Reis na Campione

Deur Catrien de Bruin©

Junie 2002

Dit gaan goed met ons hier in Campione. Ons het arriveer in sagte deurdringende reën. Die berge is die groenste groen en die meer is bosgroen. Die swane en eende swem nog steeds op en af, asof ons nooit weg was nie. Gister het die noorde wind ingeval en al die wolkies weggevat en het somer, son en saffier met mening ingeval. Dis reeds 21h15 en ons het nog geen ligte aangeskakel nie. Dis 'n aanpassing as dit vier dae gelede 5 uur reeds donker was ... jou hele metabolisme is deurmekaar, want 19h00 is ons rasend honger, maar die son skyn nog hier oor die meer asof dit nou eers vier uur is en weerkaats in ons oë dat ons met donker brille sit. Gisteraand was ons pit vroeg-vroeg uit en het ons alles dig toegemaak om binne donker te maak en ons oorgegee aan slaaaap!!!!!!

Net in kort om die verskillende wêrelde te demonstreer: Op Jhb. lughawe was dit internasionale chaos ... soveel mense, soveel kleure, soveel aksente. Die kruiers sak op jou toe en daar is nou 5 persone wat reg staan vir jou paspoorte en bagasie wat geweeg word. Die kruier sit ons tasse op die weegbaan en Philip gee hom R10. Hierna pak hy egter weer ons bagasie op, nog voor Philip dit nog self wou dra na die inboek toonbank ... hier gebeur alles gelyk ... die persoon agter die toonbank vra ons kaartjies ens. en die kruier brom in Philip se oor. Nadat Philip omtrent sy oor in sy mond druk om beter te kan hoor, want ons kan nie glo wat ons hoor nie; hy sê hy wag vir sy geld!! Ons kyk hom in stomme verbasing aan en toe sê hy: "oh, now I remember, you did pay me", draai om en loop weg, sonder dankie of enige reaksie. By sekuriteit staan lang toue en die mense brom, want alles word omgedop en uitgeskud ... voor ons word 'n skêrtjie en sakmes gekonfiskeer en in die drom met die groot slot gegooi. Ons het nie veel nie, alhoewel Philip se PC en die verkyker baie aandag trek. Die Amerikaner na ons skop 'n groot bohaai op, want hy kry nie weer sy sak toe nie en hy was nog nie eers by die "duty free shops "nie.

Ons gaan teen 10h00 aan boord. Ons het 'n vol vlug. Die passasier voor Philip se stoel wil net agteroor lê. Niks wat enige iemand probeer kry die sitplek in regop posisie nie. So het Philip nie net sy eie lang bene om spasie te vind nie, maar sit ook met die passasier se bolyf op sy skoot vir die duur van die vlug ... taai tye!!! Die volgende dag het Philip vir "Swiss" 'n mooi vriendelike myl gestuur ... hulle het binne 'n uur reageer ... baie dankie dat hulle van ons kon hoor en groot verskonings oor die ongerief en kan ons vir die res van die jaar die sitplekke wat Philip aangevra het, wat met sy lang bene en seer heup werk, kry. Wie kan nou oor diens kla ... wat 'n plesier!

Ons land veilig op Zurich. Hier is nie tyd vir rondkyk nie, want die aansluitingsvlug na Lugano is binne 45 min. Zurich lughawe is vergroot en splinternuut. Ons stap 'n lekker stewige stappie tot by ons hek. Cross Air neem ons oor die Alpe wat nog baie sneeu op die pieke het en maak 'n wye draai oor Lugano meer met al die ou bekendes so om die kant ingepak, asof geteken. Dankie VADER dis so pragtig!!

Op Lugano lughawe word die min of meer 12 passasiers ook deeglik deurgesoek. Hierdie keer het ons bagasie saam met ons arriveer ... tien uit tien vir vlytige hande daar op Zurich. Ons word vriendelik gevra om ons bagasie oop te maak. Alles word uitgepak en deurgesoek met spierwit handskoentjies aan die hande, asof met 'n operasie besig. Alles word netjies teruggepak en weer 'n keer word met groot gebaar verskoning gemaak vir die ongerief. Wat 'n werk! As ek kan kies sal ek dit nie graag wil doen nie.

Die volgende storie speel by die bank af. 'n Rerige ou tannietjie ... krom, spierwit grys met haar kierie en handsak kom die bank ingestap. Die personeel kyk op en groet haar en verneem na haar welstand. Sy trek F15,000 in kontant sonder enige bewyse of argumente. Steek die geld in haar handsak en stap uit. Ek soek buite vir die motor met sekuriteitswag en al, maar die liewe tannie stap asof met 'n missie die straat af ... al groetende en geselsende. Ons kyk na mekaar en is weereens met stomheid geslaan......wat 'n ander wêreld!!


To the top!



footer for Reis page