Piemonte

Deur Philip de Bruin©

April 2006

In al die jare wat ons in Italië bly, of Italië besoek het, het ons nooit Torino besoek nie. Dikwels daar verby gery Frankryk toe, maar nooit die behoefte gehad om Torino te sien nie. Vanjaar, met al die publisiteit wat Torino gekry het vanweë die Winter Olimpiese Spele daar gehou, het ons besluit ons moet darem gaan kyk.

Die volgende uitdaging was om ʼn naweek te kies met aanvaarbare weer. Hierdie jaar se weer was erg wispelturig. Die seisoene het ongeveer met een maand geskuif. Ons het ook geleer dat die voorspellings nie altyd betroubaar is nie. Volgens die voorspellings sou 8 en 9 April ʼn venster oopmaak vir sonskyn. Hoe nader aan die 8ste hoe onseker het die voorspellings geraak. Ons is egter vroeg Saterdagoggend hier weg en was reeds teen nege naby Torino. Ons het verby gesteek na Avigliana toe waar, volgens die kaart, die afdraai is na Sacra di San Michele.

Ons het ʼn paar keer in die verlede op die snelweg verby gery na Frankryk en dan dié gebou op ʼn bergspits gesien. In Avigliana, getrou aan die Italiaanse kultuur van chaotiese en onlogiese padtekens, het ons by die afdraaipad verby gery. Toe ons omdraai en terug ry is die padteken duidelik. Om een of ander rede het die Italiaanse padowerheid besluit verkeer na Sacra di San Michele sal net van die westekant af kom, nooit vanaf die ooste nie! Ons het dit al so dikwels ervaar maar vergeet gewoonlik om in die spieëltjie te kyk wanneer ons by ʼn afdraaipad verby is.

Na ʼn styl klim en nadat ons ʼn paar keer verby ʼn afdraai gery het, was ons by die parkeerterrein vir Sacra di San Michele. Dit is ʼn stewige opdraande stap om by die ruïnes en die gebou te kom. Dit is ongeveer in 983 begin. Konstruksie en vergroting het plaasgevind oor ʼn tydperk van 1000 jaar. Die eerste kapelle is in die rots ingebou. Die huidige basilika is bo-oor die eerste kapelle en bo-op die graniet rotse gebou. Buite kan die ruïnes van die groot klooster, wat buite die basilika ontwikkel het gesien word. Dit was gebou in ʼn tyd van die kultuur van pelgrimstogte, en ons kon net verwonderd staan oor die materiaal wat met pakdiere soontoe vervoer moes word.

Hoewel dit dynserig was, was die uitsig oor die Piedmont Valleie ongelooflik.

Ons het ʼn hotel redelik naby die middestad bespreek waar hoofsaaklik eenrigting strate is. Dit het mooi beplanning gekos om tot by die hotel te kom. Dis toe op die vierde vloer van ʼn ou Palazzo. Tipies gebou in ʼn reuse vierkant met ʼn enorme soliede hout deur as ingang/poort. Binne is ʼn binnehof waar motors geparkeer word. Die sekuriteit is meer solied as enigiets wat ons ken in Suid Afrika. Om by die hotel te kom moet jy ʼn antieke hysbak gebruik wat toegerus is met moderne sekuriteitstoerusting. Die hotel gee vir jou ʼn kode om by die hoofdeur in te kom en dan ʼn kode om die hysbak aan beweeg te kry. Die kamer was verrassend ruim.

In die kamer kry ons toe ʼn boekie: ‘Il Vangelo secondo Marco.’ Dit is ʼn inisiatief van die Kerk van die Waldensers in Italië, die Ortodokse Italiaanse Kerk, en die Italiaanse Katolieke Kerk. Dit is gedurende die Winter Spele en daarna gratis aan alle besoekers uitgedeel. Die Evangelie volgens Markus is in sewe tale, insluitend Japanees.

Die ruim kamer was ook die eerste indruk wat ons van Torino gekry het. Ruimte. Dis heeltemal anders as ander stede in Italië. Die strate loop reguit. Straatblokke is regtig blokke en voorspelbaar, nie die stegies waarin jy so maklik verdwaal raak nie. Die hoofstrate is wye boulevards. Die piazzas is enorm, omring deur grandiose paleise. Torino is sedert die 11de eeu gedomineer deur die Huis van Savoy, wie ook op ʼn stadium Sicilië domineer het. Daar word dikwels na Torino verwys as ‘Palermo on the Po.’ Die Huis van Savoy het dan ook die eerste koning, Victor  Emmanuel II, voorsien toe Torino in 1859 hoofstad van die nuwe Italië geword het. Die Huis van Savoy het oor Italië regeer tot 1946 toe Italië ʼn republiek geword het en die koning verban is. Die koning met sy familie is onlangs vir die eerste keer weer in Italië toegelaat.

