Sardegna
Deur Catrien de Bruin©
September 2004
Die begrip "eiland" het my verbeelding
altyd weggevat na iewers baie ver waar ek afgesonder is en vir oorlewing vis
en bessies moet eet, want daar is mos water reg rondom 'n eiland. Hierdie
stukkie romantiek het werklikheid geword toe ons geseënd is om na agt jaar
weer voet aan wal van Sardinia te sit. Afgesonder, vis en bessies was
miskien in die jaar 2500 VC toe die eerste tekens van lewe op die eiland in
die "domus de janas" , prehistoriese tyd afgespeel het. Vandag
4500 jaar later is die eiland 'n perdjie van 'n ander kleur. Soveelso dat ek
bang is die eiland verloor balans en die noordooste val in die see onder die
gewig van soveel ontwikkeling en mense wat hierdie asemrowende skepping van God
geniet en benut.
Verken in Sardnia bied eindelose moontlikhede en
onvoorstelbare prentjies wat uniek is aan die eiland. Die landskap is ru en
terselfdertyd oortrek met ryke plantegroei soos denne, sipres, kurk eike,
wilde olyfbome, oleander, turksvye en wilde vyebome. Soos jy nader aan die
see kom kan jy die uitgekerfde rotse deur wind en water met beeldhouwerk
vergelyk. Jy hoef jouself nie in te span om die prentjies wat die rotse
uitbeeld raak te sien nie, besluit wat jy wil sien, is dit gesigte van mense,
diere of plante? So word die beer rots by Palau en die olifant rots naby
Castelsardo as besienswaardighede in die boeke aangegee.
Die see word altyd geassosieer met strande waar die
rustige blou water van die Middelandse see en son geniet kan word. Hulle is
almal hier.....jy kan kies, wil jy dit op ronde klippies doen, moet dit
spierwit sagte sand wees of moet jy omring word deur ruwe rotse? Hou in
gedagte dat die eiland omring is deur helder deurskynende water, jy hoef nie te
duik of te snorkel nie, die vissies is daar vir die blote oog. Natuurlik
probeer jy hulle vasvat, maar so glad soos seep en die wye oseaan is hul
tuiste.
Vir ronde klippies gaan jy na Punta die Volpi.
Vir spierwit (verblindend wit) sand strand gaan jy na Spiaggia Rena Bianca,
direk vertaal "rein wit strand". Laasgenoemde is ons gunsteling,
toets hom uit, jy sal nie teleurgestel wees nie. Vir ruwe, dramatiese rotse
en diepsee duik, kies jy Costa Paradiso. Ja moenie dat die naam jou mislei
nie, dis ongetem. Wil jy 'n stukkie luukse beleef, ruk uit jou pelse en kies
Costa Smeralda. Hier is 'n paar strandjies wat jou oorweldig, maar Hotel
Cala di Volpe het my op wolkie nege gesit. Die argitektuur is onvoorstelbaar
aangepas by die landskap, asof moderne "domus de janas".
Sonder om blink of vulgêr oorboord te gaan is
hierdie 'n oord wat jou gemaklik en opheffend laat voel. Die cappuccino wat
'n patroontjie oppie skuim het, was wel die duurste wat ons nog ooit beleef
het, maar dit was pure lekkerte en gelukkig weet jy mos nie vooruit watter prys
jy vir die "lekkerte" betaal nie.
Al gehoor van "mural painting"? Op die
buitemure van die geboue van verskeie dorpies in die binneland kan jy die
geskiedenis en kultuur van die eiland beleef, terwyl jy op straat stap. So
het ons Orgosolo bekyk en beleef net voor twee toerbusse die dorpie oorspoel
het. Die tegniek is eenvoudig en kan nie vergelyk word met gesofistikeerde
frescoes nie, maar is 'n lekker variasie van die swaar kuns in Europa se
museums.
Sardinië cuisine: Dis net asof die eenvoudige
Italiaanse manier van kos maak vir 'n hongerige reisiger altyd werk. Ons
beleef 'n paar nuwe variasies oppie spyskaart; 'n papier dun ronde plat
brood, genoem "pane carasau". Ideaal vir 'n antipasta. 'n
Ravioli met 'n nuwe baadjie, die vorm van 'n peertjie, gevul met aartappel en
word "culurgionis" genoem, smelt in die mond. Pecorino kaas met
heuning. O en dan vir elke Suid Afrikaner wat nie sonder vleis kan
funksioneer nie, is daar die "porceddu" jong vark op spit met 'n
houtvuur goudbruin en murgsag gerooster, en nie afgemete porsies nie broer,
soveel as wat jy kan behartig. Die rooi skil pere werk vir ontbyt of
nagereg. In Sardinië sal jy nie honger lei nie, inteendeel!!!!
Wat is anders? Die koerante op donker pienk
papier. Die "salumi en formaggia" winkeltjies op wiele, wat hul
produkte oral op die kuslyn aanbied.
Kurk en mosaïk word verwerk in verskeie
gebruiksartikels of sommer net vir mooi lyk en is gewilde souweniers.
Ons het reeds met die aankoms in Campione navraag
gekry vir die "itinerary" van reis in Sardinia.
Hierdie is ons kort opsomming en minimum
aanbeveling:
Ferry vanaf Livorno of Citavecchia.
Roete I: Olbia, S. Teodoro, Posada, Orosei,
Dorgali, Cala Gonone, Baunei, S. Maria Navarrese, Lotzorai (side trip to Domus
de Janas), Arbatax (Hotel La Perla, owner and cooking instructor/maestro
Alberto), Lanusei, direction Fonni, to Orgosolo.
Roete II: Porto Rotondo, Punta di Volpi strand, dan
rigting Costa Smeralda, Mooiste strand op die eiland wat ons kon vind was
Spiaggia Rena Bianca (spierwitstrand), daarna Hotel Cala di Volpi – in 'n ander
klas, Porto Cervo, Baia Sardinia, Palua, Porto Rafael (*****). As jy nog tyd
het Costa Paradiso en Castelsardo.
Mag jou droom om op 'n eiland uitgespoel te raak,
'n werklikheid word op Sardinia.
To the top!

|