Provence
Deur Evette Lombard©
Mei 1999
Na
Nice vat ons die pad na Vence. Dit is die dorpie waar Matisse kort voor die
einde van sy lewe, ʼn katedraaltjie ontwerp en die interieur daarvoor
gedoen het. Twee mure aan die binnekant het gebrandskilderde glas, in geel,
blou en groen - wat die idee van orrelpype gee en die ander drie mure het
olieverf sketse in swart op wit teëls. Een van Madonna en kind, een van Jesus
se kruisiging en een van die pous. Hy het ook die priesters se klerasie
ontwerp, in die helderste kleure denkbaar: pienk en geel, rooi en groen, blou
en wit - dit lyk meer soos ZCC togas gemeng met Riksja drywers. Dit was tog fassinerend
om die vryheid te sien waarmee die man te werk gegaan het, hy het alle konvensies
ore aan gesit met daai werk!
Daarna
doen ons St. Paul du Vence wat ʼn prentjie mooi plekkie is met duisende pikante
winkeltjies, een waar jy olyfolie proe - olie uit Portugal, Israel, Spanje,
elke plek wat olyf olie vervaardig het ʼn verteenwoordiger, behalwe
natuurlik ons blokkie land aan die eindpunt van Afrika. Dis oulik want die
dorpie is eintlik ʼn museum maar in plaas daarvan dat die ou huisies leeg
staan is hulle winkeltjies, elkeen met iets anders te koop. Daar is so min
ruimte tussen die geboutjies om tuin te maak maar in elke kolletjie grond groei
ʼn wynstok of ʼn rankroos. Elke potplant het veelkleurige lenteblommetjies
of natuurlik blou irisse in. Die potte kan so voor die voordeurtjies staan,
jaar in jaar uit, sonder dat enige vandaliste dit breek, omgooi of uitgooi, om
nie eers van steel te praat nie. My hart bloei vir ons land soos ek stap.
Na
kort stop in die dorpies is ons na die Luberon (Provence). Tussen Menerbes en Bonnieux
is die landskap en die plaashuise op hulle mooiste en ons begin soek vir ʼn
slaapplek. Dit is lekker om te weet dat die Here reeds ons kamers bespreek het
en dat ons weet ons is nou oppad soontoe. Ons ry verby een wat se naam is Les Pereilles
en al wat jy van die paadjie af sien is 2 deck chairs op die stoepie. Gaan kyk
eers na die een by die plaas langsaan maar vir een of ander rede, roep die een
met die gesellige stoepie ons terug.
Muriel
is ons gasvrou, ʼn fyn blonde vroutjie met ʼn kleutertjie wat haar
orals volg. Mary had a little lamb. Muriel is swanger, ten minste ses
maande. Sy het vir die drie dae wat ons daar was, dieselfde swart rokkie van rekstof
aangehad, totaal ongekunsteld. Daarin lê die skoonheid van die hele Provence.
Ek is verjeug toe ek in die laventel kamertjie instap, na vier aande van slaap
op die mat, tussen die venster en die bed in Nice. Dit is hoe ons dit doen.
Spaar hier, spandeer daar. Ma en Pa trek in die rooi kersie kamer in. Ons
gaan onmiddelik vir ʼn wandeling op die plaaspaadjies. Ek pluk ʼn
bossie gekleurde veldblommetjies: ʼn blou iris, rooi poppie, fyn pienk
blommetjies, ʼn kantblom, ʼn koringaar, pers salies en geel besembos.
Dit ruik soos my Nice parfuum. Mamma pluk ʼn bossie poppies en dit lyk
soos ʼn prentjie teen haar swart hempie. Terug by die huis, spring ons al
drie eers in die swembad en trek toe aan vir aand ete. Clementine is ʼn
restaurant in Menerbes, gebou aan die rand van die dorpie en kyk uit oor die
vallei. Ons sit binne by ʼn pienk tafeltjie met ʼn pienk glas vaas uit
die sewentigs wat so ʼn swierige draai maak, vol lap blommetjies. Teen die
muur is ʼn batik van ʼn voëltjie. Ek verbeel my dis ʼn alouette. Weetnie
hoe ʼn alouette lyk nie, weet net hoe die liedjie klink. Bruinoog ‘garson’
swart broekie, wit hemp kom neem ons bestelling en ons vra hom uit oor die
geregte. Met my kennis van Frans, Pa se Italiaans, Ma se cordon bleu kursusse
en ons almal se moedertong, verstaan ons hom heel goed.
Gelée de Museau at sa vinaigrette
Vark kop in ʼn jellie van groente en groen
peper korrels, met olyfolie en suurlemoen sousie. As jou verstand jou
pla, gooi hom by die vester uit. Proe met jou mond Evette, dis heerlik!
Baron d’agneau grille à sariette
Lamtjoppie gebraai in ʼn sariette sousie.
Ons konnie uitvind watter tipe krui die sariette is nie, baie populêr maar
groot geheim!
Fromage de chèvre à l’huile d’olive
Bok melk kasie in olyfolie.
Die kasie is geurig dog smaakloos as jy verstaan
wat ek bedoel, verskaf die funksie van ʼn palette cleanser.
Gateau au Chocolat
Sjokolade koek.
Wolkie, somerbriesie, reënboog, doudruppels.
Sonder
dat ons dit geweet het, het Provence al lankal met ons begin toor! Pa neem
ʼn foto van my en Ma onder die neon letters van Clementine se flikker
kersfees liggies. Snaaks, ons is nie kruppel geëet soos ʼn mens sou verwag
van so ʼn ete nie. As jy kyk na die oënskynlike ryk kosse sal mens dit nie
kan sê nie. Dalk is dit die skoon lug.
To the top!
|