Die paleise van die koningshuis is steeds die groot toeriste aantrekkingskrag van Torino. Die stad het geweldige breë ‘sypaadjies’ onder dak waar die geboue altyd gebou is met boë en arkades op die grondvlak om voorsiening te maak vir voetgangers.

Ons kon egter nie ʼn hartklop, of ʼn tipiese atmosfeer, identifiseer wat jy so dikwels vind in Italiaanse stede nie. Die piazzas is te groot. Mense doen liewer hulle passagiata onder die arkades as op die enorme piazze.

Sondagoggend is ons na Lanzo Torrinese. Die Ponte del Roch of in die volksmond, ponte del diavolo, is ʼn beroemde voetbrug en tolbrug wat die gemeenskappe weerskante van die rivier Roch verbind het. Gebou in 1377 is dit steeds aanskoulik en stewig.

Ons is toe na Ivrea. A trip down memory lane! Ek het in 1974 vir Olivetti gewerk en ons was daardie jaar vir opleiding in Milaan. Die laaste paar maande het ek op ʼn navorsingsprojek gewerk in Ivrea. Ek het heelwat tyd spandeer in Olivetti se imposante Palazzo Uffici. Vandag is Olivetti maar ʼn onbeduidende maatskappytjie sover ons kon vasstel. Die gebou is steeds besonders, hoewel die bome groot geword het en die gebou nie meer die roete in Ivrea in domineer nie.

Destyds het ek dikwels ʼn nag in Ivrea oorgebly terwyl Catrien en die kinders in die woonstel in Milaan was. Aande het ek dan saam met ander in ʼn Internasionale groep van so tien mense, nie een vanaf dieselfde land nie, gaan eet in een van Ivrea se tradisionele trattorias. Ek het dus nooit veel van Ivrea se ou stad beleef nie, maar het hierdie trattorias onthou. Die ou stad was toe vir ons ʼn verassing. Heelwat groter as wat ek kan onthou. Tipies oud Italië. Soms selfs vervalle. Dit was Palm Sondag en mensies het gestap met die gebruiklike olyftakkie in die hand. Die groot plein was nie meer soos ek dit onthou nie, maar die brug wat in die Romeinse tyd gebou is, is steeds in gebruik en baie aanskoulik.

In die ou stad was daar toe verskeie trattorias en ons word gelei om die Trattoria La Mugnaia te kies. Wat ʼn fees! Pragtig binne met die heerlikste tuisgemaakte pasta en lam-tjops soos ons nog nie in ons lewens geëet het nie. Die egpaar wat dit besit is van die mees meelewende wat ons vir ʼn lang tyd teëgekom het. Die man is maestro in die kombuis en sy vrou hanteer die restaurant en bediening met styl. Dis net hulle twee!

La Mugnaia, direk vertaal uit die dialek, beteken die meulenaar se dogter. Elke jaar met Ivrea se Karnaval word ʼn plaaslike meisie gekroon as La Mugnaia, ʼn tradisie blykbaar sedert 1808. Die trattoria het dan ook die foto’s van sowat die laaste 15 jaar se wenners.

In ʼn systraatjie daar naby is ʼn gedenkfoto met teks ter ere van Perla Faluomi Foa, ʼn jodin, wat La Mugnaia was in 1892. Sy is in 1873 gebore, was getroud met drie kinders en het tydens die Tweede Wêreld Oorlog saam met haar twee ouer broers in hulle woonstel, in Ivrea gebly. Hulle is egter aangeraai in 1944 om tydelik na ʼn ‘veiliger’ plek te gaan en is in die proses deur die SS in hegtenis geneem. Uiteindelik is hulle na Auschwitz waar hulle al drie op die dag wat hulle arriveer het in die gaskamer gesterf het. Sy was 71 jaar oud.

Op hierdie Palm Sondag kon ons maar net stil word en wonder oor die Meester Plan van God.

Dit het saggies begin reën toe ons die middag by die motor kom. Van Ivrea af was dit maar 90 minute tot in Campione via Varese. Verkeer is maar erg op ʼn Sondagmiddag.


To the top!