasie. Ek het Lauren laas op 3 jarige ouderdom gesien en vandag hier staan 'n pragtige tiener met bos lang wit hare – mooi figuurtjie op hoë-hoë-hoë hakskoene . Sy praat en ek verstaan nie 'n woord nie – wat 'n aksent!!
Sandy wys ons die kruie en groentetuin wat sy self plant en oes – ons sinne word kort geknip deur benoude gille van Lauren se kant. Die noupassende rokkie se synaat het dit nie gemaak nie – oopgeskeur!!! Ek is stom verbaas toe Sandy die naaimasjien wat opgestel staan, pak en die naat met hewige zig-zag steke toestik –Waau – Lauren se trane loop oor haar wange, want dis die rok wat sy wil dra en DANKIETOG vir mamma Sandy en 'n naaimasjien gaan sy die nommerkie vanaand dra. Die is net om te illustreer dat selfs in Amerika skeur die 'nate’.
Philip het elke dag afsprake gehad. Sandy werk – ek kon heerlik stap en ontspan in hierdie landelike omgewing waar die inwoners hul eie perde op die grooooot erwe het. Bokkies wei in die parke. Gregg het my een oggend geskiet vir koffie. Vir my 'n okasie, want ons ry in sy BMW sport met die wind in my hare. Ons staan in 'n ry en kry koffie in weggooi karton bekertjies, dan sit ons buite oppie sypaadjie op 'n park houtbank. Die volgende oggend was Sandy los en hulle vat ons vir koffie en croissants na presies dieselfde koffieshop ….. met 'n stukkie eksentriekheid ….. Sandy neem haar eie groot koffiebeker en groot waterglas saam. Dis duidelik hulle is ‘regulars’ hier. Ons kies ons koffie en stap 'n blok ver met die brandende koffie kartonnetjies in ons hand na die bakker vir die croisants. Hoe werk dit nou? Dis eenvoudig …. lekkerste koffie by die een en lekkerste croisants by die volgende.
Vrydagaand was almal, behalwe Paula en Terry daar vir die Okavango reünie. Ons het gaan uiteet , nodelooos om te sê elke okasie is weer hersien en met kleur en geur herhaal. Hulle het eenparig besluit om DV in Aug volgende jaar weer na die WILDERNIS te kom.
Volgende was ATLANTA. Ons was baie bederf deur Adele van SA wat daar woon. Sy het ons taxi gery en alles uitgewys, o.a. die MARTA wat vir die volgende 3 dae my publieke vervoer sal wees. Dis die publieke trein wat meer bogronds as ondergronds loop. Atlanta kan net sowel Pretoria wees, net alles in die oortreffende trap van BAIE. Daar woon ook baie SAfrikaners.
Hierna was dit HOUSTON in TEXAS. Ek het niks om te sê nie, want daar is behalwe die BAIE, niks. Die kliënt het nie sy afspraak met Philip op die afgesproke tyd nagekom nie, want sy sekretaresse het hom nie herinner nie. Hy het wel die aand na die hotel gekom, waar Philip toe 'n “room” en 'n skerm moes huur. Alhoewel die skerm nie wou werk nie, het Philip sy kant gebring.
Gister het ons in MIAMI geland, woes verdwaal en lank gesoek vir die pragtige Biltmore Hotel wat vanaf 1926 dateer en in Spaanse boustyl is. Philip laat vir sy afspraak, maar darem ook weer mooi afgeloop. Gisteraand met Deon, Riaan en Moira in die hotel se “La Palme d’Or “ geëet. die chef is vanaf Nice net vir 'n week . Franse cuisine was manjifiek. Vandag het die voos en fodde (weet nie meer mooi van die f ov die v nie ), op ons toegeslaan. Vanoggend tot 9h00 geslaap. Met nuwe energie die pad gevat na Key West waar jy op 'n stadium die Golf van Mexiko aan jou linker en die Atlantiese oseaan aan jou regter het. Hier is baie koraalriwwe en wou ons graag op 'n boot uitgaan om te snorkel, maar was te laat en te vroeg. Die Everglades met moerasse en dierelewe is ook in die omgewing, maar ons het dit oorgeslaan. Die hitte en vogtigheid is so erg, ons kan nie buite asemhaal nie. Ons het teruggekom en in die hotel se swembad (grootste in die VSA) se warm water geswem.
DV môre die terugtog na CAMPIONE …. wat nou al soos ‘tuis’ voel. Sien uit om die 2 tasse vir 2 kamers te ruil.
Baie dankie vir die E-pos wat so mildelik van SA kom. Ons waardeer dit. HAVE A NICE DAY, De Bruinkies.