Piemonte
Deur Philip de Bruin©
April 2006
In al die jare wat ons in
Italië bly, of Italië besoek het, het ons nooit Torino besoek nie. Dikwels daar
verby gery Frankryk toe, maar nooit die behoefte gehad om Torino te sien nie.
Vanjaar, met al die publisiteit wat Torino gekry het vanweë die Winter
Olimpiese Spele daar gehou, het ons besluit ons moet darem gaan kyk.
Die volgende uitdaging was
om ʼn naweek te kies met aanvaarbare weer. Hierdie jaar se weer was erg
wispelturig. Die seisoene het ongeveer met een maand geskuif. Ons het ook
geleer dat die voorspellings nie altyd betroubaar is nie. Volgens die
voorspellings sou 8 en 9 April ʼn venster oopmaak vir sonskyn. Hoe nader
aan die 8ste hoe onseker het die voorspellings geraak. Ons is egter vroeg
Saterdagoggend hier weg en was reeds teen nege naby Torino. Ons het verby
gesteek na Avigliana toe waar, volgens die kaart, die afdraai is na Sacra di
San Michele.
Ons het ʼn paar keer in
die verlede op die snelweg verby gery na Frankryk en dan dié gebou op ʼn
bergspits gesien. In Avigliana, getrou aan die Italiaanse kultuur van chaotiese
en onlogiese padtekens, het ons by die afdraaipad verby gery. Toe ons omdraai
en terug ry is die padteken duidelik. Om een of ander rede het die Italiaanse
padowerheid besluit verkeer na Sacra di San Michele sal net van die westekant
af kom, nooit vanaf die ooste nie! Ons het dit al so dikwels ervaar maar
vergeet gewoonlik om in die spieëltjie te kyk wanneer ons by ʼn afdraaipad
verby is.
Na ʼn styl klim en nadat
ons ʼn paar keer verby ʼn afdraai gery het, was ons by die
parkeerterrein vir Sacra di San Michele. Dit is ʼn stewige opdraande stap
om by die ruïnes en die gebou te kom. Dit is ongeveer in 983 begin. Konstruksie
en vergroting het plaasgevind oor ʼn tydperk van 1000 jaar. Die eerste
kapelle is in die rots ingebou. Die huidige basilika is bo-oor die eerste
kapelle en bo-op die graniet rotse gebou. Buite kan die ruïnes van die groot
klooster, wat buite die basilika ontwikkel het gesien word. Dit was gebou in
ʼn tyd van die kultuur van pelgrimstogte, en ons kon net verwonderd staan
oor die materiaal wat met pakdiere soontoe vervoer moes word.
Hoewel dit dynserig was, was
die uitsig oor die Piedmont Valleie ongelooflik.
Ons het ʼn hotel redelik
naby die middestad bespreek waar hoofsaaklik eenrigting strate is. Dit het mooi
beplanning gekos om tot by die hotel te kom. Dis toe op die vierde vloer van
ʼn ou Palazzo. Tipies gebou in ʼn reuse vierkant met ʼn enorme
soliede hout deur as ingang/poort. Binne is ʼn binnehof waar motors
geparkeer word. Die sekuriteit is meer solied as enigiets wat ons ken in Suid
Afrika. Om by die hotel te kom moet jy ʼn antieke hysbak gebruik wat
toegerus is met moderne sekuriteitstoerusting. Die hotel gee vir jou ʼn
kode om by die hoofdeur in te kom en dan ʼn kode om die hysbak aan beweeg
te kry. Die kamer was verrassend ruim.
In die kamer kry ons toe ʼn boekie: ‘Il Vangelo
secondo Marco.’ Dit is ʼn inisiatief van die Kerk van die Waldensers in
Italië, die Ortodokse Italiaanse Kerk, en die Italiaanse Katolieke Kerk. Dit is
gedurende die Winter Spele en daarna gratis aan alle besoekers uitgedeel. Die
Evangelie volgens Markus is in sewe tale, insluitend Japanees.
Die ruim kamer was ook die
eerste indruk wat ons van Torino gekry het. Ruimte. Dis heeltemal anders as
ander stede in Italië. Die strate loop reguit. Straatblokke is regtig blokke en
voorspelbaar, nie die stegies waarin jy so maklik verdwaal raak nie. Die hoofstrate
is wye boulevards. Die piazzas is enorm, omring deur grandiose paleise. Torino
is sedert die 11de eeu gedomineer deur die Huis van Savoy, wie ook op ʼn
stadium Sicilië domineer het. Daar word dikwels na Torino verwys as ‘Palermo on
the Po.’ Die Huis van Savoy het dan ook die eerste koning, Victor Emmanuel II,
voorsien toe Torino in 1859 hoofstad van die nuwe Italië geword het. Die Huis
van Savoy het oor Italië regeer tot 1946 toe Italië ʼn republiek geword het
en die koning verban is. Die koning met sy familie is onlangs vir die eerste
keer weer in Italië toegelaat.
