Passo San Lucio

op die grens tussen Italië en Switzerland

Deur Catrien de Bruin©

April 2008

Ons is reeds in die laaste week van Maart met April in sig, wat amptelik die begin van die Lente in die noordelike halfrond is. Teen alle verwagting is reën met sneeu op die berge nog in volle swang. Die lug ysig koud.

Die oggend staan ons op met volop son en wolklose blou hemel. Net die nodige inspirasie vir ‘n uitdaging soos die uitstap van Passo San Lucio, 1541 m hoog, tussen Italië en Switserland. Ons benader die pas van die Italiaanse kant. Haarnaald draaie en smal paadjies deur verskeie dorpies bring ons by Buggiolo in Val Rezzo die punt waar die motor moet agterbly.

BokkeHoe hoër ons vorder, hoe minder son en hoe meer wolke. Dis Heidi wêreld - bokke met klokke om die nek – berge en dale – valleie met saamgekoekte huisies. Die oppervlakte van die pad wissel van plaveisel tot gruisklippies tot grond. Plek-plek sneeu wat ys geword het – seepglad!! Nou verstaan ons waarom almal met nordiese stapstokke hierdie tipe van dril aanpak. Hakke inkap en treetjie vir treetjie aanskuif. Die geelwortel is middagete by die Rifugio San Lucio – aanhou en deurdruk.

KerkBehalwe vir 4 medestappers kom ‘n man op ‘n perd by ons verby. Lyk asof hy elke dag die paadjie uitgalop. Na 2 ure om die laaste draai kom ons ‘n laat 16de eeuse kerk tee – afgesonder en stil in die sneeubedekte landskap. Nog ‘n verdere 10 min en die Rifugio met mamma se kos is in sig. Die Rifugio was voorheen ‘n kaserne vir Italiaanse doane personeel op die grens met Switzerland. Dis ‘n eenvoudige hut uit klip gebou waar jy etes en oornag kan kry as dit moet!!

Die nordiese stapstokke voor die deur dui aan dat heelwat mense voor ons begin stap het! Ons word vriendelik ontvang en plek aangewys – alles baie-baie ‘rustic’. Gesellig met die kaggel wat brand en die Italianers kwetter soos voëltjies. Ooglopend geen toeriste; plaaslike besoekers – almal ken almal – en daar word lekker gekuier.

AntipastaSignora rits die kos van die dag af – jy het nie ‘n keuse nie! Na hierdie oefening die berg op is ons in elk geval desperaat vir wat ookal na ons kant kom. Ons begin met verskeidenheid koue vleis – salame, bresaola, pancetta. Stewige porsie oondgebakte bokvleis met polenta en geurige sous. Drie soorte kaas en ten minste ‘n halwe tuisgebakte brood. Die kraffie met rooi huiswyn word eers op die stofie gesit om te verhit. Ons verlustig ons aan hierdie lekkerte vir ten minste een uur. Met nuwe hitte in ons beendere en binneste is dit ‘arrivederci e grazie’, tot ons weersien en dankie!!

Passo San LucioO genugtig – hier spring ‘n nuwe wêreld voor ons in, toe ons voet by die hut uitsit. Drie ure later en die Alpe met sy wit yskombersie is ‘n werklikheid – ‘n skelm windjie het opgestoot en waai dwarsdeur jou sinusholtes met fyn poeiersneeu teen jou wange. Jare se ondervinding tel nou punte – ek het darem serp, handskoene en my vriendin Zelna se oormus om op terug te val. Dis afdraande en jy moet jou trap ken of dis voete onder jou uit, want die ys is glad. So skuif-skuif , loopneus, gly ons terug. My voete leweloos van die koue, toe ek kla, sê Philip ek moet maar op die stompies deurdruk, want om my te dra sal sy lewe kos!

Sodra jy dink jy kan nie een tree verder nie , is die einde in sig. Na 'n totaal van 4 ure, en 8km agter die rug, was ons terug by die motor. Op hierdie leeftyd is ons ekstra dankbaar vir soveel genade om die natuur met sy eie gallery waar GOD se kreatiwiteite konstant uitgestal word te benut en te geniet.


To the top!


footer for Passo San Lucio page