Die paleise van die
koningshuis is steeds die groot toeriste aantrekkingskrag van Torino. Die stad
het geweldige breë ‘sypaadjies’ onder dak waar die geboue altyd gebou is met boë
en arkades op die grondvlak om voorsiening te maak vir voetgangers.
Ons kon egter nie ʼn
hartklop, of ʼn tipiese atmosfeer, identifiseer wat jy so dikwels vind in
Italiaanse stede nie. Die piazzas is te groot. Mense doen liewer hulle
passagiata onder die arkades as op die enorme piazze.
Sondagoggend is ons na Lanzo
Torrinese. Die Ponte del Roch of in die volksmond, ponte del diavolo, is ʼn
beroemde voetbrug en tolbrug wat die gemeenskappe weerskante van die rivier
Roch verbind het. Gebou in 1377 is dit steeds aanskoulik en stewig.
Ons is toe na Ivrea. A trip
down memory lane! Ek het in 1974 vir Olivetti gewerk en ons was daardie jaar
vir opleiding in Milaan. Die laaste paar maande het ek op ʼn
navorsingsprojek gewerk in Ivrea. Ek het heelwat tyd spandeer in Olivetti se
imposante Palazzo Uffici. Vandag is Olivetti maar ʼn onbeduidende
maatskappytjie sover ons kon vasstel. Die gebou is steeds besonders, hoewel die
bome groot geword het en die gebou nie meer die roete in Ivrea in domineer nie.
Destyds het ek dikwels
ʼn nag in Ivrea oorgebly terwyl Catrien en die kinders in die woonstel in
Milaan was. Aande het ek dan saam met ander in ʼn Internasionale groep van
so tien mense, nie een vanaf dieselfde land nie, gaan eet in een van Ivrea se
tradisionele trattorias. Ek het dus nooit veel van Ivrea se ou stad beleef nie,
maar het hierdie trattorias onthou. Die ou stad was toe vir ons ʼn
verassing. Heelwat groter as wat ek kan onthou. Tipies oud Italië. Soms selfs
vervalle. Dit was Palm Sondag en mensies het gestap met die gebruiklike
olyftakkie in die hand. Die groot plein was nie meer soos ek dit onthou nie,
maar die brug wat in die Romeinse tyd gebou is, is steeds in gebruik en baie
aanskoulik.
In die ou stad was daar toe
verskeie trattorias en ons word gelei om die Trattoria La Mugnaia te kies. Wat
ʼn fees! Pragtig binne met die heerlikste tuisgemaakte pasta en lam-tjops
soos ons nog nie in ons lewens geëet het nie. Die egpaar wat dit besit is van
die mees meelewende wat ons vir ʼn lang tyd teëgekom het. Die man is
maestro in die kombuis en sy vrou hanteer die restaurant en bediening met styl.
Dis net hulle twee!
La Mugnaia, direk vertaal
uit die dialek, beteken die meulenaar se dogter. Elke jaar met Ivrea se
Karnaval word ʼn plaaslike meisie gekroon as La Mugnaia, ʼn tradisie
blykbaar sedert 1808. Die trattoria het dan ook die foto’s van sowat die laaste
15 jaar se wenners.
In ʼn systraatjie daar
naby is ʼn gedenkfoto met teks ter ere van Perla Faluomi Foa, ʼn jodin,
wat La Mugnaia was in 1892. Sy is in 1873 gebore, was getroud met drie kinders
en het tydens die Tweede Wêreld Oorlog saam met haar twee ouer broers in hulle
woonstel, in Ivrea gebly. Hulle is egter aangeraai in 1944 om tydelik na ʼn
‘veiliger’ plek te gaan en is in die proses deur die SS in hegtenis geneem.
Uiteindelik is hulle na Auschwitz waar hulle al drie op die dag wat hulle arriveer
het in die gaskamer gesterf het. Sy was 71 jaar oud.
Op hierdie Palm Sondag kon
ons maar net stil word en wonder oor die Meester Plan van God.
Dit het saggies begin reën
toe ons die middag by die motor kom. Van Ivrea af was dit maar 90 minute tot in
Campione via Varese. Verkeer is maar erg op ʼn Sondagmiddag.
To the top!
|